Republiek Ierland
Ierland (Engels: Ireland, [ˈaɪərlənd], ; Iers: Éire, [ˈeːɾʲə], ), ook bekend as die Republiek Ierland (Engels: Republic of Ireland; Iers: Poblacht na hÉireann), is 'n onafhanklike eilandstaat in die noordweste van Europa, wat met 70 273 vierkante kilometer sowat vier vyfdes van die eiland Ierland beslaan. Noord-Ierland, die gebied in die noordooste van Ierland, is een van die lande van die Verenigde Koninkryk. Die Ierse grondwet bepaal dat die naam van die staat Éire is, of, in Engels, Ireland. Desondanks word na die onafhanklike staat Ierland soms ook as Republiek Ierland verwys om dit te onderskei van die eiland Ierland.
| |||||
Volkslied: Amhrán na bhFiann (Iers vir: "Die Lied van die Soldaat") | |||||
Hoofstad | Dublin (Baile Átha Cliath) | ||||
Grootste stad | Dublin (Baile Átha Cliath) | ||||
Amptelike tale | Iers[1] en Engels | ||||
Regering | Unitêre presidensiële grondwetlike republiek Michael D. Higgins Simon Harris Micheál Martin | ||||
Onafhanklikheid • Verklaar • Bekragtig • Erken • Eerste grondwet • Tweede grondwet • Republiek |
van die Verenigde Koninkryk 24 April 1916 21 Januarie 1919 6 Desember 1921 6 Desember 1922 29 Desember 1937 18 April 1949 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
70 273[2] km2 (118de) 27 133 myl2 2,13 (2015)[3] | ||||
Bevolking - 2023-skatting - 2022-sensus - Digtheid |
5 281 600[4] (120ste) 5 149 139[5] 71,3 / km2 (113de) 184,7 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2022) | 0,950[7] (7de) – baie hoog | ||||
Gini (2022) | 27,9[8](23ste) – laag | ||||
Geldeenheid | Euro (€) (EUR ) | ||||
Tydsone - Somertyd |
WET (UTC±0) IST (UTC+1) | ||||
Internet-TLD | .ie | ||||
Skakelkode | +353 |
Ierland het volgens die sensus van 2016 'n bevolking van 4,76 miljoen, 'n toename van 3,7 persent teenoor die laaste sensus in 2011.[9] In 2022 is Ierland se inwonertal op 5,1 miljoen beraam.
Die amptelike simbool van die republiek is die Keltiese harp, wat ook op die Ierse Euromunte uitgebeeld word. Dikwels word egter die klawer gebruik, onder meer deur die Ierse nasionale rugbyspan wat die hele Ierland in internasionale rugby verteenwoordig.
Ierland is sedert 1973 'n lidland van die Europese Unie en beskik oor 'n hoogs ontwikkelde ekonomie, wat immigrante uit ander Europese en oorsese lande lok. Dié land het sedert die 1990's tot een van die welvarendste Europese nasies ontwikkel. Dit is ná die ongekende finansiële krisis van 2008 in 'n ernstige resessie gedompel, maar in 2013 het die ekonomiese groei teruggekeer.
Naam
Die Ierse staat het al meer as een amptelike titel gehad. Die rewolusionêre staat, wat deur Ierse nasionaliste in 1919 gestig is, het as die Ierse Republiek bekend gestaan. Die Paasfees-Proklamasie van die jaar 1916 gebruik reeds die Ierse term Poblacht na hÉireann ("Republiek Ierland"). Nadat die staat in 1922 ook de jure onafhanklik geword het, het dit as die Ierse Vrystaat bekend gestaan (Iers: Saorstát Éireann). Hierdie naam is tot 1937 behou.
Die Ierse naam vir Ierland is Éire, ontleen aan die Ou Ierse Ériu, 'n godin in die Ierse mitologie waarna in die negende eeu vir die eerste keer verwys is.[10] Die staat wat in 1922 gestig is en 26 van die 32 graafskappe van Ierland behels, is "gestileer en bekend as die Ierse Vrystaat" (Saorstát Éireann).[11] Die Grondwet van Ierland wat in 1937 goedgekeur is, bepaal dat "die naam van die Staat Éire is, of, in Engels Ireland". Die wet sou verduidelik dat die staat 'n republiek was en geen grondwetlike monargie nie. Afdeling 2 van die Republiek Ierland-wet 1948 lui "Dit word hiermee verklaar dat die benaming van die staat die Republiek Ierland sal wees." Die 1948-wet noem die staat nie "Republiek Ierland" nie, aangesien dit in konflik met die grondwet sou gewees het.[12] Alhoewel die term Republiek Ierland aanvaarbaar is, word die naam Ierland vir amptelike doeleindes soos internasionale ooreenkomste, regerings- en regsdokumente en die lidmaatskap in internasionale organisasies gebruik. Slegs indien daar 'n onderskeiding gemaak moet word tussen die onafhanklike republiek en Noord-Ierland, soos byvoorbeeld op die gebied van sport, waar Ierse en Noord-Ierse spanne bestaan, of by verwysings na die "grens tussen Noord-Ierland en die Republiek Ierland", is dit ook vir die amptelike taalgebruik noodsaaklik om aan hierdie naam die voorkeur te gee.
Die regering van die Verenigde Koninkryk het die naam Eire (sonder die diakritiek) gebruik en sedert 1949 "Republiek Ierland" vir die staat.[13] Eers met die Goeie Vrydag-ooreenkoms van 1998, toe die Republiek Ierland sy aanspraak op Noord-Ierland laat vaar het, het die Verenigde Koninkryk die staat "Ierland" begin noem.[14][15][16] In Engels staan Ierland onder meer ook bekend as Éire, Die Vrystaat (The Freestate) en die Ses-en-twintig Graafskappe (Twenty-six Counties). Weens die negatiewe historiese konnotasies van die naam Éire word dit tans nie meer dikwels gebruik nie.
Naas "Ierland", "Éire" of "die Republiek Ierland", word die na die staat ook informeel verwys as "die Republiek", "Suid-Ierland" of "die Suide",[17] veral wanneer die staat van die eiland onderskei of wanneer Noord-Ierland ("die Noorde") bespreek word. Ierse republikeine behou die benaming "Ierland" vir die hele eiland[16] en verwys dikwels na die staat as "die Vrystaat", "die 26 graafskappe",[16][18] of "die Suide van Ierland".[19] Dit is 'n "reaksie op die partisionistiese siening […] dat Ierland by die grens eindig".[20]
Geografie
Die Republiek Ierland beslaan die grootste deel van Ierland, die mees westelike en tweede grootste van die Britse Eilande, en word van Groot-Brittanje deur (van noord na suid) die Noordkanaal, die Ierse See en die Sint-Georgekanaal geskei, waarby die afstande tussen die twee eilande van 18 tot 193 kilometer (11 tot 120 myl) wissel. Ierland vorm ook die mees westelike Atlantiese randgebied van Eurasië, 'n uitgestrekte landmassa op die Noordelike Halfrond waarvan dié eiland saam met die ander Britse Eilande vroeër self deel uitgemaak het. As deel van die Eurasiese kontinentale plaat word Ierland deur seegebiede met 'n maksimale diepte van 200 meter omring.
Ierland is in die gematigde klimaatsone en op dieselfde breedtegraad soos Labrador in Kanada geleë, maar het 'n gematigder klimaat as dié streek in Noord-Amerika.
Demografie
Die Ierse bevolking is hoofsaaklik afstammelinge van die oorspronklike Keltiese bewoners van dié eiland, Skandinawiese setlaars en Anglo-Noormanne.
Die amptelike tale is Iers en Engels. Iers is as nasionale taal 'n verpligte skoolvak in Ierland en word deur meer as 77 000 Iere buite die onderwysstelsel as daaglikse omgangstaal gepraat. Meer as 110 000 mense praat dit weekliks, en meer as 613 000 gebruik die taal minder dikwels. Die sogenaamde Gaeltacht-gebiede, waar Iers deur 23 000 bewoners as huistaal gebesig word, is in die uiterste weste van dié eiland geleë. Met die Wet oor die Amptelike Tale (Official Languages Act) van 2005 is die name van 'n aantal stede en dorpe van Engelse na Ierse weergawes gewysig.
Meer as 90 persent van die bevolking is Rooms-Katolieke. Daar is 'n Protestantse minderheid van Anglikane Presbiterianers en ander groepe. Naas die klein Joodse gemeenskap is daar 'n klein groeiende Islamitiese bevolking, veral immigrante.
Sowat 115 500 Britte het hulle in dié land gevestig. Ierland het daarnaas baie immigrante uit die nuwe lidlande van die Europese Unie soos Pole (122 000 immigrante), Litaue (36 000; die Litause Vereniging in Ierland het 90 000 lede)[21] en Letland (20 000) gelok. Ander belangrike groepe van onlangse immigrante sluit Roemene (17 000), Indiërs (17 000) en Nigeriërs (17 000) in. Nadat Ierland in 2008 in 'n resessie gedompel is, het baie buitelandse werknemers weer na hul tuislande teruggekeer.
Migrasie
Die demografiese ontwikkeling in Ierland was oor 'n lang tydperk deur 'n krimpende bevolking en hoë emigrasiesyfers gekenmerk. Maar sedert die 1990's het die prentjie ingrypend verander nadat stewige ekonomiese groei groot getalle immigrante na Ierland gelok het. Aanvanklik het veral Ierse burgers na hul geboorteland teruggekeer, terwyl daar vanaf 2000 ook noemenswaardige immigrasie uit lande buite die Europese Unie plaasgevind het. Die meeste van hierdie nuwe aankomelinge was op soek na werk, sommige het aansoek gedoen om politieke asiel.
Die immigrasiestroom het Ierse politici onder druk geplaas aangesien daar geen spesifieke immigrasie- en asielbeleid was nie. Die kodifisering van só 'n beleid in 'n wetsontwerp, die Immigration, Residence and Protection Bill, is vertraag sodat Ierland se immigrasiebeleid op die besluite van amptenare in plaas van 'n wet gebaseer is.
Vanaf 2007 het immigrasiesyfers as gevolg van die resessie in Ierland skerp gedaal, en daar is verwag dat 'n groot persentasie buitelandse werknemers na hul tuislande sou terugkeer. Ander sal egter in dié land bly sodat enige vorm van integrasiebeleid ontwikkel sal moet word. Terselfdertyd het steeds meer Iere hulle in die buiteland gevestig.
In die periode tussen April 2015 en April 2016 was daar vir die eerste keer sedert 2009 weer 'n oorskot van immigrante bo emigrante nadat die aantal Iere, wat hulle in die buiteland gevestig het, skerp gedaal het. Tegelykertyd het 'n groter aantal Ierse burgers uit die buiteland teruggekeer.[22]
Historiese migrasiestrome
Ierland was oor 'n lang tydperk 'n emigrasieland. Terwyl die gebied van die huidige Republiek Ierland in 1841 nog deur meer as 6,5 miljoen mense bewoon is, het hierdie syfer in die volgende dekades skerp gedaal, hoofsaaklik weens die groot stroom emigrante en hoë sterftesyfers as gevolg van die Groot Hongersnood (Great Famine) wat Ierland vanaf 1845 tot 1848 geteister het. In 1901 het die bevolking op 3,25 miljoen te staan gekom en daarna verder afgeneem, alhoewel teen 'n laer koers. In 1961 is die laagste inwonertal ooit met 2,818 miljoen aangeteken.
Die meerderheid Iere, wat in die 19de en vroeë 20ste eeu 'n nuwe heenkome in die buiteland probeer vind het, het hulle in Noord-Amerika gevestig waar die aantal inwoners van Ierse afkoms tans op sowat veertig miljoen beraam word. Hierdie emigrasiestroom het weens die Groot Depressie in die vroeë 1930's skielik tot stilstand gekom. Die meeste Ierse emigrante het sedertdien na die Verenigde Koninkryk toe gegaan waar hulle veral gedurende die Tweede Wêreldoorlog en die opboufase, wat daarop gevolg het, maklik werk kon vind. Volgens beramings het tussen 1946 en 1951 86 persent van alle Ierse emigrante na die Verenigde Koninkryk toe gegaan.[23]
In die 1960's het Ierland stewige ekonomiese groei getoon sodat steeds meer werksgeleenthede geskep is. Die aantal emigrante het afgeneem, terwyl 'n natuurlike bevolkingsaanwas aangeteken is. In die 1970's was daar vir die eerste keer meer immigrante as emigrante. Eers as gevolg van die swak wêreldekonomie, wat ook Ierland in 'n langdurige resessie gedompel het, het die stroom Ierse emigrante weer aansienlik toegeneem. In 1986 was Ierland se werkloosheidsyfer met meer as 17 persent merkbaar hoër as dié van die Verenigde Koninkryk. In 1988/89 was daar 'n negatiewe netto-migrasie van sowat 45 000 mense of 1,3 persent van die destydse bevolking.
Die ongekende ekonomiese groei, wat Ierland in die 1990's ervaar het, het met 'n massiewe groei in immigrantetalle gepaard gegaan. Sedert 2004 het talle werknemers uit nuwe Oos-Europese lidlande van die Europese Unie hulle in Ierland gevestig.
Geskiedenis
Die geskiedenis van Ierland het 'n aanvang met die eerste menslike nedersettings in die steentydperk geneem. Ierland was sowat 8 000 jaar gelede nog met die eiland van Groot-Brittanje verbonde, en die eerste bewoners het waarskynlik vanaf die Europese vasteland gekom. Toe die eerste Gaelies-Keltiese setlaars die eiland in die 4de eeu v.C. bereik het, het daar reeds 'n ander Keltiese beskawing, die Iverners, bestaan. Die huidige Ierse volk het dus verskillende etniese oorspronge.
In die Romeinse tydperk het Ierland as Hibernia bekend gestaan. Dié eiland is nooit deur die Romeine verower nie en daar het 'n aantal onafhanklike Ierse koninkryke en vorstedomme bestaan.
Britse slawe, waaronder ook die nasionale beskermheilige Sint Patrick, het 'n groot rol by die kerstening van Ierland omtrent 430 gespeel. Saam met die Christelike godsdiens is ook die Latynse alfabet ingevoer, waaruit in Ierland 'n plaaslike variant, die Ogham-alfabet, ontwikkel is. Die eerste historiese dokumente in die Iers-Gaeliese taal dateer uit die 5de eeu n.C.
In die laat 6de eeu het Ierse setlaars hulle ook in Skotland, in Wallis en op die eiland Man gevestig. Iers het tot die algemene omgangstaal van Skotland en Man ontwikkel, maar heeltemal verdwyn in Wallis.
Die eerste Ierse bloeitydperk het met die Angel-Saksiese en Wiking-invalle tussen die 7de en 10de eeu geëindig. In 1169 het die Anglo-Normandiese heersers van Engeland met die verowering van dié eiland begin. Die Normandiërs het beslag op Ierse landgoedere gelê, 'n einde aan die Ierse lakenbedryf gemaak en baie Iere na die onvrugbare weste van dié eiland verdryf. Die inheemse bevolking het in 'n toestand van armoede en regteloosheid verkeer.
Nogtans het die Normandiërs net 'n gedeelte van Ierland oorheers. Eeue lank was Dublin en sy omgewing die enigste gebied wat werklik verengels het. In die 16de eeu het die Engelse Tudor-dinastie 'n nuwe poging onderneem om die Engelse heerskappy in Ierland te vestig. Engelse adellikes is uitgenooi om hulle in landelike gebiede van dié eiland te vestig en Mary Tudor en haar eggenoot Filips II van Spanje het die sogenaamde Queen's and King's County in die huidige Laois en Offaly gestig.
Die sogenaamde Engelse volksplantings (Plantations) van Protestantse grondeienaars en setlaars het onder koningin Elizabeth I (1558–1603) voortgegaan, en vanaf 1609 het die London Livery Companies nedersettings in die noordooste van Ierland gestig. Derry het tot een van die Protestantse sentrums in Noord-Ierland ontwikkel.
Die beleid van die Engelse landeienaars het tot die groot Ierse hongersnood van die jare 1845 tot 1847 gelei. Maatreëls, wat die hongersnood sou kon bestry het, is deur die Britse owerhede doelbewus vertraag. 1,5 miljoen Iere het verhonger of aan siektes beswyk en baie inwoners was genoodsaak om na die Verenigde State te emigreer.
Ná 'n reeks onluste het Ierland op 6 Desember 1921 Dominium-status gekry waardeur 'n groter mate van selfregering aan dié land toegestaan is. Ses graafskappe in die noordelike provinsie Ulster met 'n oorwegend Protestantse bevolking het egter Britse gebied gebly. Die vraagstuk van Noord-Ierland se politieke toekoms was dekades lank 'n ernstige geskilpunt tussen die Ierse en Britse regerings. Ná meer as drie eeue onder Engelse heerskappy het Ierland op 18 April 1949 'n republiek buite die Britse Statebond geword. Die Republiek Ierland maak tans geen aanspraak meer op Noord-Ierland nie en danksy die Goeievrydag-ooreenkoms wat in 1998 tussen Ierland en die Verenigde Koninkryk gesluit is, het die politieke klimaat stabiel geword.
Ierland het in 1955 'n lidland van die Verenigde Nasies en in 1973 van die Europese Ekonomiese Gemeenskap geword. In 1999 is die Euro-geldeenheid ingevoer en in 2002 die Euro-banknote en -muntstukke.
Politiek en administrasie
Politieke stelsel
Ierland is 'n parlementêre republiek. Die President van Ierland fungeer as die staatshoof en word vir 'n ampstermyn van sewe jaar gekies. Die President mag vir 'n tweede ampstermyn herverkies word. Die staatshoof voer oorwegend seremoniële pligte uit, maar het desondanks – saam met die Staatsraad as raadgewende orgaan – sekere grondwetlike bevoeghede en funksies.
Die Eerste Minister (Iers: Taoiseach) word deur die parlement genomineer en deur die Staatspresident benoem. Dit is gewoonlik die voorsitter van die party wat die meeste setels in die algemene verkiesing gewen het. Dikwels word die Ierse regering deur 'n koalisie van twee partye gevorm.
Die Oireachtas, die tweekamerparlement van Ierland, bestaan uit die Senaat (Iers: Seanad Éireann) en die Laerhuis (Dáil Éireann). Die Senaat het sestig lede, waarvan elf deur die Taoiseach benoem en ses deur twee universiteite gekies word. 43 senatore word deur afgevaardigdes van die Laerhuis, Senaat en die graafskappe uit 'n naamlys van kandidate gekies, waarby die kandidatelys volgens maatskaplike groepe (kultuur en opvoeding; landbou; werkers en vakbonde; nywerhede en handel; administrasie) saamgestel word. Die huidige Senaatspresident (Cathaoirleach) is Mark Daly (Fianna Fáil).
Die Dáil het 160 lede (Teachtai Dála) wat volgens die beginsel van representatiewe verteenwoordiging (single transferable vote) elke vyf jaar in die kiesafdelings gekies word. Die huidige parlementspresident (Ceann Comhairle) is Seán Ó Fearghaíl (Fianna Fáil).
Die grondwet beperk die regering tot vyftien lede. Hoogstens twee kabinetsministers mag uit die Senaat gekies word, terwyl die Taoiseach, Tánaiste (Adjunkpremier) en Minister van Finansies lede van die Dáil moet wees. Die huidige regering word deur die partye Fine Gael ("Familie van die Iere"), Fianna Fáil ("Soldate van die Lot") en die Groen Party onder die leiding van Taoiseach Simon Harris en Tánaiste Micheál Martin gevorm.
Die hoofopposisie in die Dáil word tans deur Sinn Féin ("Soldate van die Lot") gevorm. Daar is ook kleiner partye in die Dáil verteenwoordig, soos Sinn Féin ("Onsself"), die Werkersparty, die Sosiaaldemokrate, die Solidarity–People Before Profit (S–PBP), Aontú ("Verenig"), Right To Change en onafhanklikes.
Plaaslike administrasie
Voor die vorming van die Republiek Ierland was die eiland van Ierland opgedeel in 32 graafskappe (counties). Die graafskappe, wat deel van die Republiek vorm, is Carlow, Cavan, Clare, Cork, Donegal, Dublin, Galway, Kerry, Kildare, Kilkenny, Laois, Leitrim, Limerick, Longford, Louth, Mayo, Meath, Monaghan, Offaly, Roscommon, Sligo, Tipperary, Waterford, Westmeath, Wexford en Wicklow.
Ses graafskappe vorm tans deel van Noord-Ierland, naamlik Antrim, Armagh, Derry, Down, Fermanagh en Tyrone. Die eiland van Ierland is ook tradisioneel in vier provinsies opgedeel, naamlik Leinster, Munster, Connacht en Ulster. Die provinsies het egter geen streeksregerings nie. In Noord-Ierland is die Noordelike Raad (Northern Assembly) op die been gebring in lyn met die Goeie Vrydag-Ooreenkoms. Die Raad administreer egter net ses uit die nege graafskappe wat oorspronklik die provinsie van Ulster gevorm het.
In die Republiek is die administratiewe grense van plaaslike regering geleidelik besig om te verander weg van die tradisionele graafskapgrense in lyn met bevolkingspatrone. So is Dublin in vier administratiewe gebiede opgedeel, naamlik Dublin Stad, Dún Laoghaire-Rathdown, Fingal en Suid-Dublin. Tipperary is opgedeel in twee administratiewe gebiede, naamlik Noord- en Suid-Tipperary. Groter stedelike nedersettings soos Cork, Galway, Limerick en Waterford het elk hul eie plaaslike regering, terwyl die omliggende gebiede in die graafskappe van Cork, Galway, Limerick en Waterford deur aparte owerhede bestuur word. Daarnaas geniet ook verskeie groot nedersettings soos Arklow, Athlone, Bray, Dundalk, Enniscorthy, Gorey, Killarney, Letterkenny, Mullingar en Navan, wat almal geskiedkundige markdorpe is, besondere status as selfregerende munisipaliteite wat deur burgemeesters en munisipale rade (town councils) bestuur word.
Die huidige administratiewe stelsel maak voorsiening vir 'n sterk sentrale regering, terwyl plaaslike administrasies veral vanuit 'n finansiële oogpunt swak is.
Ekonomie
Ekonomiese ontwikkeling
Ierland was vroeër een van die armste lidlande van die Europese Unie (EU), maar het ná stelselmatige beleggings in sy onderwysstelsel (waarvoor veral EU-subsidies gebruik is) en 'n aantal jare met hoë groeikoerse tot een van sy welvarendste lande ontwikkel. Danksy die vryhandelsooreenkoms met die Verenigde Koninkryk, wat in 1965 gesluit is, het dié land geleidelik die industriële ontwikkelingspeil van Wes-Europa bereik. Weens die goeie ekonomiese ontwikkeling word daar soms na Ierland as die "Keltiese Tier" verwys.
Tussen 1993 en 2007 het Ierland se werkloosheidsyfer van 16 tot slegs 4,7 persent verminder, terwyl reële netto-salarisse met 42 persent gestyg het. Die inflasie-aangepaste per-capita-inkomste in Ierland is tans die tweede hoogste in die EU (en die vierde hoogste ter wêreld) en sowat 30 persent hoër as dié van Duitsland. Danksy die wetlike minimumloon beloop die maandelike inkomste van 'n voltydse werknemer nie minder as 1 183 € (R10 100) nie. Nogtans leef sowat tien persent van Ierland se bevolking onder die broodlyn en volgens UNICEF-statistieke is Ierland se kinderarmoedesyfer van 16,8 persent die sesde hoogste van die ontwikkelde lande.
Ierland se ekonomie het in die afgelope jare van sy agrariese fokus wegbeweeg na 'n ekonomie, wat oorwegend op handel, nywerhede en beleggings steun. Alhoewel dit in vergelyking met sy Europese buurstate nog taamlik klein is, het dit in die tydperk tussen 1995 en 2000 met 'n jaarlikse koers van 10 persent gegroei. Die nywerhede het die landbou as die belangrikste ekonomiese sektor vervang en lewer 46 persent van die bruto binnelandse produk en 80 persent van die uitvoere op. Die industriële sektor bied 29 persent van dié land se werkgeleenthede. Ook die ondernemingsbelasting se aandeel aan die bruto geografiese produk (3,6 persent) vergelyk gunstig met dié van die grootste ekonomie in die EU, Duitsland (1,6 persent) en weerspieël die omvangryke regstreekse buitelandse beleggings sedert die 1990's.
Uitvoere het 'n beduidende rol by die vinnige groei van die Ierse ekonomie gespeel, tog trek dié land ook voordeel uit die verhoogde verbruikerbesteding, bouaktiwiteite en beleggings wat daarmee gepaard gaan. Volgens die statistieke is Ierland die grootste uitvoerder van sagteware-gebaseerde goedere en dienste ter wêreld. In werklikheid word egter groot hoeveelhede buitelandse sagteware – en ook musiek – vanaf Ierland uitgevoer om voordeel te trek uit die plaaslike belastingvryheid op inkomste van kopieregbeskermde goedere. Sowat 800 ondernemings uit die sagtewarebedryf verteenwoordig 20 persent van Ierland se totale uitvoere.
Een rede vir dié land se ekonomiese opswaai is moontlik ook die feit dat die regering hier 'n aktiewe rol gespeel het. 'n Aantal staatlike programme is ingevoer, wat vraagstukke soos die hoë inflasiekoers (wat nog steeds veral die bewoners van die hoofstad Dublin pla), hoë belastingtariewe, staatsuitgawes, buitelandse beleggings in prestige-projekte en die gebrek aan voldoende beroepsopleiding aangepak het.
Ierland se ekonomiese beleid word ook deur die sogenaamde Social Partnership gekenmerk, waarby die regering, werkgewers en vakbonde saamgespan het om op vrywillige basis loon- en salarisverhogings vir tydperke van drie jare vooraf vas te lê.
Ierland was een van elf EU-lidlande wat in Januarie 1999 die Euro as gemeenskaplike geldeenheid ingevoer het. Ierland se oorspronklike geldeenheid was die Ierse Pond.
Eurokrisis
As gevolg van die finansiële en ekonomiese krisis het die konserwatiewe Ierse regering onder leiding van die eerste minister Brian Cowen vroeg in 2009 'n beleid van streng besuiniging begin toegepas om die dreigende staatsbankrotskap te keer. Salarisse in Ierland se staatssektor is verminder, net soos uitkerings wat aan werkloses en ander sosiaal swakkes betaal word. Dié land was die eerste in die Eurosone wat hierdie soort moeilikhede ondervind het en op 21 Februarie 2009 het meer as 100 000 mense in Dublin teen die regering se ekonomiese beleid betoog.[24]
Eerste beramings dui daarop dat die bruto geografiese produk (BGP) en die bruto nasionale produk (BNP) in 2009 met respektiewelik 7,1 en 11,3 persent gekrimp het – die hoogste afname op 'n jaarlikse basis wat ooit aangeteken is.[25] Besuinigings in 2010 het €4 miljard beloop, terwyl die werkloosheidsyfer tot 13,7 persent in Mei 2010 gestyg het.[26] In Junie 2010 is Ierland se skuldlas by Duitse banke op €127 miljard beraam.[27]
Volgens die jaarlikse verslag oor integrasie, wat deur die Integration Centre gepubliseer word, was die werkloosheidsyfer vir immigrante in 2011 hoër (18 persent) as dié vir Ierse werknemers (naastenby 14 persent).[28]
Huidige stand van sake
Die Republiek Ierland se ekonomiese groei het egter teruggekeer, in 2015 selfs met 'n skouspelagtige +24,4% en dié land het die snelste groeiende ekonomie van die EU geword. Die werkloosheid het verminder en in Januarie 2024 4,5% bereik.[29]
Jaar | 2010 | 2011 | 2012 | 2013 | 2014 | 2015 | 2016 | 2017 | 2018 | 2019 | 2020 | 2021 | 2022 | 2023 | 2024 |
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
%Groei[30] | +1,7 | +0,8 | ±0,0 | +1,1 | +8,6 | +24,4 | +2,0 | +9,0 | +8,5 | +5,4 | +6,6 | +15,1 | +9,4 | +2,0 | +3,3 |
Amerikaanse beleggings
Die totale beleggings van meer as 700 Amerikaanse ondernemings met belange in die Republiek Ierland is in 2015 op $343 miljard beraam en was betreklik hoër as Amerikaanse beleggings in ander wêreldstreke soos Suid-Amerika ($131 miljard), Afrika ($64 miljard) of die Midde-Ooste ($49 miljard). Alhoewel Ierland slegs sowat een persent van die Europese Unie se ekonomie verteenwoordig, was in 2015 11,6 persent van alle buitelandse beleggings van Amerikaanse ondernemings in Europa hier gekonsentreer.[31]
Natuurlike hulpbronne
In Ierland word geen noemenswaardige mineraalneerslae aangetref nie, behalwe vir kleiner hoeveelhede silwer, lood, sink en gips wat kommersieel ontgin word. So is dié land veral aangewese op brandstofinvoere. Kleiner gasvelde in die Keltiese See suid van die graafskap Cork word sedert die vroeë 1980's ontgin, maar dra net 'n klein deel tot die republiek se energiebehoeftes by. Gas word intussen hoofsaaklik deur 'n gaspyplyn ingevoer wat in die 1990's tussen Groot-Brittanje en Ierland gebou is. Nuut ontdekte gasvelde op see het beperkte potensiaal.
Handgesnede turf was eeue lank die belangrikste brandstof vir Ierland se landelike bevolking. Gedurende die 20ste eeu is die turfontginning grotendeels gemeganiseer en op industriële vlak ontwikkel en turf word steeds as brandstof vir klein en middelgroot termiese kragsentrales ontgin. Ingevoerde aardgas, ruolie en steenkool speel intussen egter 'n belangriker rol in Ierland se energiebedryf. Daarnaas word krag hoofsaaklik in hidroëlektriese aanlegte opgewek. Tans het die oorgrote meerderheid van landelike huishoudings toegang tot elektrisiteit.
Hernieubare energiebronne soos wind- en getyekragsentrales het tans die grootste potensiaal om in Ierland se toekomstige energiebehoeftes te voorsien. Kragopwekking in windkragsentrales het in Julie 2009 tot die rekordvlak van 999 megawatt gestyg – of sowat 'n derde van Ierland se daaglikse energiebehoeftes.
Onderwys
Tans bestee die Ierse staat met jaarliks 9 miljard € sowat 4,7 persent van die bruto binnelandse produk of 16 persent van die totale belastinginkomste aan onderwys. Die ekonomiese en finansiële krisis sal in die nabye toekoms daartoe lei dat besuinigings op hierdie uitgawes toegepas moet word. Alle kostebesnydings sal egter met omvattende hervormings gepaard gaan.
Die Ierse skoolstelsel is drieledig met primêre, sekondêre en hoër- of derdevlakskole. Elke kind en jeugdige moet tussen die ouderdomme van ses en vyftien 'n skool bywoon. Openbare skole, waarvan baie deur die Rooms-Katolieke Kerk bestuur word, vra geen skoolgeld nie – in teenstelling met privaat skole. Onderwysers in privaat skole word egter deur die Ierse staat betaal.
Die Ierse regering se hervormingsplanne, wat tans nog omstrede is, maak voorsiening vir die sekularisering van openbare skole wat tans nog deur die Rooms-Katolieke Kerk bestuur word.
Daar is tans sewe universiteite in Ierland, waarvan drie in Dublin (waaronder die befaamde Trinity College), en een elk in Cork, Galway (die enigste tweetalige tersiêre instelling met Iers en Engels as voertale), Limerick en Maynooth. Die stigting van 'n nuwe Tegniese Universiteit in Waterford word tans beplan.
Naas die bogenoemde instellings is daar 14 Institutes of Technology. Ierland se tersiêre instellings staan bekend vir hul uitstekende akademiese gehalte. Kenmerkend is ook die hoë persentasie buitelandse professore, dosente en ander akademiese personeel en die noue samewerking met akademiese instellings in die buiteland.
Mediabedryf
Radio en televisie
Soos in die meeste ander Europese lande is persvryheid een van die hoekstene van die Ierse demokrasie. 'n Aantal nasionale dag- en weekblaaie word in dié land uitgegee, waaronder The Irish Times en The Irish Independent, asook ponie- en streekkoerante. Radio is die belangrikste medium met 'n verskeidenheid publieke en privaat uitsaaiers. Die openbare radiostasies RTÉ 1 (as nuuskanaal) en RTÉ 2 (met popmusiek) saai hul programme in Engels uit, terwyl Raidió na Gaeltachta na die belange van Ierssprekende luisteraars omsien.
Daarnaas speel ook televisie 'n sentrale rol as bron van inligting, met die openbare uitsaaikorporasie RTÉ (twee Engels-mediumkanale en die Iers-mediumkanaal TG 4) en TV3 as privaat uitsaaier. Die Ierse kanaal Teilifís na Gaeilge (TG4) het sy programme in laat 1996 begin beeldsaai en het tans 'n daaglikse gemiddelde kykertal van sowat 650 000.[32]
Ook die internet speel 'n steeds belangriker rol. Twee derdes van die Ierse bevolking het toegang tot die net, en sowat twee miljoen maak gebruik van sosiale media soos Facebook.
Rolprentbedryf
Ierland se eerste klassieke dokumentêr, Man of Aran, is in 1934 deur die Amerikaanse rolprentmaker Robert J. Flaherty vervaardig. Maar eers ná die stigting van die Irish Film Board in 1981 is 'n selfstandige filmbedryf in dié land gevestig. Tans is daar meer as 560 klein en middelgroot ondernemings in die bedryf wat meer as 6 000 mense in diens het en jaarliks oudio-visuele inhoud ter waarde van meer as €550 miljoen (ZAR7,35 miljard) vervaardig.[33]
In die 1980's en 1990's is 'n reeks rolprente vervaardig wat ook internasionale aandag getrek het, waaronder Jim Sheridan se verfilming van Christy Brown se roman My Left Foot (1989) waarin David Day Lewis die hoofrol vertolk het, Neil Jordan se Crying Game (1992) en Michael Collins (1996), 'n film oor die lewe van 'n aanvoerder van die onafhanklikheidsoorlog met Liam Neeson in die hoofrol. Jordan se The Butcher Boy, wat in 1998 vrygestel is, is 'n verfilming van Patrick McCabe se gelyknamige roman oor die skadukant van die lewe in 'n klein nedersetting.
John B. Keane se ironiese parabel The Field is in 1990 in die dramatiese berglandskap rondom Killary Harbour naby die grens tussen die graafskappe Mayo en Galway geskiet. Ook in The Name of the Father (1993) skep Keane 'n besondere atmosfeer. Dié film speel teen die agtergrond van Dublin se duister Kilmainham-gevangenis af en behandel die storie van die sogenaamde Guildford Four wat ná 'n bomaanval van die Ierse Republikeinse Leër onskuldig ingekerker is. Die hoofrol word deur Daniel Day Lewis vertolk.
Roddy Doyle se Barrytown-trilogie het die aanleiding tot drie komedies gegee. Alan Parker het in 1991 die regie van The Commitments behartig, terwyl Stephen Frear The Snapper (1993) en The Van (1996) verfilm het. How to Cheat in the Leaving Certificate (1998) is 'n onafhanklike rolprent van die regisseur Graham Jones waarin ses tieners 'n plan maak om in hul skooleindeksamen te kul. Talle bekende Ierse persoonlikhede maak kort verskynings in die rolprent wat oorspronklik in swart en wit op Super 16 mm geskiet is. Nadat dit groot aanklank by kritici gevind het, is die rolprent vir vertoning in rolprentteaters tot 35 mm vergroot.
Ierse landskapstonele het ook gewild geraak by Hollywood-regisseurs. Van die skietwerk aan Mel Gibson se Braveheart is nie in Skotland nie, maar naby die Ierse dorp Trim in die graafskap Meath gedoen, terwyl die geallieerde landing in Steven Spielberg se oorlogsdrama Saving Private Ryan nie in Normandië nie, maar aan die kus van die graafskap Wexford geskiet is.[34]
Sport
Die Gaeliese spele word as nasionale sport van Ierland beskou,[35][36][37] waarvan Gaeliese voetbal en hurling die gewildste sportsoorte in Ierland is.[38] Ander gewilde Gaeliese sportsoorte sluit in Gaeliese handbal en rounders.[39] Anders as by netbal en sokker, waar albei dele van Ierland oor hul eie nasionale spanne beskik, vorm die Republiek Ierland en Noord-Ierland in hokkie, krieket en rugby gemeenskaplike Ierse nasionale spanne wat op internasionale vlak meeding.
Sokker is die derde gewildste sport en geniet die hoogste vlak aan deelname.[40] Hoewel die League of Ireland die nasionale sokkerliga is, is die Engelse Premier League die gewildste sokkerliga in dié land.[41] Die Ierse nasionale sokkerspan speel op internasionale vlak en word deur die Football Association of Ireland georganiseer.[42] Die Ierse nasionale sokkerspan kon tot dusver drie keer vir die FIFA Sokker-Wêreldbeker kwalifiseer (in 1990, 1994 en 2002) en het twee keer die agtste eindrondte gehaal (in 1994 en 2002). Die Republiek Ierland kon ook drie keer vir die UEFA Europa-beker kwalifiseer (in 1988, 2012 en 2016) en het tydens die Europese Sokkerkampioenskap 2016 tot die agste eindrondte deurgedring, maar teen die gasheer en latere naaswenner Frankryk verloor. Interessant genoeg het die Noord-Ierse nasionale sokkerspan ook vir dié toernooi gekwalifiseer en die agtste eindrondte gehaal.
Rugby is 'n gewilde sport in Ierland en word deur die Ierse Rugbyvoetbalunie (IRFU) vir die hele eiland georganiseer. Die drie Ierse verteenwoordigers Connacht Rugby, Leinster Rugby en Munster Rugby behoort tot die vier professionele provinsiale spanne op dié eiland wat aan die Verenigde Rugbykampioenskap en die Europese Rugbykampioenebeker deelneem; die vierde is die Noord-Ierse Ulster Rugby. Die Ierse nasionale rugbyspan ding in die Sesnasies-toernooi met Engeland, Frankryk, Italië, Skotland en Wallis mee en neem gereeld aan rugbywêreldbekertoernooie deel. Ierland was een van die gashere tydens die Rugbywêreldbeker 1991 en die Rugbywêreldbeker 1999. Dit word as 'n groot prestasie beskou om saam met die Britse en Ierse Leeus na die Suidelike Halfrond te toer, waar hulle sowat al om die vier jaar teen die Nieu-Seelandse All Blacks, die Suid-Afrikaanse Springbokke of die Australiese Wallabies speel.[43]
Krieket was eens 'n sportsoort wat min ondersteuning geniet het, maar danksy die onlangse sukses van die Ierse nasionale krieketspan tydens die onlangse krieketwêreldbekertoernooie in 2007, 2011 en 2015 groei die gewildheid in krieket. Op 22 Junie 2017 is Ierland saam met Afghanistan toetsstatus toegeken.[44] Ierland het as een van die medegashere tydens die Krieketwêreldbeker 1999 opgetree en sal die T20I-wêreldbeker 2030 saam met Engeland en Skotland aanbied.[45]
Verwysings
- (en) "Official Languages Act 2003". Office of the Attorney-General. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Mei 2020. Besoek op 2 Julie 2020.
- (en) "Ireland". Central Intelligence Agency. Besoek op 9 April 2024.
- (en) "Surface water and surface water change". OESO. Besoek op 9 April 2024.
- (en) "Population and Migration Estimates, April 2023". Sentrale Statistiekkantoor. April 2023. Besoek op 9 April 2024.
- (en) Ailbhe Conneely (30 Mei 2023). "Working from home up, Catholic households down in Census figures". RTÉ. Besoek op 9 April 2024.
- (en) "Ireland". Internasionale Monetêre Fonds. Oktober 2023. Besoek op 9 April 2024.
- (en) "Human Development Report 2023/2024" (PDF). United Nations Development Programme. 13 Maart 2024. Besoek op 9 April 2024.
- (en) "Gini coefficient of equivalised disposable income – EU-SILC survey". Eurostat. Besoek op 9 April 2024.
- (en) Census of Population 2016 – Preliminary Results
- (en) "Where does the name Ireland come from?". IrishCentral. 26 Augustus 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 September 2021. Besoek op 13 September 2021.
- (en) Coleman, Marie (2013). The Irish Revolution, 1916–1923. Routledge. p. 230. ISBN 978-1-317-80146-7. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Desember 2021. Besoek op 12 Februarie 2015.
- (en) Gallagher, Michael; Coakley, John, reds. (2010). Politics in the Republic of Ireland. 0415476712. ISBN 978-0-415-47671-3. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Desember 2021. Besoek op 12 Februarie 2015.
- (en) J.D.B. Oliver (2004). Tiley, John (red.). Studies in the History of Tax Law. Hart Publishing. pp. 181–3. ISBN 1-84113-473-2. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Januarie 2016. Besoek op 12 Februarie 2015.
- (en) J.D.B. Oliver (2004). Tiley, John (red.). Studies in the History of Tax Law. Hart Publishing. p. 178. ISBN 1-84113-473-2. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Januarie 2016. Besoek op 12 Februarie 2015.
- (en) Mary Daly (2007). The Irish Free State/Éire/Republic of Ireland/Ireland: A Country by Any Other Name?. Vol. 46 (1 uitg.). Journal of British Studies. p. 80. doi:10.1086/508399.
- (en) Mary Daly (2007). The Irish Free State/Éire/Republic of Ireland/Ireland: A Country by Any Other Name?. Vol. 46 (1 uitg.). Journal of British Studies. pp. 72–90. doi:10.1086/508399.
- (en) Acciano, Reuben (2005). Western Europe. Lonely Planet. p. 616. ISBN 1-74059-927-6. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Desember 2021. Besoek op 12 Februarie 2015.
- (en) Smith, M.L.R (2002). Fighting for Ireland?: The Military Strategy of the Irish Republican Movement. Routledge. p. 2. ISBN 1-134-71397-5. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Desember 2021. Besoek op 12 Februarie 2015.
- (en) McGreevy, Ronan (24 Februarie 2020). "Why Sinn Féin will not call the State by its name". The Irish Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Augustus 2022. Besoek op 24 Augustus 2022.
- (en) "Dáil Éireann debate – Irish Nationality and Citizenship Bill, 1999". Oireachtas. 13 April 2000. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Augustus 2022. Besoek op 24 Augustus 2022.
- (en) www.lietuva.lt: Lithuania needs the experience of emigré communities, 5 Oktober 2010[dooie skakel]
- (en) The Guardian, 23 Augustus 2016: Ireland reports first net immigration since 2009. Besoek op 23 Augustus 2016
- (de) www.bpb.de: Migration – Länderprofil Irland
- (en) www.digitaljournal.com: Mass protest in Ireland
- (en) www.cso.ie: Quarterly National Accounts
- (en) Central Statistics Office Ireland: Labour Market
- (de) www.welt.de: Staatsziel Sparen – so fühlt sich Leben in Irland an, 6 Junie 2010
- (en) BBC News, 5 Junie 2012: Report finds recession hits immigrants in Ireland hardest
- (en) "Ireland Unemployment Rate". Trading Economics. Besoek op 9 April 2024.
- (en) "Real GDP growth". Internasionale Monetêre Fonds. Besoek op 9 April 2024.
- (en) American Chamber of Commerce Ireland: US-Ireland Business 2017, bl. 12. Besoek op 28 November 2017 Geargiveer 17 November 2017 op Wayback Machine
- (en) www.tg4.ie: Agtergrond
- (en) Irish Film Board: About the Irish Film Industry Geargiveer 24 Augustus 2013 op Wayback Machine
- (de) Christopher Somerville: Der National Geographic Traveler – Irland. Hamburg: National Geographic Society 2008, bl. 38
- (en) "RTÉ Secures Comprehensive GAA Championship Coverage Until 2010". RTÉ Online. 19 Februarie 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Julie 2010. Besoek op 29 April 2009.
Today's announcement ensures that the public will enjoy quality coverage of our national games across all of RTÉ's media platforms.
- (en) "Adjournment Matters. – Eurathlon Programme". Seanad Éireann. 22 November 1995. pp. Volume 145. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Junie 2011. Besoek op 29 April 2009.
- (en) Hugh Farrelly (15 September 2009). "The most progressive team in Ireland". ESPNscrum. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 2 Julie 2020.
It's [the All-Ireland Senior Football Championship Final] a big deal in Ireland, where Gaelic games are the national sport, but the problem for the Gaelic Athletic Association (GAA) is that no-one outside the country, save for committed expatriates, gives a fig.
- (en) "GAA attendances hold firm" (PDF). GAA official website. 21 Julie 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 2 Julie 2020.
- (en) "About the GAA". GAA official website. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 2 Julie 2020.
- (en) "Social and Economic Value of Sport in Ireland" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 24 September 2015. Besoek op 5 Februarie 2009.
- (en) Daire Whelan (2006). Who Stole Our Game?. Gill & Macmillan Ltd. ISBN 0-7171-4004-0.
- (en) "About FAI". FAI official website. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 September 2011. Besoek op 2 Julie 2020.
- (en) "British & Irish Lions". Britse en Ierse Leeus. Besoek op 14 Februarie 2021.
- (en) "Ireland and Afghanistan ICC newest full members amid wide-ranging governance reform". Internasionale Krieketraad. 22 Junie 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 April 2020. Besoek op 6 Mei 2018.
- (en) Nagraj Gollapudi (16 November 2021). "USA co-hosts for 2024 T20 WC, Pakistan gets 2025 Champions Trophy, India and Bangladesh 2031 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 16 November 2021.
Bronne
- Algemeen
- (en) "Ireland". Encyclopædia Britannica. Besoek op 9 April 2024.
- (en) "Ireland". Central Intelligence Agency. Besoek op 9 April 2024.
- Ekonomie
- (de) Statistieke 2007: Financial Times Deutschland, Jeder wirbt um die Besten, in: Visavis Economy, nommer 7 (2007), bl. 31/33
Eksterne skakels
Wikimedia Commons bevat media in verband met Ierland. |
- (en) Toerisme-inligting oor Ierland op Wikivoyage
- (en) Amptelike webwerf van die Ierse Regering
- (en) Amptelike webwerf van die Ierse President
- (en) Amptelike webwerf van die Ierse Taoiseach