Huis van Sakse-Koburg en Gotha
Die Huis van Sakse-Koburg en Gotha (dikwels Sakse-Koburg-Gotha; Duits: Sachsen-Coburg und Gotha) is een van die Duitse dinastieë waarvan lede oor verskillende Europese lande regeer het.
Huis van Sakse-Koburg en Gotha | |
---|---|
Wapen van die Huis van Sakse-Koburg en Gotha | |
Stam af van | Huis van Wettin |
Lande | België, Portugal, Verenigde Koninkryk en Bulgarye |
Hoof | Andreas van Sakse-Koburg en Gotha |
Stigter | Ernst I van Sakse-Koburg en Gotha |
Gestig | 1826 |
Titels | Koning van die Belge, Koning van Portugal, Koning van die Verenigde Koninkryk, Koning van Bulgarye |
Opgevolg deur | Huis van Windsor Huis van Koháry Huis van Braganza-Sakse-Koburg en Gotha |
Die dinastie het ontstaan uit die hertoghuis Sakse-Koburg-Saalfeld (uit die Huis van Wettin), wat in 1826 die dubbelhertogdom Sakse-Koburg en Gotha in besit geneem het. Kinders uit hierdie geslag het in die 19de eeu oor verskillende ander lande begin regeer:
België
Toe België in 1830 onafhanklik word, wou hulle ’n koning hê. Uiteindelik het die jonger broer van hertog Ernst I van Sakse-Koburg en Gotha, Leopold, die kroon aanvaar. Hy is op 21 Julie 1831 gekroon as koning Leopold I.
In 1920 het koning Albert I besluit om die titel Hertog van Sakse en die familienaam Sakse-Koburg-Gotha nie meer te gebruik nie vanweë die wandade van die Duitse troepe in die Eerste Wêreldoorlog in België. Die Belgiese koningshuis heet sedertdien amptelik "van België".
- 1831–1865: Leopold I
- 1865–1909: Leopold II
- 1909–1934: Albert I
Portugal
Op 1 Januarie 1836 het Ernst se neef Ferdinand getrou met koningin Maria II van Bragança en het hy Ferdinand II van Portugal geword. So het ’n Portugese lyn van die Huis van Bragança-Sakse-Koburg en Gotha ontstaan, wie se nakomelinge tot 1910, toe die monargie opgehef is, onder die naam Sakse-Koburg en Gotha regeer het.
- 1853–1861: Peter V
- 1861–1889: Lodewijk I
- 1889–1908: Karel I
- 1908–1910: Emanuel II
Verenigde Koninkryk
Die seun van hertog Ernst I, Albert, het op 10 Februarie 1840 getrou met koningin Victoria van die Verenigde Koninkryk. Die Britse koningshuis het van toe af amptelik bekend gestaan as Sakse-Koburg-Gotha. In 1917 het koning George V die naam verander na die Huis van Windsor.
- 1901–1910: Edward VII
- 1910–1936: George V
Bulgarye
’n Ander lid van die familie, Ferdinand van Sakse-Koburg-Gotha-Koháry, het na die aftrede van vors Alexander, Prins van Hessen, op 7 Julie 1887 prins en later koning van Bulgarye geword. Die laaste koning, Simeon II (gebore op 16 Junie 1937), het ook die van Sakse-Koburg-Gotha (Bulgaars: Sakskoboerggotski) gehad en was van 2001 tot 2005 premier van Bulgarye.
- 1887–1918: Ferdinand
- 1918–1943: Boris III
- 1943–1946: Simeon II
Sakse-Koburg en Gotha
Ernst I is in 1844 dood en is opgevolg deur sy seun Ernst II. In 1893 is Ernst II kinderloos dood en sou die troon eintlik gaan na die Prins van Wallis (die latere Edward VII van die Verenigde Koninkryk). Edward het egter afstand gedoen van sy reg op die hertogdom se troon en het dit oorgegee aan sy jonger broer Alfred, die Hertog van Edinburg.
Alfred se enigste seun, ook Alfred, het in 1899 selfmoord gepleeg. Toe eersgenoemde ’n jaar later sterf, is hy opgevolg deur sy neef Karel Eduard, kleinseun van koningin Victoria. Hy moes in 1918 afstand van die troon doen.
- 1826–1844: Ernst I
- 1844–1893: Ernst II
- 1893–1900: Alfred
- 1900–1918: Karel Eduard