Huis van Karađorđević
Die Huis van Karađorđević (Serwies: Карађорђевићи; Engels: Karageorgevich) was ’n Serwiese regerende dinastie wat afgestam het van Karađorđe (Đorđe/George Petrović). Die familie het die troon in November 1945 verloor toe die Kommunistiese Party die bewind in Joego-Slawië oorgeneem het. Koning Pieter II het nooit geabdikeer nie.
Huis van Karađorđević | |
---|---|
Wapen van die Huis van Karađorđević | |
Lande | Serwië, Joego-Slawië |
Stigter | Karađorđe Petrović |
Gestig | 1804 |
Laaste heerser | Pieter II van Joego-Slawië |
Titels | Prins (Кнез/Knez), koning (Краљ/Kralj) |
Huidige hoof | Alexander, kroonprins van Joego-Slawië |
Geskiedenis
Die Karađorđevic-familie was aanvanklik die Serwiese koningshuis, toe die koningshuis van die Serwiërs, Kroate en Slowene en toe die koningshuis van Joego-Slawië. Die huis stam af van Đorđe Petrović, ’n handelaar wat onder sy aanhangers bekend was as Karađorđe. In 1804 het die Serwiërs in opstand gekom teen die Ottomaanse Ryk wat in daardie stadium oor die Balkanskiereiland regeer het. Die Eerste Serwiese Opstand was geslaagd en Karađorđe het ’n regering in Belgrado saamgestel. In 1811 is hy erken as heerser met sy familie as wettige opvolgers. Die Ottomane het egter in 1813 teruggekeer en Karađorđe en sy familie het gevlug. Sy seun prins Alexander het egter teruggekeer en van 1842 tot 1858 oor Serwië regeer.
Toe Karađorđe vermoor word deur Miloš Obrenović, het ’n bloedvete tussen die huise van Karađorđević en Obrenović ontstaan wat voortgeduur het tot die Obrenović-koning Alexander I en sy familie vermoor is en die Karađorđević-dinastie teruggekeer het.
In 1903 het die nasionale vergadering van Serwië gevra dat prins Pieter – die kleinseun van Karađorđe – die troon bestyg en hy is gekroon as koning Pieter I van Serwië. Kort voor die einde van die Eerste Wêreldoorlog is die Koninkryk van die Serwiërs Kroate en Slowene onder koning Pieter I geproklameer. In 1918 het Pieter I koning geword van die nuwe ryk Joego-Slawië, wat bestaan het uit Serwië, Montenegro en dele van die voormalige Oostenryk-Hongarye: Kroasië, Slowenië en Bosnië-Herzegowina. Hy is in 1921 opgevolg deur sy seun Alexander I (1888–1934), wat egter in 1934 vermoor is. Sy minderjarige seun Pieter II (1923–1970) het regeer tot in 1941 onder regentskap van sy oom Paul (1893–1976), maar is ná die Tweede Wêreldoorlog deur die kommuniste afgesit (29 November 1945). Sy seun Alexander II (1945) is die huidige aanspraakmaker op die troon.
Regerende lede
Die regerende lede van die familie was:
- Karađorđe Petrović, leier van die Eerste Serwiese Opstand (1804–1813)
- Alexander, Prins van Serwië (1842–1858)
- Peter I Karađorđević, koning van Serwië (1903–1918), koning van die Serwiërs, Kroate en Slowene (1918–1921)
- Alexander I, prins-regent (1918–1921), koning van die Serwiërs, Kroate en Slowene/Joego-Slawië (1921–1934)
- Peter II, koning van Joego-Slawië (1934–1945), koning in ballingskap van 1945 tot met sy dood in 1970.
- Prins Paul, prins-regent (1934–1941)
Huidige nie-regerende lede:
- Alexander Karađorđević, kroonprins van Joego-Slawië en Serwië
- SKH prins Nikola Karadjordjevic, hoof van die Kraljevic Tomislav-tak
- SKH prins Vladimir Karadjordjevic, hoof van die Kraljevic Andrej-tak
- SKH prins Alexander, seun van prins Paul), hoof van die prins Paul-tak
Opvolging
Kroonprins Alexander II woon sedert 2001 in Belgrado in die koninklike paleis. As seun van die laaste koning, Pieter II, wat nooit geabdikeer het nie, het hy volle reg tot die Serwiese troon. Hy het egter al gesê Serwië moet demokrasie kroon voordat dit die koning kan kroon.
Hy is bekend vir sy demokratiese standpunte. Hy ontvang alle godsdienstige leiers in die paleis en spreek gereeld sy wens uit vir menseregte en demokrasie.
Verwysings
- Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel en:House of Karađorđević
Eksterne skakels
Wikimedia Commons bevat media in verband met Huis van Karađorđević. |
- Amptelike webtuiste van die Serwiese koningshuis
- SKH prins Nikola Karageorgevich Geargiveer 27 Februarie 2008 op Wayback Machine
- SKH prins Aleksandar Pavlov Karageorgevich Geargiveer 26 Januarie 2009 op Wayback Machine
- SKH prinses Jelisaveta Karageorgevich Geargiveer 11 Februarie 2009 op Wayback Machine
- Kroonprins Alexander se Stigting vir Kultuur en Opvoeding Geargiveer 26 Maart 2008 op Wayback Machine