Hewlett-Packard
Hewlett-Packard Company, algemeen bekend onder sy afkorting HP, was 'n multinasionale inligtingstegnologie-maatskappy wat sy hoofkwartier in Palo Alto in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië gehad het. HP het van 'n beskeie begin as motorhuisonderneming tot een van die grootste globale tegnologie-vervaardigers gegroei en bedien vandag byna elke mark wêreldwyd. Volgens sy omset is dit tans die grootste vervaardiger van inligtingstegnologie ter wêreld, nog voor IBM. HP was ook een van die eerste tegnologie-ondernemings wat hulle in die bekende Silicon Valley in Kalifornië gevestig het.
Hewlett-Packard Company | |
Tipe | Publieke maatskappy |
---|---|
Gestig | 1939 in Palo Alto, VSA |
Hoofkantoor | Palo Alto, CA, Verenigde State |
Sleutelpersone | William Redington Hewlett, Dave Packard (stigters) |
Industrie | Inligtingstegnologie |
Produkte | Rekenaars en skootrekenaars, rekenaarskerms, bedieners, sagteware, drukkers |
Dienste | IT-dienste |
Inkomste | 127,25 miljard VSA-$ (2011) |
Bedryfsinkomste | 11,39 miljard VSA-$ (2011) |
Netto inkomste | 7,07 miljard VSA-$ (Fiskale jaar 2011) |
Werknemers | 349 600 (31 Oktober 2011) |
Dogter- maatskappye | Compaq |
Slagspreuk | Invent. |
Webwerf | HP.com |
Ontbind | 1 November 2015 |
In die 1970's het HP eerste kommersiële sukses met die vervaardiging en verspreiding van rekenaarreekse met self-ontwikkelde bedryfstelsels behaal. Die onderneming het daarnaas 'n lang tradisie as vervaardiger van programmeerbare wetenskaplike sakrekenaars en ontwikkelaar van meettegnologie. Die ontwikkeling en verspreiding van rekenaars met self-ontwikkelde sagteware is in die laat 1980's gestaak.
Vandag is HP 'n konglomeraat-onderneming wat dogtermaatskappye soos die rekenaarvervaardiger Compaq en Palm as produsent van die Black Berry insluit. Die groep spits hom op die ontwikkeling en vervaardiging van rekenaar-, datastoor- en netwerk-hardeware, die ontwerp van sagteware en die verskaffing van IT-dienste toe.
Alhoewel HP in die IT-bedryf as een van die grootste verskaffers van bedieners en bedienerdienste bekend staan, verbind eindbverbruikers die naam HP veral met drukkers. HP het in 1984 die eerste inkstraaldrukker ontwikkel en word tans onder die grootste verskaffers van ink- en lasergebaseerde rekenaardrukkers, ink- en lasertonerhouers asook skandeerders en kopieerders vir kommersiële en privaat verbruikers gereken.
Organisasiestruktuur
In organisatoriese opsig het HP sy bedryfsaktiwiteite tot en met 2012 in drie groot sake-eenhede verdeel:
- die Personal Systems Group (PSG): rekenaars vir tuis- en professionele gebruik, skootrekenaars en mobiele toestelle, en werkstasies,
- die Imaging and Printing Group (IPG): inkstraal- en laserdrukkers asook professionele drukoplossings, verbruiksmateriaal vir drukkers, digitale fotografie en digitale vermaak en
- die Technology Solutions Group (TSG): IT-oplossings vir groter maatskappye (soos byvoorbeeld datastoor- en bedienerstelsels), EDS, uitbestedingsdienste en sagteware.
As gevolg van herstrukturering is die eersgenoemde twee sake-eenhede in 2012 saamgesmelt tot
- Printing and Personal Systems (PPS).
Opsplitsing
Op 6 Oktober 2014 het Hewlett-Packard sy voorneme bekend gemaak om sy rekenaar- en drukker-bedrywighede in 'n afsonderlike en aparte onderneming te verenig en af te skei van sy ondernemingsdienste en -produkte. Die opsplitsing in twee eenhede is op 1 November 2015 met die skepping van twee ondernemings voltooi wat hul hoofkantore steeds in Palo Alto het:
- HP Inc. (wat hardeware soos rekenaars en drukkers asook toebehore ontwikkel, vervaardig en bemark) en
- Hewlett Packard Enterprise (wat op die behoeftes van ondernemings fokus en met sy vier afdelings dienste en produkte soos bedieners, wolkstoordienste, netwerk, sakekonsultasie, sagteware en finansies aanbied).