Hekla
Die Heklavulkaan is die bekendste vulkaan van Ysland. Dit is in die suide van die eiland geleë en bereik 'n hoogte van 1 488 meter bo seevlak. Die sneeubedekte Hekla is naas Grímsvötn die aktiefste vulkaan in Ysland en was in die volksmitologie tot die 17de eeu as 'n poort na die hel beskou nadat dit net in die tydperk van 1104 tot 1693 twaalf keer uitgebars en verwoesting gesaai het. Die grootste uitbarsting van die 20ste eeu het in 1947 plaasgevind, en vulkaanas is destyds tot by die Finse hoofstad Helsinki gewaai. Die laaste uitbarsting is in April 2010 aangeteken.
Hekla | |
---|---|
Ligging | Suid-Ysland |
Hoogte | 1 488 meter bo seevlak |
Reeks | Heklamassief |
Koördinate | 63°58′48″N 19°42′0″W |
Bergtipe | Skild-/stratovulkaan |
Laaste uitbarsting | 19 April 2010 |
Eerste bestyging | 1750 |
Eerste bestyger(s) | Eggert Olafsson Bjarni Palsson |
Daar word aangeneem dat ook die Ierse monnik Sint Brendan, wat in die 8ste eeu langs die Yslandse kus geseil het, ooggetuie van een van Hekla se uitbarstings was.[1]
Vulkanologies gesien, is Hekla 'n verskynsel tussen 'n skild- en stratovulkaan, wat tans veral in die laasgenoemde rigting ontwikkel en uit vyf kraters bestaan. Hekla het vermoedelik sowat 6 600 jaar gelede of nog vroeër ontstaan, en maak deel uit van 'n 40km-lange vulkaanrif.
Uitbarstings is aangeteken in 1104, 1158, 1206, 1222, 1300, 1341, 1389, 1510, 1597, 1636, 1693, 1766, 1845, 1947, 1970, 1980, 1991, 2000 en 2010.
Verwysings
- Island. Polyglott APA Guide 2007/2008. Berlyn en München: Langenscheidt 2007, bl. 191
Wikimedia Commons bevat media in verband met Hekla. |