Hawaise uitbarsting

'n Hawaise uitbarsting is 'n soort vulkaanuitbarsting waar lawa teen 'n redelik bedaarde tempo sonder ontploffings uit die vulkaanopening vloei; dit word so genoem na die kenmerkende vulkane van Hawaii.

'n Hawaise uitbarsting: 1. aspluim, 2. lawafontein 3. krater, 4. lawameer, 5. rookgat, 6. lawavloei, 7. lae lawa en as, 8. stratum, 9. intrusieplaat, 10. magmabuis, 11. magmakamer, 12. intrusiegang

Beskrywing

Gewoonlik is dié soort uitbarstings 'n uitvloeiing van hoogs vloeibare, basaltiese lawa met 'n klein viskositeit, min gas en hoë temperature. Baie min vulkaanas kom voor. Dié soort uitbarstings word verbind met warm kolle soos by Kīlauea op die eiland Hawaii en in Ysland, hoewel dit ook kan voorkom naby subduksiesones, soos in Kalifornië, en skeursones.

Hawaise uitbarstings kom dikwels voor by vulkaanskeure, soos in 1950 op Mauna Loa, of by die sentrale opening, soos in 1959 op Kīlauea Iki. By skeuruitbarstings spuit lawa uit 'n skeur op die vulkaan en voed lawastrome wat teen die hang af vloei. By sentrale openinge kan 'n fontein lawa tot 300 m hoog spuit (hoogtes van 1 600 m is aangeteken vir die 1986-uitbarsting van die berg Mihara in Japan).

Hawaise uitbarstings begin gewoonlik met die vorming van 'n kraak of skeur in die grond waardeur gloeinde magma vloei en verskeie magmafonteine naby mekaar verskyn. Die lawavloei raak later om sulke fonteine gekonsentreerd. Die vrystelling van swaeldioksied by sulke uitbarstings kan dodelik wees.[1]

Verwysings

  1. Sprowl, GM (November 2014). "Hazards of Hawai'i Volcanoes National Park". Hawai'i Journal of Medicine & Public Health : A Journal of Asia Pacific Medicine & Public Health. 73 (11 Suppl 2): 17–20. PMC 4244893. PMID 25478297.

Skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.