Hartbeespoortdam
Die Hartbeespoortdam is 'n opgaardam wat water voorsien aan 'n besproeiingsgebied van ongeveer 15 400 ha in die Krokodilriviervallei. Planne vir die Hartbeespoortdam en die daarmee gepaardgaande besproeiingskema is reeds in 1914 deur die Regering goedgekeur.
Hartbeespoortdam | |
---|---|
Die Hartbeespoortdam se sluise | |
Amptelike naam | Hartbeespoortdam |
Ligging | Brits, Noordwes |
Provinsie/Land | Suid-Afrika |
Koördinate | 25°44′51″S 27°52′0″O |
Dam in | Krokodilrivier |
Doel | Besproeiing |
Konstruksie begin | 1921 |
Openingsdatum | 1923 |
Konstruksiekoste | 2 miljoen pond |
Eienaar | Departement van Waterwese |
Soort dam | Boogdam |
Hoogte van wal | 59 m |
Lengte van wal | 150 m |
Bakmaat | 195 050 miljoen m3 |
Sluise | 10 in een afvoerkanaal |
Reservoir | Hartbeespoortdam |
Opvanggebied | 684 km2 |
Damoppervlak | 20.652 km2 |
Brug dra | Voertuie |
Eers in 1918 is met die bouwerk begin en in 1923 is die wal voltooi. In 1925 het die dam vir die eerste keer oorgeloop, 'n gebeurtenis wat hom daarna maar selde sou herhaal. Die damwal, 'n boogkonstruksie van beton, is in 'n nou poort tussen Kommandonek en Silkaatsnek in die Magaliesberg opgerig. Die wal het 'n oorloop op die linkerflank en die uitloop word deur sluise beheer.
Vir die besproeiingskema is ʼn aantal pompstasies, beheertorings, kanale en tonnels aangelê. Hoewel die dam selde vol loop, is daar tog besluit om die damwal met 3 m te verhoog. Dié werk is in 1970 voltooi en dit het die inhoudsvermoë (bakmaat) van 168 077 miljoen m³ tot 211 990 miljoen m³ verhoog. Wanneer die dam vol is, beslaan die water 'n oppervlakte van ongeveer 20 km². Die dam word hoofsaaklik deur die Krokodilrivier gevoed, maar kry ook redelik baie water uit die Magaliesrivier, wat kort voor die dam in die Krokodilrivier vloei.
Die water van die Hartbeespoortdam word gebruik om 'n gebied van ongeveer 15 400 ha te besproei. Hierdie besproeiingsgebied lê oor ʼn afstand van 45 km aan weerskante van die Krokodilrivier. Tabak en koring is die vernaamste produkte wat in die vallei verbou word, asook lusern, groente en blomme. Hoewel daar aanvanklik 'n klein hidroëlektriese kragsentrale onderkant die damwal opgerig is, word dit vandag nie meer gebruik nie.
Aanvanklik het die hoofweg tussen Rustenburg en Pretoria oor die damwal geloop en dit was nodig om 'n tonnel van 53 m lank deur die rots (kwartsiet) te grawe om die pad met die damwal te verbind. Vanweë die snelle landbou- en nywerheidsontwikkeling in die gebied onderkant die damwal is 'n tweede hoofweg egter aangelê, wat die eenrigtingverkeer oor die damwal verlig.
Die dam het met verloop van tyd 'n gewilde toeriste-oord geword en twee dorpies, Kosmos en Schoemansville, het aan weerskante van die dam ontstaan.
Behalwe vir besproeiing, verskaf die Hartbeespoortdam ook 'n klein hoeveelheid water aan die nabygeleë dorp Brits. Hierdie gebied se nywerheidsontwikkeling is egter van so 'n aard dat meer water vir nywerheidsdoeleindes uit die Hartbeespoortdam benodig sal word. Ernstige probleme met waterhiasinte op die dam word ondervind, wat groot dele van die wateroppervlak toegroei en die dam gevaarlik maak vir seilvaart en motorbote.
Nedersettings aan die dam
Daar is tien nedersettings aan die oewers van die dam, kloksgewys is Hartbeespoort (voorheen bekend as Schoemansville), Melodie, Meerhof, Ville d'Afrique, Pecanwood Landgoed, The Coves, West Lake Country and Safari Estate, Kosmosrif en Kosmos.
Verwysings
- Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0908409508 band
Bron
- Op Pad in Suid-Afrika. B.P.J. Erasmus. Bl 209. 1995. ISBN 1-86842-026-4