Harald Pakendorf
Harald Pakendorf (* 1940[1]) is 'n Suid-Afrikaanse politieke ontleder, skrywer en voormalige redakteur van drie koerante. Hy is tans (2022) 'n politieke konsultant by Meropa Communications.[2]
Herkoms
Pakendorf is in 1940 op 'n sendingstasie naby Middelburg in die destydse Transvaal gebore en word groot in 'n betreklike godsdienstige huis. Sy ouers het mekaar in Duitsland ontmoet terwyl sy pa teologie studeer het en albei was lidmaat van die Lutherse Kerk. Dit was deel van 'n roemryke familietradisie, want die Pakendorf-voorsate is al van 1840 af by Lutherse sendingbedrywighede betrokke.
Opleiding
Pakendorf was op laerskool in Middelburg (tans in Mpumalanga), en het sy hoërskoolopleiding in Johannesburg voltooi. Hierna skryf hy hom in aan die Universiteit van die Witwatersrand, maar laat vaar sy studie voor hy kon afstudeer, om 'n betrekking by die SAUK te aanvaar.
Vroeë loopbaan
Kort hierna gaan werk hy by 'n tydskrif genaamd Newscheck, 'n Suid-Afrikaanse weergawe van die Amerikaanse nuustydskrif Time. Hy bly twee jaar daar totdat hy in 1964 by die Afrikaanse Pers aansluit, wat op 1 April 1971 Perskor sou word ná die samesmelting met Voortrekkerpers.
Afrikaanse Pers
By die Afrikaanse Pers werk hy eers as politieke korrespondent van Die Vaderland. Nadat hy in 1968 as Nieman-genoot aan die Harvard-universiteit gaan studeer,[2] keer hy terug na sy vaderland en word amper dadelik aangestel as redakteur van die te stigte Rhodesian Financial Gazette,[1] wat hy in die destydse Salisbury moes oprig. Weer bly hy nie lank in die pos aan nie en kom in 1972 terug Suid-Afrika toe om weereens 'n koerant te begin, dié keer die Afrikaanse oggendkoerant in Pretoria, Oggendblad.[1] Hy bly aan in die hoofstad tot 1979 toe hy aangestel word as redakteur van die veel groter en invloedryker Die Vaderland, destyds 'n Afrikaanse middagblad in Johannesburg met 'n sirkulasie van sowat 50 000. Dit was midde-in die persstryd tussen Die Vaderland se susterspublikasie Die Transvaler en die Nasionale Pers se nuwe dagblad, Beeld, om die Johannesburgse oggendmark. Die uiteinde van die stryd was dat Die Transvaler na Pretoria geskuif het om daar met Oggendblad en Hoofstad saam te smelt as 'n oggendblad.
Prof. Hennie Kotzé, politieke ontleder, skryf in 1987 in die boek A question of survival - Conversations with key South Africans oor Pakendorf": "Wat politieke insig en kennis betref, plaas ek hom redelik hoog op die skaal. Hy het veel beter kontakte met die regering...as die meeste ander redakteurs." Maar in dieselfde boek verklap prof. André du Toit, politieke wetenskaplike, waarom Pakendorf se redakteurskap in die middel jare tagtig vir Perskor se behoudende bestuur ondraaglik geword het: "Hy is waarskynlik die mees uitgesproke progressiewe Afrikaanse joernalis in Suid-Afrika." Prof. Hendrik Willem van der Merwe, destydse direkteur van die Sentrum vir Intergroepstudies aan die Universiteit van Kaapstad sê eweneens in A question of survival: "Die oortuiging waarmee hy homself uitdruk oor liberale vraagstukke en die vaste standpunt wat hy ingeneem het, het daartoe gelei dat hy nie alleen tereggewys is nie, maar as redakteur ontslaan is. Ek beskou hom as 'n progressiewe mag in die Establishment."
Pakendorf beskou sy pa as 'n belangrike invloed op sy politieke denke: "My eie pa was belangrik omdat hy 'n baie politiese mens was en baie betrokke by die kerk, polities gesproke." Die opvattings van Willem van Heerden, in die middel jare tagtig voorsitter van Perskor, het ook 'n groot invloed uitgeoefen op Pakendorf se jong gemoed. "Hy was 'n belangrike matigende stem in 'n tyd van uiterste standpunte, wat die geval was toe ek in die politiek begin belangstel het in my vroeë tienerjare." Vanaf die ouderdom van 10 het Pakendorf Van Heerden se menings in die destydse Sondagkoerant Dagbreek en Sondagnuus gelees. (Van Heerden was van 1936 tot 1946 ook redakteur van Die Vaderland.)
Verwysings
- Oor Harald Pakendorf se boek "Stroomop" by LAPA Uitgewers Geargiveer 26 Julie 2022 op Wayback Machine Besoek op 26 Julie 2022.
- Pakendorf se profiel op linkedin Besoek op 26 Julie 2022.
Bronne
- Fischer, Alan en Albeldas, Michel (reds.). 1987. A question of survival - Conversations with key South Africans. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers.
- Van der Walt, C.P. (voorsitter van beheerkomitee). 1976. Perspektief op ons partypolitiek en politieke partye. Potchefstroom: Instituut vir Suid-Afrikaanse Politiek, PU vir CHO.
Eksterne skakels
- (en) Pakendorf se webtuiste Geargiveer 14 Augustus 2020 op Wayback Machine. URL besoek op 3 November 2015.[dooie skakel]
- (af) Jean Oosthuizen bring hulde aan Harald Pakendorf. URL laaste besoek op 26 Julie 2022.