Hadrianus
Hadrianus[1] (Latyn: Publius Aelius Traianus Hadrianus Augustus) (Rome of Italica, 24 Januarie 76 – Baiae (Italië), 10 Julie 138) was vanaf 117 tot 138 die keiser van die Romeinse Ryk. Hy word onder meer met grootskaalse bouprojekte verbind - sy villakompleks buite Rome (in Italiaans bekend as Villa Adriana), die Panteon in Rome en landgoed, sy mausoleum in Rome en die Hadriaanse Muur wat die noordelike grens van die provinsie Britannia aangedui het. In Rome het hy die Panteon laat herbou en die Tempel van Venus en Roma opgerig. Hy was die derde van die vyf adopsiekeisers - en die eerste Romeinse keiser wat 'n baard gedra het om sy waardering vir die Griekse kuns en beskawing te toon. Dit sou aan hom die bynaam Graeculus of "klein Griek" besorg.
Hadrianus | |
---|---|
Keiser Hadrianus. Marmerborsbeeld in die Museo Archeologico Nazionale di Venezia, Italië | |
Tydvak | Adopsie-Keisers |
Voorganger | Trajanus |
Periode | 117 – 138 |
Opvolger | Antoninus Pius |
Geboortedatum | 24 Januarie 76 |
Geboorteplek | Rome of Italica |
Sterfdatum | 10 Julie 138 |
Sterfplek | Baiae, by Napels |
Geboortenaam | Publius Aelius Hadrianus |
Adopsie-vader | Trajanus |
Adopsie-moeder | Pompeia Plotina |
Adopsie-seuns | Lucius Aelius Verus Caesar en Antoninus Pius |
Getroud met | Vibia Sabina |
Afkoms en jeug
Hadrianus was afkomstig uit 'n Romeinse familie uit Italica in die provinsie "Hispania ulterior" (later Hispania Baetica) in die suide van die Iberiese skiereiland. Hadrianus is op 24 Januarie 76 gebore, die seun van senator en eks-praetor Publius Aelius Hadrianus Afer waarskynlik in Rome of andersins in Italica.[2] Hy was 'n groot liefhebber van die Griekse kultuur. Daaroor het hy die bynaam Graeculus gekry. In die jaar 86, toe hy tien jaar oud was, verloor hy sy vader. Hy kom onder die voogdyskap van die latere keiser Trajanus en ridder Publius Acilius Attianus. Nadat hy die "toga virilis" verkry het, besoek Hadrianus as veertienjarige, sy familiebesit in Italica. Hy ondergaan militêre opleiding en die bedoeling was dat hy die familieplase sou bestuur. Volgens sy voog het hy in Baetica te veel tyd aan jag spandeer en daarom is hy teruggeroep na Rome.[3]
Vroeë loopbaan
In die jaar 94 word Hadrianus as agttienjarige, benoem tot decemvir stilitibus iudicandis 'n toesighoudende pos by die gereg. Op pad na 'n loopbaan as senator word hy militêre tribuun eers by Legio II Adiutrix in Aquincum (naby die huidige Boedapest), waar hy Quintus Marcius Turbo leer ken het; daarna by Legio V Macedonica in die provinsie Moesia Inferior. In die herfs van 97 word sy voog Trajanus onder groot druk van die Praetoriaanse wag deur keiser Nerva geadopteer. Hadrianus word in die laat herfs op pad na die Ryn, waar Trajanus gestasioneer was, gestuur om die gelukwensings van sy legioen aan Trajanus oor te dra. Sy voog was nou die troonopvolger en Hadrianus 'n belangrike man. Trajanus wil hom op die moment egter nie in sy nabyheid hê nie en gee hom 'n derde militêre tibunaat in Mogontiacum (tans Mainz), waar hy gestasioneer word by die Legio XXII Primigenia.[4] Hier het Hadrianus 'n moeisame verhouding met sy dertigjarige ouer swaer Lucius Julius Ursus Servianus, die nuutbenoemde goewerneur van die provinsie Germania Superior. Servianius, die man van Hadrianus se suster, ding met Hadrianus mee om die guns van Trajanus. Toe keiser Nerva in Januarie 98 sterwe, volg Trajanus hom op as keiser. Dit het niks verander aan die rivaliteit tussen Hadrianus en Servianus nie.[5] Hadrianus het homself uit Mogontiacum (tans Mainz) na Colonia Claudia Ara Agrippinensium (tans Keulen) in Germania Inferior gehaas om Trajanus die nuus as eerste persoonlik mee te deel.
In die jaar 100 word Hadrianus familie van keiser Trajanus. Pompeia Plotina, Trajanus se vrou laat Hadrianus trou met die veertienjarige Vibia Sabina, 'n agterniggie van Trajanus. Hadrianus was toe 24 jaar oud. In dieselfde jaar word Hadrianus "quaestor" van Rome. Die funksie gee hom toegang tot die Senaat in 'n bevoorregte posisie van "quaestor Augusti". Die quaestor het die toesprake van die keiser in die senaat voorgelees.[6] Tydens die veldtog teen Decebalus, koning van Dacië, was Hadrianus in 101 "comes Augusti" in die staf van die keiser. Vermoedelik het hy in 102 volkstribuun geword en in 105 praetor. Trajanus voorsien hom mildelik van geld om die spele te kan organiseer wat by die funksies behoort het.
In Junie 105 neem Hadrianus deel aan Trajanus se tweede Daciese oorlog as bevelvoerder van die Legio I Minervia. As dank vir sy militêre suksesse word hy deur Trajanus beloon met 'n diamant. Trajanus het die diamant vroeër van keiser Nerva gekry.[7] Daarna word Hadrianus goewerneur van Neder-Pannonië. Op die leeftyd van 32 jaar word Hadrianus in die jaar 108 "consul suffectus".
Toe Trajanus in 113/114 sy veldtog teen die Parthe begin, gaan Hadrianus saam. Na die oorlog word hy in 117 legatus Augusti pro praetore van Sirië. Trajanus sterf in dieselfde jaar en Hadrianus volg hom op.
Opvolger van Trajanus
Waarskynlik het Plotina, die adopsie van Hadrianus deur Trajanus net voor sy dood, vervals en so Hadrianus se opvolging geforseer. Hoewel baie aan die adopsie getwyfel het, het niemand dit betwis nie. Die steun van Plotina en Lucius Licinius Sura was van groot belang vir Hadrianus.[8]
Hadrianus het vyande soos Aulus Cornelius Celsus, Aulus Cornelius Palma Frontonianus, Gaius Avidius Nigrinus en Lusius Quietus kort na mekaar laat vermoor deur sy voog Attianus. Die nuwe keiser het dadelik te doen gekry met die nasleep van die Kitosoorlog, 'n Joodse opstand wat op sy hoogtepunt 'n groot deel van die ooste van die Romeinse Ryk betrek het. Kort na sy opvolging trek Hadrianus die Romeinse legioene uit Armenië, Sirië en Mesopotamië terug. Dit was nie uit vredeliewendheid nie, maar om koste te bespaar. Die koste van die voortdurende oorloë aan die bedreigde grense het uit die hand geloop, terwyl die handhawing van die keiser se gesag in die ryk self, moeiliker geword het.
Wetgewer: die Edictum Perpetuum
In Europa bereik die romanisering sy hoogtepunt. Keiser Hadrianus konsolideer sy mag ten koste van die senaat en benoem 'n groot persoonlike amptenary. Hy strewe na wetgewing wat sou geld vir die hele Romeinse imperium en gee die juris Publius Salvius Iulianus in 130 die opdrag om die "praetoriaanse edikte" saam te vat in een wetboek: die edictum perpetuum.
Politiek
Hadrianus verkies die interne versterking en konsolidasie van die Romeinse Ryk pleks van uitbreiding. Hy het grenslande uitgesluit en die legioene teruggetrek uit oorlogsgebiede. Hy verbeter die bestaande infrastruktuur en gee amnestie aan belastingontduikers. Hy onderdruk die volk en paai hulle met belastingverlaging.
Die keiser reis voortdurend rond as inspekteur om sy veldhere te kontroleer. Hy stig baie stede soos Hadrianapolis (Adrianopel, die huidige Turkse stad), Edirne in Thrasië en laat opmerklike openbare geboue oprig soos "therme" (warmwaterbaddens). In 121 of 122 reis Hadrianus na die provinsie Germania Inferior. Hy besoek onder andere 'n nedersetting van die Caninefate op die plek waar tans die park Arentsburg is, in die dorp Voorburg in Zuid-Holland. Hy gee die plek markregte en vernoem die dorp na homself. As markstad bloei "Forum Hadriani" tot in die derde eeu.
Onderdrukking van die Jode
In Jerusalem probeer hy die Jodedom uitroei. Onder meer verbied hy die besnydenis en stig 'n nuwe Romeinse kolonie op die bouvalle van Jerusalem, waarby hy die verset van die Jode onder leiding van Sjimon bar Kochba met grof geweld aanpak met groot eie verliese. Hy het twaalf legioene aangewend. Baie Jode het in die woestyn omgekom en baie het gevlug. Die Joodse verstrooiing het 'n nuwe fase bereik.
Argitek
In 125 laat Hadrianus die Pantheon herbou. Hy laat ook die tempel van Venus en Roma oprig. In Tibur in Tivoli laat hy tussen 126 en 134 sy lushof Villa Hadriani bou.
Verdedigingslinies
Sedert die begin van die Romeinse Ryk het keisers die verowerde gebiede afgegrendel met verdedigingslinies teen die barbare. Op die mees bedreigde punte was al "limes" , versterkte grense aangelê: in Noord-Afrika, Sirië, Roemenië/Hongarye, Duitsland, Nederland en Engeland. Vir Germania het die Romeine sedert die slag in die Teutoburgerwoud in die jaar 9 weinig belangstelling gehad. In 83 begin die afgrendeling met "limes" tussen de natuurlike verdedigingslinies Ryn en Donau, van Rheinbrohl suid van Keulen na die omgewing van Regensburg. Die stuk van die "limes" was 550 kilometer lank en voorsien van minstens duisend wagtorings en honderde forte. Die mure in Brittanje moes nog gebou word; daar is nog te hard teruggeveg.
Teen die Germane
In Germania laat Hadrianus die "limes" versterk in 122 na Christus. Sy opvolger, Antoninus Pius, het hulle in 160 nog uitbrei in oostelike rigting.
Teen die Pikte en Skotte: die Muur van Hadrianus
In 122 begin Hadrianus met die bou van die Vallum Hadriani, die Muur van Hadrianus of die Pictemuur in die noorde van Britannia teen die aanvalle van die Pikte en Skottte. Die muur is ongeveer 117 kilometer lank en loop van oos na wes van die dorp Tynemouth, aan die monding van die Tyne, via Newcastle na Solway Firth by Carlisle aan die weskus. Die muur bestaan uit drie verdedigingslinies: 'n steen muur met 'n grag, 'n wal ook met 'n grag en sewentien casstella (forte met wagtorings). Die oorblyfsels van 'n groot Romeinse gebou by Vindolanda onlangs deur argeoloë ontdek, was moontlik deel van Hadrianus se persoonlike hoofkwartier.
Kultuur en muntslag
In die periode van Hadrianus en sy opvolgers bereik die portretkuns op Romeinse munte 'n hoogtepunt. Tydens die Julius-Claudius dinastie en Vespasianus se bewind word die keiser vergoddelik, en sy portret 'n ideaalbeeld. Na Trajanus begin 'n realistiese stylperiode. Moontlik was die belangstelling van Hadrianus vir Griekeland en sy reise die aanleiding daartoe.
Persoonlike lewe
Reeds tydens sy opleiding in Rome het Hadrianus 'n groot bewondering vir die Griekse kultuur. Hy praat by voorkeur eerder Grieks as Latyn en het die Griekse filosofie geken. Hy het soos die Grieke nie sy baard geskeer nie. Dit was teen die Romeinse tradisie, wat 'n baard ("Barba" in Latyn) vereenselwig het met die "Barbare". Op sy reise word hy vergesel van sy geliefde Antinoüs, 'n besonder mooi Griekse jongeling, wat hy na dié se dood selfs as god laat verklaar het. Hadrianus is deur latere skrywers dikwels in 'n slegte lig gestel weens sy verhouding met Antinoüs. Sy huwelik met Vibia Sabina was nie gelukkig nie. Dit het moontlik aanleiding gegee tot die verhouding met Antinoüs waardeur die geskiedskrywer Suetonius van die hof verwyder is.
Die perd van Hadrianus met die naam Borysthenes het beroemd geraak deurdat hy die dier verewig het in 'n grafskrif wat bewaar gebly het op 'n graf in Suid-Frankryk. Daar bestaan 'n aantal fragmente van geskrifte wat aan Hadrianus toegeskryf kan word.[9]
- Altercatio Hadriani Augusti et Epicteti philosophi (6e eeu/7e eeu).
- Carmina
- De vita sua (van die outobiografie het slegs fragmente bewaar gebly)
- Edictum de Mora agricolis Vallis Nili in solvendo vectigali concedenda
- Epistula ad Avidium Quietum
- Epistula ad Plotinam Augustam de Popillio Theotimo, sectae Epicureae diadocho
- Epistula ad Sextilium Acutianum
- Epistula ad Stratonicenses Hadrianopolis
- Epistula de bonorum possessione liberis militum danda
- Epistula de iudiciis privatis (Vel Traiani?)
- Laudatio funebris in honorem Matidiae socrus
- Oratio ad exercitum africanum
- Rescriptum de Schola Epicurea Atheniensi
Opvolging
Sy huwelik bly kinderloos. In 136 adopteer hy Lucius Ceionus Commodus as sy seun en opvolger – die seun moet nie verwar word met die latere keiser Commodus, seun van Marcus Aurelius nie. Die opvolger kry daarmee die naam Lucius Aelius Verus Caesar, hy is egter nie gesond nie en sterf met die nuwe jaar 138. In 137 onderdruk Hadrianus 'n sameswering teen hom deur sy swaer en eks-konsul Lucius Julius Ursus Servianus en die se kleinseun Gnaeus Pedanius Fuscus Salinator. Met Commodus wou Hadrianus waarskynlik sy opvolging vir twee generasies vaslê, want 'n dogter van Commodus was verloof aan Marcus Annius Verus, die latere Marcus Aurelius. Toe Commodus sterf, adopteer Hadrianus die gewaardeerde senator Antoninus Pius in sy plek, en vra hom om op sy beurt om die seuns van Commodus te adopteer. Hulle kry respektiewelik die name Lucius Aurelius Commodus en Marcus Aurelius Verus. Sodoende sorg Hadrianus vir twee goeie keisers as sy opvolgers: Antoninus Pius, en na hom Marcus Aurelius.
Die dood van Hadrianus
Hadrianus sterf in sy villa in Baiae naby Napels en word eers begrawe in Pozzuoli, maar later herbegrawe in die Tuine van Domitia by sy onvoltooide mausoleum. Na voltooiing van sy grafmonument, die Engeleburg (Castel Sant'Angelo) in Rome, word hy deur sy opvolger, Antoninus Pius, veras en ingemessel met die as van sy vrou Vibia Sabina en sy adopsie-seun Lucius Aelius. In 139 keur die Senaat op inisiatief van Antoninus Pius, Hadrianus se opname onder die gode goed. Die Senaat het dit teësinnig gedoen omdat Hadrianus die magte van die Senaat ingekort het. Na sy dood word Hadrianus se dekrete omgedraai en die Ryk word weer uit Rome bestuur volgens die beginsel van "Roma imperat". In 145 kry Hadrianus sy "Tempel van Hadrianus" op die "Campus Martius" (Marsveld) in Rome, waarvan nog steeds enkele suile staan, ingemessel in 'n muur.
Die gedig Animula vagula blandula
Die Historia Augusta [25,5] skryf die gedig toe aan die sterwende Hadrianus. Dit was oorspronklik sonder titel maar word gewoonlik "Animula vagula blandula" genoem (volgens die eerste drie woorde). Deur die kwaliteit daarvan lyk dit outentiek, maar daar is baie polemiek daaroor:
Animula vagula blandula,
hospes comesque corporis,
quo nunc abibis? in loca
Pallidula rigida nudula (nubila?) -
nec ut soles dabis iocos.
Vertaling:
"Dierbaar teer en swewende siel, metgesel van my liggaam, wat jou gasheer was, jy sal straks afdaal na die bleek, harde en kaal oorde en sal moet afstand doen van jou speelsheid van weleer."
Beelde en ikonografie van Hadrianus
In die 19e eeu is 'n beeld van die keiser in goeie toestand uit die Londense Teems opgehaal. Opgrawinge in Turkye by Sagalassos in 2007 onder leiding van professor Marc Waelkens van die KU Leuven het 'n enorme kop van Hadrianus ontdek. Die mooiste beeldversameling staan opgestel in die Britse Museum in Londen. Die museum besit ook 'n stukkie papirus van 'n grotendeels verlore outobiografie van die keiser.
Verdere Materiaal
- Birley, Anthony R., Hadrian the restless emperor, Routledge, London, 1997 (biografie)
- Everitt, Anthony, Hadrian and the Triumph of Rome, Ambo/Amsterdam
- Jörg Fündling, Kommentar zur Vita Hadriani der Historia Augusta (= Antiquitas, reeks 4: Beiträge zur Historia-Augusta-Forschung, deel 3: Kommentare, dele 4.1 en 4.2). Habelt, Bonn 2006, ISBN 3-7749-3390-1 (omvattende analise van die Vita Hadriani; en ook 'n analise van die resultate van die wetenskaplik ondersoek na Hadrianus; resensie
- Susanne Mortensen, Hadrian. Eine Deutungsgeschichte. Habelt, Bonn 2004, ISBN 3-7749-3229-8 (Oorsig oor die wetenskaplik ondersoek oor Hadrianus sedert die middel van die 19e eeu)
- Yourcenar, Marguerite, Mémoires d'Hadrien, Atheneum-Polak & Van Gennep/Amsterdam
Sien ook
Verwysings
Wikimedia Commons bevat media in verband met Hadrianus. |
- Hadrian. (2008). Encyclopædia Britannica. Deluxe Edition. Chicago: Encyclopædia Britannica.
- Fündling, 2006, deel. 4.1, pp. 233 en 260 met 'n verwysing na die Epitome de Caesaribus 14,2.
- Anthony Birley, 2006, p. 10.
- Birley 2006, p. 13
- Die Historia Augusta (Vita Hadriani 2.6) meld dat Hadrianus se koets deur dienaars van Servianus aangeval is en onklaar gemaak is, om so te voorkom dat Hadrianus die nuwe keiser Trajanus eerste kon inlig. Die geskiedkundige en skrywer Jörg Fündling vind die storie egter nie geloofwaardig nie. Fündling 2006, deel 4.1, pp. 289-294).
- Fündling, 2006, deel 4.1, pp. 334-351
- Fündling, 2006, deel 4.1, pp. 341.
- A.M. Canto, in La dinastia Ulio-Aelia (98 – 192 d.C.) (es) , veral bladsye 322, 328, 341 en die voetnoot 124 oor Plotina Scriptores Historia Augusta, Vita Hadr. 1.2: pro filio habitus (1993); 3.2: ad bellum Dacicum Traianum familiarius prosecutus est (in 101) en veral 3.7: quare adamante gemma quam Traianus a Nerva acceperat donatus ad spem successionis erectus est (in 107).
- Corpus Scriptorum Latinorum
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal. |