Guillaume de Machaut
Guillaume de Machaut (1300-1377) was 'n middeleeuse Franse digter en komponis. Hy het meer as 400 gedigte, insluitend 235 ballades, 76 rondeaus, 39 virelais, 24 lais, 10 complaintes, en 7 chanson royales geskryf. Hy is in 1300 in Reims Frankryk gebore. Hy sterf in April 1377 as gevolg van 'n siekte.
Guillaume de Machaut | |
---|---|
Agtergrondinligting | |
Gebore | omstreeks 1300 Reims |
Sterf | April 1377 Reims |
Genres | Kanon |
Beroep(e) | Komponis, digter |
Hy skryf driestemmige of vierstemmige polifone musiek in 'n isoritmiese styl. 'n Bekende werk is die palindromiese komposisie: Ma fin est mon commencement.
Betekenis
Machaut is die belangrikste digter en komponis van die 14de eeu, met 'n blywende invloed op later komponiste . Sy unieke werk, in manuskripte wat slegs sy werke insluit, staan in baie opsigte op homself: in terme van die volume, die poëtiese en komposisionele formulering en kwaliteit daarvan, maar ook in die aantal genres in wie se ontwikkeling Machaut 'n deurslaggewende rol gespeel het.
Die grootste deel van sy werk word ingeneem deur poësie wat nie getoonset is nie. Dit bestaan uit meer as 15 lang narratiewe dits (elk met tot 9000 reëls) en 'n versameling lirieke poësie bekend as die Loange des dames. Die Remede de Fortune (geskryf voor 1342) bevat nege komposisies wat as paradigmas van lirieke genres aangebied word. Die versameling lirieke 'ou il n'a point de chant' ('waar daar geen musiek is nie') bevat ongeveer 280 gedigte uit die tradisie van amours courtois. Die versameling musiekwerke en dits bestaan hoofsaaklik uit ongeveer 200 ballades en presies 60 rondeaux.[1]
Machaut is die eerste artistiek belangrike komponis van polifoniese musiek wat by die naam bekend is. Hy beklee 'n sleutelposisie in die oorgang tussen die nuwe idees wat in die dekade rondom 1300 posgevat het, die Ars Nova en die musiek van die laat Middeleeue; as digter-musikant het hy die tradisies van sekulêre monofonie en die nuwe tegnieke van die Ars Nova bymekaar gebring. Sy 19 uitgebreide lais is 'n hoogtepunt in die lang geskiedenis van hierdie vorm. Sy 23 motette neem die prestasies van Philippe de Vitry op. Sy Mis is die eerste sikliese, deurgekomponeerde toonsetting van die ordinarium. [1]
Machaut het 'n deurslaggewende rol gespeel het in die vorming van verskeie genres van die latere Middeleeue.
Biografie
Machaut mag gerus 'n 'clerc-écrivain' in die hoflik-aristokratiese struktuur van die laat Middeleeue genoem word. Hy was vanaf ongeveer 1323 in diens van Jean de Luxembourg, koning van Boheme. In die tweede deel van sy lewe was hy vanaf April 1340 kanunnik van die katedraal van Reims. Sy vroeë lewe is ongedokumenteer, maar die datum van sy geboorte moes tussen 1300 en 1302 gewees het. Hy het dalk 'n burgerlike agtergrond en waarskynlik opleiding in Reims. Moontlik was dit 'n studie vir magister artium. Die titel van magister word egter nie in Machaut se tekste of in amptelike kerklike dokumente genoem nie. Dat Machaut in 'n Reims-dokument van 1452 saam met ander 'magistri' en deur Deschamps in nie-amptelike bronne as 'maistre' genoem is, is 'n bewys van die posisie en roem wat hy teen daardie tyd gewen het.[1]
Ongeveer 17 jaar lank is Machaut se lewe gevorm deur sy posisie in diens van Jean de Luxembourg; dit is op sy beurt essensieel vir die verstaan van sy poësie. As klerk in die nou kring van domestici familiares het hy eerstens die pos van ambtenaar, toe notaris en laastens sekretaris beklee. Sy dits (gedigte wat nie op musiek gesit is nie) maak dit duidelik dat hy lank die rustelose lewe van sy meester gedeel het. Dit het besoeke aan die Franse hof behels, wat in 1323–1324 daartoe kon lei dat Machaut Philippe de Vitry ontmoet het. Hy het baie gereis tussen die tuislande van die Luxemburgs in die Weste en Jean se Boheemse domein in die Ooste. Hy het ander dele van Sentraal- en Oos-Europa besoek (veral Litaue in 1327–9). Soms het hy ook tyd deurgebring in Durbuy, Jean se gunstelingwoning suid van Luik, aan die oewer van die Ourthe. [1]
‘Li bons roi de Behaigne’ word in Machaut se tekste voorgestel as die ideaal van 'n heerser-ridder, en daardeur as 'n verteenwoordiger van die hoflike wêreld waarom Machaut se gedigte gebaseer is. Sy vroegste dit: Le dit dou vergier (1330's) en veral Le jugement dou roy de Behaigne (voor 1346), dokumenteer die rol van die digter aan die hof. Die chronologiese volgorde van musikale komposisies van hierdie tyd is glad nie duidelik nie, maar die samestelling van motette en moontlik die eerste lais behoort tot hierdie tydperk.[1]
Op 13 April 1340 het hy sy huis in Reims betrek. As kannunik het hy liturgiese pligte, maar dit het terselfdertyd 'n materiële basis vir literêre en musikale aktiwiteite gebied. Bonne, Jean de Luxembourg se dogter was reeds 'n hoogs ondersteunende beskermheer voor haar pa se dood in 1346. Sy word verbind met die Remede de Fortune en met die eerste bestaande versameling van Machaut se werke. Ander beskermhere wat met Machaut geassosieer word, sluit in Karel II, koning van Navarre, Jean, hertog van Berry, Philip die Stoute, hertog van Boergondië en Pierre de Lusignan. Dit is bekend dat die Dauphin (later Karel V van Frankryk) in 1361 in Machaut se huis verblyf. Die dits maak ook melding van die traumatiese gebeure van hierdie tyd, soos die koms van die pes in 1348–9 en die beleg van Reims deur die Engelse in 1359–60 as onderdeel van die Honderdjarige Oorlog.[1]
Ná sy dood
Die Franse komponis F(ranciscus?) Andrieu het die vierstemmige bitekstuele ballade Armes, amours/O flour des flours gekomponeer wat Machaut se dood in 1377 betreur. Dit is op teks gestel is deur Eustache Deschamps en dit is ook die enigste komposisie wat met sekerheid aan Andrieu toegeskryf kan word.[2]
...Trek swart aan, huil, al Champenois, vir die dood van Machaut, die edele retorikus... |
Verwysings
- Wulf Arlt (2001). "Machaut [Machau, Machault], Guillaume de [ Guillelmus de Machaudio". doi:10.1093/gmo/9781561592630.article.51865.
- Gilbert Reaney (2001). "Andrieu, F." Oxford music online. doi:10.1093/gmo/9781561592630.article.00904.