Gereformeerde kerk Wierdapark
Die Gereformeerde kerk Wierdapark is ’n gemeente in die Gereformeerde Kerk (GKSA) se Klassis Pretoria-Suidwes. Die gemeente beslaan, buiten Wierdapark en die meeste van sy uitbreidings, ook Eldoraigne, Valhalla en die kleinhoewes Mnandi.
Gereformeerde Kerk Wierdapark | ||
Sluit in | Eldoraigne Mnandi-landbouhoewes Valhalla Wierdapark (en uitbreidings) | |
Klassis | Pretoria-Suidwes | |
Huidige predikant(e) | Awie Verhoef | |
Belydende lidmate | 281 | |
Dooplidmate | 66 | |
Adres | H.v. Willem Botha- en Meyerstraat, Wierdapark | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 21 Oktober 1973 | |
Afgestig van | Voortrekkerhoogte | |
Eerste predikant | L.S. van der Vyver (1974–1983) |
Wierdapark het op 21 Oktober 1973 van die Gereformeerde kerk Voortrekkerhoogte afgestig, drie jaar voor die eerste NG gemeente met dié naam, maar in 1982 het ook nog Wierdapark-Suid aan die beurt gekom. Dié twee NG gemeentes, Eldoraigne, Valhalla en Valhalla-Suid het einde 2014 altesaam 6 698 lidmate gehad, vergeleke met die Gereformeerde kerk Wierdapark se 296. Dis ’n verhouding van 1:22,6, vergeleke met die hele GKSA (lidmate van alle rasse) se verhouding van belydende lidmate tot dié van die NGK van nagenoeg 1:11.
As bruidskat het Wierdapark R18 000 en drie woonerwe ontvang, wat die kerkraad met die Nederduitsch Hervormde Kerk vir ’n kerkerf verruil het. In die eerste jaar (1973) is eredienste in die kerkgebou van Voortrekkerhoogte gehou, maar van omstreeks die begin van 1974 af het die dienste verskuif na die saal van die Hoërskool Voortrekkerhoogte. Sowat ’n jaar later het die kerkraad ’n boukommissie aangewys, wat die argitekte Roos en Boschof, wat die Gereformeerde kerk Meyerspark ontwerp het, genader het. Enkele boukontrakte het misluk, waarna die kerkraad self as eienaarbouer opgetree het onder ds. L.S. van der Vyver se toesig. ’n Maand lank het die bouwerk stilgestaan tot lidmate self ingespring het.
Op 6 Maart 1977 is die gebou met sy 400 sitplekke in gebruik geneem. Wanneer die skuifdeure tussen die aangrensende saal en die kerk oopgeskuif word, kan nog 250 sitplekke voorsien word. Prof. Hennie Bingle het die Nagmaaltafel, stoele en doopvont gemaak.
Wierdapark se sieletal het van 1 216 einde 1997 tot 1 400 einde 2001 toegeneem, maar toe om die een of ander rede afgeneem tot 965 einde 2011 en net 442 einde 2014. (Binne die volgende jaar het dit met nog 48 verminder tot 394.) Van 2011 tot 2014 het die klassis se sieletal afgeneem van 6 081 tot 5 479, ’n afname van 9,9 persent vergeleke met Wierdapark se afname van meer as 54 persent. Laat 'n mens Wierdapark se syfer buiten rekening, het die klassis se sieletal net met 1,5 persent van 5 116 tot 5 037 gedaal.
Predikante
- L.S. van der Vyver, 1974 – 12 Februarie 1983 (oorlede in die amp)
- Du Plessis, Pieter, 1983 – 1990
- Kotze, Willem Gysberth McDonald, 1986 – 1988 (waarna eerste predikant van Rooihuiskraal)
- Postma, Ferdinand, 1990 – 2004 (aanvaar sy emeritaat)
- Jansen, André, 1992 – 2000 (waarna die Christelike Gereformeerde kerk Aalsmeer, Nederland)
- Verhoef, Gabriël Cornelis, 2002 – hede
- Grönum, dr. Nicolaas Johannes, 2005 – 2012 (verlaat die bediening)
Bronne
- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2015. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2016. Potchefstroom: Administratiewe Buro.