Gereformeerde kerk Hoëveld
Die Gereformeerde kerk Hoëveld is die enigste oorblywende Afrikaanse gemeente van die GKSA in Witbank, Mpumalanga.
![](../I/Gereformeerde_kerk_Witbank_Hendrik_Vermooten.jpg.webp)
Die gemeente is die gevolg van twee samesmeltings waardeur die oorspronklike drie Gereformeerde gemeentes op Witbank eindelik net een geword het. Die oorspronklik Gereformeerde kerk Witbank is in 1931 op Clewer, suidwes van die dorp, gestig, maar toe Witbank ná die Tweede Wêreldoorlog sterk begin uitbrei, het die kern van die gemeente hierheen verskuif. In die sestigerjare het die dorp sterk uitgebrei sodat dit nodig geword het om die Gereformeerde kerk Witbank-Suid in November 1969 van die moedergemeente af te stig. Van dié dogtergemeente het ook nog die Gereformeerde kerk Witbank-Oos in 1983 afgestig, maar dié gemeente is net ’n kortstondige bestaan gegun, want in 1989 ontbind Suid en Oos en smelt saam as die Gereformeerde kerk Witbank-Suidoos.
Eindelik, in 2010, het ook die moedergemeente ontbind toe dit met Suidoos saamsmelt as Hoëveld. Dié gemeente se getal belydende lidmate het in 2011 nog 609 getel en die dooplidmate 135, maar intussen was daar ’n afname van sowat 40 persent in die belydende lidmate tot net 361, terwyl die dooplidmate amper met die helfte afgeneem het tot 70. In min of meer dieselfde tyd het die NGK se belydende lidmate hier met sowat 20 persent afgeneem en die Hervormde Kerk s’n met sowat 33 persent.
Predikante
- De Beer, Christiaan, 2010 – 2012
- Pansegrouw, Dirk, 2011 – Mei 2020 (aanvaar sy emeritaat)
- Venter, Peter, 2020 – hede
Bronne
- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1960. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1961. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2015. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2016. Potchefstroom: Administratiewe Buro.