Gereformeerde kerk Bloemfontein-Suid
Die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Suid is sedert 2013 die tweede oudste gemeente van die GKSA in die Vrystaat se hoofstad, Bloemfontein, nadat die gemeente Bloemfontein-Oos (1949) in 2007 ontbind het en die moedergemeente (1903), die oudste in die stad, in 2013 ontbind het.
Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Suid | ||
Sluit in | Aandrus Gardeniapark Kwaggafontein Kelly's View Striata Universitas Universitasrif Westerbloem Wilgehof Willows | |
Klassis | Suid-Vrystaat | |
Huidige predikant(e) | Fritz Potgieter | |
Belydende lidmate | 422 | |
Dooplidmate | 76 | |
Adres | H.v. Walter Sisuluweg en Lilaclaan Gardeniapark Bloemfontein | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 1951 | |
Afgestig van | Bloemfontein | |
Eerste predikant | Klaas van Wyk de Vries 1952–1955 |
Geskiedenis
Die gemeente is in 1951 gestig en die eerste kerkgebou, in Roselaan, Wilgehof, reeds drie jaar later in gebruik geneem. Dit is aanvanklik teen ’n koste van £5 000 gebou met die doel dat dit as saal sou dien nadat ’n kerkgebou vooraan die gebou opgerig is. Om die een of ander rede het dié plan nie ’n werklikheid geword nie, want in 1972 is die huidige kerkgebou ingewy. Die bou koste het R110 000 beloop en die argitek was Nico le Roux, terwyl Soon Calitz die bouaannemer was. Dié kerkgebou is geleë op die hoek van Walter Sisuluweg (die ou Haldonweg) en Lilaclaan, Gardeniapark, Bloemfontein.
’n Unieke kenmerk van die kerk is die skuins helftes van leiklipdak wat nie aan die bokant bymekaarkom nie, maar ruimte vir vensters bied. In die somer word die vensters oopgemaak sodat warm lug kan uitvloei. Die groot orrel is in 1965 in die ou saalkerk kerk geïnstalleer en in 1972 na die nuwe kerkgebou oorgeplaas. Hier is dit vergroot.
In 1990 het die gemeente ’n groot gemeentesentrum met ’n saal, kombuis en kantore teen ’n koste van R220 000 laat aanbou. Tussen die saal en die kerk is ’n groot soetdoringboom behou wat skadu in die kuiergedeelte bied.
Die gemeente het einde 2014 400 belydende en 83 dooplidmate gehad, vergeleke met onderskeidelik 556 en 159 einde 1997, toe dit die stad se naasgrootste Gereformeerde kerk was. In 2019 wad dit onderskeidelik 422 en 76.
Predikante
- Van Wyk de Vries, dr. Klaas Speleveld, 1952 – 1955
- Van der Vyver, dr. Gert Christoffel Petrus, 1955 – 1970
- Duvenage, Abraham Petrus Carolus, 1971 – 1981
- Postma, Ferdinand, 1974 – 1979
- Bingle, dr. Johannes Petrus, 1979 – 1984
- Venter, Herman Johannes Petrus, 1982 – 1985
- Steenkamp, Willem Frederik, 1985 – 1988 (aanvaar sy emeritaat)
- Schutte, Johan Ali, 1989 – 2002
- Van der Walt, dr. Sarel Jacobus, 2003 – 2014
Galery
- Dr. Klaas Speleveld van Wyk de Vries, die leraar van 1952 tot 1955.
- Die Gereformeerde kerk Bloemfontein-Suid.
- Dr. G.C.P. van der Vyver, die leraar van 1955 tot 1970, toe hy professor word aan die Teologiese Skool Potchefstroom.
- Die kerkgebou, 2016.
- Lydia van der Vyver, predikantsvrou alhier van 1955 tot 1970.
- Ds. Peet Duvenage, leraar van 1971 tot 1981, hier afgeneem in 1956 toe hy verkies is tot sekretaris van die studenteraad aan die PU vir CHO.
- Ds. Ferdinand Postma, leraar van 1974 tot 1979, in sy laaste jaar, 1971, aan die TSP.
- Ds. J.P. Bingle, leraar van 1979 tot 1984.
Bronne
- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
Eksterne skakels
- (en) [https://www.google.com/maps/@-29.1272685,26.1765894,3a,75y,329.48h,101.48t/data=!3m6!1e1!3m4!1sJwz0p-2f2FmrVfjx-t7SQQ!2e0!7i13312!8i6656 Die kerkgebou op die hoek van Walter Sisuluweg en Lilaclaan, Gardeniapark, Bloemfontein, soos te sien op Google Maps. URL besoek op 12 Desember 2015.