Genealogie
Genealogie (vanuit Grieks: γενεά, Genea, "afkoms", en λόγος, logos, "kennis") is die studie van die verwantskappe van individue binne gesins- & familieverband/gesinne en die nasporing van hul afstammelinge en of voorsate. Genealoë gebruik mondelinge tradisies, historiese rekords, genetiese analise, en ander bronne om inligting oor families te bekom. Verwantskappe word dikwels met behulp van stambome, kwartierstate en geslagregisters in databasisse aangedui. Hiervoor word doelgerigte genealogiese programme normaalweg gebruik, waarvan daar 'n verskeidenheid beskikbaar is.[1]
'n Tipiese genealogiese databasis sal die volledige name van individu binne 'n verwantskap, asook datum en plek van persone se geboortes, troues en sterftes aanteken.
Stambome word gewoonlik in teks of grafies weergegee met lyne wat aandui hoe mense binne dieselfde familienaam aan mekaar verwant is.
Kwartierstate: 'n individu se voorouerstaat in alle bloedlyne/stamlyne kan grafies in verskillende formate en/of in teks uiteengesit word.
Genealogie word meestal as 'n stokperdjie beoefen en is een van die gewildste stokperdjies vir mense ouer as 60 jaar.
Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika[2][3] (GGSA) is ‘n Suid-Afrikaanse genealogiese lede-organisasie van persone wat hulle besig hou met die studie van genealogie, familiebome en familiegeskiedenis wat ‘n Suid-Afrikaanse verbintenis het.
Genealogie in Suid-Afrika
Die de Villiers/Pama genealogiese nommeringstelsel is ontwikkel deur Christoffel C de Villiers, wat dit gebruik het in sy 3-volume publikasie “Geslacht-register der Oude Kaapsche Familiën”[4] uitgegee in 1893-4. Die genealogie het as't ware 'n oorsig gegee van die totale bevolking van die Kaap van Goeie Hoop vanaf die stigting in 1652 tot aan die einde van die Hollandse bewind in 1806, en in baie gevalle selfs veel later. Hierdie baanbrekerwerk is hersien deur dr. Cornelis Pama en in 1966 gepubliseer as die drie-volume “Geslagsregisters van die Ou Kaapse Families” en weer in 1991 hersien.
Die RGN Instituut vir Historiese Navorsing se afdeling vir genealogiese navorsing is in 1971 op aanbeveling van die regering geskep met dr. Roelof Theunis Johannes Lombard as die eerste afdelingshoof.[5] Verskeidenheid spesifieke familiepublikasies is uitgegee, asook nuwe naslaanreeks Suid-Afrikaanse Geslagregisters ter verbetering en uitbou van die 'Geslagsregisters van die Ou Kaapse Families' is onder redaksie van R.T.J. Lombard en J.A. Heese sedert 1986 gepubliseer. Die RGN het vier dele, deel 1 (A-C) )(1986), 2 (D-G) (1989), 3 (H-I) (1992), 4 (J-K) (1992) gepubliseer. Na sluiting van die afdeling Genealogie-Inligting in 1998 (toe olv die tweede afdelingshoof, Isabel Groesbeek) is die naslaanreeks deur die nuutgestigte Genealogiese Instituut van SA (GISA) (1998-2018) voortgesit. Die genealogiese versameling het in 2018 'n nuwe tuiste by die Kaapste Skiereiland Universiteit van Tegnologie se Wellington-kampus in die Plaaslike geskiedenis en Familieversameling gevind.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het in 2020 'n Genealogielessenaar gevestig om FAK-vriende en lede van die algemene publiek bewus te maak en op te lei in die wetenskaplike genealogiese navorsingsmetodiek, asook om ondersteuning te bied vir die bewaring van persoonlike kultuur- en familie-erfenis.[6]
De Villiers/Pama nommeringstelsel
Die nommeringstelsel is oorspronklik deur Christoffel Coetzee de Villiers (1850-1887) gebruik en toe ook na sy dood in die publikasie 'Geschlacht-Register der oude Kaapsche Familien' ingevoer en ook in die opvolgpublikasies, soos geredigeer deur dr. Cor Pama in die 'Geslagsregisters van die ou Kaapse families' gebruik. Die nommering word sedertdien as standaard in die RSA gebruik waarvolgens die oorspronklike stamvader (eerste person wat van in land gedra het) as die a-geslag vermeld word. (In die geval van meer as een stamvader, staan hulle agtereenvolgens bekend as a1, a2, a3 ens.) Die kinders van die stamvader is die b-geslag, sy kleinkinders die c-geslag, ens. Elke kind van ‘n gesin kry 'n nommer - die eersgeborene is nommer 1, die tweede 2, ensovoorts.
Die kinders van die stamouers is dus b1, b2, b3, ens. Hul kleinkinders en die volgende geslag c1, c2, c3 ens in elke gesin. Dus die vierde kind van die tweede kind van die stamouers is b2, c4.
Die ou De Villiers/Pama-genealogieë is deur die RGN se afdeling vir genealogiese navorsing (1971-1998 gesluit) en later GISA[7] (1998-2018 gesluit) gebruik om die naslaanreeks Suid-Afrikaanse Geslagregisters/South African Genealogies (populêr na verwys as die SAG-volumes) wat die jare 1652 tot 1830 e.v. uitmaak, saam te stel. Hierdie reeks van 17 dele is in 2011 vir die familiename van A tot Z deur GISA voltooi. Daarna het GISA begin om die SAG-reeks aan te vul sodat dit die jare 1652 tot 1930 weergee. Dit word as SAF (SA Familieregisters) genoem. Die naslaanreeks se opdatering berus nou by GGSA.
Verskeie familiebonde het volledige genealogieë vir die betrokke familie uitgegee. ‘n Omvattende reeks genealogieë van die Hugenote-vanne word uitgegee deur die Hugenote-Vereniging van SA[8].
Tradisionele naampatrone vir voorname
In Afrikaanse gesinne is kinders dikwels volgens Europese tradisie vernoem. Hierdie tradisie was ook sterk gevolg in Ierland en Skotland (minder so in Engeland) en Wes-Europa, waaronder Nederland en Duitsland. Dit blyk die algemeenste te wees van ongeveer die middel van die 1700's tot die eerste deel van die 20ste eeu.
Die eerste Seun is vernoem na die Vader se vader Die tweede Seun is vernoem na die Moeder se vader Die derde Seun is vernoem na die Vader Die vierde Seun is vernoem na die Vader se oudste broer Die vyfde Seun is vernoem na die Moeder se oudste broer Die eerste Dogter is vernoem na die Moeder se ma Die tweede dogter is vernoem na die Vader se ma Die derde Dogter is vernoem na die Moeder Die vierde Dogter is vernoem na die Moeder se oudste suster Die vyfde dogter is vernoem na die Vader se oudste suster Daaropvolgende kinders is aangewys as gevolg van dieselfde patroon, wat vernoem is na die volgende oudste broer of suster van die pa en ma. Hierdie stelsel kan baie genealogies wees. As daar 'n jonderbreking is in die patroon, is dit dikwels ‘n geval dat 'n kind jonk gesterf het. Die name word nie meer as een keer gebruik nie (sien nota hieronder), maar die stelsel kan lei tot kinders met dieselfde naam, bv. as die kind die derde kind is, en die vader is die eerste kind van 'n vader wat die eerste kind was!
Let wel - as 'n kind jonk oorlede is, word dieselfde naam dikwels weer gebruik, veral in Afrikaanse gesinne en soms in Engelse families. Dit was nie die naam van die oorlede kind wat hergebruik word nie, maar die naam van die oupa of ouma, ens., wat weer hernoem is.
Afkortings en simbole wat in die Suid-Afrikaanse genealogie gebruik word
* gebore / geboortedatum
≈ gedoop of doopdatum
† oorlede, sterfdatum
Ω begrawe / begraafplek
ω veras
x huwelik / huweliksdatum
xx tweede huwelik / tweede huweliksdatum
[x] buite-egtelike verbintenis
÷ geskei / egskeidingsdatum
s.v. seun van
d.v. dogter van
wed weduwee
wew wewenaar
ca (circa) / ongeveer / benaderde datum
? geskatte datum
≡ berekende datum
< voor (datum) X
> na (datum)
nn (nomen nescio) familienaam onbekend
pn (pronomen nescio) voornaam onbekend
sp (sinus prole) sonder nasate
a. aankomsdatum in Suid-Afrika
Lees ook
Verwysings
- Genealogiese programme: Comparison of genealogy software (en)
- Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika: https://www.eggsa.org/index.php/af/lidmaatskap/lidmaatskap-vrae-en-antwoorde/292-wat-is-die-genealogiese-genootskap-van-suid-afrika%5Bdooie+skakel%5D
- Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika
- Geslacht-register der oude Kaapsche Familiën: https://archive.org/details/geslachtregister01devi
- Lombard RTJ (1986): Handleiding vir Genealogiese Navorsing in Suid-Afrika (Pretoria, RGN)
- (af) https://www.genealogielessenaar.com/
- Genealogiese Instituut van SA: http://www.gisa.org.za/site/content/tuis Geargiveer 18 Junie 2018 op Wayback Machine,
- Genealogiese Publikasies, Hugenote-Vereniging van SA: http://www.hugenoot.org.za/publikasies.htm Geargiveer 1 Junie 2019 op Wayback Machine