Geffrye Museum
Die Geffrye Museum (amptelik: The Geffrye - Museum of the Home) is 'n museum in Shoreditch, Londen wat aan die geskiedenis van interieurstyle vanaf die 16de eeuse Elisabethaanse tydperk tot hede gewy is.[1] Die museum is vernoem na Sir Robert Geffrye (1613–1703), 'n vroeëre Londense burgemeester (Lord Mayor of London) en Master of the Worshipful Company of Ironmongers ("Gilde van Ysterhandelaars"), een van die City of London se tradisionele gildes.
Geffrye Museum
in Kingsland Road, Shoreditch, Londen
Engeland
Verenigde Koninkryk
Opgerig
1714
Boustyl
Restourasie/Georgiaans
Uitbreiding
Aan die gang (2016–2020)
Opening as museum
1914
Webtuiste
Geffrye Museum
Die museum, wat in 1914 ingerig is, word in 'n reeks historiese almoeseniershuise gehuisves wat in 1714 uit die nalatenskap van Sir Robert Geffrye vir lede van die Gilde van Ysterhandelaars opgerig is. Naas elf vertoonkamers, waarvan elkeen die interieurstyl van 'n bepaalde historiese tydperk vertoon, en spesiale uitstallings is daar ook 'n tuin wat volgens die styl van verskillende historiese periodes beplant is. 'n Bykomende ommuurde tuin met kruie is in 1993 aangelê. Vyf jaar later het 'n nuwe museumvleuel volgens die ontwerp van die ateljee Branson Coates Architects ontstaan.
Nuwe uitbreidings, wat teen 2020 voltooi sal wees, maak voorsiening vir 'n nuwe galery, biblioteek en studeerkamer. Die uitstalruimtes sal aansienlik vergroot word, van die bestaande 2 000 m2 tot 3 500 m2.[2][3]
Verwysings
- Marianne Butler: London Architecture. London: Metro Publications 2014, bl. 128
- The Architects' Journal (AJ), 7 Julie 2016: Wright & Wright gets go-ahead for Geffrye Museum. Besoek op 28 Augustus 2016
- "Wright & Wright: Projekte. Besoek op 28 Augustus 2016". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Oktober 2016. Besoek op 28 Augustus 2016.
Eksterne skakels
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Geffrye Museum.
- Amptelike webwerf