Gaia (mitologie)
Gaia (Grieks: Γαῖα; "grond" of "aarde") was in die Griekse mitologie die dogter van die heel eerste god, Chaos, die leemte waaruit die heelal ontstaan het. Sy was die verpersoonliking van die aarde. Haar eweknie in Romeinse mitologie is Terra Mater of Tellus.
Gaia | |
---|---|
Griekse oergodin | |
Gaia, deur Anselm Feuerbach (1875) | |
Naam | Gaia |
Godin van | Die aarde |
Blyplek | Aarde |
Gade | Uranos, Pontos, Tartaros |
Ouers | Geen of Chaos (Hesiodus) of Eter en Hemera (Hyginus) |
Broers, susters | Eros, Erebos, Tartaros en Nyx (Hesiodus) |
Kinders | Uranos, Pontos, die Ourea, Honderdhandiges, siklope, Titane, gigante, Nereus, Taumas, Forkus, Keto, Eurubia, Ergia, Tufon |
Romeinse eweknie | Terra |
Mite
In Hesiodus se Teogonie (116ff) word vertel hoe Gaia heel eerste uit Chaos ontstaan het. Sy het Uranos, die lug en die sterre, uit haar eie voortgebring, asook die heuwels en die see Pontos. Daarna het sy en haar seun Uranos saam Okeanos, Koios, Krios, Huperion, Iapetos, Teia, Rea, Temis, Mnemosune, Foibe en Tetis gehad. Sy het ook die lewe geskenk aan Kronos, die jongste en "verskriklikste van haar kinders", en hy het sy pa gehaat.
Hesiodus noem ook Gaia en Uranos se ander kinders: eers die reusagtige eenoogsiklope, toe die drie verskriklike honderdhandige reuse, elk met vyftig koppe. Uranos het dié jongste kinders in Tartaros versteek sodat hulle nie die lig sou sien nie, en hy was baie in sy skik met dié wrede daad. Gaia was hartseer en maak toe ’n sekel, roep haar ander seuns en vra hulle om hul pa te ontman. Net Kronos was dapper genoeg om dit te doen. Uit die semen of bloed wat op Gaia gespat het, het nog kinders ontstaan: die sterk Eriniërs, die Gigante en die boomnimfe die Meliae.
Uit Uranos se genitalieë wat in die see gegooi is, het Afrodite te voorskyn gekom. Daarna het Gaia Echidna en Tufon by Tartaros gehad. Sy het ook vyf seegode by Pontos gehad en die godin van luiheid, Ergia, by Eter.
In die kuns
In die klassieke kuns word Gaia op twee maniere uitgebeeld. Op Atheense kruike is sy ’n stewige vrou wat halfpad uit die aarde verrys. in latere mosaïekwerk is sy op die aarde neergevlei en omring deur ’n klomp Karpi, kindgode van die vrugte van die aarde.
Verwysings
- Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel en:Gaia (mythology)