Francois Loots

Francois Alwyn Loots (24 Maart 1962 in Kaapstad), is 'n Suid-Afrikaanse skrywer.[1]

Francois Loots
mens
GeslagManlikWysig
Gegewe naamFrancoisWysig
Familie naamLootsWysig
Geboortedatum24 Maart 1962Wysig
BeroepskrywerWysig
Bekend virLente in BeijingWysig

Lewe en werk

Loots is die jongste van drie seuns. Sy ouer broers is Lieb Johannes en Marius Jan. Sy pa is 'n plaasboer wat in 2001 aan asbestose oorlede is en sy ma is onderwyseres en prinsipale. Hy word groot op 'n plaas naby Prieska in die Noord-Kaap. Op Prieska[2] voltooi hy sy laerskoolopleiding en hy matrikuleer dan in 1979 op Stellenbosch. Ná skool is hy vir 'n jaar uitruilstudent in die American Field Service-program en gaan skool in Interlaken en Bern in Switserland. Hy studeer vir 'n jaar aan die Universiteit van Stellenbosch, maar verskuif dan na die Universiteit van Kaapstad. Hier behaal hy die B.A.-graad in Sosiale Wetenskappe en Duits in 1985, die B.A. Honneurs-graad in 1986 en die M.A.-graad in 1991 oor die Duits-Joodse filosoof Walter Benjamin, met 'n tesis oor “Der Begriff der Aura und einer Kunst ohne Aura im Werk von Walter Benjamin”. In 1989 studeer hy met 'n Duitse Akademiese Uitruilprogram (DAAD) in Freiburg im Breisgau in Duitsland.[3]

In die tagtiger- en vroeë negentigerjare gee hy klas by hoofsaaklik die Universiteit van Kaapstad in Duits en Vergelykende Literatuurwetenskap. Sedert 1992 is hy in Kaapstad gebaseer en vanaf 1992 tot 1997 werk hy vir verskillende organisasies wat hulle op gesondheid, opvoeding en landelike ontwikkeling toespits, eers in Kaapstad en later in landelike gebiede van die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap. In 1999 onderrig hy Engels by die North China University of Technology in Beijing in China en in 2000 by 'n kommersiële skool in Kaoshung in Taiwan. Op 'n vrywillige basis is hy 'n Mandarynse tutor by die Universiteit van Suid-Afrika in 2001. Tans is hy vryskut reisjoernalis, vertaler, navorser en onderwyser[4] en hy woon in Kaapstad. Hy is lief vir reis en behalwe die Ooste en sy studies in Europa het hy ook al deur Brasilië gereis.[5]

Skryfwerk

In 1997 begin hy as deel van 'n informele skrywersgroep om kreatiewe skryfwerk te beoefen en lê reeds in 1998 'n bundel kortverhale aan 'n uitgewer voor, maar die verhale is nie voldoende vir publikasie nie. Sy volgende manuskrip (werkstitel “Ek en Bliksem”), word aan Danie Botha by Homeros voorgelê en as “Nagvoëls[6] gepubliseer, waarmee hy dan sy debuut maak. Dit is 'n speurverhaal met sielkundige insigte oor 'n reeksmoordenaar wat in Kaapstad toeslaan op gays, manlike sekswerkers en uiteindelik op 'n jong seun. Die speurder wat die moordenaar probeer opspoor, Els, worstel met sy stryd om sy persoonlike en professionele lewe te versoen. Weens geslags- en rassevooroordele het die twee ander hoofkarakters, Alwyn uit die Karoo wat sy verlede wil agterlaat en die versteurde onderwyser Maikie, elk verminkte psiges. Heinie is 'n jonger polisieman wat die wêreld van Els en die gay-wêreld oorbrug. Die karakters se lewens loop grootliks parallel met mekaar, maar word netjies saamgetrek aan die einde. Die sensitiewe uitbeelding van homoseksuele emosionele ontwaking gee die roman egter benewens die spanningselement ook die moontlikheid van heling en herstel. Belangrik is ook die ondersoek na en ontginning van die dinamiek van intermenslike verhoudings.

In “Lente in Beijing[7] probeer 'n jong Suid-Afrikaanse Engels onderwyser om volwaardig as gay in die vreemde te lewe. Gerhard Vos hoop dat hy sy seksuele identiteit sal vind deur weg te vlug van sy verlede en die sosiale werklikheid van sy vaderland, waar hy van kleinsaf met vooroordeel en verwerping moes saamlewe. Sy vader was 'n offisier in die apartheidsregime se veiligheidsmagte en betrokke by allerhande vorms van geweld en losbandigheid en Gerhard kom hierteen in opstand, met die begeerte om sy lewe op 'n sterker fondament te bou. As onderwyser in China kry Gerhard met interessante kultuurverskille te doen en leer hy dat hy hom nie van sy pa en sy verlede kan losskeur nie. Hier vind hy hom ook in 'n omgewing waar seksuele gedrag voorgeskryf word en afwykings nie toegelaat word nie. As gay man soek hy na ware liefde en aanvaarding in 'n vaste verhouding, eerder as die wellustige uitleef in 'n eenmalige kontaksituasie. Sy verhouding met die getroude Daniel laat hom dus geestelik onvervuld. Rapport het hierdie roman aangewys as een van die literêre hoogtepunte in 2003.

Die Jakkalsdans[8] speel een warm naweek in November 1974 in Prieska naby die Koegas-myn af, waar die verwoestende longkwaal bekend as die blou dood (veroorsaak deur asbesvesel) talle slagoffers eis. Die verhaal draai rondom die wyse waarop die hoofkarakters hierdie aanslag op hulle lewens hanteer. Die verhaal beeld die ewige siklus van lewe, siek word, sterf en hergeboorte uit en die struktuur is dus ook siklies, met 'n fokus eers op Aletta, dan Joop, Mannetjies, Tryn en dan terug na Mannetjies en Joop om met Aletta te eindig. Aletta Steyn is vasgevang in 'n sieldodende bestaan en huwelik. Sy is getroud met die algemene handelaar Mannetjies en hulle het 'n aangenome seun, Joop. Dit is veral Joop Steyn, 'n gay man, wat hom op die verkeerde tyd op die verkeerde plek bevind. Hy wil wegkom van die dorp om mode-ontwerper te word en vind dit moeilik om sy seksualiteit op die dorp uit te leef, veral omdat sy verhoudings met ander mans telkens in groot geheimhouding moet geskied. Tryn is 'n bruin meisie vir wie Mannetjies werk in sy winkel gee en met wie hy dan 'n verhouding aanknoop. Die titel van die roman verwys na die geheimsinnige Rotman wat met sy jakkalse vrees by die plaaslike inwoners inboesem. Dit is 'n verwikkelde roman wat op vele vlakke beweeg en tussen werklikheid en fantasie, dood en lewe, op 'n amper mistieke manier beleef word.

Rooi Jan Alleman[9] is 'n roman oor die lewe van Bram Fischer, waar die titel (Fischer se selnaam in die ondergrondse strukture van die Kommunistiese Party) reeds aanduidend is van die meer universele aard van die inhoud. Fischer word uitgebeeld as 'n dromer en hy word omring deur drie figure uit die Afrikaner se geskiedenis, die agtiende eeuse Hendrik “Ik ben een Afrikaander” Biebouw, Paul Kruger en Jopie Fourie, met 'n sterk binnestem wat kommentaar lewer oor sy gevoelens en gewaarwordings. Hierdie figure relativeer Bram se afkoms en sy siening van homself. Die inhoud gee glad nie voor om histories korrek te wees nie, al getuig dit van deeglike navorsing en diepgaande kennis van Fischer, met gebeure wat aangepas is om die momentum van die verhaal te onderskraag. Deur hierdie metode word indringende kommentaar gelewer oor wat dit beteken om 'n Afrikaner in Suid-Afrika te wees. Hoewel duidelik fiksie, gee hierdie roman 'n ruimer perspektief as vele geskiedenisboeke op die waarheid en geskiedenis van Fischer se lewe en die onstuimige tyd waarin dit plaasvind. “Rooi Jan Alleman” is in 2014 op die kortlys vir die toekenning van die Universiteit van Johannesburg-prys.[10]

In sneeu geskryf[11] se titel verwys na die sneeu in Rusland, maar is ook 'n toespeling op die spreekwoord “in klip geskryf”, met die suggestie dat dit anders as in die spreekwoord nie permanent is nie en maklik sal verander. Die verhaal se agtergrond is die moorde wat in Januarie 2003 in die gay seksklub Sizzlers in Seepunt in Kaapstad op die manlike sekswerkers gepleeg is. Die moordenaars is gevang en gevonnis, maar die motief vir die moorde kon nooit bevredigend vasgestel word nie. Hierdie roman skep op kreatiewe wyse 'n gefiksionaliseerde motivering. Die roman word in ses afdelings verdeel, met die eerste 'n proloog wat afspeel in Rusland waar twee priesters 'n seksuele verhouding het en aan die einde 'n teregstelling dophou. Die Russiese gegewe, die sneeu en teregstelling word dan herhalende motiewe wat weerklank vind in al die karakters se lewens.[12] Die volgende vyf afdelings word gewy aan die drie hoofkarakters, Heinrich en Bertus (twee afdelings elk) en Adam. So word verskeie perspektiewe verkry op die herhalende kerngebeure. Heinrich besluit om sy ma en suster in sy ouerhuis op Mareesdrif in die Karoo agter te laat en Kaapstad toe te gaan op soek na werk, sodat hy sy ma uit haar finansiële moeilikhede kan help. Eindelik beland hy by Sizzlers, waar hy die sekswerker Frikkie van der Merwe word, ten spyte van sy gebrek aan ervaring in gay seks. Bertus is een van Frikkie se gereelde kliënte en die eienaar van boekwinkels, onder meer 'n Russiese boekwinkel in Rondebosch, waar hy saam met Frikkie droom van 'n sneeuwêreld, onbesmet met Afrika se hitte en sweet. Die moordenaar, Adam, is 'n skisofreen wat gereeld van skoene en dan van persoonlikheid verander. As kelner bedien hy vir Bertus en Frikkie en hulle laat hom verontrus voel. Die gay-agtergrond van die verhaal is slegs die doek waarteen die individue se karakters en hulle lewens ontbloot word, met die werklike fokus op die individuele lewenssoektog en die tragedie wat in menselewens skuil. Die daaglikse bestaan van sekswerkers en die gevare wat hulle moet trotseer, word knap beskryf.[13]

Publikasies

2001 - Nagvoëls

2003 - Lente in Beijing

2011 - Die Jakkalsdans

2012 - Rooi Jan Alleman

2015 - In Sneeu Geskryf

2017 - Die Diepblou See

Ander verwysings

Verwysings

  1. Kannemeyer, J.C. “Die Afrikaanse literatuur 1652-2004” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 2005
  2. Green, Phyllis Sarie: http://www.sarie.com/lewe-liefdes/5-boekminute-met-francois-loots/
  3. Van Coller, H.P. (red.) “Perspektief en Profiel Deel 3” Van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 2006
  4. Random Struik: http://www.randomstruik.co.za/about-the-author.php?authorID=5632&imprintID=6&lang=A%5Bdooie+skakel%5D
  5. Smith, Francois Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2002/01/12/4/19.html
  6. Hambidge, Joan “Rapport” 25 November 2001; John, Philip “Beeld” 15 Oktober 2001
  7. Viljoen, Henning “Beeld” 22 September 2003; Visagie, Andries “Rapport” 28 September 2003
  8. Geldenhuys, Nico “Beeld” 1 Augustus 2011; Richards, Moira “Rapport” 13 November 2011
  9. Kalmer, Harry “Rapport” 3 Maart 2013; Van der Westhuizen, Gert “Beeld” 18 Februarie 2013
  10. Coetser, Johan “Tydskrif vir Letterkunde” Vierde reeks Jaargang 51 no. 1 Herfs 2014: http://www.letterkunde.up.ac.za/resensies/51_1/25%20Resensies%20Coetser%20WEB%2003.pdf Geargiveer 13 Mei 2020 op Wayback Machine
  11. Botha, Frederick J. “Beeld” 7 September 2015
  12. Koen, Dewald “Rapport” 30 Augustus 2015: http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/Nuwe-Franois-Loots-roman-n-piek-in-sy-oeuvre-20150830 Geargiveer 16 November 2015 op Wayback Machine
  13. Botha, Danie LitNet: http://www.litnet.co.za/boekresensie-in-sneeu-geskryf-deur-francois-loots/
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.