Florianópolis
Florianópolis (wat in die Brasiliaanse omgangstaal dikwels kort Floripa genoem word) is die hoofstad van die Suid-Brasiliaanse deelstaat Santa Catarina met 'n oppervlak van 433 vierkante kilometer en 406 564 inwoners (2006). Dit is naas Vitória en São Luís een van drie administratiewe hoofstede in Brasilië wat op eilande geleë is. Florianópolis lê gedeeltelik op die hoofeiland Santa Catarina, die vasteland en die omliggende eilande. Die metropolitaanse gebied van Florianópolis het 764 492 inwoners.
Florianópolis | |
---|---|
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Brasilië |
Deelstaat | Santa Catarina |
Koördinate | 27°35′S 48°32′W |
Stigting | 23 Maart 1726 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 433,317 vk km |
Hoogte bo seevlak | 0 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2006) | 406 564 |
- Metropolitaanse gebied (2006) | 764 492 |
- Bevolkingsdigtheid | 938,3/vk km |
Tydsone | UTC -3 |
Prefek | Gean Marques Loureiro (PMDB, 2017-20) |
Amptelike Webwerf | Prefeitura Municipal |
Die stad word omring deur kleiner eilande, waarop tydens die 17de eeu forte opgerig is om skepe te beskerm. Die meeste van die inwoners woon in die noordelike helfte van die eiland Santa Catarina, terwyl die suidelike gedeelte meer geïsoleer en minder ontwikkel is.
Hoewel die eerste setlaars van die Portugese Asore-eilandgroep gekom het, toon Florianópolis net soos die res van die staat Santa Catarina sterk Italiaanse en Duitse invloede. Die stad is vandag danksy die buitengewone ligging en uitgestrekte sandstrande in sy omgewing 'n gewilde bestemming vir toeriste uit die Suid-Amerikaanse buurlande. Die internasionale Hercílio Luz-lughawe verbind Florianópolis met Brasiliaanse en internasionale bestemmings.
Naamgewing en geskiedenis
Die oorspronklike bewoners van die gebied, die Carijós-Indiane, het na die stad as Meiembipe (letterlik "die gebergte langs die see") verwys. In 1675 is die eerste Europese nedersetting deur Portugese setlaars onder die leiding van die bandeirante Francisco Dias Velho, 'n boorling van São Paulo, as Nossa Senhora do Desterro gestig.
Die naam is later dikwels verkort tot Desterro. Die stigting was veral daarop gemik om die suide van die Portugese kolonie teen Spaanse aanvalle te beskerm en die kolonisasie van die gebied te bevorder.
In die 18de eeu het talle immigrante van die Asore-eilandgroep hulle in die omgewing gevestig, en hulle tipiese vissersbote, volkspele, kantwerksters, kookkuns en koloniale argitektuur is nog steeds kenmerkend vir die gebied.
In 1893 is die stad ter ere van die eerste Brasiliaanse visepresident en latere tweede staatspresident Floriano Vieira Peixoto (1839-1895) Florianópolis genoem.
Vervoer en toerisme
Die federale grootpad (rodovia federal) BR 101, een van Brasilië se hoofpaaie met 'n totale lengte van meer as 4 500 kilometer, loop in noord-suidelike rigting deur die voorstede Palhoça en São José, sowat twee kilometer wes van Florianópolis se middestad. Vanuit die weste kruis die BR 282 die BR 101 en verbind die metropolitaanse gebied met ander dele van Santa Catarina.
In die stadsgebied verbind die provinsiale paaie (rodovias estaduais) SC 401 tot SC 406 Florianópolis se woonbuurte en voorstede op Santa Catarina-eiland met mekaar.
Twee brûe verbind Santa Catarina-eiland met die vasteland. Die Ponte Hercílio Luz is as Brasilië se langste hangbrug (842 meter) in die tydperk tussen 1922 en 1926 opgerig. Die brug is 'n nasionale monument en word tans gerestoureer. Dit sal op 'n later stadium net vir voetgangers en fietsryers toeganklik wees.
Die tweede moderne dubbelbrug, die Colombo-Sales-brug met 'n lengte van 1 330 meter, wat net vir voertuie bestem is, maak deel uit van die hoofpad BR 282 en beskik oor ses lane.
Florianópolis se internasionale lughawe, die Aeroporto Hercílio Luz op Santa Catarina-eiland, lê sowat twaalf kilometer van die stadsentrum af en verbind die stad met die metropole in die suide en suidooste van die land (onder meer São Paulo en Porto Alegre) en die hoofstede van die buurlande Argentinië (Buenos Aires) en Uruguay (Montevideo) Die eiland Santa Catarina, wat vroeër deur 'n oorwegend landelike struktuur gekenmerk was, het danksy die invloed van die massatoerisme merkbaar begin verander. Meer as veertig sandstrande, geleë in rustige baie soos Praia dos Ingleses en Praia da Joaquina aan die Atlantiese kant van die eiland, wat met sy branders watersportgeesdriftiges lok, maak van die eiland 'n gewilde toeristebestemming. In die hoofseisoen van Desember tot Februarie groei die inwonertal danksy Brasiliaanse, Argentynse en Uruguaanse toeriste tot meer as een miljoen.
Besienswaardighede
Die Praça 15 de Novembro, 'n plein in die middestad van Florianópolis, staan bekend vir die folkloristiese tonele, wat as mosaïeke in sy plaveisel ingewerk is, en 'n ou vyeboom, die simbool van die stad. Hier lê ook die monument vir die gesneuweldes van die Paraguyaanse Oorlog.
Aan die noordelike kant van die plein lê die ou goewerneurspaleis, die Palácio Cruz e Souza uit die 18de eeu, wat nou die Museu Histórico huisves en onder meer historiese meubels vertoon, en die Catedral Metropolitana, wat in die tydperk tussen 1753 en 1773 opgerig is.
Die Rua Victor Meirelles loop in suidelike rigting vanaf die plein. Hier lê onder meer die geboortehuis van die gelyknamige bekende skilder.
Die bergpiek Morro da Cruz met sy twee televisietorings bied 'n pragtige uitsig oor die eiland Santa Catarina en die brûe wat dit met die vasteland verbind.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Florianópolis. |
Hoofstede van Brasilië | ||||
---|---|---|---|---|
|