Extremadura

Extremadura is een van die sewentien outonome gemeenskappe van Spanje. Dit is in die suidweste van Spanje, halfpad tussen Lissabon en Madrid, geleë en grens aan Portugal, en die outonome gemeenskappe Kastilië-La Mancha, Kastilië en León en Andalusië. Die bevolking is in 2018 deur die Instituto Nacional de Estadística op sowat 1,073 miljoen beraam. Administratief is Extremadura in twee provinsies onderverdeel, Badajoz (die grootste van alle Spaanse provinsies volgens oppervlakte) en Cáceres. Die hoofstad is Mérida met 'n bevolking van iets meer as 59 000. Die enigste groter stedelike nedersetting in die yl bevolkte streek is Badajoz met ongeveer 150 000 inwoners. Na die plaaslike bevolking word in Spaans as Extremeños verwys.

Sononder in 'n plattelandse gebied tussen Cáceres en Mérida
'n Eensame begraafplaas tussen landbouvelde in die provinsie Badajoz
'n Kronkelende rivier in die bergstreek van Las Hurdes. Hierdie bergwêreld was vroeër een van die mees afgeleë op die Iberiese Skiereiland, met ontoeganklike valleie waarin nòg Romeinse nòg Moorse veroweraars 'n voet gesit het
Extremadura
Vlag Wapen
Volkslied: Himno de Extremadura
HoofstadMérida
Amptelike TaleSpaans
Oppervlak
  Totaal
  % van Spanje
Rang 5de
 41 634 km²
 
Bevolking
  Totaal (2018)
  % van Spanje
  Digtheid
Rang 12de
 1 073 000
 2,6
 25,8/km²
Inwonersnaam
  Afrikaans
  Spaans
  Spaans

 Extremaduraan
 extremeño
 Extremadura
Statuut van
Outonomiteit
26 Februarie 1983
Parlementêre
verteenwoordiging

  Kongressetels
  Senaatsetels


 10
 10
President Guillermo Fernández Vara (PSOE)
ISO 3166-2 ES-EX
Extremadura

Die streeksnaam, wat «Anderkant die Duero» beteken, verwys na die historiese rol van die Duero as grensrivier tydens die Reconquista, die Christelike herverowering van Spanje en Portugal. Eeue lank het die rivier die Christelike en Moors-Islamitiese invloedsfeer op die Iberiese Skiereiland van mekaar geskei. Die Portugese Estremadura het dieselfde etimologiese oorsprong.

Tradisioneel is Extremadura een van die armer randgebiede van Spanje wat in die vroeë 16de eeu 'n buitengewoon hoë persentasie van conquistadores opgelewer het[1], onder wie Francisco Pizarro, 'n boorling van Trujillo. Baie van die conquistadores het as welvarende mans na hul geboorteland teruggekeer waar hulle paleise en vestings laat oprig het. Die Spaanse veroweraars het ook diep spore in die Nuwe Wêreld gelaat wat van taalbesonderhede tot plekname strek. So dra 'n aantal nedersettings in Peru, Venezuela, Honduras en die Dominikaanse Republiek die naam Trujillo. Vir 'n groot deel van sy moderne geskiedenis was Extremadura 'n emigrasieland. In die dekades ná die Tweede Wêreldoorlog het 700 000 Extremeños hulle elders in Spanje of in die buiteland gevestig.

Klimaat

Die grootste deel van Extremadura het 'n Mediterreense klimaat, met uitsondering van die noordelike bergstreke wat deur 'n vastelandse klimaat met groter jaarlikse speling in temperature gekenmerk word. Die waterryke en vrugbare noorde van Extremadura kontrasteer met droë streke suid van die Taagrivier. Hier word wilde ongerepte landskappe aangetref waar die mens nouliks in die natuur ingegryp het.

Extremadura het gematigde winters met hoër reënval en warm en droë somers. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur wissel tussen 16 en 17 °C. In die koeler noordelike bergstreke word hierdie klimaatsparameter bereken as sowat 13 °C, terwyl dit in die warmer suide ongeveer 18 °C is. Gedurende die somermaande word 'n gemiddelde temperatuur van 26 °C gemeet, met uiterstes van 46 °C. Die gemiddelde jaarlikse reënval is tussen 450 en 500 mm.

Verwysings

  1. Dr. Peter Martin: Zucker für die Welt. Die Anfänge der Sklaverei und der Fabrikgesellschaft in Südamerika. Berlin: Universitätsverlag der TU Berlin 2012, bl. 25

Eksterne skakels

Amptelike webtuistes
Toerisme
Game of Thrones - Juego de Tronos
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.