Eskom

Eskom is Suid-Afrika se nasionale elektrisiteitsverskaffer wat 95% van die elektrisiteit in Suid-Afrika opwek. Dit het in 1923 tot stand gekom as die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie, afgekort as Evkom. (Engels: Electricity Supply Commission, Escom). Die organisasie het in 1986 sy naam verander na Eskom, 'n samesmelting van die Afrikaanse en Engelse afkortings en word nie meer deur 'n kommissie beheer nie. Die Suid-Afrikaanse regering is tans die enigste aandeelhouer.

Eskom
Tipe Openbare nutsbedryf
Gestig 1 Maart 1923
Hoofkantoor Sandton, Suid-Afrika
SleutelpersoneAndré de Ruyter (HUB)[1]
Gebied bedienAfrika
IndustrieElektrisiteitsvoorsiening
DiensteElektrisiteit
InkomsteR91,447 miljoen (2011)[2]
Netto inkomsteR8,356 miljoen (2011)[2]
Werknemers48 600 (2019)[3]
Webwerfwww.eskom.co.za

Eskom is 'n vertikaalgeïntegreerde nutsmaatskappy wat elektrisiteit opwek, wat dan deur middel van 'n landswye transmissiestelsel regdeur Suid-Afrika herlei word, voor dit aan sowat vier miljoen eindverbruikers bedien word. Eskom verskaf ook grootmaat-toevoere aan sowat 180 munisipale verspreiders.

Aan die einde van 2007 het Eskom 'n netto kragopwekkingsvermoë van 37 761 megawatt (MW) gehad, asook 'n landswye transmissie- en distribusiestelsel wat oor 359 854 km heen strek en bykans vier miljoen eindverbruikers bereik. Eskom se bates het R144 miljard beloop, waarop dit 'n wins van R6,5 miljard getoon het deur die opwekking, verspreiding en verkoop van 218 120 gigawattuur (GWh) elektrisiteit. Eskom het 32 674 mense in diens gehad en in 2007 aangedui dat dit 'n uitbreidingsprogram onderneem het wat ongeveer R150 miljard oor die volgende agt jaar sou beloop.[4]

Teen 2019 het Eskom sowat 48 600 mense in diens gehad, wat volgens sy eie analise 16 000 meer is as wat hy nodig het.[3] Volgens die Wêreldbank het Eskom 66% meer werknemers as wat hy nodig het.[3]

Lasafwerping

Ou Eskom-logo van 1923 tot 1985
Eskom-logo vanaf 1986 tot 2001

'n Kenmerk van kragvoorsiening in Suid-Afrika sedert 2007 is periodieke roterende onderbrekings van toevoer (sogenaamde "beurtkrag") weens doelbewuste lasafwerping. Oor 'n periode van ongeveer twintig jaar sedert die mid-1980's het Eskom se kragopwekkingsvermoë die spitsaanvraag aansienlik oorskry (met meer as 20% in sommige jare) en Eskom het selfs sover gegaan as om groot industriële verbruikers (onder andere Alusaf en Mozal) na Suider-Afrika te lok met aantreklike elektrisiteitspryse en langtermynvoorsieningskontrakte (25 jaar) teen laer as sy opwekkingskoste.

Met die beëindiging van Eskom se kragsentrale-uitbreidingsprogram in 2001 is dit veronderstel dat daar voldoende kapasiteit sou wees om in die aanvraag na elektrisiteit te kon voorsien tot ongeveer 2007. Die Witskrif op Energie van 1998 het voorspel dat Eskom teen 2007 'n tekort aan opwekvermoë sou ondervind. Omdat die aanlooptyd om 'n groot kragsentrale te bou meer as vyf jaar beloop, het Eskom reeds in 2002 begin aansoek doen om meer kapasiteit. Die regering het egter daarop aangedring dat (buitelandse) privaatbeleggers genader moet word om tot die bedryf toe te tree en reeds in 1998 het Penuell Maduna, minister van minerale en energie, 'n verbod op Eskom geplaas om enige verdere steenkool- of kernkragstasies op te rig. Hierdie embargo is eers in 2004 opgehef nadat dit duidelik geword het dat die privaatsektor nie gretig is om tot die elektrisiteitsopwekkingsbedryf toe te tree nie.

Ondanks waarskuwings deur Eskom van 'n dreigende tekort aan kapasiteit het die proses gesloer en uiteindelik in 2006 skipbreuk gelei toe die laaste belangstellendes uit die proses onttrek het, oënskynlik vanweë té lae elektrisiteitstariewe en ander beperkende faktore. In 2007 het president Thabo Mbeki namens die regering verskoning aangeteken vir die kragtekorte. Mbeki het in Bloemfontein erken dat "Eskom reg en die regering verkeerd was".[5] Die kragonderbreking van Januarie 2008 het hy egter toegeskryf aan basiese pligsversuim aan die kant van Eskom.[6] Skepping van nuwe opwekkingskapasiteit sedert 2008 sou gekenmerk word deur konstruksie-vertragings en kosteoorskrydings wat Eskom finansieel sou uitput.[7]

Ander belangrike faktore wat bygedra het tot die toenemende wanbalans tussen vraag en aanbod was 'n hoër-as-verwagte groeikoers in aanvraag en 'n afname in die beskikbaarheid van Eskom se opwekkingseenhede. Die ekonomie het meer elektrisiteitsintensief begin word en moderne geriewe soos lugversorging het 'n alledaagse verskynsel geword. Eskom het ook 'n massiewe elektrifiseringsprogram in die 1990's begin wat aanvraag vermeerder het en die lasprofiel verskuif het. Pogings om aanvraag te beheer het nie die nodige steun ontvang om dit effektief te maak nie.

Die toestand het verder versleg vanweë die afname in beskikbaarheid van groot krageenhede. In 2000 was die gemiddelde beskikbaarkeid 92%. Teen 2006 het dit gedaal tot 87%, wat dieselfde effek het as 'n 5% permanente tekort aan kapasiteit. Die oorsaak hiervan was hoofsaaklik swak of gebrekkige voorkomende instandhouding, foute deur onervare personeel en 'n tekort aan onderdele, brandstof en ander middele. Teen 2007 het agterstand in instandhouding en onverwagte falings dit moeiliker gemaak om voorsieningskapasiteit met volgehoue vertroue te kon voorspel. Die situasie het mettertyd versleg en in Februarie 2015 het Eskom by tye 36% van sy opwekvermoë verloor.

Die koeël was toe reeds deur die kerk. In Desember 2006 het die eerste grootskaalse lasafwerping in the Wes-Kaap plaasgevind toe 'n eenheid by Koeberg onverwags afgeskakel het. Aanvraag in die Wes-Kaap het beskikbare vermoë oorskry omdat die transmissiestelsel nie die verskil kon aansuiwer nie. Om te voorkom dat die hele stelsel intuimel, het Eskom begin met selektiewe lasafwerping, dit wil sê doelbewuste afskakeling om die aanvraag te beperk. Groepe verbruikers is vir 'n paar ure op 'n beurt afgeskakel totdat die balans tussen aanvraag en voorsiening weer herstel is.

In die winter van 2007 het die eerste lasafwerpings in die res van die land begin toe die ongewone koue weer Eskom se totale vermoë onder geweldige druk geplaas het en landswye lasafwerping in alle erns begin het. Toe die winter verby was en verbruikers 'n bietjie asem kon skep, het daar in Oktober en November weer 'n reeks lasafwerpings begin, dié keer omdat soveel eenhede buite werking was vanweë instandhouding, onverwagte falings en bedryfsfoute dat daar op 'n stadium tot oor 'n 20% tekort aan toevoer was.

Eskom het gewaarsku dat lasafwerpings sal voortduur vir vyf of ses jaar, minstens tot dat die eerste eenheid van die nuwe Medupi-kragsentrale in 2012 in werking gestel behoort te word. Vertragings in die voltooiing van Medupi het voorgekom, sodat die beplande inwerkingstelling van die eerste eenheid tot die tweede helfte van 2015 uitgestel is. Eers in Januarie 2008 het Eskom kontrakte met Botswana en Mosambiek gesluit vir die aankoop van minstens 450 MW elektriese krag, alhoewel Eskom toe reeds bewus moes gewees het van plaaslike kragtekorte, wat tewens reeds kerstyd rugbaar geword het.

Onvolhoubare praktyke

Eskom se uitvoerende beamptes, insluitende Phakamani Hadebe (hoof-uitvoerende-beampte), tweede van links, op 'n 2019-openbare forum in Kaapstad oor Eskom se finansiële situasie.

Die Optimummyn van die multinasionale firma Glencore het oor 'n tydperk steenkool teen minder as kosprys aan Eskom se Hendrina-kragstasie voorsien.[8] Volgens Optimum se vaste 25-jaar leweringskontrak moes hulle tot einde-2018 steenkool teen 'n goedkoop R150 per ton lewer, maar het in 2012 misluk om die ooreengekome graad te lewer, waarna Eskom hulle 'n boete van R2,1 miljard opgelê het. Eskom se uitvoerende bestuurder, Brian Molefe, wou na bewering nie besgee oor die boetebedrag nie, en met Optimum op die drumpel van likwidasie het die Guptas 'n koopaanbod van R2,9 miljard gemaak. Tegeta het egter nie oor hierdie bedrag beskik nie, sodat Eskom se rekenkundige beampte, Anoj Singh, 'n waarborg van R1,6 miljard aan Tegeta toegestaan het om die transaksie deur te voer.[9] Na bewering het Eskom dan 'n geheime skikking met die nuwe eienaar Tegeta aangegaan oor 75% van die boetebedrag.[10]

In 2015 het Eskom 'n 11-jaar kontrak ter waarde van R3,7 miljard aan Tegeta van die Gupta-familie en Duduzane Zuma toegestaan, vir lewering van steenkool van 'n verdagte lae graad aan die Majuba-kragstasie.[8] Eskom wou 'n verdere kontrak van R2,9 miljard toestaan aan Tegeta se Brakfonteinmyn, maar is deur die Nasionale Tesourie voorgekeer.[11]

In 2017 is 'n R25 miljard langtermynlening van Huarong Energy Africa bekom om kragsentrales te onderhou, maar 'n gebrekkige evaluasieproses het daarop uitgeloop dat Eskom na ondertekening geweier het om die kontraktuele verpligtinge na te kom. Regsfirma White & Case het etlike kwelpunte uitgewys. Kommerwekkend was die $19 miljoen terugbetaling wat dadelik moes geskied, 'n fasiliteringsdeposito van R340 miljoen in die Hongkongse bankrekening van die obskure Ideva-firma, en 'n groot kansellasiefooi.[12] Sean Maritz en Anoj Singh, onderskeidelik die tydelike uitvoerende bestuurder en rekenkundige beampte van Eskom wat albei die kontrak onderteken het, moes uit hul poste bedank.[13]

Eskom het toegelaat dat skuld van munisipaliteite, veral dié van Soweto, handuitruk. In Julie 2019 het die onbetaalde elektrisiteitsrekeninge van Soweto alleen op R15 miljard gestaan.[14] Teen 2018 was sestig ander munisipaliteite ook altesaam R16 miljard in die rooi.[15] Die oplossing vir Soweto is gesien as die installering van 26 000 meters vir vooruitbetaalde krag teen einde-Maart 2020,[16] 'n aankondiging wat met betogings in Orlando-Wes begroet is, terwyl munisipaliteite hul wanbetaling op onwettige konneksies en werkloosheid blameer het.[17]

Eskom het vroeg in 2019 'n hulppaket van R4,9 miljard van die regering aangevra sodat dit oor die korttermyn operasioneel kan bly. Die instelling se benarde finansiële situasie kan toegeskryf word aan die nagevolge van staatskaping en Eskom se historiese skuld, alhoewel die regerende African National Congress dit aan die nasleep van apartheid toeskryf.[18] Die regering het die Eskom-volhoubaarheidstaakspan en tegniese hersieningspan aangestel, en 'n dringende Spesiale Appropriasiewet sou voorsiening maak vir 'n groot deel van R230 miljard wat Eskom oor 'n dekade sal benodig, meestal om voortslepende verliese te delg.[3] Minister Tito Mboweni het in sy 2019 begrotingstoespraak aangedui dat die staatskas R69 miljard oor drie jaar beskikbaar sal stel om Eskom-skuld onder bedwang te hou.[16] Die Suid-Afrikaanse regering het in Augustus 2019 die aantal rand-gedenomineerde staatseffekte wat hy by weeklikse skuldveilings aangaan met 37% verhoog om Eskom se skuld te delg.[19]

In 2019 het Eskom Holdings SOC Bpk en raffinaderye van Sasol Bpk onder skoot gekom vir hul besoedeling in die sg. hoëveld-prioriteitsgebied, d.w.s. dele van Mpumalanga en Gauteng waar meeste van Suid-Afrika se steenkool ontgin word en 12 steenkoolkragsentrales van Eskom, benewens Sasol se olieraffinadery en steenkool-na-brandstof-aanleg geleë is.[20][21] 'n Greenpeace-ondersoek van laat-2018 het aangetoon dat Mpumalanga gebuk gaan onder die wêreld se ergste stikstofdioksied-vrystellings deur kragsentrales. Die aanlegte stel benewens dit ook swaeldioksied, kwik en fyn stofdeeltjies vry wat na bewering 'n reeks siektes veroorsaak. Volgens die Amerikaanse atmosferiese deskundige Andy Gray het hierdie besoedeling al honderde vroeë sterftes in die gebied veroorsaak. Die omgewingsregtegroepe Groundwork en Vukani het by die hooggeregshof aansoek gedoen dat hierdie vlakke van besoedeling as 'n skending van grondwetlike menseregte aangedui word, sodat die Departement van Omgewingsake tot sinvolle optrede aangespoor kan word.[20]

2008 Tariefverhoging

Op 20 Desember 2007 het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) Eskom 'n gemiddelde tariefverhoging van 14,2% vir 2008 toegestaan. Dit het tekort geskiet aan die 18,7% waarvoor Eskom aansoek gedoen het, maar was nogtans aansienlik meer as die 6,2% verhoging waarvoor Eskom aanvanklik in 2005 aansoek gedoen het. Die uitermatige verhoging het vir Eskom en NERSA die misnoë van verskeie instansies op die hals gehaal, onder andere die Konfederasie van Suid-Afrikaanse Vakunies (Kosavu), Busa (Business Unity SA) en die Suid-Afrikaanse Reserwebank, wat vroeër 'n beroep op staatsinstansies gemaak het om te help om inflasie te beperk tot die Bank se teiken van tussen 3% en 6%.

Daar was ook kritiek dat die tariefverhoging Suid-Afrika minder aantreklik sou maak vir buitelandse beleggers, aangesien goedkoop elektrisiteit dikwels as 'n positiewe faktor vir SA beskryf word.

Eskom het laas verhogings van hierdie skaal in 1977 aangekondig, toe dit ná die inflasie-periode van die sewentigerjare voor geweldige uitbreidingskoste te staan gekom het.

NERSA het aangekondig dat Eskom se aansoek vir 'n verdere 17%-verhoging vir 2009 in September 2008 oorweeg sal word wanneer die volgende driejaarlikse prysverhoging vasgestel word. NERSA se openbare konsultasiedokument het dit duidelik gestel dat Eskom se tariewe met dubbelsyferverhogings aangepas sal moet word tot en met minstens 2019 om in die verwagte stygings in koste en die uitbreidingsprogam te kan voldoen.

Eskom het te kenne gegee dat dit beswaar sal aanteken teen NERSA se beslissing. In 2004 het Eskom en NERSA in 'n dispuut betrokke geraak toe Eskom 'n verhoging van 2,5% toegestaan is nadat dit om 8,9% aansoek gedoen het. Die geskil is besleg deur die destydse Minister van Mineraal- en Energiesake, Me. Phumzile Mlambo-Ngcuka, wat Eskom se aansoek verwerp het.

Collin Matjila, voorsitter van NERSA, het aangekondig dat die verhoging Eskom se verkope van R44,3 miljard tot R47,9 miljard per jaar sou verhoog. Toe Eskom oorspronklik in 2005 vir 'n verhoging aansoek gedoen het, was uitbreidingskoste van R84 miljard voorsien. Toe dit later blyk dat dié bedrag vermeerder moes word tot R150 miljard, was dit duidelik dat 'n 6,2%-verhoging onvoldoende sou wees om die uitgawe te dek. Gevolglik is 14,2% goedgekeur. Matjila het verder gesê dat die tariefverhoging daarop gemik was om die balans tussen Eskom se voortbestaan en die bekostigbaarheid van elektrisiteit te handhaaf. NERSA was van mening dat die langtermynoorwegings van hierdie besluit die korttermynbesorgdhede vér oorskry.[22]

Kragontwikkeling

Die Arnot-kragstasie by Middelburg, Suid-Afrika
Die Koeberg-kernkragstasie

Opsomming van die vermoë van Eskom se kragsentrales in 2007:

Steenkool

Naam Jaar voltooi Getal stelle Nominale vermoë per stel MW Bruto totale vermoë MW Netto totale vermoë MW Stoomdruk Mpa Stoom temperature °C
Arnot3 1975 6 350 2100 1980 15.9 510
Camden4 1969 8 200 1600 15202 10.3 538
Duhva3 1984 6 600 3600 3450 16.1 535
Grootvlei4 1977 6 200 1200 11302 10.3 538
Hendrina3 1977 10 200 2000 19851 10.3 538
Kendal3,5 1993 6 686 4116 3840 16.1 535
Komati4 1966 5 100 500 8912 8.4 510
4 125 500
Kriel3 1979 6 500 3000 2850 16.0 510
Lethabo3 1990 6 618 3708 3558 16.1 535
Majuba 2001 3 657 1971 3843
3 713 2139
Matimba3,5 1991 6 665 3990 3690 16.1 535
Matla3 1983 6 600 3600 3450 16.1 535
Tutuka3 1990 6 609 3654 3510 16.1 535

Kernkrag

Naam Jaar voltooi Getal stelle Nominale vermoë
per stel MW
Bruto totale vermoë MW Netto totale vermoë MW
Koeberg3 1985 2 965 1930 18001

Hidro

Naam Jaar voltooi Getal stelle Nominale vermoë
per stel MW
Bruto totale vermoë MW Netto totale vermoë MW
Gariep7 1976 4 90 360 360
Vanderkloof7 1977 2 120 240 240
Colly Wobbles 3 14 42 42
First Falls 2 3 6 6
Ncora 2 0.4 1
1 1.3 1 2
Second Falls 2 5.5 11 11

Pompopgaar8

Naam Jaar voltooi Getal stelle Nominale vermoë
per stel MW
Bruto totale vermoë MW Netto totale vermoë MW
Drakensberg 1982 4 250 1000 1000
Palmiet 1988 2 200

Gasturbines6

Naam Jaar voltooi Getal stelle Nominale vermoë
per stel MW
Bruto totale vermoë MW Netto totale vermoë MW
Acacia 1976 3 57 171 171
Port Rex 1976 3 57 171 171
Gourikwa 2007 3 150 450 438
Ankerlig 2007 4 150 600 588

Windkrag

Naam Jaar voltooi Getal stelle Nominale vermoë
per stel MW
Bruto totale vermoë MW Netto totale vermoë MW
Klipheuwel 2003 3 0.66-1.75 3.2 3.2
Sere 2015 46 100

In aanbou

Naam Jaar voltooi Getal stelle Nominale vermoë
per stel MW
Bruto totale vermoë MW Netto totale vermoë MW Tipe
Medupi 2012 6 800 4800 4560
Ingula 2014? 4 333 1330 1330 Pompopgaar

Beplan

Naam Jaar voltooi Getal stelle Nominale vermoë
per stel MW
Bruto totale vermoë MW Netto totale vermoë MW
Steenkool ? 6 700 4200 3942
Gas1 (Gourikwa) 2008 2 150 300 291
Gas1 (Ankerlig) 2008 5 150 750 733

Notas:

  1. Verskil tussen bruto en netto totale vermoë is te wyte aan eie verbruik, ouderdom van die aanleg en/of steenkoolgehalte.
  2. Uiteindelike vermoë na herinbedryfstelling
  3. Basislas kragsentrale (deurlopende bedryf)
  4. Tans nog in langtermyn bewaring
  5. Droë verkoelde eenhede se lewering word beperk deur die ontwerpuitlaatdruk en die omgewingstemperatuur.
  6. Word slegs vir spitsaanvraag en noodgevalle gebruik.
  7. Gebruik word beperk tot spitslas en hang af van die hoeveelheid water beskikbaar in die Gariep- en Vanderkloof-opgaardamme.
  8. Pomp-opgaarskemas is netto verbruikers van elektrisiteit. Water word in nie-spitstye teen die berg opgepomp sodat elektrisiteit tydens spitstye opgewek kan word as die water vrygestel word.
Vertaal en aangevul uit Eskom se 2006 jaarverslag en ander bronne[23]

Transmissie en distribusie

Elektrisiteit word in generators opgewek deur 'n groot magneet (die rotor) wat binne in 'n koperklos (die stator) draai teen 3 000 omwentelings per minuut. Dit lewer 'n drie-fase wisselstroom met 'n frekwensie van 50 Hertz (d.w.s. wisselings per sekonde) teen ongeveer 22 000 volt (22 kV) op. Die spanning is te laag vir grootmaat vervoer oor lang afstande en word dus eers deur middel van transformators verhoog tot by 'n transmissiespanning van 132 kV of meer. Meeste groot kragsentrales (wat elk gewoonlik ses of meer generators het) stuur elektrisieit teen 400 kV in 'n landswye transmissienetwerk in.

Transmissie

Hoogspanningslyn (765 kV) in die Vrystaat, Suid-Afrika

Elektrisiteit word vanaf kragsentrales vervoer tot waar dit benodig word deur middel van kraglyne. Groot hoeveelhede elektrisiteit word teen hoë spanning vervoer om verliese oor lang afstande te verminder en die hoeveelheid kraglyne te beperk. Die groot hoogspanningslyne wat elektrisiteit tussen verafgeleë gebiede vervoer word transmissielyne genoem. Dié werk teen hoë spannings van soveel as 765 kilovolt (765 000 volt of 765 kV), soos in die geval van die hooflyne tussen die Hoëveld en die Kaap. Eskom is die eerste in die wêreld om 765 kV só hoog bo seespieël te gebruik, waar die isolasievermoë van die dunner lug baie minder is as by seevlak. Vir kleiner afstande en hoeveelhede word laer spannings tot by 132 kV gebruik.

Transmisielyne bestaan uit hoë staaltorings wat aluminium geleierbondels dra wat aan glas- of keramiek-isoleerders hang. Aluminium is lig en 'n goeie geleier van elektrisiteit en daar is 'n staaldraad binne die aluminium-geleiers om dit te versterk. Transmissielyne wat ver oor die veld loop is 'n bekende gesig feitlik orals in landelike Suid-Afrika.

In beboude gebiede word dikwels van ondergronde kabels gebruik gemaak. Dié is nie sigbaar nie en kan gebruik word waar daar nie genoeg spasie vir maste of torings is nie, maar het die nadeel dat dit baie duur is. Groot kabels wat hele stede of groot fabrieke kan voorsien is dikwels met olie of gas gevul vir verkoeling en isolasie.

Die transmissienetwerk word somtyds ook die Nasionale Netwerk of Tussenverbinde Stelsel genoem want alle elektrisiteit wat deur Eskom opgewek word (behalwe eieverbruik in kragsentrales) word aan die netwerk gelewer vir landswye verspreiding. Eskom voorsien nie alle verbruikers in Suid-Afrika direk nie. Meer as 250 munisipaliteite koop elektrisiteit op grootmaat by Eskom vir distribusie en herverkoop aan hulle eie verbruikers.

Beheersentrums

Elektrisiteit wat in kragsentrales opgewek word kan nie soos water in 'n dam opgegaar word nie. Dit kan net gelyklopend met die opwekking verbruik word. Aanvraag en toevoer moet dus deurlopend gemeet en 'n fyn balans gehandhaaf word. Vir klein veranderings pas alle generators wat aan die stelsel gekoppel is, hulle uitset outomaties aan deur die spoed van 3 000 o.p.m. te handhaaf. As die vraag toeneem (soos byvoorbeeld tydens koue weer of die begin van 'n gewilde TV program), begin alle generators 'n bietjie spoed verloor. Die spoedreëlaar laat dan meer stoom in die turbines in sodat die kraglewering effens toeneem en die spoed byna dadelik terugkeer na 3 000 o.p.m. Die omgekeerde gebeur as die aanvraag daal.

Vir groter veranderings in aanvraag moet hele generators aan- of afgesit word. Dit word deur die sentrale beheersentrum gedoen, wat instruksies aan die kragsentrales gee om dit te doen. Nasionale Beheer in Simmerpan, Germiston, moet ook sorg dat daar deurentyd voldoende reserwe-generators gereed is as een van die lopende eenhede onklaar sou raak. Daar is ook ses streeksbeheersentra wat op strategiese plekke geleë is en wat die vloei van elektrisiteit deur die netwerk beheer deur lyne en transformators in of uit te skakel.

Om die netwerk deurlopend te kan beheer maak die beheersentra gebruik van spesiale meters wat oral in die stelsel aangebring is en data onmiddellik deurstuur. Meeste hoogspanningsskakelaars kan outomaties vanuit 'n verafgeleë beheersentrum geskakel word. Generators in hidrokragsentrales en gasturbines word ook met afstandbeheer aan- of afgesit.

Die transmissienetwerk word ook gebruik om elektrisiteit tussen lande in Suider-Afrika uit te ruil. Elektrisiteit van Cahora Bassa in Mosambiek word byvoorbeeld deur 'n spesiale 1 000 kilometer-lange gelykstroomlyn vervoer teen 'n spanning van 533 kV. Nadat dit in wisselstroom omgesit is by die Apollo-distribusiestasie (naby Pretoria) word dit in die Eskom netwerk ingevoer teen 400 kV. Daar is wisselstroomlyne van 400 en 275 kV wat tussenverbinding met Namibië, Zimbabwe, Botswana, Zambië en selfs sover as die Kongo moontlik maak.

Transformators

Die spanning van elektrisiteit moet op verskeie plekke eers verhoog word (soos by 'n kragstasie) en dan weer in stadiums verminder word sodat klein verbruikers dit veilig kan gebruik. In Suid-Afrika is die standaard huishoudelike spanning 220V (380V as drie fases gebruik word). In fabrieke kan spannings van 11 kV dikwels aangetref word om swaar masjienerie te dryf.

Die spanning van wisselstroom word deur middel van transformators verhoog of verlaag. By kragsentrales word die spanning van 22 kV wat die generators opwek verhoog tot soveel as 765 kV. In substasies wat krag aan die distribusiestelsel lewer word die hoogspanning dan weer verlaag, gewoonlik na 22 kV of 11 kV voordat dit na die eindverbruiker gestuur word.

'n Transformator werk heel eenvoudig en het geen bewegende dele nie. Dit bestaan uit twee klosse geïsoleerde koperdraad wat dig maar tog apart teen mekaar gewen is. Soos elektrisiteit deur die een klos stroom, induseer dit 'n stroom in die ander klos teen 'n spanning wat bepaal word deur die hoeveelheid draaie in elke klos. As die tweede of sekondêre klos meer draaie het as die eerste of primêre klos sal die spanning verhoog word, terwyl die spanning sal daal in die teenoorgestelde geval. Die klosse word in 'n tenk gehou wat met olie gevul word vir verkoeling en isolasie.

Substasies

Elektriese substasies is selfstandige eenhede wat vanuit die streeks- of nasionale beheersentra bedryf word. Inkomende lyne bring elektrisiteit vanaf kragstasies en uitgaande lyne voer die elektrisiteit na verbruikers of ander substasies. Substasies gebruik transformators om die spanning van elektrisiteit hoër of laer te verstel en skakelaars om lyne in of uit te skakel. Baie substasies is in afgeleë gebiede en is ontwerp om deurlopend sonder menslike toesig bedryf te word in alle weersomstandighede. Die skakelaars in 'n substasie kan 'n groot elektriese stroom oombliklik onderbreek en sodoende probleme op die netwerk isoleer voordat dit ander dele raak.

'n Substasie bevat ook hoogs gespesialiseerde beskermingstoerusting wat foute kan identifiseer (soos byvoorbeeld 'n lyn wat deur weerlig getref is, of 'n boom wat op 'n lyn geval het) en boodskappe kan deurstuur of ontvang van die beheersentra. Dit kan mense beskerm teen elektriese foute en kan die toevoer ononderbroke na 'n ander deel van die netwerk oorskuif.

Distribusiestelsel

Die transmissiestelsel vervoer groot hoeveelhede elektrisiteit oor lang afstande vanaf kragsentrales tot by een van die talle substasies wat oor die hele land versprei is. Hier word die spanning verlaag voordat die elektrisiteit verder versprei word deur die distibusienetwerk met die doel om dit so wyd moontlik na alle eindverbruikers te versprei. Eskom se distribusienetwerk van amper 300 000 km bereik sowat veertig miljoen verbruikers oral in die land behalwe in die mees verafgeleë gebiede.

Toevoere teen 22 of 11 kV word vanaf substasies na primêre verbruikerspunte soos stede en dorpe, industrieële gebiede, groepe dorpies en plase geneem. Hier word dit trapsgewys verder getransformeer na nog laer spannings tot uiteindelik by 380/220 volt vir verspreiding na nywerhede, woongebiede, winkelsentrums, hospitale, openbare- en kantoorgeboue, straatligte, ensovoorts. Groot verbruikers soos myne, fabrieke en spoorweë ontvang dikwels toevoer teen 'n hoër spanning. Daar is byvoorbeeld laagspanningssubstasies al langs elektriese spoorlyne wat elektrisiteit direk teen 25 kV of 50 kV voorsien.

Die verspreiding (distribusie) van elektrisiteit moet so geskied dat toevoer bykans nie onderbreek word as daar 'n fout in die stelsel sou ontstaan nie. Daarom is daar gewoonlik meer as een toevoerpunt na 'n bepaalde area. Distribusielyne of kabels vorm dikwels 'n ringtoevoer sodat, sou die toevoer uit een rigting faal, dit uit die ander rigting aangevul kan word.

In huise, kantore en ander geboue is daar gewoonlik 'n distribusiebord met veiligheidsskakelaars en aardlekkasiebeskerming sodat, sou daar iets verkeerd loop, die elektrisiteitstoevoer onmiddellik en veilig afgeskakel word. Van hierdie distribusiebord loop daar drade na alle ligte, muurproppe, stowe, geysers en ander elektriese apparaat. Dit is bykans onmoontlik om 'n moderne huishouding sonder elektrisiteit te bedryf.

Elektrisiteitsverbruik word voortdurend gemeet met 'n spesiale kilowatt-uur meter. Wanneer 'n lig of enige elektriese apparaat aangeskakel word, laat die toename in stroom 'n skyf in die meter draai. Hierdie beweging word oorgedra na 'n drom met syfers wat die verbruik dan aanwys. Hierdie meters word periodiek gelees en daarvolgens word die klant 'n rekening gestuur.

'n Ander soort meter, die sogename voorafbetaalmeter, word al hoe meer gebruik. Soos die naam aandui, vereis hierdie meter vooraf betaling vir elektrisiteitsverbuik wat by talle agente en ander instansies soos winkels en vulstasies gemaak kan word. 'n Spesiale kode of 'n kaart word dan gebruik om die meter te "laai" met die hoeveelheid elektrisiteit wat gekoop is, sodat die meter dit kan aanwys en die verbruik daarteen kan aftrek. Soos elektrisiteit gebruik word, hou die meter tred met die verbruik en waarsku die verbruiker as bykans al die krediet opgebruik is.

Verwysing: Eskom Factsheet on Transmission and Distribution.[24]

Transmissie- en distribusietoerusting

Opsomming van Eskom se transmissie- en distribusietoerusting soos op 31 Maart 2006

Kraglyne

Transmissielyne km1
765 kV 1 153
533 kV GS2 1 035
400 kV 15 691
275 kV 7 245
220 kV 1 336
132 kV 946
Distribusielyne km
165 – 132 kV 22 142
88 – 33kV 21 188
Retikulasielyne km
22 kV en laer 7 875
Kables km
165-132 kV 156
22 kV en laer 7 875
Transformator kapasiteit MVA3
Transmissie 118 445
Distribusie en retikulasie 87 217
Transformators Getal
Transmissie 374
Distribusie en retikulasie 305 402

NOTAS:

  1. Volgens die Geografiese inligtingstelsel (GIS)
  2. Monopolêre gelykstroomlyn tussen Cahora Bassa en Apollo
  3. Transformators groter as 30 MVA met 'n primêre spanning groter as 132 kV
Vertaal en aangevul uit Eskom se 2006 jaarverslag en ander bronne[25]

Verwysings

  1. (en) Eskom leierskap
  2. (en) Inkomstestate vir die jaar geëindig 31 Maart 2011 Geargiveer 17 Maart 2012 op Wayback Machine
  3. "These Charts Show How Much Trouble Eskom Is In". Bloomberg (in Engels). 1 Julie 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Junie 2020. Besoek op 1 Julie 2019.
  4. Jaarverslag 2007 op Eskom se webwerf Geargiveer 27 Oktober 2007 op Wayback Machine
  5. Business Day, Mbeki's apology welcomed but Eskom still has much to do, says IFP, 13 Desember 2007
  6. "Thabo Mbeki's explosive allegations about Eskom and load-shedding". Energy. dailyinvestor.com. Daily Investor. 24 Augustus 2023. Besoek op 15 September 2023.
  7. "No power from Kusile after R233 billion and 15 years of construction". Energy. dailyinvestor.com. Daily Investor. 12 September 2023. Besoek op 14 September 2023.
  8. van Rensburg, Dewald (19 November 2018). "New, concrete evidence Eskom bent over backwards to ensure Guptas got multibillion-rand coal deals". Business (in Engels). city-press.news24.com. City Press. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Desember 2019. Besoek op 4 Maart 2019.
  9. Feketha, Siviwe (28 Februarie 2019). "Glencore pressured to sell mine to the Guptas". Business. iol.co.za. DailyNews.
  10. Groenewald, Yolandi (23 Junie 2017). "Did Tegeta receive a 75% discount on Optimum fine?" (in Engels). fin24.co.za. Fin24. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 5 Maart 2019.
  11. Peyper, Liesl (4 Maart 2019). "Tegeta clinched Eskom contract despite low quality coal" (in Engels). fin24.com. Fin24. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 4 Maart 2019.
  12. Bezuidenhout, Jessica (5 Maart 2019). "Blackmail, mistrust and system overrides: How Eskom bosses tried to sneak through a 'bespoke' $1.5bn deal". msn money. Daily Maverick. Besoek op 5 Maart 2019.
  13. Mahlati, Zintle (4 Maart 2019). "#StateCaptureInquiry: How Eskom flouted rules to push through Huarong deal" (in Engels). msn.com. DailyNews. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 April 2019. Besoek op 4 Maart 2019.
  14. African News Agency (10 Julie 2019). "Eskom moenie 'gesamentlik straf' omdat sommige nie betaal". Maroela Media. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 September 2019. Besoek op 10 Julie 2019.
  15. "WATCH: Scopa hears about municipal electricity non-payment" (in Engels). msn.com. eNCA. 13 November 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Desember 2019. Besoek op 1 Julie 2019.
  16. Lindeque, Mia (24 Junie 2019). "Soweto residents' electricity bill surpasses R18 billion" (in Engels). msn.com. Eyewitness News. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Julie 2019. Besoek op 1 Julie 2019.
  17. "Scopa seeks to resolve electricity debt row" (in Engels). msn.com. eNCA. 13 Junie 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Desember 2019. Besoek op 1 Julie 2019.
  18. "Minister se slegte nuus oor Eskom". Maroela Media. 23 Julie 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Oktober 2019. Besoek op 23 Junie 2019.
  19. Colleen Goko (14 Augustus 2019). Foreigners Dump South African Bonds on Threat of Downgrade to Junk. Bloomberg.com. URL besoek op 14 Augustus 2019.
  20. Sguazzin, Antony (10 Junie 2019). "S. Africa Sued for Eskom, Sasol Air Pollution in Coal Belt". msn.com. Bloomberg. Besoek op 10 Junie 2019.
  21. "People are dying from Eskom's pollution in South Africa". Bloomberg (in Engels). 27 Junie 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Junie 2020. Besoek op 1 Julie 2019.
  22. Business Day, Eskom wins its bid for huge tariff hikes, 21 Des 2007
  23. "Eskom.co.za webwerf". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Januarie 2010. Besoek op 10 Januarie 2008.
  24. "Eskom.co.za webwerf". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 April 2008. Besoek op 11 Januarie 2008.
  25. "Eskom.co.za webwerf". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Oktober 2007. Besoek op 17 Januarie 2008.

Verdere leesstof

  • (en) Jaglin, Sylvy; Dubresson, Alain (2016). Eskom: Electricity and Technopolitics in South Africa. Kaapstad: UCT Press. ISBN 978-1-77582-215-8.
  • Evkom - die eerste vyftig jaar. 'n Trotse rekord. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 33, nr. 4, Junie 1974.

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.