Epifiet

’n Epifiet of lugplant is ’n plant wat nie ’n parasiet is nie, maar op ander plante soos bome groei. Hulle kry hul vog en voedingstowwe uit die lug, reën of ander bronne en nie van hul gasheerplant nie.

’n Bromelia naby Orosí, Costa Rica.
’n Wortel van ’n orgidee wat aan ’n boom klou.

Epifiete kom gewoonlik voor in die gematigde sone (bv. mos, lewermos, korsmos en alge) of in die trope (bv. baie varings, kaktusse, orgideë en bromelias).[1] Baie huisplante is epifiete omdat hulle min water en grond nodig het. Die plante skep ’n ryk en uiteenlopende habitat vir ander organismes soos diere, swamme en bakterieë.[2]

Die term "epifiet" is afgelei van die Griekse epi- ("op") en phyton ("plant"). Die term "lugplant" kom van die feit dat hul wortels nie in die grond groei nie, maar baie epifiete groei in die water op ander waterplante en is dus nie werklik lugplante nie.

Biodiversiteit

Die bekendste epifiete sluit mosse, orgideë en bromelias in, maar hulle word in elke groot plantgroep aangetref. Sowat 89% van epifietspesies (sowat 24 000) is blomplante. Die tweede grootste groep is varings met sowat 10% (2 800 spesies). ’n Derde van alle varings is lugplante.[3]

Hoewel epifiete gewoonlik net fisieke steun van hul gasheerplant kry, beskadig of bedreig sommige lugplante wel hul gashere. Sommige epifiete is groot bome wat hul lewe hoog bo die grond begin. Oor dekades heen stuur hulle wortels al met die stam van die gasheerboom langs, en oorweldig en vervang dit mettertyd. Die wurgvy en Metrosideros robusta is voorbeelde hiervan.

Voordele

Epifiete wat hoog in bome voorkom, het ’n voordeel bo ander plante op die grond, waar minder sonlig kom en meer skade deur diere aangerig word.

Hulle kan ook vir die ekologie voordelig wees, deur byvoorbeeld water te behou sodat minder water in die grond wegsak.[4] Hulle skep ook ’n vogtiger en koeler omgewing, wat verdamping verminder en toelaat dat die gasheerplant meer vogtigheid kry.

Galery

Verwysings

  1. Webster's Third New International Dictionary of the English Language, Unabridged. (1976). Vol. I, p. 764. Encyclopædia Britannica, Inc. Chicago.
  2. Sydney E. Everhart, Joseph S. Ely, and Harold W. Keller (2009). "Evaluation of tree canopy epiphytes and bark characteristics associated with the presence of corticolous myxomycetes" (PDF). Botany. 87: 509–517. doi:10.1139/b09-027.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  3. Hogan, C Michael, 2010. Fern. Encyclopedia of Earth. National council for Science and the Environment. Washington, DC
  4. Stanton, D.E., Chávez, J. H., Villegas, L., Villasante, F., Armesto, J., Hedin, L. O., Horn, H. "Epiphytes Improve Host Plant Water Use by Microenvironment Modification", Functional Ecology, doi: 10.1111/1365-2435.12249

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.