Egosentrisme

Egosentrisme is die onvermoë van ’n mens om enige perspektief behalwe sy eie te aanvaar en verstaan. Hoewel egosentriese gedrag minder onder volwassenes voorkom, dui die bestaan van sekere vorme van egosentrisme in volwassenheid aan dat om egosentrisme te oorwin, ’n lewenslange ontwikkeling kan wees wat nooit voltooi word nie.[1] Volwassenes blyk minder egosentries as kinders te wees, omdat hulle vinniger ’n aanvanklik egosentriese perspektief kan verander as kinders, en nie omdat hulle minder geneig is tot egosentriese perspektiewe nie.[2]

’n Voorstelling van egosentrisme.

Egosentrisme word dus in alle stadiums van die lewe aangetref: in babas,[3] kinders,[2][4] adolessente[5] en volwassenes.[2][6] Dit dra by tot die menslike kognitiewe ontwikkeling deur kinders te help om empatie met ander te ontwikkel en ’n eie identiteit te vorm.

Hoewel egosentrisme en narsisme lyk of hulle ooreenstem, is dit nie dieselfde nie. Iemand wat egosentries is, glo hulle is die middelpunt van aandag, maar kry nie soos narsiste bevrediging daaruit om hulleself te bewonder nie. Beide egoïste en narsiste se ego's word in ’n groot mate beïnvloed deur ander se goedkeuring, terwyl dit vir sommige egosentriste geld en vir ander nie.

Vroeë jare

Aanvanklik vertolk ’n baba hulle versorgers se aksies dikwels asof hulle een entiteit is, want die versorger voorsien in al die baba se behoeftes omdat die baba nie self kan nie. Dit is eers later dat babas begin besef hulle gedagtes en gedrag verskil van dié van ander.[7] Volgens die Switserse sielkundige Jean Piaget beteken egosentrisme in ’n baba nie dat hulle selfsugtig, selfgesentreerd of egoïsties is nie, maar verwys dit na die baba se begrip van die wêreld in terme van hulle eie motoraktiwiteit en hulle onvermoë om dit te verstaan.[8]

Ouer kinders verstaan steeds nie die verskil tussen subjektiwiteit en objektiwiteit nie.[9] Volgens Piaget "neem ’n egosentriese kind aan ander mense sien, hoor en voel presies net soos hy".[10] Hy meen ’n jong kind kan nie logiese denke prosesseer nie.[11] Een van die hindernisse is die neiging om op een aspek van ’n situasie te fokus en ander aspekte uit te sluit.[12] Hulle neem dus die wêreld uit hulle eie oogpunt waar.

Piaget reken daar is twee aspekte van egosentrisme in kinders: taal en moraliteit.[13] Egosentriese kinders gebruik taal hoofsaaklik om met hulleself te praat terwyl hulle speel, en gee so hulle gedagtes aan hulleself weer.[14] Hy glo as kinders kognitief ontwikkel en begin sosialiseer, sal hulle minder met hulleself praat.[14] Egosentrisme beïnvloed ook ’n kind se sin vir moraliteit.[13] Dit maak dat ’n kind nie iemand sal vergewe wat byvoorbeeld ’n speelding breek nie, want hy kan nie verstaan dat die persoon dit nie met opset gedoen het nie.[13]

Latere jare

Die Amerikaanse kindersielkundige David Elkind was die eerste persoon wat die teenwoordigheid van egosentrisme by adolessente ontdek het. Hy het gesê die jong adolessent "bekommer hom hoofsaaklik oor homself vanweë die fisiologiese veranderings waardeur hy gaan". Omdat hy nie kan onderskei tussen ander se gedagtes en sy eie nie, "neem hy aan ander mense is net so obsessief oor sy gedrag en voorkoms as hyself".[15] Adolessente beskou hulleself as "uniek, spesiaal en sosiaal veel belangriker as wat hulle regtig is".[12]

Daar is bevind die voorkoms van egosentrisme begin tussen die ouderdomme van 15 en 16 afneem.[16] Volwassenes kan egter steeds egosentries wees of gedrag toon wat as egosentries gekategoriseer kan word.[17] Frankenberger het die vlakke van egosentrisme en selfbewussyn onder adolessente (14-18 jaar oud) en volwassenes (20-89 jaar oud) getoets.[18] Hy het bevind egosentriese neigings het tot in vroeë volwassenheid geduur en was ook in die middel- volwasse jare teenwoordig.

Verwysings

  1. Pronin, Emily; Olivola, Christopher Y. (2006). Encyclopedia of Human Development. Thousand Oaks, CA: SAGE Reference. pp. 441–442. Besoek op 20 Oktober 2014.
  2. Epley, Nicholas; Morewedge, Carey K; Keysar, Boaz (1 November 2004). "Perspective taking in children and adults: Equivalent egocentrism but differential correction". Journal of Experimental Social Psychology. 40 (6): 760–768. doi:10.1016/j.jesp.2004.02.002.
  3. Onishi, K. H., Baillargeon, R. (2005). "Do 15-month-old infants understand false beliefs?". Science. 308 (5719): 255–258. Bibcode:2005Sci...308..255O. doi:10.1126/science.1107621. PMC 3357322. PMID 15821091.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: gebruik authors-parameter (link)
  4. Wimmer, H., Perner, J. (1983). "Beliefs about beliefs: Representation and constraining function of wrong beliefs in young children's understanding of deception" (PDF). Cognition. 13 (1): 103–128. doi:10.1016/0010-0277(83)90004-5. PMID 6681741.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: gebruik authors-parameter (link)
  5. Adams, G. R., Jones, R. M. (1982). "Adolescent egocentrism: Exploration into possible contributions of parent-child relations". Journal of Youth and Adolescence. 11 (1): 25–31. doi:10.1007/BF01537814. PMID 24310645.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: gebruik authors-parameter (link)
  6. Keysar, B., Barr, D. J., Balin, J. A., Brauner, J. S. (2000). "Taking perspective in conversation: The role of mutual knowledge in comprehension". Psychological Science. 11 (1): 32–38. doi:10.1111/1467-9280.00211. PMID 11228840.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: gebruik authors-parameter (link)
  7. Premack, D., Woodruff, G. (1978). "Does the chimpanzee have a theory of mind?". Behavioral and Brain Sciences. 1 (4): 515–526. doi:10.1017/S0140525X00076512.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: gebruik authors-parameter (link)
  8. Bornstein, Marc; Arterberry, Martha; Lamb, Michael (2013). Development in Infancy: A Contemporary Introduction. New York: Psychology Press. p. 170. ISBN 9781848726581.
  9. Butterworth G Harris M (1994). Principles of developmental psychology. Hillsdale, NJ England: Lawrence Erlbaum Associates, Inc.
  10. McLeod, Saul (2010). "Preoperational Stage".
  11. "Egocentrism". Encyclopedia of Human Development 1. (2006). Ed. N. J. Salkind. Thousand Oaks, CA: SAGE Reference. 441–442. URL besoek op 2006.
  12. Berger, Kathleen Stassen (2014). Invitation to the Life Span, Second Edition. New York: Worth Publishers.
  13. Fogiel, M (1980). The psychology problem solver: a complete solution guide to any textbook. New Jersey, NJ US: Research & Education Association.
  14. Junefelt, K (2007). Rethinking egocentric speech: towards a new hypothesis. New York, NY: Nova Science Publishers, Inc.
  15. Elkind D (Desember 1967). "Egocentrism in adolescence". Child Dev. 38 (4): 1025–34. doi:10.2307/1127100. JSTOR 1127100. PMID 5583052.
  16. Louw, DA (1998). Human development, 2de uitg. Kaapstad, Suid-Afrika: Kagiso Tertiary.
  17. Tesch S.; Whitbourne S. K.; Nehrke M. F. (1978). "Cognitive egocentrism in institutionalized adult". Journal of Gerontology. 33 (4): 546–552. doi:10.1093/geronj/33.4.546. PMID 752044.
  18. Frankenberger K. D. (2000). "Adolescent egocentrism: A comparison among adolescents and adults". Journal of Adolescence. 23 (3): 343–354. doi:10.1006/jado.2000.0319. PMID 10837112.

Nog leesstof

Skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.