Eenhoring (sterrebeeld)

Die Eenhoring (Latyn: Monoceros) is ’n dowwe sterrebeeld op die hemelewenaar. Die naam kom uit die Griekse mitologie en die skepping daarvan word toegeskryf aan die 17de-eeuse Nederlandse kartograaf Petrus Plancius.

Eenhoring
Latynse naamMonoceros
GenitiefMonocerotis
AfkortingMon
Waarnemingsdata (Epog J2000)
Regte klimming7,15h
Deklinasie−5,74º
Grootte482 vk. grade (35ste)
KwadrantNQ2
Besonderhede
Hoofsterre4
Helderste sterBeta Monocerotis
Naaste sterRoss 614
Sterre helderder as 3 m0
Sterre met planete16
Messier-voorwerpe1
Bayer-/Flamsteed-sterre32
SimboliekEuropese folklore
MeteoorreënsDecember Monocerids, Alpha Monocerids
Aangrensende sterrebeelde
Groot Hond, Klein Hond, Tweeling, Noordelike Waterslang, Haas, Jagter, Afterdek
Portaal  Portaalicoon   Sterrekunde

Ruimtevoorwerpe

Die Eenhoring kan nie maklik met die blote oog gesien word nie omdat dit nie helder sterre bevat nie. Alpha Monocerotis het ’n helderheid van 3,93 mag en is effens helderder as Gamma Monocerotis (3,98 mag). Met ’n klein teleskoop kan ’n paar interessante voorwerpe wel gesien word. Beta Monocerotis is ’n indrukwekkende driedubbele ster wat ’n driehoek vorm. Hul helderheid is 4,7, 5,2 en 6,1 mag. William Herschel het dit in 1781 ontdek en dit "een van die mooiste tonele in die lug" beskryf. Epsilon Monocerotis is ’n dubbelster met ’n helderheid van 4,5 en 6,5 mag.

V838 Monocerotis, ’n veranderlike rooi superreusester, het op 6 Januarie 2002 ’n uitbarsting gehad; in Februarie van daardie jaar het sy helderheid in een dag met ’n faktor van 10 000 toegeneem. Daarna het die Hubble-ruimteteleskoop ’n lig-eggo waargeneem wat die stof om die ster verlig het.[1] Die sterrebeeld bevat ook Plaskett se Ster, ’n massiewe dubbelster met ’n massa van sowat 100 sonmassas.

Die Eenhoring bevat twee planete: COROT-7b en COROT-7c. Eersgenoemde het ’n deursnee van 1,58 keer dié van die Aarde. Albei planete is in 2009 ontdek.

Die sterrebeeld het verskeie sterreswerms en newels, onder meer:

  • Messier 50, ’n oop swerm
  • Die Roset-newel (NGC 2237-9,46)
  • Die Kersboom-sterreswerm en verwante Keël-newel (NGC 2264)

Verwysings

  1. Wilkins, Jamie; Dunn, Robert (2006). 300 Astronomical Objects: A Visual Reference to the Universe (1ste uitg.). Buffalo, New York: Firefly Books. ISBN 978-1-55407-175-3.
  • Ridpath, Ian; Tirion, Wil (2007). Stars and Planets Guide. Londen: Collins/Princeton University Press. ISBN 978-0-00-725120-9.

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.