Draak (sterrebeeld)

Die Draak (Latyn: Draco) is ’n sterrebeeld in die noordelike hemelruim. Dit verdwyn vir sekere waarnemers in die Noordelike Halfrond nooit uit die naghemel nie. Dit is een van die 48 konstellasies wat deur die 2de-eeuse sterrekundige Ptolemeus beskryf is en is steeds een van die 88 moderne sterrebeelde.

Draak
Latynse naamDraco
GenitiefDraconis
AfkortingDra
Waarnemingsdata (Epog J2000)
Regte klimming17h
Deklinasie65º
Grootte1 083 vk. grade (8ste)
KwadrantNQ3
Besonderhede
Hoofsterre14
Helderste sterGamma Draconis (Eltanin)
Naaste sterStruve 2398
Sterre helderder as 3 m3
Sterre met planete13
Messier-voorwerpe1
Bayer-/Flamsteed-sterre76
MeteoorreënsDraconids
Aangrensende sterrebeelde
Veewagter, Hercules, Lier, Swaan, Kefeus, Klein Beer, Kameelperd, Groot Beer
Portaal  Portaalicoon   Sterrekunde

Ruimtevoorwerpe

Eltanin (Gamma Draconis), met ’n helderheid van 2,24 mag, is die helderste ster in die Draak. Die sterrebeeld bevat ook die ster Kepler-10, wat sy naam onlangs gekry het. Dit is nou bevestig dat die kleinste rotsagtige planeet wat nog buite ons sonnestelsel opgemerk is (so groot soos die Aarde), om dié ster wentel.

Die Paddavis-sterrestelsel met sy lang stert.

Thuban (α Dra) was die noordelike poolster omstreeks 2700 v.C., in die tyd van die Antieke Egiptenare. Vanweë die beweging van die aarde se as (presessie) sal dit weer omstreeks 21000 n.C. die poolster wees.

Daar is ook verskeie dubbelsterre. Eta Draconis bestaan uit ’n geel ster van sowat 2,8 mag en ’n wit ster van sowat 8,2 mag. 20 Draconis is ook ’n dubbelster met sterre van 7,1 en 7,3 mag.

R Draconis is ’n rooi veranderlike ster met ’n periode van sowat agt maande. Sy minimum helderheid is sowat 12,4 en sy maksimum sowat 7,6 mag. Hans Geelmuyden het die ster se veranderlikheid in 1876 ontdek.[1]

Een van die groter voorwerpe is die Katoog-newel (NGC 6543), ’n planetêre newel sowat 3 000 ligjare van die Aarde af wat in 1786 deur die Engelse sterrekundige William Herschel ontdek is. Dit het ’n komplekse vorm vanweë die swaartekrag-interaksie tussen die komponente van die veelvoudige ster in sy middel wat die newel sowat 1 000 jaar gelede voortgebring het.[2]

Daar is verskeie dowwe melkweë in die Draak. Een is die boontjievormige sterrestelsel NGC 5866, wat soms beskou word as Messier-voorwerp 102. Een van die dwerg-galaktikas is die Draco-melkweg, een van dié met die laagste helderheid (sowat -8,6 mag). ’n Ander een is PGC 39058.

Daar is verskeie interaktiewe melkweë en melkwegswerms. Een massiewe swerm is Abell 2218, sowat 3 miljard ligjare van die Aarde af. Dit dien as ’n gravitasielens vir selfs verder geleë agtergrond-galaktikas – dit stel sterrekundiges in staat om dié melkweë en Abell 2218 self te ondersoek. Die lenseffek maak dit ook moontlik om die swerm se massa te bevestig soos bepaal deur X-straal-emissies. Nog ’n interaktiewe sterrestelsel is Arp 188, ook bekend as die Paddavis-sterrestelsel vanweë ’n lang "stert" sterre sowat 280 000 ligjare lank.

Verwysings

  1. MacRobert, Alan (Julie 2012). "The Rise of R Draconis". Sky & Telescope. 124 (1).
  2. Wilkins, Jamie; Dunn, Robert (2006). 300 Astronomical Objects: A Visual Reference to the Universe (1ste uitg.). Buffalo, New York: Firefly Books. ISBN 978-1-55407-175-3. {{cite book}}: Cite has empty unknown parameter: |1= (hulp)
  • Ian Ridpath en Wil Tirion (2007). Stars and Planets Guide, Collins, Londen. ISBN 978-0-00-725120-9. Princeton University Press, Princeton. ISBN 978-0-691-13556-4.

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.