Draaihalse

Draaihalse (Jynx) is 'n klein maar wydverspreide genus van voëls in die familie van spegte (Picidae). Hulle is die enigste spegte wat die ou nesholtes van ander spesies gebruik, eerder as om self gate in hout uit te beitel. Die genusnaam Jynx is afgelei van iunx, die antieke Griekse naam vir die Eurasiese draaihals.

Draaihalse
Die Eurasiese draaihals
Wetenskaplike klassifikasie
Domein:
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Familie:
Genus:
Jynx

Linnaeus, 1758
Spesies

J. torquilla
J. ruficollis

Hoewel draaihalse baie soos spegte lyk, wyk hul leefwyse effens van die van spegte af. Vanweë sekere morfologiese verskille ten opsigte van die spegte word hulle soms in ʼn afsonderlike familie, die Jyngidae, geplaas. Hulle is ook boomlewend en pik insekte onder boombasse uit, maar hul snawels is te klein en te spits om self gate uit te kap. Hul neste word dan ook in bestaande gate gemaak.

'n Uiterlike verskil met betrekking tot spegte is dat draaihalse se stertvere sag is en nie as stut gebruik kan word wanneer hulle teen boomstamme uitklim nie. Draaihalse se naam is afgelei van die slangagtige beweging wat die voëls met hulle koppe maak wanneer hulle opgejaag word. In Suider-Afrika kom net een spesie, Jynx ruficollis, voor. Hy is egter taamlik algemeen in droë doringveld.

Die kenmerkende genus omvat slegs twee spesies,[1] en is 'n sustergroep met betrekking tot al die ander spegte. Hulle beskik oor etlike uitstaande morfologiese eienskappe wat hul onderskei van die res van die familie. Dit sluit in 'n sagte veredos met kriptiese kleure, en die afwesigheid van rigiede stertvere. Weens die sagte stertvere sit hulle soos ander voëls bo-op takke eerder as om teen stamme uit te klouter.

Soos die egte spegte het hulle egter ook groot koppe met lang tonge wat gebruik word om insekprooi uit gaatjies te onttrek. Hul prooi word gevind in verweerde of verrottende hout, maar hulle sal ook op kaal grond soek na miere.

Hul pote is soos ander spegte ook sigodaktiel met twee tone wat vorentoe wys, en twee agtertoe. Ververing vind in die somer plaas, maar kan tot in die winter voortduur. Hul stemme is nasaal en spegagtig. Hul Afrikaanse naam (vgl. ook Engels: wrynecks) is daaraan te danke dat hulle hul kop 180 grade kan draai.

Wanneer hulle in 'n nes gepla word, sal hulle ook hul kop slangagtig draai en sis as 'n afskrikvertoning. Hulle sal die ou neste van ander spegte of houtkappers hergebruik om in nes te maak, en hul eiers is spierwit soos dié van meeste voëlgroepe wat in gate nesmaak.

Spesies

Sien ook

Verwysings

Bronne

  • Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0908409672, volume 26, bl. 84
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.