Disleksie

Disleksie is 'n versteuring wat gekenmerk word deur 'n onvermoë om te leer lees, ondanks voldoende intelligensie en geleenthede. Geletterdheid is van wesentlike belang in die moderne wêreld. Disleksie het dus 'n baie negatiewe invloed op die lewe van die persoon wat daaraan ly. Daar bestaan nie eenstemmigheid oor die faktore wat die toestand veroorsaak nie.

Disleksie
Ander nameLeessteuring, aleksie
SpesialiteitNeurologie, pediatrie
SimptomeProbleme met lees[1]
Begin gewoonlik opSkoolouderdom[2]
OorsakeGenetiese en omgewingsfaktore[2]
RisikofaktoreFamiliegeskiedenis, AGHS[3]
Diagnostiese metode'n Reeks geheue-, spel,-, visie- en leestoetse[4]
BehandelingAangepaste onderrigmetodes[1]
Frekwensie3-7%[2][5]
Mediese waarskuwing

Medies gesproke, word disleksie omskryf as 'n toestand wat die gevolg is van neurologiese, rypings- en genetiese oorsake. Uit 'n onderwysperspektief word dit as 'n leerprobleem beskou, terwyl die Wêreldgesondheidsorganisasie dit as 'n taalversteuring beskryf. Feit bly dat disleksielyers probleme ondervind om te leer lees.

Definisie

Disleksie is 'n ontwikkelingsversteuring wat gekenmerk word deur 'n onvermoë om te leer lees, ondanks voldoende intelligensie, konvensionele onderrig en sosio-kulturele geleenthede. Die persoon wat aan disleksie ly, presteer dus ver benede die verwagte vlak van sy/haar intelligensie.

Definisies van disleksie verskil na gelang van die verskillende vakdissiplines wat by die bestudering en behandeling daarvan betrokke is. Vanuit 'n mediese perspektief word disleksie byvoorbeeld omskryf as 'n toestand wat die gevolg is van neurologiese, rypings- en genetiese oorsake.

Vanuit 'n onderwysperspektief word dit as 'n leerprobleem beskou, terwyl die Wêreldgesondheidsorganisasie dit as 'n taalversteuring beskryf. Die sentrale tema van alle definisies is egter die feit dat disleksielyers probleme ondervind om te leer lees.

Voorkoms van disleksie

Daar bestaan geen akkurate statistiek wat die voorkoms van disleksie aandui nie. Sekere navorsers raam dat soveel as vyftien persent van die bevolking deur disleksie aangetas word. Ander skat weer die voorkoms op so laag as een tot twee persent van die bevolking. Vervolgens is sommige navorsers van mening dat die versteuring hoofsaaklik by manlike persone voorkom. Die verskil in voorkoms tussen vroulike en manlike disleksielyers word so drasties as vier teen twaalf geraam. Ander glo weer dat onlangse navorsing min verskille tussen die geslagte aandui wat die voorkoms van die versteuring betref.

Diagnose van disleksie

Disleksie word gewoonlik gediagnoseer wanneer daar 'n betekenisvolle verskil bestaan tussen 'n persoon se intellektuele vermoëns en leesprestasie, sonder dat ander fisieke, emosionele of kulturele faktore die leesprobleme veroorsaak. Dit is belangrik dat disleksie so vroeg as moontlik gediagnoseer word, sodat remediërende tegnieke toegepas kan word.

Vir die diagnose van disleksie word daar gewoonlik eers 'n volledige mediese ondersoek vereis, waarna 'n ondersoek deur 'n neuroloog volg. Die diagnose word uiteindelik bevestig ná evaluering en toetsing deur 'n spesialis in die psigo-opvoedkunde (byvoorbeeld 'n opvoedkundige sielkundige).

'n Volledige reeks toetse word gebruik om die presiese verband te bepaal tussen die bepaalde leesprobleme en intellektuele funksionering, die perseptuele, motoriese en taalvermoëns, sowel as die aanpassingsvaardighede van die pasiënt. Op grond van die uitslae van hierdie toetse word 'n remediërende program vir die spesifieke persoon beplan, wat fokus op die bepaalde aspekte wat aandag vereis.

Kenmerke van disleksie

Die volgende faktore is tipies by disleksielyers aanwesig:

  • Familiegeskiedenis van leesprobleme.
  • 'n Gemiddelde tot bogemiddelde intelligensie.
  • Ontwikkelingsgeskiedenis toon probleme wat betref koördinasie en links-/regsdominansie.
  • Swak visuele geheue vir taalsimbole.
  • Probleme om inligting oor te dra.
  • Probleme om ooreenkomste en verskille tussen woorde te identifiseer.
  • Ander probleme kan die omdraai van woorde en letters, omruiling van woordorde en swak leesbegrip insluit.
  • Probleme met korttermyngeheue.
  • Onleesbare handskrif.

Sielkundige effek by die disleksielyer

Disleksie word dikwels as baie verwarrend en frustrerend beleef. Die lyer kan hoogs intelligent wees en vakinhoude ten volle verstaan, maar vanweë die versteuring nie in staat wees om toetse en eksamens te slaag nie.

Soms is onderwysers nie opgelei om hierdie spesifieke tekortkoming te hanteer nie. Dit gebeur dus dat die disleksielyer binne die skoolstelsel onderwerp word aan vernedering en spot. Dit veroorsaak angs, wat kan lei tot onttrekking aan hierdie situasies, of oorkompensasie op ander gebiede.

In 'n studie oor die emosionele impak wat disleksie op kinders uitoefen, het Janis Edwards bevind dat hierdie kinders hul ontevredenheid met die situasie dikwels wys deur stokkies te draai of te weier om skool by te woon. Hulle vind dit moeilik om te kommunikeer en voel afgesonder en alleen. Dit het tot gevolg dat hulle hulself aan die situasie probeer onttrek, of oorkompenseer deur 'n oordrewe kompeterende ingesteldheid.

Kinders wat aan disleksie ly, het dikwels baie aanmoediging en ondersteuning nodig en is baie afhanklik van goedkeuring en aanvaarding. Die negatiewe ondervindings waaraan hulle blootgestel word, kan verreikende gevolge hê vir hul verdere lewe.

Die versteuring kan 'n lae selfbeeld veroorsaak, tesame met gevoelens van mislukking, nutteloosheid en depressie. Hierdie gevoelens kom uiteindelik uit in die vorm van gedragsprobleme. Hierdie gedragsprobleme sluit aggressiewe optrede en bakleiery, vandalisme, ontwrigting van die klas, vyandigheid jeens onderwysers en so meer in.

Faktore wat disleksie veroorsaak

Neurologiese faktore

Studies om die verband te bepaal tussen hoë voorgeboortelike vlakke van testosteroon, linkshandigheid en stadige groei van die linkerkant van die brein is reeds uitgevoer. Afwykings in breinstrukture blyk by disleksielyers aanwesig te wees, veral wat betref die linker-breinhemisfeer.

Daar is onlangs bevind dat interaksie tussen 'n verskeidenheid van die breinareas betrokke is by lees. Hierdie bevindings oorskadu resultate met betrekking tot buitengewone funksionering van die twee breinhemisfere, links-/regsdominansie, ensovoorts.

Gesigsprobleme

Alhoewel daar al gespekuleer is dat disleksie met gesigsprobleme verband hou, bestaan geen voldoende bewyse dat dit wel die geval is nie. Disleksielyers toon wel subtiele gesigsprobleme wat verband hou met breinfunksionering.

Dit is nie duidelik of dit deel vorm van die buitengewone funksioneringspatroon van die disleksiese brein en of dit 'n veroorsakende faktor is nie.

Taalprobleme

Ouditiewe taalversteuring word dikwels as die primêre oorsaak van disleksie gesien. Ouditiewe taalversteuring is die onvermoë om 'n verband te vorm tussen die gesproke woord en sy geskrewe vorm. Ongeveer 86% van die persone wat disleksies is, ly aan hierdie versteuring.

Visueel-ruimtelike vermoëns

Persone wat aan ernstige disleksie ly, toon dikwels buitengewone visueel-ruimtelike vermoëns. Waar probleme met geletterdheidsvaardighede voorkom, blyk dit dus dikwels gepaard te gaan met 'n gawe in visueel-ruimtelike vermoëns. Sommige navorsers glo dat onderontwikkeling van die linkerhemisfeer van die brein, wat taal huisves, lei tot oorontwikkeling van die regterhemisfeer.

Behandeling

Daar bestaan nie 'n eenvoudige formule vir die behandeling van 'n disleksiese kind nie. Elke kind moet as 'n individu in eie reg gesien, hanteer en gehelp word. Die behandeling van disleksie bestaan tans uit intensiewe remediërende onderrig, wat veral gerig is op die verwerwing van lees- en skryfvaardighede. Persone wat aan disleksie ly, kan meestal uiteindelik wel leer lees, maar hulle lees gewoonlik altyd stadiger as hul portuurgroep en dit verg meer inspanning.

Verwysings

  1. "Dyslexia Information Page". National Institute of Neurological Disorders and Stroke. 2 November 2018.
  2. Peterson, Robin L.; Pennington, Bruce F. (Mei 2012). "Developmental dyslexia". Lancet. 379 (9830): 1997–2007. doi:10.1016/S0140-6736(12)60198-6. PMC 3465717. PMID 22513218.
  3. "What are reading disorders?". National Institutes of Health. 1 Desember 2016.
  4. "How are reading disorders diagnosed?". National Institutes of Health. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 April 2015. Besoek op 15 Maart 2015.
  5. Kooij, J. J. Sandra (2013). Adult ADHD diagnostic assessment and treatment (3rd uitg.). London: Springer. p. 83. ISBN 9781447141389. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 April 2016.

Eksterne skakels

Klassifikasie
Eksterne bronne
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.