Dikderm
Die dikderm of kolon is die laaste deel van die spysverteringstelsel. Dit lê tussen die dunderm en die anus in die uitskeidingstelsel. Dit is ongeveer 1.5 meter (5 voet) lank en verbind die dunderm met die rektum en die anus. Dit is korter, maar heelwat dikker as die dunderm.
Die dikderm het drie funksies:
- Dit berg die feses (onverteerde voedsel);
- Absorbeer water, soute en minerale;
- Skei slym af.
Daar is 'n vingeragtige sakkie wat aan die begin van die dikderm vassit, en dit word die blindederm of appendiks genoem. Die rektum is die laaste gedeelte van die dikderm. Die feses verlaat die liggaam deur die opening, genaamd die anus.
Hoewel die jejunum en die ileum geen vaste plek in die buikholte inneem nie, kom die oorgang van dun- na dikderm altyd op ʼn spesifieke plek voor, naamlik regs onder in die buik. Bauhin se klep (valvula Bauhini) voorkom dat die voedsel van die dikderm na die dunderm terugstroom.
Die dikderm bestaan uit die sekum ("blindederm") en die kolon (kartelderm). Die sekum lê onder die inmondingsplek van die dunderm; hiervan hang 'n 5 tot 10 cm lange, blind eindigende buisie, 'n wurmagtige aanhangsel (appendix vermiformis). Die wand is ryk aan limfatiese weefsel, maar die funksie hiervan is nie heeltemal duidelik nie. Tydens blindedermontsteking (appendisitis) is dit eintlik hierdie wurmagtige aanhangsel wat ontsteek raak.
Die kolon begin bo Bauhin se klep en loop in die buik na die onderste deel van die spysverteringskanaal: die endelderm (rektum) met die anus. Die anus word afgesluit deur twee kringspiere: die binneste bestaan uit gladde spierweefsel (musculus ani internus), terwyl die buitenste (musculus ani externus) dwarsgestreep is. Dit is veral die spierlaag van die kolon wat duidelik verskil van die van die res van die spysverteringskanaal.
Die kringspiere lê in groepies, waardeur insnoeringe ontstaan, met daartussen sakvormige verwydings (haustrum coli), terwyl die ander spiere 3 smal bande (taenia coli) op ongeveer gelyke afstande van mekaar vorm. In die dikderm leef baie bakterieë (dermflora) wat chemiese veranderinge in die voedselreste teweegbring: uit koolhidrate word deur gisting 'n aantal sure (soos melksuur) gevorm en proteïene word deur verrotting afgebreek tot onder andere ammoniak.
Die eindprodukte en respektiewelik gisting en verrotting rem die ontwikkeling van verrottings- en gisbakterieë sodat daar 'n ewewig bestaan. 'n Belangrike funksie van die dermflora is die produksie van vitamiene soos vitamien B2 en vitamien K. Deur die onttrekking van water aan die derminhoud word daar daagliks ongeveer 0,15 liter feses gevorm. Dit bestaan uit water, voedselreste, galkleurstowwe, slym, afgeskilferde dermwandselle en dooie bakterieë.
Daarom word daar tog 'n geringe boeveelheid ontlasting gevorm, al word niks geëet nie. Die reuk van die ontlasting word veroorsaak deur veral skatool en indool, die chemiese verbindings wat ontstaan deur die werking van bakterieë op aminosure.
Die donkerbruin kleur van die ontlasting is afkomstig vanaf die sterkobilien en urobilien, die afvalprodukte van bilirubien (rooi galkleurstof). In die dikderm is daar ook nog 'n geringe hoeveelheid gas aanwesig. Dit word deur die dermflora geproduseer of saam met die weefsel ingesluk. Tydens 'n wind (flatus) kom die gas refleksief vry via die anus.
Die beweging van die gas in die derm veroorsaak ʼn borrelende geluid (borborigmus). Na 'n verblyf van 8 tot 12 uur in die dikderm word die inhoud deur peristaltiese bewegings na die rektum gedryf, wat lei tot die drang om te ontlas (defekasiedrang). Die uitdrywing van die derminhoud (stoelgang of defekasie) geskied by jong kinders refleksief deurdat die kringspiere van die anus verslap. 'n Mens kan egter aanleer om die uitwendige kringspier te beheer en daarmee dus die refleks te rem.
Eksterne skakels
- Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0908409672, volume 26, bl. 138
- Wikiwoordeboek het 'n inskrywing vir dikderm.