Curtiss P-40 Warhawk
Die Curtiss P-40 Warhawk is 'n Amerikaanse vegvliegtuig wat deur die United States Army Air Forces gebruik is tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die vliegtuig het heelwat verskil van die Curtiss voorgangers. Die Warhawk was toegerus met die Allison vloeistofverkoelde motor in stede van die lugverkoelde Wright stermotor. Die Warhawk was ook meer aerodinamies as die Curtiss P-36 Hawk omrede gelykvlakkige klinknaels gebruik is om die vliegtuig te bou. Dit was die hoofvegter van die United States Army Air Forces se vegtereskaders.
Curtiss P-40 Warhawk | |
---|---|
Tipe | Vegvliegtuig |
Vervaardiger | Curtiss-Wright Corporation |
Nooiensvlug | 14 Oktober 1938 |
Onttrek | (1958) |
Status | Uit diens gestel |
Hoofgebruikers | Amerikaanse Lugmag Britse Lugmag Koninklike Kanadese Lugmag Koninklike Australiese Lugmag |
Vervaardig | 1939–1944 |
Aantal gebou | 13 738 |
Ontwikkel van | Curtiss P-36 Hawk |
Frankryk het ook 'n bestelling geplaas, maar dié is aan Brittanje afgelewer na die val van Frankryk. Brittanje self het ook P-40's bestel en het dit die Tomahawk genoem. Die Allison motor kon egter nie die verwagte prestasie lewer wat die Britse Lugmag verlang het nie en gevolglik is hierdie vliegtuie gebruik vir laevlugverkenning. Eenhonderd van die Britse vliegtuie is aangestuur na die Amerikaanse Vrywilligergroep in China waar hulle sukses teen Japannese vliegtuie behaal het.
Die P-40D het in Mei 1941 sy eerste vlug voltooi en was 'n groot verbetering met 'n nuwe, kragtiger Allison motor. Die neus se deursnit is verklein en die masjiengewere in die neus verwyder. Die bewapening het bestaan uit vier 12.7 mm masjiengewere in die vlerke met 'n bomrak wat onder die romp aangebring kon word om een 227 kg bom te kan dra.
Brittanje het van die P-40D bestel en dit die Kittyhawk genoem. Hierdie naam is soms verkeerdelik gebruik vir al die Warhawk vliegtuie. Teen hierdie tyd het die Warhawk begin agterraak teen die nuwe vegters. Tog was dit steeds voorsien aan die Amerikaanse Vrywilligergroep in China waar dit steeds sukses behaal het. Ook in Noord-Afrika het die vliegtuig sukses behaal. Die Britse vlieënier, Neville Duke, het 12 vegvliegtuie afgeskiet in Noord-Afrika met die Warhawk.
Tegniese besonderhede
Item | Statistiek |
---|---|
Aantal motore | 1 |
Tipe motor | Skroef |
Vervaardiger | Allison V-1710-81 inlynenjin |
Kraglewering per motor | 1 360 perdekrag |
Vlerkspan | 11,42 m |
Lengte | 10,2 m |
Hoogte | 3,77 m |
Vlerkoppervlakte | 21,95 m2 |
Maks. opstygmassa | 4 018 kg |
Maks. snelheid | 609 km/h |
Operasionele hoogte | 11 630 m |
Togafstand | 386 km |
Klimvermoë | 4 590m in 6 minute 42 sekondes |
Bewapening | Ses 12,7 mm masjiengewere in die vlerke voorsiening vir een 227 kg bom onder romp |
Sien ook
Bron
- Crosby, Francis: THE WORLD ENCYCLOPEDIA OF FIGHTERS & BOMBERS. 2015. ISBN 978-1-84476-917-9