Country house
Die Engelse term country house (Afrikaans: kontreihuis) verwys na 'n spesifieke tipe van herehuise wat in die landelike gebiede van Engeland, Skotland, Wallis en Ierland ontwikkel het. Saam met hulle parke, tuine en newegeboue vorm hierdie herewonings 'n argitektoniese en kunserfenis van onskatbare betekenis en bied insig in die leef- en geesteswêreld van die Britse landadel wat eeue lank 'n leidende rol in hul onmiddellike omgewing en plaaslike ekonomie, maar ook in die politieke, sosiale, kulturele en ekonomiese lewe van die Britse Eilande in hul geheel gespeel het. As sulks was hulle dikwels 'n soort mikrokosmos van die groter wêreld.
Na baie groot en statige herewonings word in die Engelse vaktaal soms as stately homes verwys. Dit is paleisagtige herehuise of ouer kastele wat, nadat hul versterkings met die begin van meer vreedsame tye hul oorspronklike funksie kwytgeraak het, tot herewonings omgebou is. Dieselfde geld vir abdye wat ná hul ontbinding gedurende die Engelse Hervorming in die 16de eeu deur adellikes aangekoop en tot herehuise omgeskep is. Stately homes het hul bloeitydperk tussen die middel van die 16de en vroeë 20ste eeu beleef.
'n Herehuis was tradisioneel die plek waar adellike Britse families hul gesofistikeerde smaak en kunssinnigheid, weelde en afkoms ten toon gestel het, maar ook 'n plek wat as die middelpunt van die sosiale en politieke lewe gedien het, van waar die onmiddellike omgewing geadministreer en waar Britse staatssake bespreek en besluite daaroor geneem is. Herewonings het egter nie net lede van die Britse landadel gehuisves nie, maar was ook die woon- en werkplek vir die hele spektrum van die samelewing. Groot onthaalsale, vertoonkamers en gerieflike vertrekke was die leefwêreld van die adellike gesin, terwyl generasies van bediendes, wat benodig is om groot herehuise te bestuur en hul ekonomiese prosesse aan die gang te hou, in die kombuise, spense en waskamers van die benedeverdieping of in die tuine en ander geriewe van die omliggende landgoed werksaam was.
Country Houses as herewonings van die Britse landadel het vanaf die 16de eeu in Engeland ontwikkel toe die eeue oue tradisie van versterkte wonings en kastele, wat oorspronklik die hoë status van hul bewoners weerspieël het, ten gunste van meer gerieflike akkommodasie verdring is. In 'n nasie waar die heersende elite van adellikes diep in die landelike omgewing, en nie soseer in stedelike nedersettings nie, gewortel was, het 'n landelike herewoning as embleem vir hoë afkoms, nasionale identiteit, trots, weelde en kunssinnigheid gedien.
Die agteruitgang van groot herehuise het met die ekonomiese depressie in die landboubedryf omstreeks 1870 en Groot Oorlog van 1914 begin. Adellikes, wat as hoër range tradisioneel die ruggraat van die Britse leër gevorm het, het net soos gewone soldate in groot getalle gesneuwel. Die oorlogsgebeure het 'n swaar ekonomiese krisis in Groot-Brittanje veroorsaak, maar dit was veral die landbou as belangrikste bron van inkomste vir die landadel wat vanaf die laaste kwart van die 19de eeu aan baie veranderings onderworpe was. Koel- en vragskepe het groot hoeveelhede graan en vleis uit die oorsese gebiede van die Britse Ryk na die Britse Eilande vervoer, teen pryse waarmee Britse produsente nie meer kon meeding nie. Hoër erfenis- en boedelbelasting het eweneens hul tol geëis en eienaars gedwing om hul wonings te verkoop. Na ramings is net in Engeland sowat 1 200 herehuise sedert 1900 gesloop.
Stately homes in Engeland
Die Engelse vakterm stately home word deur geskiedkundiges en ander akademici dikwels as vaag en ontoereikend vir praktiese of wetenskaplike gebruik geag en dus liefs vermy. Dit is vir die eerste keer deur Felicia Hemans in haar gedig The Homes of England gebruik en oorspronklik in 1827 in Blackwood's Magazine gepubliseer. Dit het in die 20ste eeu veral gewild geraak danksy die liedjie The Stately Homes of England wat die komponis Noël Coward (1899–1973) in 1938 vir sy musiekblyspel Operette geskryf het. Volgens sy moderne gebruik verwys die term dikwels na 'n herewoning wat ten minste tydelik oopstaan vir die publiek.
Die woordgebruik in Engeland is onpresies sodat die terme country house en stately home soms as sinonieme gebruik word om na herewonings te verwys. Nogtans is baie kontreihuise of country houses soos Ascott House in Buckinghamshire doelbewus ontwerp om met die omliggende omgewing te harmoniseer eerder as om die status van hul eienaars deur 'n statige boustyl te onderstreep. Ander herewonings, soos Kedleston Hall in Derbyshire en Holkham Hall in Norfolk, was sogenaamde power houses wat met hul deftige en indrukwekkende argitektuur die landskap in hul omgewing oorheers het.
Die joernalis en skrywer Robert Harling behandel in sy werk Historic Houses: Conversations in Stately Homes altesaam negentien herewonings wat volgens hom as stately homes gekategoriseer kan word. Hulle wissel in grootte van die monumentele Blenheim-paleis tot die meer beskeie Ebberston Hall, en in hul boustyl van die Jacobiaanse Renaissance-ontwerp van Hatfield House tot die eksentriese styl van Sezincote.