Colin Davis

Sir Colin Rex Davis (25 September 192714 April 2013) was 'n Engelse dirigent wat bekend was om sy assosiasie met die Londen Simfonieorkes wat hy in 1959 begin dirigeer het. Sy repertoire was breedvoerig gewees. Hy word egter veral met die werke van Mozart, Berlioz, Elgar, Sibelius, Strawinski en Michael Tippett geassosieer.

Davis in 1967

Hy het die klarinet studeer, maar was egter vasberade om 'n dirigent te word. Nadat hy aanvanklik in die jare 1949 tot 1957 as 'n vryskut-dirigent gesukkel het om opgang te maak, het hy 'n reeks opeenvolgende aanstellings by orkeste bekom, insluitende die BBC Skotse Simfonieorkes, die BBC Simfonieorkes en die Beiere Radio-simfonieorkes. Hy het ook die musikale direkteurskap van die Engelse Nasionale Opera en die Royal Opera House gehou, waar hy vir meer as vyftien jaar hoofdirigent was. Hy het ook by onder andere die Boston Simfonieorkes, die New York Filharmoniese Orkes en die Dresden Staatskapelle as gas-dirigent verskyn.

As onderwyser het Davis poste gehou by die Koninklike Akademie van Musiek, Londen, en die Sächsisches Landesgymnasium für Musik "Carl Maria von Weber" (voorbereidende skool vir musiek) in Dresden. Hy het in 1958 sy eerste opnames vir die grammofoon gemaak. Sy diskografie oor die volgende vyf dekades was uitgebreid, met 'n groot aantal ateljee-opnames vir Philips Records en 'n aansienlike katalogus van lewendige opnames vir die Londen Simfonieorkes se eie plate-etiket.

Vroeë jare

Davis was in Weybridge, Surrey, gebore as die jongste van drie seuns van Reginald George en Lillian Davis.[1][2] Die gesin was musikaal aangelê, en Davis was op 'n jeugdige ouderdom aan musiek blootgestel. Hy het dit in herinnering geroep:

"Ek kan steeds sien hoe Sargent die eerste konsert dirigeer wat ek bygewoon het. Ek kan steeds vir Melchior in die laaste toneel van Siegfried – 'n ou 78 wat op my vader se grammofoon gespeel het, hoor. … Ek kan ook die oomblik onthou toe ek besluit het om musiek my lewe te maak. Ek was op die stadium dertien of veertien jaar oud, en ek was teenwoordig by 'n uitvoering van Beethoven se Agste Simfonie. Daar het skielik vir my deure oopgegaan. Ek het heeltemal betrokke begin raak, en was obsessief oor musiek, alhoewel ek vreeslik ingeperk was deur my voorkeure en afkeure. Vandag is ek oop vir enigiets."[3]

Die Koninklike Kollege van Musiek, waar Davis studeer het

Davis kon met geldelike bystand van sy grootoom by Christ's Hospital in Sussex[4] studeer, en het gevolglik 'n beurs gewen om by die Koninklike Kollege van Musiek in Londen te studeer waar hy die klarinet saam met Frederick Thurston studeer het.[5] Sy medestudente het Gervase de Peyer ingesluit, maar Davis het 'n groter belangstelling in dirigeer ontwikkel. Hy kon egter nie in aanmerking kom vir dirigeerklasse by die kollege nie omdat hy nie klavier kon speel nie.[6]

Nadat hy vir nasionale diensplig opgeroep is en nadat hy sy studies by die kollege voltooi het, het Davis as klarinetspeler in die musiekgroep genaamd Life Guards gespeel. Hy was by Windsor, Berkshire gestasioneer en het konserte in Londen bygewoon onder leiding van dirigente soos Thomas Beecham en Bruno Walter. Hy het in 1949 met 'n loopbaan as vryskut musikant 'n aanvang geneem (in sy eie woorde, die "freelance wilderness"). Hy sou tot 1957 in die hoedanigheid optree.[2] Sy eerste dirigeerwerk was saam met die Kalmar Orkes, wat hy saam met ander voormalige studente van die Koninklike Kollege gestig het. Hy was gevolglik uitgenooi om die onlangs gestigte Chelsea Opera Group in Don Giovanni te lei. Hy het tydens die vroeë jare van sy loopbaan ook uitnodigings as 'n orkestrale klarinetspeler aanvaar.[7] Wat aanvanklik as 'n voltydse aanstelling as dirigent voorgekom het (by die Oorspronklike Ballet Russe in 1952) het op abrupte wyse na drie maande geëindig toe die geselskap ontbind het. Davis het tussen rare geleenthede om as dirigent op te tree, as afrigter en lektor gewerk. Dit het kortstondige werksgeleenthede by die Cambridge University Musical Society en die Bryanston Somerskool ingesluit, waar 'n uitvoering van L'enfance du Christ sy liefde vir die musiek van Berlioz opnuut ontwaak het.[8]

BBC en Sadler's Wells

Davis se eerste deurbraak het in 1957 gekom toe hy met sy derde poging die pos van assistent dirigent van die BBC Skotse Orkes (nou die BBC Skotse Simfonieorkes) bekom het.[9] Die hoofdirigent van die orkes het oor die algemeen verkies om die standaard repertoire self te dirigeer, en het Davis met moderne werke en nie-standaard werke opgesaal, insluitende die van Berlioz.[10] Teen 1959 het Davis al in so 'n mate ontwikkel dat die hoof musiekkritikus van The Observer, Peter Heyworth, na 'n konsert bestaande uit die werke van Strawinski en Mozart met die London Mozart Players geskryf het, "Mnr. Davis het die twee werke op 'n wyse gedirigeer wat aantoon dat hy nie slegs uitstaan tussen ons jonger dirigente nie, maar waarskynlik die beste is wat ons geproduseer het sedertdien Thomas Beecham, sy senior met agt-en-veertig jare."[11]

Glyndebourne Festival Opera, toneel van een van Davis se vroeë deurbrake

Davis is die eerste keer opgemerk en lof toegeswaai toe hy in 1959 vir 'n sieklike Otto Klemperer ingestaan het tydens 'n uitvoering van Don Giovanni by die Royal Festival Hall. Beecham het hom 'n jaar later uitgenooi om met hom saam te werk in die voorbereiding van Die Towerfluit by die Glyndebourne Festival Opera. Beecham was ongesteld, en Davis het gevolglik die opera gedirigeer. Na Don Giovanni, het The Times geskryf, "'n Uitstekende dirigent van Mozart het gisteraand by die Fees-saal sy stem dik gemaak…. Mnr. Davis het na vore getree as 'n dirigent wat ryp is vir grootheid."[12] Na Die Towerfluit het The Times Davis 'n "meester van Mozart se idioom, styl en belang" genoem,[13] alhoewel Heyworth in The Observer teleurgestel was deur sy tempo en dit as te stadig beoordeel het.[14]

Davis het in 1960 sy buiging by the Proms gemaak in 'n program van Britten, Schumann, Mozart en Berlioz.[15] In dieselfde jaar was hy as hoofdirigent van die Engelse Nasionale Opera (Sadler's Wells Opera) aangestel, en in 1961 was hy as musikale direkteur van die geselskap aangestel saam met wie hy 'n groot repertoire van operas opgebou het. Hy het in Londen sowel as tydens toere gedirigeer.[16] Grove's Dictionary of Music and Musicians het van die tydperk geskryf, "Hy het uitgeblink in Idomeneo, The Rake's Progress, Oedipus rex (opera) en Fidelio; sy Wagner, Verdi en Puccini was egter minder suksesvol. Hy het Kurt Weill se Rise and Fall of the City of Mahagonny en Ildebrando Pizzetti se Assassinio nella cattedrale aan die Britse publiek bekendgestel en die première van Richard Rodney Bennett se The Mines of Sulphur (1965) gedirigeer."[17] Hy het saam met die verhoog-direkteur, Glen Byam Shaw, gewerk om operas op 'n wyse aan te bied wat genoegsame oorweging aan die drama sowel as die musiek gegee het.[18] Davis was tydens sy vroeëre jare tydens repetisies bekend as ietwat van 'n vuurvreter met 'n vurige humeur,[19] en derhalwe was sy vertrek van Sadler's Wells in 1965 nie sonder bitterheid en kwade gevoelens nie.[20]

Nadat Davis vir Sadler's Wells verlaat het en oorgesien is as hoofdirigent van die Londen Simfonieorkes,[21] was hy egter met ingang September 1967 as hoofdirigent van die BBC Simfonieorkes aangewys.[22] Aanvanklik was sy tyd daar, gesien vanuit die algemene oogpunt van die publiek, oorskadu tydens the Proms deur die herinnering aan Malcolm Sargent. Vergeleke met die "bekoorlike en gesofistikeerde vaderfiguur"-beeld van Sargent,[23]het dit 'n tydjie geneem vir die jonger Davis om aanvaar te word.[22] Die BBC se amptelike geskiedkundige van die Proms het later geskryf, "Davis het homself nooit met die Proms geïdentifiseer op dieselfde wyse as wat Sargent gedoen het nie."[23] Davis was ongemaklik met die tradisionele herrie en luidrugtigheid van die Laaste Nag van die Promenade en het op onsuksesvolle wyse gepoog om dit te moderniseer.[24] Die BBC se kontroleerder van musiek, William Glock, was 'n groot bewonderaar van Davis en het hom aangemoedig om avontuurlustige programme op te dis - met 'n nuwe klem op moderne musiek - tydens beide die Proms sowel as die orkes se jaarlikse skedule.[25]

Covent Garden

In 1970 het David Webster, die bestuurder van die Royal Opera en die Koninklike Balletgeselskappe by Covent Garden, vir Davis uitgenooi om vir Georg Solti as hoofdirigent van die opera op te volg.[26] Om en by dieselfde tyd het die Boston Simfonieorkes hom ook uitgenooi om musikale direkteur v/d orkes te word; Davis het egter gevoel dat dit sy plig was om die pos te aanvaar indien Covent Garden hom benodig het.[18] Webster se visie was dat Davis en die verhoogdirekteur Peter Hall (voorheen van die Koninklike Shakespeare Geselskap) in gelyke vennootskap as musikale direkteur en direkteur van produksies sou saamwerk. Na aanvanklike suksesse, insluitende die première van Michael Tippett se The Knot Garden in Desember 1970, het Hall egter die geselskap verlaat ten einde vir Laurence Olivier as direkteur van die Koninklike Nasionale Teater op te volg. Webster het teen die tyd reeds afgetree, en derhalwe is dit aan Davis, saam met Webster se opvolger as Algemene Administrateur, John Tooley, oorgelaat om die Royal Opera te bedryf.[27]

Die Royal Opera House, Covent Garden, waar Davis tussen 1979 en 1986 musikale direkteur was.

Davis se vroeë werksaamhede in beheer van Covent Garden was deur ontevredenheid deur sommige lede van die gehoor gekenmerk, en tydens die rampspoedige vertoning van Verdi se Nabucco in 1972 kon 'n ge-uitjouery uit dele van die gehoor bespeur word. Ook Davis se dirigeer van Wagner se Ringsiklus is aanvanklik ongunstig vergelyk met die weergawes van sy voorganger.[28] Van sy suksesse was Berlioz se massiewe Les Troyens (met Jon Vickers en Anja Silja) en Benvenuto Cellini, Verdi se Falstaff, die bekendste Mozart operas, en, soos een kritikus dit gestel het, het Davis "sy belang as 'n Britten en Strawinski interpreteerder bevestig" met produksies van Peter Grimes en The Rake's Progress.[28] Davis het meer as dertig operas gedurende sy vyftien-jaar lange tyd by Covent Garden gedirigeer,[17] maar "aangesien mense soos Maazel, Abbado en Muti slegs vir nuwe produksies sou kom", het Davis toegewings gemaak en die dirigeerstaf aan hierdie buitelandse dirigente oorhandig en sodoende die kans opgegee om verskeie van die bekendste operas te dirigeer, insluitende Der Rosenkavalier, Rigoletto en Aida.[28]

Davis het bykomend tot die standaard opera repertoire 'n klein aantal moderne en onbekende operas gedirigeer insluitende Tippett se The Knot Garden en The Ice Break (wat aan hom gewy is),[17] en Alexander von Zemlinski se Die Dwerg en Eine florentinische Tragödie.[29] Davis het wat betref die latere verhoogdirekteure by Covent Garden verkies om saam met individue te werk wat die libretto gerespekteer het: "Ek hunker na produseerders wat nie afguns toon teenoor komponiste omdat hulle beter as hulle is nie en hul dikwels vindingryke idees wil afdwing op die betrokke werk nie."[30] Davis het gehoop dat Götz Friedrich, saam met wie hy op Wagner se Ring siklus gewerk het, die rol van hoofproduseerder sal aanneem wat deur Hall ontruim is, "maar dit het voorgekom asof niemand hul wou toewy aan die taak nie." [28]

Davis het gedurende sy tyd by Covent Garden van 1971 tot 1975 teruggekeer na die BBC Simfonieorkes as hoof gas-dirigent. Hy het van 1972 tot 1984 dieselfde pos gehou by die Boston Simfonieorkes.[2] Davis het in 1977 die eerste Engelse dirigent geword om tydens die Bayreuth-fees te verskyn waar hy die eerste opera van die fees (Tannhäuser) gedirigeer het. Ten spyte van die Bayreuth habitués se wantroue van nuwelinge,[31] was sy Tannhäuser "baie suksesvol".[32] Hy het in 1967 sy buiging by die Metropolitan Opera in New York Stad gemaak met Peter Grimes, in 1986 saam met die Weense Staatsopera en in 1994 saam met die Beierse Staatsopera.[2]

Beiere Radio-simfonieorkes en Londen Simfonieorkes

Davis was van 1983 tot 1993 hoofdirigent van die Beiere Radio-simfonieorkes saam met wie hy sy konsertsaal repertoire uitgebrei het, met simfonieë deur Bruckner en Mahler.[20] Die pos van musikale direkteur was deur die Cleveland Simfonieorkes aan hom gebied as 'n opvolger tot Maazel; dieselfde geld vir die New York Filharmoniese Orkes wat aan hom die pos aangebied het as opvolger tot Zubin Mehta.[33] Hy was as hoof gas-dirigent met die Dresden Staatskapelle geassosieer, wat hom in 1990 as eredirigent (Ehrendirigent) aangestel het, die eerste geval van so 'n aanstelling in die orkes se 460 jaar lange geskiedenis.[34]Die musikante van die orkes het op respekvolle wyse na Davis verwys as "Der Sir".[35] Davis was van 1998 tot 2003 hoof gas-dirigent van die New York Filharmoniese Orkes.[2]

Davis was in 1995 as hoofdirigent van die Londen Simfonieorkes aangestel, welke die klimaks van 'n lang verbintenis met die orkes was. Hy het die eerste keer in 1959 die LSO gedirigeer, en in 1964 het hy aan die hoof van die LSO se eerste wêreldtoer gestaan. Hy het in 1975 hoof gas-dirigent daarvan geword en het aan die hoof van die LSO se eerste groot reeks by die orkes se nuwe tuiste, die Barbican Centre, gestaan, met 'n Berlioz/Tippett-fees in 1983.[34] Davis was die langsdienende hoofdirigent in die geskiedenis van die LSO. Hy het die pos van 1995 tot 2006 gehou, waarna die orkes hom as hul President aangestel het, welke eer voorheen slegs Arthur Bliss, William Walton, Karl Böhm en Leonard Bernstein te beurt geval het.[36] Op 21 Junie 2009 was daar, 50 jaar na Davis se eerste LSO uitvoering, 'n spesiale konsert by die Barbican gegee, waarby huidige sowel as voormalige lede van die orkes betrokke was.[34] Die program vir die konsert het uit Mozart se Simfonie No 40 in G mineur, en Brahms se Klavierconcerto No 2 bestaan, met Nelson Freire as solis.[37]

Davis het gedurende sy tyd by die LSO as beide hoofdirigent en later as president reekse en siklusse van Sibelius, Berlioz, Bruckner, Mozart, Elgar, Beethoven, en Brahms gedirigeer,[34] en in 2009 begin om siklusse van die simfonieë van Carl Nielsen aan te bied.[38] Grove's Dictionary of Music and Musicians het geskryf, "Hy het in 1992 'n Sibelius-siklus gedirigeer sowel as 'n konsertprogram van Les Troyens die volgende jaar, wat beide legendariese status bereik het. Meer onlangs het hy groot uitvoerings van Bruckner, Richard Strauss en Elgar, die première van Tippett se laaste groot werk, The Rose Lake (1995), en 'n Berlioz-siklus begin met Benvenuto Cellini in 1999, gekroon deur 'n uitstekende Les Troyens in Desember 2000. Dit het sy vennootskap met die LSO as een van die belangrikste vennootskappe van sy era, bevestig."[17]

Onderwyser

Davis was president van die Landesgymnasium für Musik "Carl Maria von Weber" in Dresden gewees,[39] en het die Internasionale Stoel van Orkestrale Studies by die Koninklike Akademie van Musiek in Londen beklee.[40] Jonathan Freeman-Attwood, die hoof van die akademie, het soos volg oor Davis geskryf, "Davis het oor die tydperk van 25 jaar as die Akademie se Internasionale Bekleër van die Stoel aan die hoof van ses opera produksies en meer as sestig konserte, klasse en kamermusiek-projekte gestaan. Sulke buitengewone vrygewigheid van 'n gerekende en bekende internasionale dirigent is sekerlik uniek. Hy het soos Henry Wood en John Barbirolli voor hom 'n hele generasie geïnspireer."[34]

Opnames

Davis se diskografie is uitgebreid, met oor die driehonderd opnames. Hy het in 1958 sy eerste opname gemaak saam met die Sinfonia of London in uitvoerings van Mozart se Simfonieë 29 en 39 vir World Record Club (TZ 130).[41] Dit was op 8 Mei 1959 gevolg deur 'n opname wat in Kingsway Hall, Londen, vir Decca gemaak is met die New Symphony Orchestra of London en pianis Peter Katin in 'n uitvoering van Rachmaninoff se Klavierconcerto No. 2 in C mineur Op. 18. Davis het ook verskeie opnames vir die klein onafhanklike plate-etiket, Éditions de l'Oiseau-Lyre gemaak, insluitende 'n 1960 L'enfance du Christ plaat en 'n 1962 Béatrice et Bénédict plaat wat beide met ingang April 2013 steeds op CD beskikbaar was. Hy het vir EMI beide opera en orkes opnames gemaak, eersgenoemde saam met Sadler's Wells, insluitende uittreksels uit Carmen en 'n volledige Oedipus rex, en laasgenoemde wat Harold in Italy met Yehudi Menuhin insluit, en wat oorbly van sy bekendste opnames, naamlik 'n 1961 opname van Beethoven se Sewende Simfonie.[42][43]

Philips en RCA

In the 1960s het Davis as eksklusiewe kunstenaar met Philips Records gekontrakteer. Hy het deur die jare 'n uitgebreide reeks opnames in die orkestrale repertoire sowel as in die opera repertoire saam met Philips gemaak, insluitende die bekendste Mozart operas; operas deur Tippett, Britten, Verdi en Puccini; en 'n omvattende oorsig van die operas van Berlioz, wat 'n klimaks bereik het in 'n bekroonde eerste, volledige opname van Les Troyens, wat in Mei 1970 uitgereik is.[20][44]

Davis se 1966 Philips opname van Händel se Messiah was op die stadium van die opname se uitreiking as openbarend beskou vir die opname se afwyking van die grootskaalse Victoriaanse-styl uitvoerings wat dit vantevore gekenmerk het en gebruiklik was.[45] Ander Philips opnames het 'n 1982 stel van Haydn se twaalf Londense simfonieë met die Koninklike Concertgebouw-orkes ingesluit, "gemerk deur uitvoerings van geweldige styl en gesag, en 'n sin van ritmiese stukrag wat uiters opwindend is";[46] en 'n 1995 Beethoven simfoniese siklus met die Dresden Staatskapelle, waarvan Gramophone (tydskrif) geskryf het, "Daar was nooit weer 'n Beethoven siklus soos hierdie sedert Klemperer se dae nie."[47]

Davis het 'n aantal opnames saam met die Boston Simfonieorkes vir Philips gemaak, insluitende die eerste van sy drie Sibelius siklusse, welke nog steeds in die CD katalogusse is. Hulle het saam ook werke deur Debussy, Grieg, Schubert, Schumann, en Tsjaikofski opgeneem. Davis het vir die RCA Victor Red Seal plate-etiket die volledige simfoniese siklusse van Sibelius (met die LSO), Brahms (Beiere Radio-simfonieorkes, 1989–98), en Schubert (Dresden Staatskapelle, 1996), opgeneem.

LSO Live

Davis in 2007

Davis se tyd as hoofdirigent en later presdient van die LSO het saamgeval met die orkes se besluit om sy eie plate-etiket te stig, welke plate-etiket lewendige opnames uitreik (wat indien nodig aangevul word met dele uit ander uitvoerings) teen sakpas pryse. Davis se opnames op die LSO Live etiket sluit Beethoven se opera Fidelio (2006), 'n wye reeks van Berlioz se werke, insluitende 'n opname van Les Troyens (2000), La damnation de Faust (2000), Roméo et Juliette (2000), Béatrice et Bénédict (2000), Harold en Italie (2003), en die Symphonie fantastique (2000); Britten se Peter Grimes (2004); Dvořák se Simfonieë Nos. 6–9 (1999–2004); vyf Elgar stelle: die Enigma Variasies (2007) en die Introduction and Allegro for Strings (2005), die drie simfonieë (2001), en The Dream of Gerontius (2005); Handel se Messiah (2006); Haydn se Die Skepping (2007); Holst se Die Planete (2002); James MacMillan se Sint Johannes Passie, (2008) The World's Ransoming en The Confession of Isobel Gowdie (2007); Mozart se Mis (2007); Nielsen se Simfonieë Nos. 4–5 (2011); 'n derde Sibelius simfoniese siklus (2002–2008); Smetana se Má vlast (2005); Tippett se A Child of Our Time (2007), Verdi se Falstaff (2004), Mis (2009), en Otello (2010); en Walton se Eerste Simfonie in.(2005).

Persoonlike lewe

Davis het in 1949 met die sopraan April Cantelo getrou. Hulle het twee kinders gehad, Suzanne en Christopher. Hulle huwelik is in 1964 beëindig, en dieselfde jaar is Davis met Ashraf Naini (Shamsi) getroud.[4] Ten einde beide die Iranse en Britse owerhede tevrede te stel, is die paartjie drie keer getroud, een keer in Iran en twee keer in die VK in die Iranse Ambassade in Londen en ook tydens 'n burgerlike seremonie. Hulle het vyf kinders gehad.[48] Een van hul kinders is die dirigent Joseph Wolfe, wat 'n ander van aangeneem het omrede hy sy eie identiteit as musikant wou ontwikkel.[49]

Davis se vrou het in Junie 2010 beswyk toe hy besig was om Mozart se Die Huwelik van Figaro by die Royal Opera House te dirigeer. Davis het voortgegaan met sy uitvoerings en toe hy die volgende jaar gevra is hoe hy die krag gehad het om voort te gaan het hy geantwoord, "Dit kom uit die musiek. Daar is so baie negatiewe nonsens wat oor Mozart gesê word, maar hy was - wel, hy is, die lewe self."[50]

Siekte en sterfte

Na die afsterwe van Davis se vrou het sy gesondheid vinnig agteruitgegaan. Hy het in Februarie 2011 van 'n podium in Covent Garden geval, en gevolglik baie optredes in die daaropvolgende maande gekanselleer. Sy laaste konsert met die LSO was 'n uitvoering van Berlioz se Mis in Junie 2012.[4] Sy laaste uitvoering het 'n maand voor sy dood saam met 'n Londense amateurorkes en die solis Thomas Gould plaasgevind.[51] Davis het op die ouderdom van 85 jaar op 14 April 2013, na 'n kort siekbed in Londen beswyk.[52][53]

Antonio Pappano, die musikale direkteur by die Royal Opera House, het gesê dat Davis se afsterwe 'n "groot skok" was.[54][55]

Verwysings

  1. Blyth, bl. 4
  2. "Davis, Sir Colin (Rex)", Who's Who, 2010, A & C Black, 2010; online edition, Oxford University Press, Desember 2009. Opgespoor op 9 Januarie 2010
  3. Gramophone, Desember 1967, bl. 39
  4. Nice, David (14 April 2013). "Sir Colin Davis obituary". The Guardian (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 April 2020. Besoek op 16 April 2013.
  5. Blyth, bls. 6–8
  6. Blyth, bl. 8
  7. Blyth, bls. 9–10
  8. Blyth, bl. 10
  9. Ivan Hewett (15 April 2013). "Sir Colin Davis: from angry young firebrand to wise elder statesman". The Daily Telegraph (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Mei 2017. Besoek op 25 Desember 2014.
  10. Blyth, bl. 11
  11. Heyworth, Peter, "Best Since Beecham", The Observer, 6 September 1959, p. 23
  12. "Outstanding Don Giovanni under Mr. Colin Davis", The Times, 19 Oktober 1959, bl. 6
  13. "Mozart Genius at its Peak", The Times, 29 Julie 1960, bl. 13
  14. Heyworth, Peter. "Disenchanted Flute", The Observer, 31 Julie 1960, bl. 18
  15. The Times, 3 Augustus 1960, bl. 5
  16. Blyth, bl. 13
  17. "Colin Davis", Grove's Dictionary, Oxford Music Online. Opgespoor 9 Januarie 2009
  18. Blyth, bl. 21
  19. Rupert Christiansen (15 April 2013). "Sir Colin Davis and his stormy career in opera". The Daily Telegraph (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Februarie 2017. Besoek op 25 Desember 2014.
  20. "Davis, Colin" Geargiveer 22 Junie 2009 op Wayback Machine, Naxos.com. Opgespoor op 10 Januarie 2010
  21. "Sir Colin Davis". The Daily Telegraph (in Engels). 15 April 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Oktober 2019. Besoek op 25 Desember 2014.
  22. Orga, bl. 158
  23. Cox, bl. 192
  24. Orga, bl. 166
  25. Blyth, bl. 16
  26. Haltrecht, bl. 101
  27. Haltrecht, bl. 101
  28. Canning, Hugh. "Forget the booing, remember the triumph", The Guardian, 19 Julie 1986, bl. 11
  29. Royal Opera House programme booklets for 30 September 1983, 3 April 1970, 2 December 1970, 6 December 1972, 11 July 1977 and 7 October 1985
  30. Gramophone, Julie 1981, bl. 23
  31. 26 Julie 1977, bl. 9
  32. The Times, 25 Julie 1977, bl. 9; en 26 Julie 1977, bl. 9
  33. Morrison, bl. 217.
  34. Mackenzie, Lennox, "50 years with Sir Colin Davis", LSO.co.uk. Opgespoor 10 Januarie 2010 Geargiveer 30 November 2009 op Wayback Machine
  35. Staatskapelle Dresden (16 April 2013). "The Staatskapelle Dresden mourns the death of its Conductor Laureate, Sir Colin Davis". Persberig. http://www.staatskapelle-dresden.de/en/news/article/die-saechsische-staatskapelle-dresden-trauert-um-ihren-ehrendirigenten-sir-colin-davis/56180/. Besoek op 25 Desember 2014.
  36. LSO concert programme booklet, 9 Januarie 2007
  37. LSO concert programme booklet, 21 Junie 2009
  38. LSO concert programme note, 1 Oktober 2009
  39. "Schirmherr: Sir Colin Davis". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Desember 2008. accessed 30 October 2011
  40. "Colin Davis Fellowship" Geargiveer 15 September 2015 op Wayback Machine, Royal Academy of Music. Opgespoor op 10 Januarie 2017
  41. TZ 130 cover notes
  42. "Discography", Blyth, pp. 60–61
  43. Gramophone, Februarie 1996, bl. 8
  44. Gramophone, Mei 1970, bl. 84
  45. Gramophone, November 1966, p. 77. Dit was deur Mercury Records se Harold Lawrence geproduseer en deur die Philips ingenieur Hans Lauterslager opgeneem met gebruikmaking van die Mercury 3-gespasieerde-omni mikrofoon tegniek genaamd "M3" deur Philips. Sien die Lauterslager, Hans: aanbieding by Audio-Ingenieurswese Genootskap Amsterdam 2008 Historiese Gebeurtenis. Die aanbieding het 'n lys van die Philips M3 opname-sessies ingesluit. Die opname was in die 1990s deur Philips op CD uitgereik as 'n 2CD stel in die "Duo" reeks.
  46. Gramophone, Junie 1982, bl. 33
  47. Gramophone, Desember 1995, bl. 75
  48. O'Mahony, John. "Calm after the storm", The Guardian, 21 September 2002
  49. "Joseph Wolfe" Geargiveer 23 Junie 2016 op Wayback Machine' Classical Source. Opgespoor op 29 Januarie 2012
  50. Service, Tom. "Sir Colin Davis: 'You are of no account whatsoever'", The Guardian, 12 Mei 2011
  51. Greg Cahill (15 April 2013). "Sir Colin Davis, 1927–2013". Strings (in Japannees). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Oktober 2015. Besoek op 25 Desember 2014.
  52. Sir Colin Davis 1927–2013, LSO.co.uk. URL besoek op 14 April 2013
  53. Schwirtz, Michael (14 April 2013). "Sir Colin Davis, British Conductor, Dies at 85". The New York Times (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Desember 2019. Besoek op 15 April 2013.
  54. "Conductor Sir Colin Davis dies". BBC News (in Engels). 14 April 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Julie 2019. Besoek op 15 April 2013.
  55. "London Symphony Orchestra president Sir Colin Davis dies, aged 85". London Evening Standard. 15 April 2013. Besoek op 15 April 2013.

Verdere bronne

  • Blyth, Alan (1972). Colin Davis. Londen: Ian Allan. OCLC 675416.
  • Cox, David (1980). The Henry Wood Proms. Londen: BBC. ISBN 0-563-17697-0.
  • Haltrecht, Montague (1975). The Quiet Showman: Sir David Webster and the Royal Opera House. Londen: Collins. ISBN 0-00-211163-2.
  • Morrison, Richard (2004). Orchestra – The LSO: A Century of Triumph and Turbulence. Londen: Faber & Faber. ISBN 978-0571215843.
  • Orga, Ateş (1974). The Proms. Newton Abbot: David and Charles. OCLC 1121308.

Eksterne skakels

Kulturele poste
Voorafgegaan deur
Alexander Gibson
Musikale Direkteur, Sadler's Wells
1961–1965
Opgevolg deur
Bryan Balkwill en Mario Bernardi
Voorafgegaan deur
Georg Solti
Musikale Direkteur, Royal Opera House, Covent Garden
1971–1987
Opgevolg deur
Bernard Haitink
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.