City of London
Die City of London is 'n stad en seremoniële graafskap in Londen. Vanaf die 1ste eeu n.C., toe die Romeine hier 'n nedersetting gevestig het, tot die Middeleeue het dit die grootste deel van Londen beslaan, maar daarna het die stad ver buite die City se grense begin uitbrei. Die City of London beslaan tans net 'n klein deel van die Britse hoofstad, alhoewel dit 'n belangrike distrik van Sentraal-Londen bly. Naas die aangrensende City of Westminster is dit een van twee Londense distrikte wat stadstatus het.
City of London | |
---|---|
Stad en seremoniële graafskap | |
City of London in Januarie 2018, soos gesien vanuit die Tate Modern | |
Vlag Seël | |
Byname: The City, Square Mile | |
Die City of London in Groter Londen | |
Koördinate: 51°31′N 0°05′W | |
Land | Verenigde Koninkryk |
Land | Engeland |
Plaaslike regering | City of London Corporation |
Lord Mayor | William Russell |
Town Clerk (Stadsklerk) | John Barradell |
Administratiewe hoofkwartier | Guildhall |
Oppervlak | |
• Totaal | 2,90 km2 (1,12 vk. myl) |
Hoogte | 0−21 m (0−69 ft) |
Bevolking | |
• Totaal | 9 401[1] |
• Digtheid | 3 200/km2 (8 400/vk. myl) |
Tydsone | UTC±00:00 (MGT) |
• Somertyd | UTC+01:00 (BST) |
Poskode | EC, WC, E |
Skakelkodes | 020 |
Webwerf | cityoflondon.gov.uk |
Die City is verskeie kere deur brandrampe getref. Die Groot Brand van Londen, wat in September 1666 vier dae lank gewoed het, het groot dele van die historiese middestad met sowat 13 200 wonings verwoes en nege menselewens geëis – een jaar nadat sowat 68 000 Londenaars slagoffers van die Groot Plaag geword het. In die 20ste eeu is Londen in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog deur Duitse bomaanvalle getref. Gedurende die sogenaamde Slag van Engeland, wat in 1940 begin het, het duisende bewoners tydens 'n reeks nagtelike lugaanvalle, wat in die volksmond die Blitz genoem is, in die ruïnes van hul huise gesterf.
Vandag kontrasteer Victoriaanse geboue in doolhof-straatjies (die straatpatroon het sedert die Middeleeue onveranderd gebly) met die skitterende glasfasades van hipermoderne kantoorgeboue. Sowat 400 000 Londenaars stroom elke dag as pendelaars na die City, een van die belangrikste finansiële distrikte ter wêreld, maar saans verander die distrik in 'n rustige plek. Slegs enkele duisend bewoners het in die histories digbevolkte middestad oorgebly. Kerkgeboue, waarvan baie deur die befaamde argitek Christopher Wren ná die Groot Brand van 1666 ontwerp is, is die laaste getuies van die City se verlede as volkryke woonbuurt. Wren se meesterwerk, St Paul's Cathedral, oorheers steeds die City se stadsilhoeët.
Vandag staan die City of Square Mile, soos dit vanweë sy klein oppervlak van een vierkante myl dikwels genoem word, as die wêreld se leidende finansiële distrik bekend. Hier het ook instellings soos die Bank van Engeland en die Londense Effektebeurs hul setels. Die vestiging van 'n tweede Londense sakekern in Canary Wharf, sowat vier kilometer oos van die City, het nie sy rol as finansiële sentrum aangetas nie. Gedurende die 19de eeu was die City daarnaas ook die wêreld se voorste sake- en handelspilpunt.
Verskeie bedrywe word met sekere buurte in die City of London verbind. So is die hoofkwartiere van versekeringsmaatskappye veral aan sy oostelike kant saamgetrek, terwyl regsinstellings hul setels in die gebied van Temple en Chancery Lane het. Hier is die Inns of Court geleë waarvan twee, Inner Temple en Middle Temple, binne die City se grense geleë is.
Eksterne skakels
- Wiki-webtuistes
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie City of London.
- Amptelike webtuistes
- (en) Amptelike webwerf
- Argitektuur