Charles Margrave Taylor

Charles Margrave Taylor (Montreal, 5 November 1931) is 'n Kanadeese filosoof. Hy het veral bydraes gelewer te opsigte van die politieke filosofie, hoewel hy ook bekend is vir sy analise van die "moderne self". Binne die politieke denke word hy geplaas onder die kommunitarisme en hy speek ook baie kritiek uit op die “verregaande individualisme” en die gebrekkige aandag aan die kollektiewe in die hedendaagse samelewing. In sy werk oorbrug hy ook die tradisionele kloof tussen die analitiese en kontinentale filosofie.

Charles Taylor
Geboortenaam Charles Margrave Taylor
Gebore 5 November 1931 (1931-11-05)
Montreal, Quebec, Kanada
Nasionaliteit Vlag van Kanada Kanada
Vakgebied Politieke filosofie, kosmopolitisme, Sekularisme, godsdiens, moderniteit
Instelling(s) Universiteit van Oxford, McGill Universiteit, Noordwestelike Universiteit
Beïnvloed deur Aristoteles, Plato, Hegel, Marx, Tocqueville, Merleau-Ponty, Weber, Durkheim, Wittgenstein, M. Polanyi, Ricoeur, Heidegger, James, Dreyfus, Bell, Lasch, Lipovetsky
Invloed op Honneth, Walzer, Sandel, Kompridis, Smith, Wilber
Toekennings Templeton-prys (2007)
Kioto-prys (2008)
John W. Kluge-prys (2015)

Kort biografie

Taylor word groot in 'n tweetalige gesin met 'n Protestante Engelssprekende vader en 'n Rooms-Katolieke Franssprekende moeder. In 1952 voltooi hy sy voorgraadse studies aan die McGill Universiteit met geskiedenis) as hoofvak. Hy sit sy nagraadse studie voort met 'n Rhodesbeurs aan die Universiteit van Oxford (filosofie, politiek en ekonomie). Hy verwerf sy DPhil in 1961 met as onderwerp kritiek op die behaviorisme/gedragsleer. Hy word aangestel aan die Oxford University as hoogleraar in die etiek en gaan later terug na die McGill Universiteit as hoogleraar in die filosofie. Taylor is Rooms-Katoliek en ontvang in 2007 die Templeton-prys.

Taylor het homself beskikbaar gesteld as kandidaat vir die sosiaal-demokratiese Nuwe Demokratiese Party (NDP) in Mount Royal tydens verkiesings in die 1960s. Die eerste was die federale verkiesing van 1962, waarin hy derde kom. In die verkiesing van 1963, kom hy tweede. Hy is egter veral bekend vir sy verlies teen die nuweling Pierre Trudeau in 1965. Hierdie veldtog kry nasionale aandag omdat hulle beide gesien word as intellektuele. Taylor se vierde en laatste poging om in die Kanadese laerhuis te kom was in 1968, 'n verkiesing waarin hy weer tweede kom.

Filosofie

Kenmerklik van 'n maatskaplikefilosoof lewer Taylor kritiek en stel ook moontlike oplossings voor vir aangeleenthede wat volgens hom verkeerd gaan in die huidige samelewing. Gereeld wys hy op die noue band tussen sy geskrifte en die konkrete problematiek waarmee die samelewing op daardie tydstip gekonfronteer word. Taylor is nie soseer 'n sistematiese denker nie, maar reageer daarenteen op die konkrete problematiek wat op daardie stadium hom interesseer. So het sy werk oor multikulturalisme en nasionalisme 'n duidelike verband met die problematiek van Quebec.

Dit verklaar ook Taylor se poging om baie duidelik en jargonvry te skryf. Hy wil nie net enkele akademiese filosowe bereik nie, maar ook die breë publiek. Taylor sien dit as die ideaal van die maatskaplikefilosoof (of wat hy noem die filosoofburger) en wys op die helder styl van Jürgen Habermas, vir wie hy daarom bewonder. By sy groter werke, soos Hegel, Sources of the Self en A Secular Age is sy skryfstyl egter nader aan filosofiese vaktaal.

Hy kan as kommunitaris beskou word, 'n persoon wat bekommerd is oor die verval van die samelewing as gevolg van die verswakking van onderlinge kommunikasie en as gevolg van allerlei anti-sosiale vorme van individualisme. Hy het ook met baie van sy tydgenote en medefilosowe gesprekke gevoer oor hierdie probleem waaronder Talal Asad, Arjun Appadurai, Robert Bellah, Paul Berman, William E. Connolly, Hubert Dreyfus, Jürgen Habermas, Alasdair MacIntyre, Martha Nussbaum, Quentin Skinner en Bernard Williams.

Taylor behoort tot die hermeneutiese denkers. Vir Taylor beteken hermeneutiek die poging om die moderne ideaal van die "individu se wil”, te begryp vanuit die persepsie van die waarde wat die individu self daaraan gee en heg. Hy benadruk dat die moderne individualisme meer is as bloot 'n reaksie op die massamaatskaplike verwikkelinge soos veral beweer word in die hedendaagse sosiologie. Die eietydse individualisme is veel meer as 'n refleks op uitwendige omstandighede van massaliteit en anonimiteit. Volgens Taylor voel die hedendaagse mens homself/haarself innerlik geroep om 'n individu te wees. Hy sien die "sigself wees" as 'n morele plig. Dit verwys na die waarde van egtheid wat sentraal staan in sy denke.

Hierdie hermeneutiese interpretasie het ook nog 'n tweede rol. Taylor stel homself teen die vereenselwiging van die geestes- en natuurwetenskappe. Hy verwys reeds daarna in sy eerste boek, The Explanation of Behaviour (1964). Die rede waarom daar 'n verskil tussen hierdie wetenskappe bestaan, kom voort uit die aard van die mens self: “die mens is 'n selfinterpreterende dier .... die mens is altyd gedeeltelik gevestig deur selfinterpretasie." So volgens hom kom daar dus altyd 'n hermeneutiese dimensie in die geesteswetenskappe na vore. Die mens reflekteer in sy aksies altyd oor wat hy is en waarom hy bepaalde aksie neem (die betekenis daarvan) en hierdie element moet ewegoed opgeneem word in die geesteswetenskappe, naas die beskrywing van wat die mens ook effektief doen. Tog is baie filosowe en ander denkers geneig om hierdie twee verskillende soorte wetenskap gelyk te stel. Taylor gee verskillende redes vir hierdie foutiewe beeld:

1. Mens doen dit veral vanweë die feit dat die natuurwetenskappe in die hedendaagse samelewing 'n sekere prestige en aansien geniet. Gevolglik wil die mens dus foutiewelik poog om die geesteswetenskappe dieselfde te maak ten einde dit suksesvol toe te pas.

2. Natuurwetenskappe word gereeld verbind met die idee van 'n absolute kontrole en manipulasie van die wêreld. Deur hierdie metode oor te dra na die geesteswetenskappe, hoop mense ook dat die politieke en sosiale aspekte op dieselfde wyse beheer kan word en terselfdertyd menslike gedrag op 'n eksakte wyse voorspel kan word.

3. 'n Bepaalde geesteswetenskap, die ekonomie, blyk in sekere mate te geslaag het om die metode oor te neem, dus kan dit ook na ander geesteswetenskappe oorgedra word. Taylor ontken egter dat hierdie uitsondering veralgemenend van aard is.

Kommunitaristiese kritiek op die liberalisme

Taylor word vergelyk/geassosieer met denkers soos Michael Walser en Michael Sandel, vanweë hulle kommunitaristiese kritiek op die liberale ontleding van die begrip 'self'. Kommunitariste benadruk die belang van sosiale en gemeenskapelike gedeelde ooreenkomste en instellings vir die ontwikkeling van identiteitsvorming.

Tydens sy lesings by die Massey kollege in 1991, The Malaise of Modernity, bespreek Taylor wat hy die sentrale probleem – 'malaise' – van moderne samelewing noem. Hy argumenteer onder meer dat tradisionele liberale opvattinge van individuele identiteit te abstrak, instrumentalisties, en eenvoudig is. Volgens Taylor het die denke van John Locke en Thomas Hobbes tot die van moderne denkers soos John Rawls en Ronald Dworkin nagelaat om die manier waarop individue binne gemeenskappe hulself vestig genoegsaam te verduidelik. Die interaksie tussen die enkeling en die gemeenskap en/of eggenote (of naaste familie) word genegeer en onbelangrik geag. 'n Meer realistiese begrip van die self moet volgens Taylor wat hy 'begripshorisonne' noem, bevat, waaraan lewenskeuses hul betekenis en belang ontleen. Sonder hierdie (gedeelde) betekeniskonteks sou hierdie keuses op ' Nietziaanse wyse' gereduseer kon word tot elke ander keuse, waardeur die keuse betekenisloos sou word.

Seleksie van Taylor se bibliografie

  • 1964. The Explanation of Behaviour.
  • 1975. Hegel.
  • 1979. Hegel and Modern Society.
  • 1985. Philosophical Papers (2 volumes).
  • 1989. Sources of the Self: The Making of Modern Identity.
  • 1992. The Malaise of Modernity, die gepubliseerde lesings van Taylor se Massey Lectures. Heruitgegee in die Verenigde State as The Ethics of Authenticity.
  • 1992. The Politics of Recognition.
  • 1995. Philosophical Arguments.
  • 1999. A Catholic Modernity?
  • 2002. Varieties of Religion Today: William James Revisited.
  • 2004. Modern Social Imaginaries.
  • 2007. A Secular Age.

Bronne

  • Suckert, Catherine H., Political Philosophy in The Twentieth Century – Authors and Arguments, Cambridge, Cambridge University Press, 2011.
  • Perreau-Saussine, Emile, "Une spiritualité démocratique ? Alasdair MacIntyre et Charles Taylor en conversation", Revue française de science politique, vol. 55 (2), April 2005, p. 299-315.
  • "Charles Taylor", Encyclopædia Britannica. Encyclopædia Britannica Online Academic Edition, Encyclopædia Britannica Inc., 2012.
  • Templetonpryswinnaar Charles Taylor in Utrecht, 12 Mei 2009, Katholiek Nederland.
  • Mathien, Thomas, "Charles Taylor", The Canadian Encyclopedia, 2012.
  • Suckert, Catherine H., Political Philosophy in The Twentieth Century, p. 264-267, 270.
  • Smith, Nicholas H., Charles Taylor: Meaning, Morals and Modernity, Cambridge, Polity, 2002, p.172.

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.