Charles Freeman
Charles Freeman (Cheltenham, Gloucestershire, Engeland, 11 Oktober (volgens 'n ander bron 1 Oktober) 1832 – Seepunt, Kaapstad, 19 Januarie 1911) was ’n baanbreker argitek wat vir van die mooiste geboue in Victoriaans Suid-Afrika verantwoordelik was.
In Engeland
Freeman het sy jeugjare in Warwickshire deurgebring waar sy vader ’n skoenmaker en ander familielede bouers was. Later is hy na Wotton Waven gestuur waar hy vier jaar by die argitek-kontrakteur George Clarke ingeskryf was. Al het hy waardevolle ervaring op die platteland opgedoen, het Freeman nie daarmee die geleentheid gekry om as lid van ’n instituut vir argitektuur toegelaat te word nie. Hy kon ook geen getuigskrifte daarvoor kry nie. Tog het hy eintlik nie veel waarde aan sulke formaliteite geheg nie. Aan die begin van sy loopbaan het hy in Warwickshire gepraktiseer en later in Cheltenham, waar hy die St. Markuskerk gebou het wat deur Middleton ontwerp is, asook die pastorie en drie villas teen Bay's Hill wat hy self ontwerp het.
Eerste jare in Suid-Afrika
Vroeg in die sestigerjare van die 19de eeu het hy na Suid-Afrika gekom en hom by die departement van openbare werke in Natal aangesluit. Met sy hoofkwartier in Pietermaritzburg het hy agt jaar lank met die koloniale ingenieur P. Paterson saamgewerk en in dié tyd brûe en geboue vir die koloniale owerheid ontwerp en toesig gehou oor die bou daarvan, onder meer die brûe oor die Umvotirivier, Sterkspruit, Lionsrivier en Ockertspruit, en die magistraatskantore en goewermentshuis.
In Kaapstad
Weens swak gesondheid het Freeman Natal verlaat, en op pad terug na Engeland het hy gereageer op 'n advertensie vir werknemers in die Kaapse departement van openbare werke, waar hy dan ook tydelik aangestel is in Desember 1871 as tekenaar en landmeter. In Kaapstad het hy eers aan die ontwerp en bou van die hoofposkantoor in St. Georgestraat gewerk en daarna aan veranderings aan die akteskantoor, die Lady Grey-brug, die poskantoor op Graaff-Reinet en die tronk op Beaufort-Wes. In sy privaat hoedanigheid het hy ook 'n aandeel gehad in die bou van die Rooms-Katolieke katedraal in Kaapstad, die Baptiste-kapel in Waalstraat en die Suid-Afrikaanse Bank.
Die Kaapse Parlementsgebou
Daar was blykbaar geen perke aan sy werkvermoë nie. Freeman was een van sewe deelnemers aan ’n wedstryd van die Kaapse departement van openbare werke vir die ontwerp van ’n nuwe parlementsgebou vir die Kaapkolonie. Hy was die enigste inwoner van die kolonie wat aan die wedstryd deelgeneem het, onder die skuilnaam Spes Bona, en is in November 1874 as wenner aangekondig en het prysgeld van 250 ghienies ontvang. Hy is dan ook vanaf 1 Januarie 1875 vir duur van die bouwerk as resident-argitek by die departement van openbare werke aangestel. Maar dié eer het op uitgerekte regs- en parlementêre geskille uitgeloop, want kort ná die hoeksteenlegging op 12 Mei 1875 deur die goewerneur sir Henry Barkly waartydens Freeman die eregas was, is daar gesê die fondament was ontoereikend en die koste sou die raming oorskry. Boukoste sou bykans £114 000 beloop, pleks van die ooreengekome £50 000. Freeman is daarvan beskuldig dat hy die koste doelbewus onderskat het. 'n Gekose komitee is aangestel om die ongerymdhede te ondersoek en die gevolg hiervan was dat Freeman in Februarie 1876 as resident-argitek ontslaan is weens nalatigheid en verswyging van inligting oor die verhoogde boukoste. Die komitee het bevind dat al die betrokkenes onbevoeg was om aan so ’n groot projek te werk. Henry Greaves het as argitek oorgeneem het nadat ’n versoekskrif aan die Kaapse Wetgewende Vergadering namens Freeman misluk het. Die parlementsgebou is eindelike in 1884 sonder sy koepel voltooi nadat die grootste deel van die gebou wel volgens die wenplan opgerig is. Blykbaar was die fondament volgens Freeman se plan nie sterk genoeg om die swaar koepel te dra nie.
Hy het die departement van openbare werke se diens in 1876 verlaat, maar sy loopbaan het geensins gely weens die debakel oor die parlementsgebou nie. Net in Kaapstad is 19 geboue opgerig of verander volgens Freeman se planne, onder meer talle kerke. Die planne vir etlike van sy geboue word bewaar in die Universiteit van Kaapstad se argitektuurbiblioteek.
In privaat praktyk
Met sy vrou, Miriam Esther Solomon, en hul tweejarige seun om te onderhou, het Freeman in 1876 met 'n privaat praktyk begin en spoedig sukses behaal met geboue soos die St. John's Round Church in Seepunt en die Metropolitan-Metodistekerk (1879) op Groentemarkplein. Terwyl hy inspeksie aan die toring van laasgenoemde kerk gedoen het, was hy in 'n ongeluk betrokke, en die feit dat hy daarna mank was, asook sekere van sy karaktertrekke, het tot verskeie staaltjies oor sy eksentrisiteite aanleiding gegee.
Die invoer van gietyster en algemene boumateriaal was 'n betalende byverdienste en saam met sy twee seuns, John en Charles, het hy in 1894 die onderneming C. Freeman & Co. Gestig, wat in 1902 met Thomas Ross saamgesmelt het en gehuisves was op 'n perseel in Strandstraat.
As argitek was Freeman veelsydig en het hy baie werk gelewer. Die Standard Bank (1883) in Adderleystraat, Kaapstad, word beskou as een van sy mooiste geboue en die NG kerk Graaff-Reinet as een van die indrukwekkendstes.
Freeman het aanvanklik aan Groentemarkplein gewoon, maar hom later gevestig in Thornhill House, wat hy in Seepunt gebou het. Hy het in dié woning gesterf.
Galery
- Die St. Peter-Metodistekerk, Pietermaritzburg, opgerig in 1864.
- Die landdroskantoor in Grahamstad se Hoogstraat. Dit is omstreeks 1890 volgens Freeman se plan opgerig.
- Die NG kerk op Sutherland.
- Die NG kerk op Worcester, waarvan Freeman die sierlike toring ontwerp het.
- Freeman was verantwoordelik vir die vergroting van die NG kerk Durbanville in 1891.
- Freeman was verantwoordelik vir die vergroting van die NG kerk Swartland op Malmesbury in 1899.
- Freeman was in 1891 verantwoordelik vir die ontwerp van die toring van die NG kerk Wellington.
- Die Ronde Kerk St. John in Seepunt waar die NG gemeente Kaapstad dienste gehou het vir lidmate wat nie wou aansluit by die NG gemeente Drieankerbaai nie. Dis in 1878 opgerig en deur talle genootskappe gebruik, maar die Kaapse stadsraad het dit in 1924 gekoop en gesloop om die pad te verbreed, ten spyte van vurige protes deur gemeentelede.
- Die poskantoor op Graaff-Reinet, opgerig volgens Freeman se plan omstreeks 1871.
- Freeman se oorspronklike plan vir die Parlementsgebou in Kaapstad.
- 'n Kleurskets, waarskynlik deur Freeman, van sy ontwerp vir die Kaapse Parlement.
- Die afdelingswinkel Garlick in Kaapstad, opgerig in 1893.
- Die Thorne & Stufford-gebou, Pritchardstraat 56, Johannesburg, opgerig van 1896-'7 toe Johannesburg skaars 10 jaar oud was.
- Adderleystraat, Kaapstad, in 1904 met Freeman se Standard Bank-gebou op die voorgrond.
- Freeman was omstreeks 1872 verantwoordelik vir die vergroting van Kaapstad se hoofposkantoor. Die gebou is ongelukkig later gesloop.
- Die Grand Hotel, Adderleystraat, Kaapstad, opgerig in 1894 volgens Freeman se plan.
Bronne
- (af) Beyers, C.J. 1987. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek deel V. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.
- (en) Potgieter, D.J. (ed.) 1972. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery (Nasou).
- (en) Biografiese besonderhede op die argitektuurwebtuiste Artefacts.co.za. URL besoek op 20 April 2015.
- (en) Besonderhede oor die Kaapse Parlementsgebou op Andrewcusack.com. URL besoek op 20 April 2015.
Verwysings
- (af) Die geskiedenis van die gemeente op sy webtuiste vertel Geargiveer 4 September 2014 op Wayback Machine. URL besoek op 28 April 2015.