Celsus-biblioteek
Die Celsus-biblioteek in Efese, Klein-Asië (Anatolië, nou Turkye), is ter ere van Tiberius Julius Celsus Polemaeanus laat bou deur sy seun, Gaius Julius Aquila (konsul, 110 n.C.). Dit is in 135 n.C. voltooi. Celsus was in 92 n.C. konsul, in 115 goewerneur van die Romeinse provinsie Asië, en ’n ryk en gewilde plaaslike inwoner.
Die biblioteek is gebou om 12 000 perkamentrolle te hou en as monument-graftombe vir Celsus. Dit was destyds ongewoon om in ’n biblioteek of selfs binne die stadsgrense begrawe te word, en dus was dit ’n spesiale eer vir Celsus.
Geskiedenis
Die gebou is belangrik as een van die min oorblywende voorbeelde van antieke Romeinse biblioteke. Dit wys ook dat openbare biblioteke nie net in Rome gebou is nie, maar deur die hele Romeinse Ryk. In ’n groot restourasie wat beskou word as baie getrou aan die historiese gebou, is die fasade herbou; dit dien nou as ’n uitstekende voorbeeld van Romeinse argitektuur vir openbare geboue.
Die gebou is ’n enkele saal wat oos wys sodat vroeë besoekers kon baat vind by die opkomende son. Dit is op ’n platform gebou met nege trappe net so breed soos die res van die gebou, en dié lei na drie ingange. Die middelste ingang is groter as die twee weerskante daarvan, en almal het vensters aan die bokant. Langs die ingange is vier pare kolomme wat op voetstukke staan. ’n Ander stel kolomme staan bo-op die eerstes. Die kolomme op die tweede verdieping omraam die vensters nes die onderste pilare die deure omraam, en hulle skep nisse wat moontlik standbeelde gehuisves het.
Hierdie soort fasade met rame en nisse vir standbeelde stem baie ooreen met die verhoë van antieke Griekse teaters.
Binne was daar ’n enkele reghoekige kamer (wat nie ten volle gerestoureer is nie) van 11 meter lank met ’n sentrale apsis teen die verste muur. ’n Standbeeld van Celsus of van Atena, die godin van die waarheid, het in die apsis gestaan.[1] Celsus se grafkelder is reg daaronder. Teen die ander drie mure was reghoekige inhamme waarin kaste gestaan het wat die 12 000 perkamentrolle gehou het.
Die tweede en derde vlakke kon bereik word met ’n trap wat in die muur gebou is om die gebou te help steun. Dit het ook inhamme vir boekkaste gehad. Die plafon is plat, en daar was dalk ’n ronde venster in om nog lig in te laat.
Verwysings
- Boethius, Axel; Ward-Perkins, J.B. (1970). Etruscan and Roman Architecture: The Pelican History of Art. Harmondsworth: Penguin. p. 397. ISBN 978-0-300-05290-9.
- Grant, Michael (1995). Art in the Roman Empire. Londen: Routledge. pp. 48–50. ISBN 978-0-415-12031-9.
- Robertson, D.S. (1964). Greek and Roman Architecture. Londen: Cambridge University Press. pp. 289–290. ISBN 978-0-521-09452-8.
Eksterne skakels
- fotopedia.com Geargiveer 31 Augustus 2010 op Wayback Machine, foto's
- architecture.about.com, argitektuur, geskiedenis, foto's
- ephesus.us, geskiedenis, foto's
- Hierdie artikel is vertaal vanuit die Engelse Wikipedia