Burgerwaghuis
Die Burgerwaghuis aan die Groentemarkplein in Kaapstad dateer uit die middel van die 18de eeu. Sedert 1913 huisves dit die Michaelis-versameling. Omdat die gebou 'n goeie verteenwoordiger van die 18de eeuse boustyl aan die Kaap is, en vir boonop meer as 100 jaar die administratiewe sentrum van Kaapstad was en dus 'n simbool van die ontwikkeling van plaaslike bestuur in Suid-Afrika is, is dit in 1939 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Hierdie artikel behoort versmelt te word met Ou Dorpshuis.
Maak seker om die inhoud te skuif na die bladsy wat reeds aan Wikidata gekoppel is!
Indien altwee gekoppel is, sien hier.
Soos die dorp Kaapstad gegroei het, het die pligte van die plaaslike bestuur toegeneem. In 1716 is op 'n oop erf langs die Groentemarklein 'n huis vir die Burgerwag opgerig. Dit was gou te klein en in 1755 is die hoeksteen van 'n doeltrefffende gebou gelê. In 1761 was dit voltooi, nadat geld van die kerk en individue geleen is. Hierdie mooi gebou in 'n effens oordrewe barokstyl het die aansien van Kaapstad vergroot. Veral die vooraansig was treffend, maar tog is dit tydens die Bataafse bewind effens gewysig toe o.a. die stadswapen aangebring is. 'n Paar jaar later is die kloktorinkie waarskynlik deur meesterbouer Herman Schütte opgerig. Tydens die aardbewings van 1809 en 1811 het die siervase van die gewel afgeval en is dit vervang met 'n balkon en 'n reling.
Van 1761 tot 1795 het die Burgerwag en die drie raadslede (vanaf 1786 ses lede) die huis gebruik vir die uitvoering van hul munisipale pligte. Tussen 1796 en 1827 was dit die setel van die Burgersenaat. Met die eerste Britse besetting word die Burgerrade 'n ware munisipaliteit en die Burgerwaghuis word gaandeweg die stadhuis. Tydens die Bataafse bewind onder J.A.U. de Mist het die Burgersenaat hier vergader en is die publiek toegespreek en openbare verklarings gedoen vanaf die balkon. Die klok in die torinkie het die mense bymekaar geroep. Toe die Burgersenaat afgeskaf is, was die landdroshof en die polisie in die gebou gehuisves. Met die amptelike verlening van munisipale status aan die stad Kaapstad, word die Burgerwaghuis die eerste Stadhuis. In 1905 bou die stad 'n nuwe stadhuis en die Ou Stadhuis is vir 'n tyd lank nie en later min gebruik, totdat die sakekamer en professionele, wetenskaplike en letterkundige verenigings dit vir vergaderings begin gebruik. Op die grondvlak is 'n biblioteek ingerig.
In 1913 kry die argitek J.M. Solomon die opdrag om die gebou in 'n kunsgalery te omskep.
Bibliografie
- Duncan, Paul en Alain Proust: Hidden Cape Town. Kaapstad: Struik, 2013. ISBN 978-1-43170-299-2
- Oberholster, J.J.: Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972. ISBN 0-620-00191-7
- Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 2. Kaapstad: Nasou, 1970.