Britz

Britz is 'n stadsbuurt in die Duitse hoofstad Berlyn se administratiewe distrik Neukölln wat bekend staan vir sy uitsaaifasiliteit van Deutschlandradio (vroeër RIAS/Rundfunk im amerikanischen Sektor), die Hoefyster-woonbuurt, 'n wegwysende behuisingsprojek uit die 1920's, en die sogenaamde Gropiusstadt, 'n uitgestrekte woonbuurt met woonstelblokke wat in 2002 'n aparte stadsbuurt in Neukölln geword het.

Britz
Stadsdeel
Die Hoefyster-woonbuurt
Die Hoefyster-woonbuurt
Ligging in Berlyn
Ligging in Berlyn
Koördinate: 52°27′0″N 13°26′0″O
LandVlag van Duitsland Duitsland
DeelstaatBerlyn
DistrikNeukölln
Eerste verwysing1237
Oppervlak
  Totaal12,4 km2 (4,8 vk. myl)
Hoogte
52 m (171 ft)
Bevolking
  Totaal41 928
  Digtheid3 381/km2 (8 760/vk. myl)
TydsoneUTC+1:00 (MET)
  SomertydUTC+2:00 (MEST)
Poskode
12347, 12359
Skakelkodes030

Die bevolking van Britz was 41 928 op 30 Junie 2016.

Geskiedenis

Die kasteel Britz

Die eerste historiese verwysing na die destydse dorp Britzig dateer uit die jaar 1237, terwyl dit in die Landbuch van keiser Karel IV Briczik genoem word. Onder sy besitter Otto von Britzke is die dorp tot riddergoed verklaar.

In 1920 is die landelike munisipaliteit Britz met sy 13 475 inwoners by Berlyn se administratiewe distrik Neukölln ingesluit.

Argitektuur en besienswaardighede

'n Lugfoto van die Britzer Garten
Hoefysterbuurt (1925-1930)
Geïnspireer deur die Berlynse Hoefysterbuurt: St Andrews Gardens in Liverpool, Verenigde Koninkryk

Historiese veldsteenkerk

Die historiese dorpskerk van Britz

'n Belangrike argitektoniese besienswaardigheid in Britz se historiese dorpskern is die veldsteenkerk wat uit 1250 dateer. Nadat die kerk in 1948 deur 'n brand verwoes is, is dit deur die kunstenaar Charles Crodel van glasskilderye voorsien. Die dorpskerk maak net soos die historiese boerdery met sy perde- en ossestal deel uit van die plaaslike riddergoed. Die kasteel Britz met sy tuin het oorspronklik as woning van die Britzke-gesin gedien. Die gebou is in die 15de eeu opgerig, maar later deur 'n brand vernietig. Die huidige herehuis is deur veldmaarskalk Van Erlach opgerig en in 1880 volgens 'n ontwerp van Julius Wrede in die Nuwe Renaissance-styl herbou en van 'n toring voorsien.

Windmeul

Die Britzer Mühle is 'n windmeul in die Hollandse styl. Die gebou uit die jaar 1863 is in 1985 ter geleentheid van die Federale Tuinskou volledig gerestoureer en is as 'n historiese monument nog steeds in bedryf.

Hoefysterbuurt

In die vroeë 20ste eeu het nuwe woonbuurte in Britz ontstaan. Die Ideal-woonbuurt dateer uit 1907. Die Hoefyster-woonbuurt het tussen 1925 en 1933 volgens 'n ontwerp van die bekende argitekte Bruno Taut en Martin Wagner as een van die eerste bouprojekte volgens Berlyn se na-oorlogse sosiale behuisingsplan ontstaan. Die naam verwys na die sentrale reeks geboue in die vorm van 'n hoefyster. Die woonbuurt is net soos die markplein van Britz-Suid 'n historiese monument en deur Unesco in Julie 2008 saam met ander Berlynse behuisingskema's uit die 1920's tot wêrelderfenisgebied verklaar.[1]

Die Berlynse Hoefysterbuurt het as voorbeeld vir 'n soortgelyke behuisingsprojek, St Andrews Gardens in Liverpool in die Verenigde Koninkryk, gedien. John Hughes, assistent van die destydse Liverpoolse direkteur van behuising, Lancelot Keay, was tydens 'n besoek, wat hy in 1931 aan Berlyn gebring het, só beïndruk van Bruno Taut en Martin Wagner se ontwerp dat hy 'n D-vormige woonstelblok met vyf verdiepings, wat rondom 'n binnehof ontstaan het, in Liverpool laat oprig het. Die blok is in 1935 voltooi.[2]

Britzer Garten

Die Britzer Garten, 'n uitgestrekte park, is ter geleentheid van die Federale Tuinskou in 1985 aangelê en was destyds as 'n ontspanningsgebied vir die bevolking in die suidooste van Wes-Berlyn beplan, wat deur die grens met die DDR van die omliggende landelike gebiede afgesny was. Die park het 'n oppervlakte van 90 hektaar en verbind natuur en tuinboukuns (met rose- en rhododendrontuine), "speellandskappe" vir kinders en uitgestrekte grasvelde, argitektuur en kuns (in die Karl-Foerster-pawiljoen), mere en heuwels en blommevelde met mekaar. Die restourant by die Kalender-plein pronk met die - na bewering - grootste sonhorlosie in Europa.

Historiese veldtrein

Die Britzer Museumsbahn, 'n historiese veldtrein met 'n spoorwydte van 600 millimeter, dien as die belangrikste vervoermiddel in die park. Dwarsdeur die jaar word in die park feeste soos die Midsomerfees in Junie, jazz- en klassieke opelug-konserte en vuurwerke aangebied.

Die uitsaai-fasiliteit van RIAS en Deutschlandradio

Die Amerikaanse militêre administrasie het vir sy nuutgestigte radiostasie RIAS (Rundfunk im amerikanischen Sektor / Radiokorporasie in die Amerikaanse sektor) in 1946 'n uitsaai-fasiliteit in Britz opgerig. Aanvanklik is gebruik gemaak van eenvoudige radiomaste, wat in 1948 deur die huidige staalmaste met 'n hoogte van 100 meter vervang is. Hulle is later verhoog tot 160 en 144 meter.

Vanaf 1949 is kortgolf-radioprogramme vanuit Britz uitgesaai. In 1978 is 'n mediumgolf-uitsaai-antenne bygevoeg, wat veral snags die opvangs van RIAS se Duitstalige program in die gebied van die Duitse Demokratiese Republiek (Oos-Duitsland) verbeter het. Die radiogolwe is destyds steil in die ionosfeer uitgesaai, sodat die Oos-Duitse stoorsenders die opvangs van die westelike program nie meer kon belemmer nie.

Die fasiliteite word tans deur Deutschlandradio gebruik, Duitsland se nasionale radioprogram.[3]

Verwysings

  • Hierdie artikel, of gedeeltes daarvan, is uit die volgende Wikipedia-artikel vertaal: Britz
  1. www.spiegel.de: Siedlungen der Berliner Moderne sind Weltkulturerbe
  2. Charles O'Brien: Houses - An Architectural Guide. New Haven and London: Yale University Press 2016, bl. 168
  3. "www.dradio.de: RIAS Berlin". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Mei 2008. Besoek op 8 Julie 2008.

Bronne

Geskiedenis en argitektuur

RIAS

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.