Boston

Boston [ˈbɒstən] is 'n stad aan die Atlantiese kus in die Verenigde State van Amerika. Dit is die administratiewe sentrum en die grootste stad van sowel die deelstaat Commonwealth of Massachusetts asook die Nieu-Engeland-streek in die noordoostelike Verenigde State met 'n geskatte bevolking van 673 184 in 2016. Boston word as die ekonomiese en kulturele sentrum van Nieu-Engeland beskou en vorm ook die middelpunt van die metropolitaanse gebied van Groter Boston wat stede soos Cambridge en Quincy insluit en met 'n bevolking van 4,5 miljoen die 11de grootste demografiese sentrum van die VSA vorm.

Sunset Parade tydens die Boston Navy Week in 2012 – een van die hoogtepunte van die tweehonderdjarige herdenking van die Brits-Amerikaanse Oorlog van 1812
'n Uitsig oor Back Bay en die Charlesrivier vanaf Longfellow-brug

Boston

Kaart Wapen
Vlag
 Land Verenigde State
 Deelstaat Massachusetts
 Koördinate 42°21′N 71°03′W
 Gestig op 17 September 1630
 Geïnkorporeer op 4 Maart 1822
 Oppervlakte:  
 - Totaal 232,1 vk km
 - waarvan land 125,4 vk km
 Hoogte bo seevlak 43 m (gem.)
 Bevolking:  
 - Totaal (sensus-skatting 2020) 675 647
 - Bevolkingsdigtheid 5 396/vk km
 - Stedelik 4 382 009
 - Metropolitaanse gebied 4 941 632
 Tydsone EST (UTC -5)
Somertyd: EDT (UTC -4)
 Klimaat  
 - Tipe Kontinentale klimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 10,7 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 2,0 / 28,0 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 1090 mm
 Burgemeester Marty Walsh (D)
 Amptelike Webwerf www.cityofboston.gov

Die stad, wat in 1630 deur Engelse Puriteine van die Massachusetts Bay Company op die Shawmut-skiereiland gestig is, het in die laat 18de eeu 'n beduidende rol tydens die Amerikaanse Rewolusie gespeel. Net soos die Boston-slagting (Boston Massacre, 1770) en die Boston-teeparty (Boston Tea Party, 1773) het ook verskeie vroeë slagte van die Rewolusionêre Oorlog soos die Slag van Bunker Hill en die Beleg van Boston hier en in die nabye omgewing plaasgevind. In die tydperk tussen 1830 en 1865 was Boston die sentrum van die Amerikaanse anti-slawerny-beweging.

Ná die Amerikaanse onafhanklikheid het Boston tot 'n belangrike handelshawe en nywerheidsentrum ontwikkel. Boston het op verskeie terreine die voortou geneem en was byvoorbeeld die eerste Amerikaanse stad met 'n openbare skool (die Boston Latin School in 1635), 'n kollege (Harvard College in 1636 in die buurstad Cambridge) en 'n moltreinstelsel.

Vanaf die 19de eeu het Boston as 'n sentrum van kunste en geleerdheid gefloreer wat aan die stad die bynaam "Athene van Amerika" besorg het. 'n Verskeidenheid museums, biblioteke en simfonie-orkeste is in dié tyd gestig wat steeds 'n sentrale rol in Boston se kulturele lewe speel en aangevul word deur 'n lewendige moderne musiek- en kunsbedryf. Invloedryke akademiese instellings verseker dat Boston se leefstyl eerder deur innovatiewe kuns en argitektuur as deur geld of politiek gedryf word.[1] Die stad se ryk historiese en kulturele erfenis lok jaarliks meer as 16 miljoen toeriste.

Danksy landaanwinningsprojekte en die inlywing van aangrensende nedersettings het Boston buite die skiereiland uitgebrei. Met sy talle kolleges en universiteite in die stads- en aangrensende gebiede is Boston vandag 'n sentrum vir hoër onderwys en gesondheidssorg. Die plaaslike ekonomie steun op navorsing, finansiële dienste en tegnologie (waaronder veral biotegnologie). As gevolg van sy opknappingsprogram het Boston talle stadsbuurte gerestoureer, maar tegelykertyd tot 'n stad met relatief hoë lewenskoste ontwikkel – veral nadat die beperking van huurvlakke deur owerheidsliggame in die 1990's gestaak is.

Baie mense meen die stad is minder raserig en meer ontspanne as ander Amerikaanse stede. Dit is bekend vir sy mooi ou baksteengeboue (Boston brownstones). In en om Boston is daar vele beroemde universiteite en kolleges, onder meer Harvard en die Massachusetts Institute of Technology (MIT).[2]

Geografie

Die middestad van Boston in Oktober 2015
Brownstone-huise, soos dié in Back Bay, is van die mees gesogte eiendomme in Boston
'n Venesiaanse droomwêreld as kunsmuseum - Isabella Stewart Gardner Museum (binnehof)

As gevolg van sy vroeë stigting beslaan die stadsgebied van Boston in vergelyking met die meeste ander Amerikaanse metropole slegs 'n relatief klein oppervlakte van 232,1 vierkante kilometer (waarvan slegs 125,4 vk km land is). Van stede met 'n vergelykbare bevolking is net San Francisco en Washington, DC kleiner.

Volgens amptelike statistieke lê Boston – soos gemeet by die Internasionale Logan-lughawe – 5,8 meter bo seevlak. Bellevue Hill is die hoogste punt in die stadsgebied met 101 meter, terwyl die laagste punt op seevlak lê. Die topografie van Boston word deur die Charlesrivier oorheers wat in die Bostonhawe uitmond en Boston van sy buurstad Cambridge skei.

Boston word deur die Groter Bostongebied omring en grens aan stede soos Winthrop, Revere, Chelsea, Everett, Somerville, Cambridge, Watertown, Newton, Brookline, Needham, Dedham, Canton, Milton en Quincy.

Groot dele van plekke soos Back Bay en South End het eers ná landwinningsprojekte ontstaan – hiervoor is die hele rotsinhoud van twee van Boston se vroeëre drie heuwels (die "Trimount") gebruik, en net die kleinste van die oorspronklike heuwels, Beacon Hill, het gedeeltelik bewaar gebly aangesien net sowat die helfte van sy vroeëre hoogte vir landwinning afgegrawe is.

Die stadskern en sy onmiddellike omgewing word deur laeverdieping baksteen- of klipgeboue oorheers waarvan baie ouer geboue in die sogenaamde Federal style-argitektuur ontwerp is. Verskeie van hierdie historiese geboue meng met moderne wolkekrabbers, veral in die Finansiële Distrik, die Regeringsentrum, langs die waterfront van Suid-Boston en in Back Bay wat met talle bekende bakens soos die openbare biblioteek van Boston, die Christian Science Center met die moederkerk van die Church of Christ, Scientist, Copleyplein, Newburystraat en die twee hoogste geboue van Nieu-Engeland, die John Hancocktoring en die Prudentialtoring pronk. Kleiner sakegebiede is tussen woonhuise geleë. Die historiese South End-distrik is tans die grootste Victoriaanse kwartier in die VSA wat volledig bewaar gebly het.[3]

Klimaat

Herfskleure: Boston tydens die Indian summer

Boston is 'n streek geleë waar twee weerspatrone ontmoet – lugmassas uit die gebied van die Groot Mere en Kanada aan die een en gematigde lugstromings uit die Golfstroomgebied van die Atlantiese Oseaan aan die ander kant lei tot baie wisselvallige weer. Die klimaat in die stadsgebied kan ondanks Boston se ligging as kontinentaal en vogtig geklassifiseer word. September en Oktober word deur sonnige weer en baie blou-hemeldae gekenmerk, met oggende en aande wat al koeler raak, maar warm namiddae. Warmer weer kan tot in November voorkom en staan as Indian summer bekend.

Alhoewel daar in vergelyking met ander gebiede in die oostelike Verenigde State met 104 sentimeter relatief min sneeuvalle (met enkele sneeustorms) aangeteken word, kan winters in Boston nogal baie koud raak. Lentetyd kan soms kort wees voordat Boston bedompige, warm weer beleef. Die stad is daarnaas winderiger as byvoorbeeld Chicago en kry meer neerslae as Seattle.[4]

Verwysings

  1. Mara Vorhees: Lonely Planet Boston City Guide. 6de hersiene uitgawe. Lonely Planet 2015, bl. 5
  2. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  3. "South End Historical Society". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Februarie 2007. Besoek op 20 Maart 2008.
  4. Kim Grant: Boston. Footscray, Victoria (AUS): Lonely Planet 2000, bl. 22

Eksterne skakels

Museums

Vlag van die Verenigde State Hoofstede van die Verenigde State Seël van die Verenigde State
HoofstedeAlbanyAnnapolisAtlantaAugustaAustinBaton RougeBismarckBoiseBostonCarson CityCharlestonCheyenneColumbiaColumbusConcordDenverDes MoinesDoverFrankfortHarrisburgHartfordHelenaHonoluluIndianapolisJacksonJefferson CityJuneauLansingLincolnLittle RockMadisonMontgomeryMontpelierNashvilleOklahoma CityOlympiaPhoenixPierreProvidenceRaleighRichmondSacramentoSaint PaulSalemSalt Lake CitySanta FeSpringfieldTallahasseeTopekaTrenton
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.