Bolsjewis

Die Bolsjewiste (Russies: большевики, большевисты, afgelei van die woord bolsje, "meer") was ’n faksie van die Marxistiese Russiese Sosiaal-Demokratiese Arbeidersparty (RSDAP). Dit het ontstaan toe die party geskeur het; die ander faksie was die Mensjewiste (afgelei van mensje, "minder"). Die skeuring het plaasgevind op die tweede partykongres in 1903. Die Bolsjewiste het later die Kommunistiese Party van die Sowjetunie geword.[1] Die Bolsjewiste het die bewind in Rusland oorgeneem tydens die Oktober-rewolusie, wat deel was van die Russiese Rewolusie (1917) en het die Sowjetunie in 1922 gestig ná die Russiese Burgeroorlog.

’n Vergadering van die Bolsjewiste; Wladimir Lenin is heel regs
Boris Koestodijef se 1920-skildery Die Bolsjewis

Die Bolsjewiste (of "die Meerderheid") was ’n organisasie van professionele rewolusionêre met ’n streng interne hiërargie wat hulself beskou het as ’n voorhoede van die rewolusionêre proletariaat. Die party is gestig deur Wladimir Lenin, onder wie se leiding die Oktober-rewolusie plaasgevind het.

Die skeuring

Op die tweede kongres van die RSDAP, wat in Augustus 1903 in Brussel en Londen gehou is, was daar groot meningsverskille tussen Lenin en Julius Martof, tot in dié tyd ’n groot vriend van Lenin. Hulle kon nie hul verskille bylê nie en die party het in twee faksies geskeur [2] Lenin was die leier van die Bolsjewiste en Martof van die Mensjewiste.

Die twee faksies het in 1903–1904 voortdurend verander soos wat talle lede heen en weer oorgeloop het. Die Bolsjewiste het ’n relatief klein rol gespeel in die rewolusie van 1905 en was ’n minderheid in die Sint Petersburg-sowjet van Werkerafgevaardigdes wat deur Leon Trotsky gelei is. In die minder belangrike Moskou-sowjet was hulle egter die meerderheid. Hierdie twee sowjets het die model geword waarop ander sowjets in 1917 gestig is.

Die twee faksies het in Januarie 1912 finaal bande verbreek toe die Bolsjewiste ’n partykongres in Praag gereël het net vir hul eie lede. Hulle het die Mensjewiste finaal uit die party geskors en ’n onafhanklike party gestig met die naam RSDAP (Bolsjewiste).

Politieke filosofie

Die Bolsjewiste het die party georganiseer met ’n sterk gesentraliseerde hiërargie en hul doel was om die tsaar se bewind omver te werp en die mag oor te neem. Die party het gewoonlik geweier om saam te werk met liberale en radikale partye (wat hulle "bourgeois") genoem het of later selfs met ander sosialistiese organisasies, hoewel Lenin soms taktiese bondgenootskappe aangegaan het.

Van Bolsjewisme na Kommunisme

Onder Lenin en Stalin was die woorde Bolsjewisties en Kommunisties sinoniem en die amptelike naam van die party was die Kommunistiese Party (Bolsjewiste). In 1952, by die XIX Partykongres, het Stalin egter verklaar dat hulle nie meer die bolsjewiste (meerderheid) is nie, maar die hele party. Die party is hernoem na die Kommunistiese Party van die Sowjetunie.

Verwysings

Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel en:Bolshevik
  1. Ná die skeuring het die Bolsjewiste hulself RSDAP(b) (Russies: РСДРП(б)) genoem, waar "b" staan vir "Bolsjewiste". Kort nadat hulle in November 1917 die bewind oorgeneem het, het die party sy naam verander in die Russiese Kommunistiese Party (Bolsjewiste) (РКП(б)), algemeen bekend as die Kommunistiese Party. Eers in 1952 het die party die woord "Bolsjewiste" uit sy naam verwyder.
  2. Israel Getzler. Martov: A Political Biography of a Russian Social Democrat, Cambridge University Press, 2003 (eerste uitgawe 1967), ISBN 0-521-52602-7 p.78

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.