Boeing 767

Die Boeing 767 is 'n middelslag, lang reikafstand, tweemotorige wyerompstralervliegtuig wat deur Boeing Commercial Airplanes gebou word. Dit was die vervaardiger se eerste wyeromp tweemotorige vliegtuig en sy eerste vliegtuig met 'n twee-bemanning gerekenaariseerde stuurkajuit, die sogenaamde glass cockpit.

Boeing 767
Boeing 767-300 van Delta Air Lines styg op
Tipe Wyeromp-stralervliegtuig
Vervaardiger Boeing Commercial Airplanes
Ontwerp deur Boeing Commercial Airplanes
Nooiensvlug 26 September 1981
Vrygestel 8 September 1982 met United Airlines
Status In gebruik
Hoofgebruikers Delta Air Lines
American Airlines, United Airlines en All Nippon Airways
Vervaardig 1981-huidig
Aantal gebou 1 259 teen September 2022[1][2]
Eenheidskoste 767-300ER: VS$185.8 miljoen (2013)[3]
Weergawes Boeing KC-767

Ontwerp en uitleg

Die vliegtuig het twee turbowaaierenjins, 'n konvensionele stert, en vir verminderde lugsleur, 'n kritiese vlerkontwerp. Dit is ontwerp as 'n kleiner wyerompvliegtuig as vroeër vliegtuie soos die 747 en bied sitplek vir 181 tot 375 persone en 'n verskeidenheid van binne-ontwerpe in. Dit is ontwerp vir 'n reikafstand van 7 130 tot 11 825 km (3 850 tot 6 385 seemyl), afhangende van die variant. Die 767 is sy-aan-sy ontwikkel met 'n smalromptweemotorige model, die 757, die twee modelle se gedeelde ontwerpeienskappe maak dit moontlik dat vlieëniers 'n algemene-tipe gradering kan ontvang om beide vliegtuie te mag bedryf.

Reekse

Die 767 word in drie romplengtes vervaardig. Die oorspronklike 767-200 word in 1982 in gebruik geneem, gevolg deur die 767-300 in 1986 en die 767-400ER, 'n uitgebreide reeksvariant, in 2000. Die uitgebreide reeks 767-200ER- en 767-300ER-modelle tree in diens in 1984 en 1988 onderskeidelik, terwyl die vragweergawe, die 767-300F, sy debuut in 1995 maak. Omskakelingsprogramme het passasiers-767-200 en 767-300-reeksvliegtuie verander om dit vir vrag te gebruik, terwyl die militêre tuie die E-767 toesigvliegtuie insluit, die KC-767 en KC-46 lugtenkers en VIP-vervoer. Enjins wat op die 767 gemonteer is sluit die General Electric CF6, Pratt & Whitney JT9D, Pratt & Whitney PW4000 en Rolls-Royce RB211 turbowaaiers in.

Gebruik

United Airlines was in 1982 die eerste redery om die 767 in kommersiële diens te plaas. Die vliegtuig is aanvanklik op plaaslike en transkontinentale roetes gebruik, waartydens dit die betroubaarheid van sy tweemotorige uitleg bevestig het. In 1985 was die 767 die eerste tweemotorige vliegtuig om wetlike goedkeuring vir lang oorsese vlugte te ontvang. Die vliegtuig is toe gebruik om geenstopdienste op medium- tot langafstand interkontinentale roetes uit te brei. In 1986 het Boeing studies begin oor 'n hoërkapasiteit 767, wat uiteindelik gelei het tot die ontwikkeling van die 777, 'n groter wyeromptweemotorige passasierstraler. Teen die 1990's was die 767 die mees gebruikte vliegtuig vir transatlantiese vlugte tussen Noord-Amerika en Europa.

Bestelboek

Die 767 was die eerste wyeromptweemotorige vliegtuig om 1 000 aflewerings te behaal.[1][2] Tot en met Desember 2013 het Boeing 1 110 bestellings vir die 767 van 71 kliënte ontvang; waarvan reeds 1 089 afgelewer is. 'n Totaal van 838 van hierdie vliegtuie was in diens gewees teen Julie 2012, waarvan die gewildste variant die 767-300ER was met 582 afgelewer. Delta Air Lines is die grootste operateur met 94 vliegtuie. Mededingers van die 767 sluit in die Airbus A300, A310 en A330, terwyl Boeing se opvolger, die 787 Dreamliner, in Oktober 2011 in diens gestel is.

Galery

Beweeg u muis oor die foto vir byskrif

Verwysings

  1. "Boeing: Orders and Deliveries (updated monthly)". The Boeing Company. 30 September 2022. Besoek op 11 Oktober 2022.
  2. "767 Model Summary (orders and deliveries)". Boeing. Julie 2020. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Desember 2015. Besoek op 11 Augustus 2020.
  3. "Boeing Commercial Airplanes Jet Prices" (in Engels). Boeing. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Maart 2013. Besoek op 8 Augustus 2012.


Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.
   
Klik vir info oor hierdie sjabloon.
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.