Bloukransmoorde

Die Bloukransmoorde of Bloedbad van Weenen was ’n slagting op 17 Februarie 1838 waarin ’n groot aantal Voortrekkers deur Zoeloekrygers vermoor is. Die slagting is vernoem na die Bloukransheuwel in hedendaagse KwaZulu-Natal, Suid-Afrika.

Zoeloe-aanval op ’n Boerelaer

Na die lokval-moord op Piet Retief en 70 ander Voortrekkers op 6 Februarie 1838 deur die Zoeloekoning Dingaan, het Dingaan sy magte opdrag gegee om die laers van die ander Voortrekkers te gaan aanval en uit te wis. Die Voortrekkers was onbewus van die moord op Retief, dog Maritz het onrustig geraak en die groepe op ’n Zoeloe-aanval probeer voorberei. Die Voortrekkers was in klein groepies langs die Tugelarivier en sy sytakke in ’n ry van omtrent 24 myl gegroepeer. Hoewel Piet Retief voor sy vertrek, en ook die Voortrekkerleier Gerrit Maritz, ter wille van veiligheid, die Trekkers gemaan het om in groot laers te bly, was daar praktiese redes waarom baie Trekkers nie aan die oproep gehoor gegee het nie. Die saamleef van ’n groot groep mense in ’n laer was moeilik – veral met betrekking tot sanitasie, die tekort aan brandhout en ’n tekort aan weiveld vir troppe tot so groot as 25 000 stuks vee.

Op 16 Februarie het die Zoeloemag die laers soos spookgestaltes bekruip. Die Trekkers – onbewus daarvan dat hulle van die oewers van die Tugela bespied word – het doodgewoon met hulle dagtake voortgegaan.

Om een uur die oggend van 17 Februarie 1838, het 10 000 Zoeloes op die Voortrekkers toegesak. Dit was donkermaan en die Trekkers het eers besef wat aangaan toe die Zoeloes op en tussen hulle was. Die voorste Trekkers is oorval en almal uitgemoor.

Nie minder nie as 532 diensbodes en veewagters, 41 Voortrekkermans, 56 vroue en 185 kinders is daardie nag op bloeddorstige wyse vermoor, hul liggame vermink en stapels goedere is verbrand.

Weenen, ’n naburige dorpie, is so genoem ter herdenking aan die treurspel. Gerrit Maritz se oorskot is op die plek herbegrawe waar die monument staan.

In 2013, 175 jaar na die slagting het die FAK die gebeure gedenk met ’n diens onder leiding van dr. Danie Langner.[1]

Die monument

Die Bloukransmonument staan op die oorspronklike plaas Bochim by die sameloop van die Bloukransrivier en Moordspruit. Die Hattingh-gesin, wat vermoedelik die eienaars van die plaas was, het in 1895 die stuk grond waarop die monument staan aan die NG Kerk in Natal geskenk. Die kerk in Natal het ’n kommissie onder voorsitterskap van ds. A.M. Murray, en A.W.J. Pretorius, C.J. Labuschagne, F.I. de Waal, C. Bester, J. van der Westhuizen en Gert van Rooyen as lede, aangewys om voorbereidings te tref vir die oprigting van ’n monument.[2]

Kommandant-generaal Piet Joubert van die ZAR het in die Transvaal steun gewerf vir die oprig van ’n monument, en het ook gehelp om fondse daarvoor in te samel. Op 16 Februarie 1985 het hy dan ook die hoeksteenlegging van die monument waargeneem, en die stoflike oorskot wat uit graftes opgegrawe is, is onder die hoeksteen ingemessel en die inskripsie op die hoeksteen is: Gelegd door P. J. Joubert, Kommandant-Generaal Z.A.R. 1895.[2]

Die obelisk van marmer is ongeveer 7 meter hoog en staan op ’n voetstuk van klip. Die obelisk is deur prof. Nicilo van Carrara in Italië (wat bekend is vir die wit marmer wat daar uit ’n steengroef gehaal word) gemaak. Die monument is op Woensdag 17 Februarie 1897 onthul toe ’n groot skare op die terrein bymekaar was. Daar is al van Vrydagaand die 12de ’n reeks eredienste gehou en die Saterdagoggend het ’n kleinseun van Andries Pretorius die biduur gelei. Die feesrede is gevoer deur ds. G.F. Marais van Vryheid en hy het Psalm 97:1 as teks gebruik. Die monument is deur sir Walter Hely-Hutchinson, Goewerneur van Natal, onthul. In die Staatskoerant van 7 Mei 1937 is die monument tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.[3] In 2002 het die sinode van die NG Kerk in KwaZulu-Natal die eiendom aan die Erfenisstigting oorgedra.

Dit is een van die oudste Voortrekkermonumente in Suid-Afrika.[2]

Die teks op die monument lui soos volg:

Aan die noordekant:
Opgericht
door de Afrikaners in Natal
in ootmoedige erkentenis
17. Februarie 1897.
“Die zijn volk door de woestijn geleid
heeft want zijne goedertierenheid is
in der eeuwigheid.” Psalm CXXXVI.XVI.

Aan die suidekant:
Ter gedachtenis
aan de Voortrekkers
te Moordspruit vermoord
Zij kochten ons land met hun bloed
17. Februarie 1838.
“De Heere regeert.” Psalm XCIX.I.

Galery

Sien ook

Verwysings

  1. Meiring, Leana (18 Februarie 2013). "Bloukrans: Voortrekker massacre in 1838 remembered". The Witness. Besoek op 19 Desember 2022.
  2. Kapp, Pieter H. (1989). "Bloukrans". In M.J. Swart (red.). Afrikanerbakens. Aucklandpark: FAK. ISBN 0620129794.
  3. "Goewermentskennisgewing 702" (PDF). Staatskoerant. Suid-Afrikaanse Regering. 7 Mei 1937. p. 374.

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.