Bisantynse Ryk

Die Bisantynse Ryk (Grieks: Βυζαντινή Αυτοκρατορία, amptelik steeds Βασιλεία τῶν Ῥωμαίων "Keiserryk van die Romeine", eietyds kort Romania of Ῥωμανία genoem), dikwels kort Bisantium (Grieks: Βυζάντιο[ν]) of, vanweë sy historiese oorsprong, die Oos-Romeinse Ryk, was 'n keiserryk in die oostelike Mediterreense gebied. Dit het in die laat Oudheid ná die verdeling van die Romeinse Ryk in 395 uit sy oostelike helfte ontstaan en het met die Osmaanse verowering van Konstantinopel op 29 Mei 1453 ondergegaan.

Imperium Romanum
Βασιλεία Ῥωμαίων
Basileía Rhōmaíōn

Oos-Romeinse Ryk
Bisantynse Ryk

330  1453
Vlag Wapenskild
Vlag Wapen
Ligging of Bisantynse RykΒυζάντιο[ν]Byzantium
Ligging of Bisantynse Ryk
Βυζάντιο[ν]
Byzantium
Die Bisantynse Ryk in sy grootste uitbreiding in 555 onder keiser Justinianus I.
Hoofstad Konstantinopel
Taal/Tale Latyn (tot 620)
Grieks (ná 620)
Godsdiens Oosters-Ortodokse Kerk
Regering Monargie
Wetgewer Senaat
Historiese tydperk Middeleeue
 - Stigting van Konstantinopel11 Mei 330
 - Ottomaanse verowering van Konstantinopel29 Mei 1453
Bevolking
 - 4de eeu skatting34 000 000 
Geldeenheid Solidus
Hyperpyron
rmn-military-header.png

Stigting van Rome
Romeinse monargie
Romeinse Republiek
Romeinse Keiserryk
Wes-Romeinse Ryk
Oos-Romeinse Ryk

Deel van 'n reeks oor die
Geskiedenis van Griekeland
Kaart van Griekeland
Griekse Bronstydperk
EgeïesHelladiesSikladiesMinoïesMiceens
Antieke Griekeland
Donker eeueArgaïesKlassiekHellenistiesRomeins
Middeleeuse Griekeland
BisantynsFrankies en LatynsOttomaans
Moderne Griekeland

Die Ryk het aanvanklik tot by die Arabiese Skiereiland en in die weste tot Noord-Afrika en die Atlantiese Oseaan gestrek, maar was vanaf die 7de eeu rofweg tot Klein-Asië en Suidoos-Europa beperk. Dit is vanuit die hoofstad Konstantinopel (die huidige Istanboel) geregeer wat ook as Bisantium bekend gestaan het.

Die bekende bisantinis Georg Ostrogorsky het die Bisantynse Ryk as 'n mengsel van Romeinse staatswese, Griekse kultuur en Christelike geloof beskryf.[1]

Die benaming "Bisantynse Ryk", wat van die hoofstad afgelei is, word uitsluitlik in die moderne navorsing gebruik. Die bewoners van die ryk het na hulself nie as Bisantyne verwys nie, maar steeds as Romeine (in die moderne wetenskaplike konteks word die term "Rhomeërs" gebruik). In die Latynse weste is na hulle as Grieke verwys.

Die geskiedenis van die Bisantynse Ryk word in die moderne geskiedskrywing en navorsing in drie fases verdeel:

  • die laat antieke en vroeg-Bisantynse tydperk (vanaf die laat 3de/vroeë 4de eeu tot die middel van die 7de eeu), toe die ryk nog herkenbaar antiek-Romeinse trekke gehad en as groot moondheid die hele oostelike Middellandse Seegebied oorheers het;
  • die Middel-Bisantynse tydperk (vanaf die middel van die 7de eeu tot 1204/1261), toe die ryk reeds volledig vergrieks was en ná groot gebiedsverliese weer as belangrike moondheid opgetree het;
  • die laat-Bisantynse tydperk (1204/1261 tot 1453) toe die ryk steeds meer gebiedsverliese gely en op politieke gebied geen beduidende rol meer gespeel het nie.

Naas hierdie tradisionele periodisering is daar ook alternatiewe sienswyses. In die meer onlangse navorsing is daar neigings om eers vanaf die laat 6de of 7de eeu van 'n suiwer Bisantynse geskiedenis te praat en vroeëre periodes nog by die laat-Romeinse oudheid te reken.[2]

Hierdie stelling is omstrede, veral omdat ander bisantiniste vrees dat hul vak aan belangrikheid sou kan verloor indien die laat-antieke fase van die ryk volledig by die geskiedenis van die klassieke Oudheid gereken sou word.

Die geskiedenis van die Bisantynse Ryk is deur 'n byna permanente afweerstryd teen vyandelike magte langs sy grense oorheers wat die Bisantyne se kragte verteer het. Fases van uitbreiding (ná gebiedsverliese in die 7de eeu is veral in die 10de en 11de eeu nuwe streke verower) het mekaar afgewissel met fases waartydens die Bisantyne teruggetrek het (so in die laat tydperk van die ryk toe sy kragte uitgeput was).

Die binnelandse gebeure is, veral tot in die 9de eeu, verskeie kere deur godsdienstige dispute en enkele burgeroorloë oorheers, alhoewel die staatswese, wat op Romeinse strukture gebaseer was, tot in die 13de eeu onveranderd gebly het. Op kulturele gebied het Bisantium beduidende literêre en ander kunswerke opgelewer en as bemiddellaar van die antieke erfenis 'n beduidende rol vir die Europese beskawing vervul. Die kodifisering van die Romeinse reg onder keiser Justinianus I sou die basis vir die regstelsels van Europese state lewer.[3] Daarnaas het die Bisantynse Ryk beslissende invloed op die kerstening van Oos-Europa (die Balkanskiereiland en Rusland) uitgeoefen en tot in die 15de eeu as 'n Christelike vesting in die ooste bestaan wat alle aanvalle van Islamitiese magte afgeweer het.

Benaming

Verdeling van die Romeinse Ryk in 395
Die uitbreiding van die Bisantynse Ryk tussen 395 en 1453
Die beleg en verowering van Konstantinopel in 1453

Die Bisantyne het, net soos die Grieke tot in die 19de eeu, na hulself as "Romeine" (Ῥωμαῖοι, Rhōmaîoi, eietydse uitspraak: Romei) verwys, terwyl die term Grieke (Έλληνες, Héllēnes/Éllines) byna uitsluitlik vir die voor-Christelike, heidense Griekse beskawings en state gebruik is. Omstreeks 1400 het die Bisantyne egter begin om na hulself as Hellene te verwys.

Die huidige benamings Bisantyne en Bisantynse Ryk is van moderne oorsprong. Bewoners van die ryk het na hul staatswese steeds as Βασιλεία τῶν Ῥωμαίων (Basileía tōn Rhōmaíōn/Vasilía ton Romäon, "Ryk van die Romeine") of Ῥωμαικὴ Αὐτοκρατορία (Rhōmaikḗ Autokratoría/Romaikí Aftokratoría, "Romeinse Outokrasie", "Romeinse Keiserryk") verwys. Hulle het hulself nie as opvolgers van die Romeinse Ryk beskou nie - hulle was die Romeinse Ryk. So is ook benamings soos "Oos-Romeinse" en "Wes-Romeinse" eers in die moderne tydperk gebruik - volgens die destydse opvatting was daar net een ryk onder die bewind van twee keisers so lank as die twee ryksdele bestaan het.

Hierdie beskouing kom ooreen met die staatsregtelike orde aangesien daar in die ooste geen historiese breuk was nie en die Bisantynse Ryk as staatswese met 'n laat-antieke karakter voortbestaan en eers later, onder die bewind van Herakleios, begin vergrieks het. Nogtans was die Oos-Romeinse Ryk al vroeër deur 'n oorwegend Griekse identiteit gekenmerk. Oud-Grieks en vanaf omstreeks 600 Middel-Grieks, wat in fonetiese opsig in baie opsigte al met moderne Grieks ooreenkom, het vanaf die regeringstyd van Herakleios nie net Latyn as ampstaal vervang nie, maar het daarnaas ook as kerk-, literêre, kultuur- en handelstaal gedien.

Vanweë sy historiese wortels is die ryk aanvanklik deur sy Helleense beskawing, Romeinse staatswese en Christelike godsdiens gekenmerk. Eers in die tyd van die Arabiese verowerings en die uitbreiding van die Islamitiese godsdiens in die 7de eeu het die Oos-Romeinse en Bidsantynse Ryk sy Romeinse laat-antieke karakter verloor. In die hele tyd van sy bestaan het die ryk homself as die onmiddellike en enigste wettige, steeds bestaande Romeinse Keiserryk beskou en sodoende aanspraak op die gesag oor alle middeleeuse Christelike lande gemaak. Hierdie aanspraak was vanaf 600 maar teoreties van aard, al is dit in die Bisantynse staatsteorie konsekwent gehandhaaf.

Geskiedenis

Wes- en Oos-Romeinse Ryk

Die feit dat die Oos-Romeinse Ryk ook ná die ondergang van Wes-Rome voortbestaan het, was aan 'n aantal faktore te danke. Die oostelike ryk was vanweë sy geografiese ligging minder sterk aan aanvalle van buite blootgestel. So was die riviergrens langs die benedeloop van die Donau die enigste grenslyn wat deur invallers maklik oorgesteek kon word en sodoende militêre beskerming benodig het. Daarenteen was die Wes-Romeinse Ryk uiteindelik nie meer in staat om die lang frontlinies langs die Ryn en die bo- en middelloop van die Donau teen Germaanse stamme te verdedig nie. Binnedringers kon regstreeks op Italië en Gallië marsjeer sodra hulle die grensriviere oorgesteek het aangesien die Wes-Romeinse keisers geen kans meer gehad het om 'n tweede frontlyn in die binneland op te bou nie. Die Bisantynse hartland rondom die Marmarasee was 'n vesting wat nòg deur landgebonde aanvallers nòg deur 'n vyandelike vloot ingeneem kon word nie.

In die ooste het die Bisantynse Ryk aan Persië gegrens wat deur die Sassaniede-dinastie geregeer is - heersers wat in die algemeen vreedsame betrekkinge met die Bisantyne gehandhaaf net, al was die twee moondhede af en toe in 'n soort Koue Oorlog verwikkel. Daar was dus ook geen noodsaaklikheid om die vestiging van Germaanse huursoldate of setlaars in die stryd teen aanvallers te aanvaar nie. Net in die 4de eeu het Wes-Gotiese setlaars hulle in die Bisantynse Ryk kom vestig.

Die Bisantynse Ryk het ook ten opsigte van sy sosiale struktuur sterk van die weste verskil. Die meeste adellike landbesitters in die weste het ongeag hulle geweldige rykdom nouliks 'n finansiële bydrae tot die onderhoud van Romeinse strydmagte en administrasie opgelewer, terwyl die Bisantynse staat op die tradisionele breë middelklas van antieke Griekse stede kon steun. Die meeste amptenare het uit hierdie middelklas gekom en was in staat om 'n aansienlik hoër belastinginkomste vir die owerheid te genereer as hul eweknieë in die ekonomiese dwangstelsel van die Wes-Romeinse Ryk. Keiser Anastasios I (491-518), 'n voormalige amptenaar aan die Bisantynse hof, het die verspilling en misbruik van staatsgeld teengewerk en 'n omvattende hervorming van die Bisantynse monetêre stelsel deurgevoer.

Die Oos-Romeinse Ryk was in vergelyking met die weste dig bevolk en het oor 'n florerende landboubedryf beskik. Ekonomiese welvaart het tot die politieke stabiliteit van die ryk bygedra. In die weste is die politieke orde voortdurend deur magsgrepe en teenkeisers ondermyn sodat 'n groot deel van die staatsbegroting aan die militêre onderdrukking van opstande bestee moes word. In die ooste het rebellies nouliks voorgekom. Onluste soos die Nika-opstand in 532 is vinnig bestry. Die sosiale beleid van die Bisantynse heersers was daarop gemik om klasverskille te verminder en hulp aan armer bevolkingsgroepe te verleen.

Demografie

Oorsig

Die Bisantynse Ryk was 'n multi-etniese staat met 'n bevolking wat naas Grieke ook Armeniërs, Illiriërs en Slawe asook - in die Vroeg-Bisantynse tydperk - Siriërs en Egiptenare ingesluit het. Die meeste gebiede, waaroor die ryk gestrek het, was al eeue lank gehelleniseer en het dus deel uitgemaak van die Griekse kultuurkring. Hier was beduidende stedelike massasentra van die hellenisme geleë soos Konstantinopel, Antiogië, Efese, Thessaloniki en Alexandrië, asook die bakermat van die Ortodokse Christendom.

Ook Athene was steeds 'n belangrike kulturele sentrum totdat keiser Justinianus die plaaslike neo-platoniese filosofiese skool in 529 verbied het. Die demografiese verhoudings het vervolgens verskuif sodat die oosterse provinsies van die ryk naas Konstantinopel in ekonomiese en militêre opsig die belangrikste gebiede geword het. Toe hulle verlore gegaan het, het Klein-Asië 'n belangrike rol begin speel, en eers vanaf die vroeë middeleeue ook die Balkanskiereiland. Ná 1071 is dele van Klein-Asië deur Turkse invallers verower, en in die 14de eeu het dit heeltemal onder Turkse bewind gekom. Dit was die begin van die Bisantynse Ryk se agteruitgang waartydens die staat van 'n groot- tot 'n streeksmoondheid en uiteindelik tot 'n klein staat gekrimp het.

Die Bisantynse volk

Grieks as gemeenskaplike taal en die Christendom as gemeenskaplike godsdiens het net soos die keiserlike monargie en Konstantinopel se posisie as politieke, ekonomiese, kulturele en godsdienstige sentrum die bewoners van die Bisantynse Ryk vanaf die 6de eeu saamgebind tot 'n staatsvolk wat homself as Rhomeërs of Romeine beskou het. In sy politieke betekenis het hierdie volksbegrip alle inwoners ingesluit wat binne die grense van die ryk woonagtig en aan dieselfde keiserlike wette onderworpe was. So het die Bisantynse volk uit alle burgers of politai bestaan, met uitsondering van die keiser wat in 'n bepaalde mate nie aan die wette onderworpe was nie.[4]

Bisantynse bronne verwys na die hiërargiese sosiale struktuur van die Bisantynse samelewing wat grofweg uit welvarendes (plusioi), 'n middelklas (mesoi) en armes (penētes) bestaan het. Baie van die ryk Bisantyne was lede van die hofstaat of kerkleiers, ander is by die middelklas gereken, maar kon, indien daar politieke of kerklike veranderings was, hul sosiale status verloor om die droewige lot van die groot massa armes te deel. Op- en afwaartse sosiale mobiliteit, onafhanklik van geboorte en status, was inderdaad 'n kenmerk van die Bisantynse samelewing wat selfs die keisertroon kon insluit - die keisertitel was nie erflik nie. Veral die middelklas het groot waarde aan 'n goeie opleiding van sy kinders geheg. Enige funksionele indeling volgens beroepe of sosiale state was egter onbekend.

Die bevolking van Konstantinopel het in die Vroeg- en Middel-Bisantynse periode 'n besondere politieke status geniet deur sy wettige of onwettige invloed op die verkiesing van 'n nuwe keiser en die rol wat dit by politieke manipulasies van belangegroepe kon speel.

Taal

Ikoon van Aelia Eudocia (Hagia Eudokia), die gade van keiser Theodosius II, uit die 10de eeu met 'n afwykende spelling (ϵΥΔΟΚΗΑ) waar die letter H in plaas van die korrekte homofone I gebruik is

Bisantynse skrywers het hul werke merendeels in klassieke Grieks (Atties) geskryf of tenminste daarna gestrewe om hierdie ideaal te volg. Die feit dat Grieks, soos dit reeds in die klassieke en hellenistiese asook die Romeinse keisertyd as skryftaal gebruik is, in die Bisantynse Ryk onveranderd kon voortleef was aan die onderwys in Griekse grammatika, die voortdurende lees van antieke skrywers en die raadpleeg van leksika te danke. Selfs al het die skryfstyl in die Nuwe Testament verskil van dié klassieke Grieks, het Bisantynse outeurs van Christelike werke veral vanaf die 4de eeu moeite gedoen om by klassieke styl aan te pas sodat hul tekste as gelykwaardig aan dié van heidense skrywers beskou kon word. Die Bisantyne het hulself as die enigste erfgename van die antieke kultuur, literatuur en taal beskou en sodoende met trots aan hierdie tradisies vasgehou.

Naas tekste in klassieke Grieks was daar ook literatuur wat in die volkstaal geskryf is. Afgesien van voorbeelde uit die hagiografie, enkele woorde, sinne en kort nota's het geen dokumente in hierdie taalvorm bewaar gebly wat voor die 12de eeu ontstaan het nie. Die volkstaal het sy oorsprong in die algemene Griekse omgangstaal of koinē wat ontstaan het toe verskillende Griekse dialekte in die 2de en 1ste eeu v.C. begin versmelt het. Die bekendste werk in hierdie taal, wat ook deur vreemde idiome uit die hellenistiese wêreld beïnvloed is, is die Nuwe Testament.

In die koinē het verskillende klinkers en diftonge saamgeval, terwyl ook geen onderskeiding tussen lang en kort klinkers meer gemaak is nie - 'n fonetiese ontwikkeling wat al in die laat-antieke taalperiode van Oud-Grieks die tradisionele metriese stelsel en die digkuns, wat daarop gebaseer het, laat verdwyn het.

Min is bekend oor die omgangstaal van gewone Bisantyne. Ons weet van streeksvariante en dialekte, en dit is duidelik dat mense 'n sekere kennis van klassieke Grieks gehad het aangesien dit ook as kerktaal gedien het. Nogtans kan daar nie sprake wees van diglossie of tweetaligheid in die Bisantynse Ryk nie. Die Griekse hoogtaal het hoofsaaklik as skryftaal vir die boonste lae van die samelewing gedien sodat sy mondelinge gebruik beperk was tot sekere staatsplegtighede.

Ook die koinē het gaandeweg tot 'n meer verhewe literêre ontwikkel wat met die volkstaal gekontrasteer het. Bes moontlik was daar verskillende variante van geskrewe en gesproke taalvorms wat in die laat-Bisantynse periode deur nuwe dialek-gebaseerde skryftale soos Kiprioties aangevul is, terwyl die antieke woordeskat tot vandag in die omgangstaal voortleef. Die Griekse taal was en is die belangrikste element wat latere generasies met die antieke wêreld verbind.[5]

Sien ook

Verwysings

  1. Georg Ostrogorsky: Geschichte des byzantinischen Reiches. Handbuch der Altertumswissenschaft XII 1.2, 3de uitgawe, München 1963, bl. 22
  2. Soos byvoorbeeld in Peter Schreiner: Byzanz. 3de uitgawe, München 2008. Schreiner stel voor dat daar eers ná die afsterwe van Justinianus I (527-565) sprake kan wees van 'n "Bisantynse" periode; dus vroeg-Bisantyns vanaf die laat 6de tot die 9de eeu, Middel-Bisantyns vanaf die 9de eeu tot 1204 en laat-Bisantyns tot en met 1453. Die Cambridge History of the Byzantine Empire , wat in 2008 gepubliseer is, behandel die tydperk tussen die 6de en 15de eeu. John Haldon, 'n leidende deskundige, beskou die 7de eeu as die beslissende beginpunt van 'n Bisantynse geskiedenis in eie reg: John Haldon: Byzantium in the Seventh Century. The transformation of a Culture. 2de uitgawe. Cambridge 1997. Vergelyk ook: Mischa Meier: Ostrom-Byzanz, Spätantike-Mittelalter. Überlegungen zum „Ende“ der Antike im Osten des Römischen Reiches, in: Millennium 9 (2012), bl. 187-254
  3. Michael Grant: Morgen des Mittelalters. Völker und Reiche in der spätantiken Welt. Bergisch Gladbach: Gustav Lübbe 1982, bl. 16
  4. Peter Schreiner: Byzanz 565-1453. München: Oldenbourg 2008, bl. 60-61
  5. Schreiner (2008), bl. 103

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.