Bertha Solomon
Bertha Solomon (gebore Schwartz, Minsk, 1 Januarie 1892 – Johannesburg, 22 Julie 1969) was 'n baanbreker-feminis en Suid-Afrikaanse Volksraadslid vir die kiesafdeling Jeppes in die ooste van Johannesburg.
Jeugjare en opleiding
Solomon kom op die ouderdom van vier jaar saam met haar ouers na Suid-Afrika en ontvang haar opvoeding in Kaapstad aan die Good Hope Seminary en die Diocesan College waar sy met onderskeiding in die klassieke slaag. Later verwerf sy 'n nagraadse kwalifikasie in onderwys aan die Universiteit van Kaapstad en ook 'n LL.B. aan die Universiteit van Suid-Afrika. Sy word op 1 Junie 1926 tot die balie toegelaat, een van die eerste vroue in die land.
Politieke betrokkenheid
Met behulp van die Nasionale Raad vir Vroue lei sy die beweging vir vrouestemreg in die Unie. Dit word in 1930 toegestaan. In 1933 word sy lid vir die kiesafdeling Bezuidenhout in die Transvaalse Provinsiale Raad en in 1938 se algemene verkiesing Volksraadslid vir Jeppes toe sy met 'n klein meerderheid van 293 vir die Verenigde Party verkies word. Sy wen ook die verkiesings van 1943, 1948 en 1953 en bly twintig jaar lank lid vir Jeppes.
Al die vroue-organisasies in die land ondersteun haar in haar stryd om die Wet op Huweliksaangeleenthede in 1953 aanvaar te kry, wat sommige van die vernaamste wetlike struikelblokke vir getroude vroue uit die weg geruim het. Die eerste minister, dr. D.F. Malan, het na dié wetsontwerp as "Bertha's Bill" verwys vanweë haar vasbeslotenheid om dit deur te voer.
In 1967 ken die Universiteit van die Witwatersrand 'n eredoktorsgraad in die regte aan haar toe en in 1968 verskyn haar outobiografie, Time remembered.
Bronne
- Potgieter, D.J. (red.) 1972. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery (Nasou).
- Schoeman, B.M. 1977. Parlementêre verkiesings in Suid-Afrika 1910–1976. Pretoria: Aktuele Publikasies.
Sien ook
Eksterne skakels
- Lewensverhaal van Bertha Solomon op Jewish Women's Archive
- Joodse vroue se rol in die SA politiek[dooie skakel]
- (en) Haar lewensverhaal in die Jewish Women's Archive. URL besoek op 13 November 2017.