Bergen

Bergen Noors: [ˈbæ̀rɡn̩], ; histories: Bjørgvin) is met 'n oppervlakte van 464,71 vierkante kilometer en 'n bevolking van 279 792 (soos op 1 Januarie 2018) die tweede grootste stad van Noorweë na die hoofstad Oslo. Bergen is die administratiewe, ekonomiese en kulturele sentrum van Wes-Noorweë, 'n gebied wat die meeste van Noorweë se belangrikste uitvoergoedere soos veral ru-olie oplewer, en ook die poort na die Wes-Noorse fjordkus wat deur Unesco tot wêrelderfenisgebied verklaar is.

Hierdie artikel handel oor die stad in Noorweë. Vir ander gebruike van die term Bergen, sien gerus Bergen (dubbelsinnig)

Bergen


Europese Kultuurhoofstad 2000
Europeisk kulturhovedstad 2000
Europeisk kulturhovudstad 2000


Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Noorweë Noorweë
 Provinsie (Fylke) Hordaland
 Koördinate 60°23′N 05°20′O
 Stigting 1070
 Oppervlakte:  
 - Totaal 464,71 vk km
 Hoogte bo seevlak 1 m
 Bevolking:  
 - Totaal (1 Januarie 2018) 279 792[1]
 - Metropolitaanse gebied (2008) 403 730
 - Bevolkingsdigtheid 601/vk km
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Klimaat  
 - Tipe Gematigde seeklimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 7,8 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 1,5 / 15,0 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 1958 mm
 Burgemeester Rune Bakervik (Ap)
 Amptelike webwerf bergen.kommune.no

Tydens die heerskappy van koning Olav Kyrres (1066–1093) het Bergen die eerste hoofstad van die Noorse koninkryk geword en was tot 1830 die grootste stad in Noorweë. In die Middeleeue was Bergen 'n belangrike handelshawe in Noord-Europa wat onder meer 'n belangrike rol in die stokvishandel met Sentraal-Europa gespeel het. Hanseatiese koopmans uit Noord-Duitsland het eeue lank oor hul eie kantoor, Det Tyske Kontor in Bryggen, beskik. Bergen het self nooit by die Hanse aangesluit nie. Naas die uitvoer van ru-olie speel handel en nywerhede nog steeds 'n belangrike rol.

As 'n belangrike kulturele sentrum spog Bergen met die eerste nasionale teater wat in Noorweë geopen is en een van die oudste simfonieorkeste ter wêreld, die Filharmoniese Orkes van Bergen wat in 1765 gestig is. Bergen beskik daarnaas oor 'n groot aantal ander kulturele instellings soos museums en is die gasheerstad van die Internasionale Musiekfees van Bergen. Dit is ook die geboortestad van die bekende Noorse komponis Edvard Grieg. Danksy die ryk kuns- en kultuurlewe het Bergen in 2000 as 'n Europese Kultuurhoofstad gefungeer.

Geografie en klimaat

Ligging

'n Nagtelike uitsig oor Bergen vanaf die bergpiek Ulriken

Die stadsgebied van Bergen beslaan die grootste deel van die skiereiland Bergen in die sentraal-westelike gedeelte van die provinsie Hordaland. Die eilande Askøy, Holsnøy en Sotra voor die kus beskerm die stad teen die onstuimige Noorse See, 'n randsee van die Atlantiese Oseaan.

Die stadsentrum word deur 'n groep berge omring wat in die omgangstaal as die syv fjell of "sewe berge" bekend staan – Ulriken, Fløyen, Damsgårdsfjellet, Lyderhorn, Sandviksfjellet, Blåmanen, Rundemanen en Askøyfjellet. In werklikheid is daar meer as sewe bergspitse in die gebied, en dit was moontlik Ludvig Holberg (1684–1754), 'n boorling van Bergen en bekende Noors-Deense skrywer, wat deur die sewe heuwels van Rome geïnspireer is om 'n soortgelyke beskrywing vir die landskap rondom Bergen te gebruik. Op 'n hoogte van 987 meter bo seevlak is Gullfjellet die hoogste bergpiek in Bergen.

Klimaat

Bergen in die winter

Ondanks sy noordelike ligging word Bergen deur 'n gematigde seeklimaat gekenmerk. Die warm Golfstroom, wat vanaf die Karibiese See in noordwaartse rigting vloei, oefen 'n matigende invloed uit sodat Bergen se klimaat net soos ander kusgebiede deur maritieme weerstoestande met relatief milde winters en koel en vogtige somers oorheers word. In teenstelling met die Noorse binneland met sy warm en droë somers en baie koue winters word daar in Bergen nouliks sneeuvalle aangeteken. Met gemiddelde jaarlikse neerslae van sowat 2 000 millimeter is Bergen egter een van die natste plekke in Europa.

Weergegewens vir Bergen
Maand Jan Feb Mar Apr Mei Jun Jul Aug Sep Okt Nov Des Jaar
Gemiddelde maksimum (°C) 4,4 4,8 7,1 11,5 14,9 18,0 20,7 19,4 15,9 12,2 8,2 4,9 11,8
Gemiddelde temperatuur (°C) 2,2 2,1 3,8 7,4 10,6 13,5 16,4 15,3 12,5 9,1 5,7 2,7 8,4
Gemiddelde minimum (°C) 0,1 −0,1 1,1 4,0 6,9 9,9 13,2 12,4 9,9 6,5 3,6 0,5 5,7
Neerslag (mm) 190 152 170 114 106 132 148 190 283 271 259 235 2 250
Reëndae (d) 20 15 17 13 14 11 15 17 20 22 17 21 202
Bron: (hoë en lae temperature)[2] NOAA (al die ander)[3]

Stadskarakter

Snagse aansig van die Bryggenkwartier

Bergen word oorheers deur die Bryggen (wat vroeër dikwels ook Tyske Bryggen genoem is), 'n uitgestrekte landingsbrug wat tydens die Middeleeue deur Noord-Duitse koopmans as 'n Hanseatiese handelspos in die natuurlike Vågenseehawe opgerig is. Ook 'n aantal ander geboue soos die Mariakerk dateer uit hierdie periode.

Vanweë die verwoestende brande, wat die stad met sy talle houtgeboue in die jare 1702, 1855 en 1916 vernietig het, het die owerhede 'n verbod op die bou van nuwe houthuise geplaas. Die historiese Bryggenkwartier, wat ook verskeie kere deur brande geraak en steeds weer volgens die oorspronklike bouplanne uit die 12de eeu gerekonstrueer is, is die laaste kwartier in die stadsentrum wat oorwegend van hout gebou is. As 'n uitmuntende voorbeeld van Hanseatiese boukuns in Noorweë is Bryggen deur Unesco in 1979 tot wêrelderfenisgebied verklaar.[4]

Toponimie

Bergen se oorspronklike Oud-Noorse naam was Bergvin of Björgvinn (Bjørgvin in moderne spelling). Dit was 'n samestelling uit die woorde bjørg ("berg") en vin ("weiveld") sodat die naam rofweg as "weiveld tussen die berge" vertaal kan word. Plaaslike drukgroepe in die gebied het in die vroeë 20ste eeu daarop aangedring dat die stad se naam weer verander moet word na Bjørgvin, en as 'n kompromis dra die bisdom van Bergen tans die amptelike naam Bjørgvin bispedøme.[5]

Die Bryggenkwartier op 'n tipiese reënerige dag

Geskiedenis

Stigting

Ulrikenberg, soos gesien vanuit die stadsentrum

Bergen is in 1070 deur die Noorse koning Olaf III, wat ook Olaf Kyrre of Olaf die Swygsame genoem is, as 'n vissers- en skaaptelersdorp naby 'n ou Wiking-nedersetting gestig. Die vroegste bekende nedersettings in die gebied het waarskynlik in die 4de eeu ontstaan – die plaas Álreksstaðir aan die voet van die Ulrikenberg het destyds as die hoofkwartier van 'n plaaslike heerser met die naam Alfred gedien.

Bergen het in die loop van die 12de eeu tot die belangrikste seehawe van Noorweë en die sentrum van die Nordiese visserybedryf ontwikkel. Met die stigting van die plaaslike bisdom in 1158 het Bergen ook die geestelike sentrum van Sentraal-Noorweë geword.

Teen die begin van die 12de eeu het die opstandeling Harald IV Bergen ingeneem en die regmatige koning Magnus IV gevange geneem en hom verblind. Ná sy dood is sy seun Sigurd II tot nuwe heerser verklaar, maar het in 1155 in Bergen die slagoffer van 'n moordaanslag geword. Magnus V is in 1162 as sy opvolger verkies en deur die Noorse biskoppe in 1164 in Bergen as koning bekroon. Hy was die eerste Noorse monarg ooit wat amptelik bekroon is, en Bergen is amptelik tot die hoofstad van Noorweë verklaar.

Die heerskappy van Sverre Sigurdsson

In 1176 het 'n troonpretendent opspraak begin wek – Sverre Sigurdsson wat deur 'n gedeelte van die bevolking en 'n aantal biskoppe en plaaslike heersers ondersteun is, terwyl koning Magnus V veral die Noorse adel agter hom verenig het. Ná agt jaar se burgeroorlog en die inname van talle stede, waaronder ook Bergen, het Magnus in die Slag van Fimreite naby die huidige stad Sogndal gesneuwel.

Sverre Sigurdsson het sodoende sy grootste teenstander uitgeskakel, maar slegs tien jaar ná sy oorwinning het sy ander teenstanders en nuwe troonpretendente weer 'n bedreiging vir sy heerskappy ingehou. Sverre het die fort Sverresborg laat oprig wat na hom vernoem is. Op 29 Junie 1194 is hy in Bergen as koning van Noorweë bekroon.

In 1197 het sy teenstanders Bergen tydens 'n aanval aan die brand gesteek, en een jaar later het Thorstein Kugad, een van die vyandelike hoofde, Sverre Sigurdsson se skoonseun en jarl Karl Sverkerson, aan wie die stad Bergen toevertrou was, vermoor. Ná sy afsterwe in 1202 is Sverre in die Christuskerk van Bergen (Kristkirken på Holmen) ter ruste gelê.

Rosenkrantztårnet (die "Rosenkrantztoring")

Sverre se enigste seun Håkon III is as sy opvolger bekroon, maar het die land net twee jaar lank geregeer en is in 1204 moontlik deur sy stiefmoeder vergiftig. Die Noorse burgeroorlog het weer opgevlam, en in 1207 het die Bagler-oorlogsparty Bergen twee keer ingeneem en die fort Sverresborg verniel.

Op 29 Julie 1223 het 'n vergadering in Bergen Håkon IV (1217–1263) se erfreg en aanspraak op die Noorse troon amptelik erken en sodoende 'n einde aan die burgeroorlog gemaak. Die nuwe heerser het vriendskaplike betrekkinge met verskillende Wes- en Suid-Europese nasies gehandhaaf. Sy binnelandse beleid was daarop gemik om die staatsfinansies reg te ruk, wet en orde te herstel en die Noorse staat se geskille met die pousdom te besleg.

Bergen se hoofstadfunksie is omtrent 1260 met die oprigting van 'n reusagtige hal, Håkonshallen, bevestig, waar in die volgende jaar ook die huweliksplegtigheid van Håkon se seun en latere koning Magnus VI Lagabøte ("die Wetgewer") plaasgevind het. Magnus het later 'n wagtoring by die gebou gevoeg wat later as Rosenkrantztårnet bekend gestaan het.

Bergen het tot 1299 as hoofstad van Noorweë gefungeer, toe Håkon V sy permanente setel na Oslo verskuif het, en was veral in die tydperk van die Skandinawiese unies deur sy afgeleë ligging benadeel. Nogtans het Bergen reeds binne 'n kort tydperk ná sy stigting by die verder noordwaarts geleë Trondheim verbygesteek om tot 'n belangrike sentrum vir die handel met Sentraal-Europa te ontwikkel.

Bergen in die Hanse-tydperk

Stokvis naby die Porsangerfjord in Noorweë. Gedroogde of stokvis was 'n stapelvoedsel in die Middeleeuse Europa, en die stokvishandel was die grondslag vir die welvaart van magtige handelstede soos Lübeck en Bremen
Die Noord-Duitse koopmans se Schütting in Bergen. Die Nederduitse term Schütting is afgelei van die Noorse skotting en verwys na die vergadersaal van 'n Hanseatiese koopmansgilde
Repliek van die 15de eeuse kraweel Lisa von Lübeck. Krawele was die Noord-Duitse variant van karvele

Reeds vanaf die 12de eeu het die eerste Noord-Duitse koopmans, veral uit die hawestad Lübeck, hulle in Bergen begin vestig. Die stad se bevolking het omtrent 1300 op sowat 7 000 gestaan, net soos dié van Oslo, wat eers in 1850 by Bergen sou verbysteek. Lübeck was in hierdie tydperk egter reeds 'n magtige handelsstad met 40 000 inwoners.[6] Lübeck het omstreeks 1240 begin om graan, meel en mout na Bergen uit te voer. As gevolg van die Duitse uitbreiding na die oostelike Sentraal-Europa het Duitse boere steeds meer rog geproduseer, en teen die middel van die 13de eeu het koopmans uit die Wendiese Hansestede met hul Holsteinse, Lauenburgse en Mecklenburgse roguitvoere daarin geslaag om Engelse graanuitvoerders op die Noorse mark te verdring. Vanaf 1259 het groter getalle Duitse koopmans in Bergen oorwinter en was sodoende in staat om voordelige kontrakte met Noorse vishandelaars te sluit – stokvis en ander visseryprodukte is destyds veral gedurende die wintermaande na Bergen vervoer.[7]

Die Duitse koopmans het veral in Noorse stokvis (gedroogde kabeljou) belang gestel, wat in die hoë Middeleeue gewoonlik op handelskoue in Vågan op die Lofoten-eilande aangebied en deur Noorse handelaars uit Bergen en Trondheim aangekoop of teen ander handelsgoedere geruil is. As gevolg van 'n pesepidemie het Vågan sy bevoorregte posisie as handelsentrum verloor en is weer tot 'n gewone Noord-Noorse vissersdorpie afgeskaal. Die klein aantal Noord-Noorse koopmans is verder uitgedun as gevolg van die ekonomiese krisis in die laat Middeleeue, en omtrent 1350 het die vissers begin om hul stokvisse self na Bergen te vervoer – net op 'n tydstip toe die Hanseatiese koopmans uit Duitsland besig was om 'n monopolie op die graanuitvoere na Noord-Noorweë te kry.

Die Duitse koopmans in Bryggen het begin om handelsbande met die Noord-Noorse vissersboere aan te knoop: Tydens die handelskoue in die somer het die vissers met hul kusvaarders na Bergen geseil om hier kabeljou, vistraan en leerprodukte teen lewensmiddele soos graan, meel en bier te ruil.

In die tweede helfte van die 14de eeu was die stokvismark deur aansienlike prysstygings gekenmerk. Die Duitse koopmans het hulle omtrent 1360 in die sogenaamde Hansekantoor in Bergen saamgesluit om hul belangrike posisie op die baie winsgewende mark te verseker. Danksy die professionele handelsorganisasie en groot kapitaalreserves van die Bergense Hansekantoor het Lübeck in noue samewerking met ander handelsstede in die Oosseegebied daarin geslaag om die Noorse uitvoerbedryf in die volgende tweehonderd jaar te oorheers. Die Duitse koopmans en seelui, wat by die handel met Bergen betrokke was, het as Bergenvaarders bekend gestaan. Maar ook 'n verwoestende pesepidemie waaraan omtrent 1350 baie plaaslike adellikes en koopmans beswyk het, het die Noord-Duitse ekspansionisme op ekonomiese gebied begunstig.[8]

Die burger- en stoorhuise van Bryggen was nou in besit van duisende Duitse koopmans en ambagsmanne wat hulle destyds in Bergen gevestig het, en die ambagsmanne het selfs oor hul eie gildes beskik. Die Hansetydperk met sy uitgebreide handelsbetrekkinge het 'n internasionale karakter aan Noord-Noorweë se maritieme ekonomie gegee en ook tot die ontstaan van tipiese vissersdorpe in die kusstreek tussen Vesterålen en Varanger gelei.

Veral die beskikbaarstelling van lenings aan Noorse leweransiers was 'n suksesvolle ekonomiese instrument waarmee die Hanseatiese koopmans hul leidende posisie in die bedryf verseker het. Gewoonlik het die Noorse handelsvennote voorafbetalings in die vorm van goedere soos meel, doeke, bier en gereedskap ontvang en in ruil hiervoor belowe om in die volgende jaar 'n bepaalde hoeveelheid visse af te lewer. Die Hanseatiese koopmans het sodoende nie net seker gemaak dat hulle steeds oor voldoende stokvis- en ander visvoorrade sou beskik nie, maar ook byna die hele Noord-Noorse visserybedryf oorheers.

Die Noorse vissers het op hulle beurt kontrakte aangegaan waardeur elkeen van hulle homself aan slegs een Noord-Duitse koopman gebind het – daar is destyds na hierdie lenings dikwels as "Noordvaardersskulde" verwys. Alhoewel daar ook sprake kon wees van uitbuiting van arm vissers en die Noord-Duitsers hul ekonomiese magsbasis ook vir politieke doelwitte ingespan het, was die Hanseatiese stelsel in die laat Middeleeue in sy geheel voordelig vir die ontwikkeling van die plaaslike Noord-Noorse kusekonomie. Die goed georganiseerde koopmans het immers nuwe oorsese uitvoermarkte vir Noorse stokvis ontgin.

Die Hanseatiese monopolie het nogtans 'n nadelige uitwerking op die ontwikkeling van die inheemse handelsektor gehad, en 'n aansienlike gedeelte van die Noorse handelsoorskot het na die buiteland gevloei. Sodoende was die verhoudings tussen die Hanseatiese koopmans en die Noorse Kroon dikwels gekenmerk deur spanninge rondom die verreikende Duitse invloed, wat ook op kulturele gebied uitgeoefen is.

Eers in die loop van die 16de en 17de eeu het die Hansekantoor sy leidende rol in Noorweë se buitelandse handel geleidelik aan inheemse koopmans uit Bergen, Trondheim en Kopenhagen verloor. Die Deens-Noorse owerhede het hierdie nuwe inheemse handelselite met 'n aantal voorregte bevorder. In 1740 was daar nog net nege Duitse handelskantore, en die laaste Duitse handelskantore is in 1766 aan Noorse eienaars verkoop en die Hansekantoor het sy deure vervolgens vir goed gesluit.

Die Noorse Kantoor 1754–1899

Hanseatiese houthuise in Bryggen

Reeds vanaf 1630 het steeds meer Hanseatiese koopmans, wat by die handel met stokvis, traan en graan betrokke was, burgers van die stad Bergen geword. Die aantal Noorse kantore het vinnig gegroei – in 1740 was daar reeds negentig kantore in besit van plaaslike burgers.

Ná die herorganisasie van handelsbedrywighede is in 1754 die Noorse Kantoor gestig wat groot dele van die Hanseatiese raamweerk oorgeneem het en op hierdie basis tot by die veertigerjare van die 19de eeu handel gedryf het. Handelsbestuurders was byvoorbeeld tot by die laat 1830's verplig om ongetroud te bly.

'n Groot persentasie van die koopmans in Bryggen was tot by die 1840's nog boorlinge van Duitsland, en Duits het tot in die laat 19de eeu as verkeerstaal in Bryggen gedien. Die laaste Duitse kerkdiens in die Maria-kerk is in 1868 gehou.

Die geleidelike oorskakeling van 'n Duitse na 'n inheemse bestuur het verseker dat die tradisionele markte in Duitsland nie verlore gegaan het nie, terwyl die Bergense koopmans tegelykertyd na nuwe markte kon uitbrei – stokvis is nou tot by Italië uitgevoer wat tot vandag toe een van die belangrikste markte gebly het.

Met die sluiting van die Noorse Kantoor in 1899 het 'n byna 500-jarige handelstradisie tot sy einde gekom.

Die 20ste eeu

Die Askøybrug verbind Bergen met die gelyknamige nedersetting

Tydens die 20ste eeu is Bergen twee keer ernstig beskadig. 'n Brandramp op 16 Januarie 1916 het 'n groot gedeelte van Bergen se historiese houthuise verniel. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is Bergen reeds op die eerste dag van die Duitse inval (9 April 1940) deur Duitse troepe beset en later deur geallieerde bomaanvalle beskadig. Die Duitse lugmag het die nabygeleë eiland Herdla en die vesting Fjell festning ter beskerming teen vyandelike aanvalle uitgebou.

Taal

Bergen en sy omgewing weerspieël die komplekse huidige taalsituasie in Noorweë. Terwyl Bokmål die oorheersende skryftaal van die provinsie Hordaland se stedelike gebiede is, gee bewoners van landelike gebiede die voorkeur aan Nynorsk. Bergen dien dus ondanks sy meerderheid Bokmål-gebruikers ook as die administratiewe, ekonomiese en kulturele sentrum van 'n beduidende Nynorsk-taalgebied.

Die grootste plaaslike dagblad, Bergens Tidende, is die vierde grootste in Noorweë wat met tussen tien en twintig persent ook die meeste inhoud in Nynorsk aanbied. Bergen is ook die setel van 'n streekskantoor van Noorweë se nasionale uitsaaikorporasie waar Nynorsk in 'n relatief sterk posisie verkeer.

Argitektuur

Die Mariakerk

Die altaar van die Mariakerk. Foto: Morten Dreier

Die Mariakerk, wat vroeër ook as Duitse Kerk bekend gestaan het, is 'n basiliek in die Romaanse boustyl wat omstreeks 1130 volgens die voorbeeld van die katedraal in Speyer (Duitsland) uit natuursteen gebou is. Na die kerk word algemeen verwys as die oudste bewaarde gebou in Bergen, tog neem argeoloë aan dat 'n beskeie kapel in die stadskern nog enkele jare voor die Mariakerk ontstaan het.

Die kerk is in die noordoostelike deel van Bryggen geleë en het as die hoofkerk van die Duitse Hansekoopmans in Bergen gedien. Die kerkgebou was in besit van die plaaslike Hansekantoor, en vanaf die jaar 1548 het die Lübeckse korporasie van Bergenvaarders ook die patronaat oor die kerk uitgeoefen. Hierdie gesag het die reg behels om self 'n pastoor te benoem (Latyns: ius patronatus et vocandi). Die pastore het gewoonlik uit Lübeck gekom en het hulle met hul inskrywing in die Lübeckse konkordiëboek tot die Lutherse geloofsbelydenis van die Confessio Augustana verplig. Die preke is tot in die jaar 1868 in Duits gehou.

Die triptigon op die altaar het waarskynlik in die laat 15de eeu in Lübeck ontstaan. Toe Noorweë in 1536 as gevolg van die Reformasie die Protestantse geloof aangeneem het, is die meeste Rooms-Katolieke beelde en ikone verwyder. Die Mariakerk was hier 'n uitsondering – die Protestantse hervorming is in Duitsland immers al vroeër deurgevoer. Sodoende kan die Jonkvrou Maria vandag nog steeds in die middelpunt van die altaarpaneel besigtig word.

Die domkerk van Bergen

Die domkerk van Bergen
Hierdie kanonkoeël in die toring se buitemuur is tydens die Slag in Bergenbaai in 1665 afgevuur

Bergen se domkerk is noordoos van die Torget aan die Kong Oscars gate geleë. Die domkerk was oorspronklik 'n klein gemeentekerk wat aan die heilige Olav gewy is, maar het later tydens die heerskappy van koning Håkon IV deel van 'n Fransiskane-klooster geword wat suid van die kerk geleë was. Die kerk is in 1248 en 1270 deur brande verwoes en onder koning Magnus VI, wat hier ook te ruste gelê is, in 1301 heropgebou.

Die langskip en sybeuk in die Romaanse styl het in die laat 12de eeu ontstaan, terwyl die koor en die laer gedeelte van die toring eers in die 13de bygevoeg en in die Gotiese styl uitgevoer is. In die volgende eeue is die domkerk verskeie kere omgebou en bied tans sowat 1 000 sitplekke.

Die toring behels die ingang tot die domkerk wat na die langhuis met sy twee skepe en die koor, wat uit een skip bestaan, lei. Die kerk se totale lengte beloop 60,5 meter. Die vierkante toring is eers in die 17de eeu bygevoeg. Die kapel in die koor se noordelike gedeelte het in die laat 13de eeu ontstaan.

Die laaste omvattende restourasiewerk is in 1880 deur die argitekte Peter Andreas Blix en Christian Christie uitgevoer. In 1884 is die altaar, wat deur Christie in die vorm van 'n Middeleeuse reliekskryn ontwerp is, vervaardig. Die preekstoel en die doopvont het reeds een jaar vroeër ontstaan. Die nuwe Rieger-orrel met sy 61 registers is in 1997 in bedryf gestel.

Die kerkhof behels 'n monument wat in 1911 deur die Noorse beeldhouer Ambrosia Tønnesen (1850–1948) geskep en aan twee vroeë Noorse skrywers gewy is – Dorothe Engelbretsdatter (1634–1716) en Peter Dass (1647–1707) wat naas gedigte ook kerkliedere geskryf het.

'n Kanonkoeël, wat in 1665 tydens die Slag in Bergenbaai afgevuur is, het in die kerktoring se buitemuur beland en kan nog steeds besigtig word.

Ekonomie

Strandgaten is die belangrikste winkelstraat in Bergen

Bergen en sy omgewing lewer sowat twee derdes van die totale Noorse uitvoere op, en naas die nabygeleë ruolie- en aardgasvelde in die Noordsee wat tot die oprigting van geriewe soos onder meer opleidingsentrums vir helikoptervlieëniers gelei het, steun Bergen se ekonomie veral op skeepsbou, grootskaalse visteelt in akwakulture en vissery.

Danksy die beskikbaarheid van energiebronne soos olie, gas en waterkrag het ook 'n beduidende en veelsydige nywerheidsektor – waaronder masjienbou, staalvervaardiging, tekstiele en elektrotegniek – met talle navorsingsinstellings ontwikkel. Bergen is 'n internasionale sentrum vir mariene nywerhede en oseaniese navorsing. Die plaaslike Oseaniese Navorsingsinstituut is die tweede grootste in Europa.

Met een van die grootste passasiershawens in Europa het Bergen as die poort na die Wes-Noorse fjordlandskap ook 'n belangrike Noord-Europese toeristebestemming geword. Bergen huisves daarnaas die hoofbasis van die Noorse Vloot in Håkonsvern en beskik oor 'n internasionale lughawe in Flesland. Bergen se lughawe is die belangrikste helihawe vir die Noorse olie- en gasbedryf met duisende van pendelaars wat op Noordsee-platforms werk.

Onderwys

Die UiB-rektor se kantoor op Muséplass 1

Die Universiteit van Bergen (Noors: Universitetet i Bergen, UiB), wat in 1946 gestig is, is die tweede oudste universiteit in Noorweë en met sowat 14 500 studente en 3 200 personeellede (somersemester van 2008) tans die derde grootste tersiêre onderwysinstelling in die land ná die universiteite van Oslo en Trondheim.

Die sentrale dele van die universiteit se campus, wat ook die Bergen Museum insluit, is in die stadsentrum van Bergen geleë. Die universiteit dien naas sy funksie as akademiese onderwysinstelling ook as 'n beduidende navorsingsentrum op talle wetenskaplike gebiede en behels ses fakulteite en sowat sestig institute en wetenskapsentra. Die regswetenskaplike, humanistiese, psigologiese, sosiologiese en wiskundig-natuurwetenskaplike fakulteite is in die stadsbuurt Nygårdshøyden gesetel. Die campus in Årstadvollen naby die universiteitshospitale Haukeland en Haraldsplass huisves die geneeskundig-odontologiese fakulteit.

Die Universiteit van Bergen het volgens 'n parlementsbesluit op 9 April 1946 tot stand gekom. Die Wet oor die Universiteit van Bergen het op 30 Augustus 1946 in werking getree. In Europese verband is die UiB dus nog 'n taamlik jong universiteit, alhoewel die wortels daarvan terugdateer tot so ver as 1825 – die stigtingsjaar van die Bergen Museum wat reeds as 'n beduidende onderwys- en wetenskapsentrum gedien het.

Sport

Bergen Plekmonument in Seattle, Verenigde State.

Bergen het met SK Brann 'n sokkerspan wat in die hoogste Noorse afdeling speel. Die Brann Stadion het 17.300 sitplekke.

Susterstede

Noemenswaardige boorlinge

Verwysings

  1. (no) Statistics Norway: Folkemengde og befolkningsendringar. Besoek op 22 Maart 2018
  2. (en) "World Weather Information Service – Bergen". Wêreldmeteorologiese Organisasie. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 April 2020. Besoek op 27 Oktober 2013.
  3. (en) "BERGEN – FLORIDA Climate Normals: Temperature 2005–2014, al die ander data 1961–1990". National Oceanic and Atmospheric Administration. Besoek op 16 Maart 2014.
  4. (en) "Bryggen". Unesco. Besoek op 17 Mei 2023.
  5. (no) "scandion.no: Bjørgvin bispedøme". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Desember 2007. Besoek op 25 Desember 2007.
  6. (en) Sawyer, Birgit en Peter: Medieval Scandinavia. From Reconversion to Reformation circa 800-1500. Nordic Series, vol. 17. Minneapolis: University of Minnesota Press 1993, bl. 42, 159
  7. (de) Hammel-Kiesow, Rolf: Die Hanse. 4de uitgawe. München: C.H. Beck 2008, bl. 35-36
  8. (de) "Bergen". hanse.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Mei 2007. Besoek op 27 Desember 2007.
  9. (en) "Bergen kommune – International relations – Sister Cities". 2 Maart 2001. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 4 Januarie 2015.
  10. (en) "City of Aarhus Sister cities". 1 April 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Januarie 2012. Besoek op 4 Januarie 2015.
  11. (de) "Partnerstädte". Rathaus Rostock. Besoek op 17 Mei 2023.
  12. (en) "Seattle International Sister City: Bergen, Norway". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 April 2016. Besoek op 4 Januarie 2015.
  13. (en) "Town Twinning | Newcastle City Council". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Maart 2014. Besoek op 4 Januarie 2015.

Bronnelys

Bergen in die Hansetydperk

Die Noorse Kantoor 1754–1899

Eksterne skakels

Wiki-webtuistes

Amptelike webwerwe

Ensiklopediese inligting

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.