Belfast
Belfast (Iers: Béal Feirste, letterlik: "monding van die sandbanke";[2] Skots: Bilfawst of Bilfaust; Skots-Gaelies: Beul Feirste) is die hoofstad en grootste stad van Noord-Ierland,[3] een van die vier lande van die Verenigde Koninkryk, met 'n oppervlak van 115 vierkante kilometer en 'n bevolking van 281 000 volgens die sensus van 2011 (333 871 ná die munisipale hervorming in 2015). Die metropolitaanse gebied van Belfast (Belfast Metropolitan Urban Area) het 'n bevolking van 641 638.
- Hierdie artikel handel oor Belfast in Noord-Ierland. Vir die dorp in Mpumalanga, sien Belfast, Mpumalanga.
Belfast | |
---|---|
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Verenigde Koninkryk |
Land (VK) | Noord-Ierland |
Distrik | City of Belfast |
County | County Antrim County Down |
Koördinate | 54°36′N 5°56′W |
Stigting | Vroeë 17de eeu |
Stadstatus | 1888 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 115 km² |
Hoogte bo seevlak | 67 m |
Bevolking: | |
- Totaal (City of Belfast) | 281 000[1] |
- Totaal (ná hervorming in 2015) | 333 871 |
- Bevolkingsdigtheid | 2 443,5/vk km |
- Urban Area | 483 418 |
- Metropolitaanse gebied | 641 638 |
Tydsone | UTC +0 (GMT) |
- Somertyd | UTC +1 (BST) |
Klimaat | |
- Tipe | Gematigde klimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 9,1 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | 3,8 / 14,7 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 846 mm |
Lord Mayor (2019–20) | Cllr John Finucane |
Amptelike webwerf | Belfast |
Die naam Belfast is afgelei van die Iers-Gaeliese Bél Feirste ("monding van die Farset", die Ierse term feirste verwys na 'n sandbank of 'n sanderige fjord). Die stad was oorspronklik teen die Farsetrivier geleë, maar intussen is die Lagan die belangrikste rivier van Belfast. Die Farsetrivier vloei tans onder High Street en het byna in vergetelheid geraak.
Die vroegste nedersettings in die gebied dateer uit die Bronstydperk. Vanaf die 18de eeu het Belfast tot 'n belangrike stedelike sentrum in Ierland gegroei wat vandag as die administratiewe hoofstad van Noord-Ierland dien. Die nywerheidsomwenteling het van die stad 'n belangrike industriële en handelspilpunt gemaak waaraan vanweë sy indrukwekkende 19de eeuse argitektuur die bynaam Athene van die Noorde[4] gegee is, maar in die laat 20ste eeu het sy tradisionele nywerheidsbedrywe, waaronder skeepsbou, 'n groot mate van agteruitgang beleef.
Die politieke geskiedenis van Belfast is deur die konflik tussen die Protestantse en Rooms-Katolieke gemeenskappe oorheers waardeur die stad in "Protestantse" en "Katolieke" woongebiede verdeel is. Met die ondertekening van 'n vredesooreenkoms vir Noord-Ierland, die sogenaamde Goeie Vrydagooreenkoms van 10 April 1998, het die konflikpartye hul steun vir vreedsame ontwikkeling bevestig en sodoende die pad vir ekonomiese groei en die regenerasie van die middestad en die dokgebiede gebaan.
Geografie
Bergreekse
Belfast lê naby die Laganrivier en teen die uiterste suidweste van die Belfast Lough, 'n lang natuurlike inham wat van Belfast een van die belangrikste seehawens en die tweede grootste stad van Ierland gemaak het. Twee uitgestrekte bergreekse lê ten suide en noorde van die stad, die Castlereagh- en Antrim-heuwels.
Die bergpieke in die noordweste en suidooste versterk die indruk dat Belfast in 'n plat landskap geleë is. Noord van die stadsgebied verrys die basaltplatorand van die Antrim-heuwels uit die vlakte, met bergpieke soos die Black Mountain (390 m bo seevlak), Divis Mountain (478 m) en Cavehill (368 m). By die laasgenoemde skep die plato en McArt se fort, wat uit die Ystertydperk dateer, 'n dramatiese silhoeët vir Belfast.[5] Die ruwe landskap van Cavehill met grotte aan een van sy kante het van oudsher die menslike verbeelding aangegryp en was die basis vir romantiese legendes en mites oor verborge skatte en ander dinge.
Die laer bergreekse van die Castlereagh Hills en Holywood Hills is suid-oos van Belfast geleë en bereik hoogtes van tussen 180 en 200 m noord van Dundonald en in hul uitlopers rondom Braniel. Die grootste deel van dié reekse verrys nie hoër as 150 m nie, maar vorm nogtans 'n natuurlike geografiese versperring wat die bou van paaie in ooswaartse rigting beperk en die bou van roetes langs die kus nodig gemaak het. Die lyn van bergheuwels word slegs deur die Dundonald Gap deurbreek wat 'n maklike toegang tot Newtownards en die see-inham Strangford Lough bied.
Die bergreekse het al vroeg die belangstelling van menslike bewoners gewek. Aan die noordekant van die Laganrivier, wat deur die breë vallei tussen die bergpieke vloei, is mense gedurende die Jongsteentydperk deur afsettings van vuurklippe onder die Antrim-basalt aangetrek – 'n gewilde materiaal vir die vervaardiging van werktuie en wapens.
Ystydperk en Malone-sande
Voor die laaste kouetydperk het die Lagan in die huidige stadsgebied van Belfast nog deur die Bog Meadows gevloei. Die vergletsering het nie net die rivierloop nie, maar ook die valleilandskap ingrypend verander. Die ysmassa's het oor die ooste van Ulster beweeg, en groot dele van die gebied is met kleigruis bedek. Toe die ys in oostelike rigting begin terugtrek en die Laganvallei blokkeer het, het 'n meer ontstaan waarin 'n kleilaag en groot hoeveelhede sand en gruis gedeponeer is.
Hierdie "Malone-sande", soos hulle plaaslik genoem word, sou later 'n belangrike rol by die ontstaan van menslike nedersettings speel. Afsettings van Malone-sande het orals in die gebied heuwelrûens of klein plato's gevorm waarop paaie of nedersettings gebou kon word. Nedersettings suid van Belfast se middestad, soos dié rondom Malone Road en Stranmillis, is op Malone-sande gebou. Drie belangrike paaie in die gebied, Malone Road, Lisburn Road en Stranmillis Road, het albei op hoër geleë terreine met Malone-sande as ondergrond ontstaan. Die Malone-vlaktes, soos hulle in die vroeë 17de eeu genoem is, was een van die eerste gebiede waar mense hulle in die moderne tydperk gevestig het.
Die ysmassa's van die laaste kouetydperk het nog een laaste keer na die Laganvallei deurgedring en 'n laag van kleigruis oor die Malone-sande agtergelaat voordat hulle vir goed in oostelike rigting verdwyn het. Die periodes daarna is deur wisselende seevlaktes en kuslyne gekenmerk. Landmassa's het op- en afwaarts beweeg nadat die gewig van die ys verwyder is en die watervolume as gevolg van smeltende ys gestyg het. Turfbeddens het ontstaan en is vervolgens weer oorstroom. Die vloedwater het afsettings van klei of sleech, soos dit plaaslik genoem word, agtergelaat.
Hierdie kenmerkende blou-grys klei vorm die ondergrond van Sentraal-Belfast met lae van verskillende diktes, en alhoewel dit maklik bewerk kan word, is hierdie onstabiele grond allesbehalwe ideaal om daarop te bou. By Cornmarket bereik die klei 'n diepte van 17 meter, maar word suid en oos van die Raadsaal gaandeweg dunner, met dieptes van slegs een meter.
Klimaat
Soos die res van Ierland het Belfast 'n gematigde klimaat met geringe temperatuurskommelinge. Winderige weerstoestande en reënval kom dwarsdeur die jaar voor. Tans is daar vyf weerstasies in die stadsgebied: Helens Bay, Stormont, Newforge, Castlereagh en Ravenhill Road. Die weerstasie van Aldergrove-lughawe is in die omgewing van Belfast geleë.
Die hoogste temperatuur, wat ooit in Belfast en die hele Noord-Ierland aangeteken is, was 30,8 °C by Shaws Bridge op 12 Julie 1983. Belfast hou ook die rekord vir die hoogste minimum-nagtemperatuur met 19,6 °C in Whitehouse op 14 Augustus 2001.
Die stad kry noemenswaardige neerslae van meer as 0,25 mm op 213 dae van 'n gemiddelde jaar, met 'n jaarlikse gemiddelde reënval van 846 mm – minder as byvoorbeeld die Engelse Lake District of die Skotse Hoogland, maar meer as Dublin of die suid-oostelike kusgebied van Ierland. Sneeuval kom op minder as tien dae van 'n gemiddelde jaar voor.
Die hoogste temperatuur, wat ooit by die weerstasie in Stormont aangeteken is, was 29,7 °C in Julie 1983. In 'n gemiddelde jaar styg die kwik op die warmste dag tot 24,4 °C. Die laagste temperatuur, wat amptelik in Stormont gemeet is, was -9,9 °C in Januarie 1982. In 'n gemiddelde jaar sal die kwik gedurende die koudste nag nie onder -4,5 °C val nie. Ryp kom sowat 26 nagte per jaar voor.
Die vlakke van lugbesoedeling is in Belfast oor die algemeen relatief laag, veral in vergelyking met die 1950's en 1960's toe Belfast nog dikwels in rookmis gehul is. Intussen is na skoner brandstowwe soos aardgas omgeskakel, maatreëls ingestel om lugbesoedeling te beheer en die kragsentrale in Wes-Belfast in 2002 gesluit. In sekere dele van Belfast is lugbesoedeling as gevolg van padverkeer steeds 'n probleem.[6]
Weergegewens vir Belfast Newforge, 16 m bo seevlak, 1981–2010 | |||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Maand | Jan | Feb | Mar | Apr | Mei | Jun | Jul | Aug | Sep | Okt | Nov | Des | Jaar |
Gemiddelde maksimum (°C) | 7,9 | 8,3 | 10,2 | 12,4 | 15,4 | 17,9 | 19,7 | 19,3 | 17,1 | 13,6 | 10,3 | 8,2 | 13,4 |
Gemiddelde minimum (°C) | 2,2 | 2,1 | 3,5 | 4,7 | 6,9 | 9,8 | 11,7 | 11,5 | 9,6 | 7,0 | 4,2 | 2,3 | 6,3 |
Neerslag (mm) | 90,4 | 64,8 | 78,0 | 64,6 | 62,9 | 67,0 | 66,0 | 86,2 | 77,1 | 98,4 | 96,3 | 92,2 | 944,1 |
Bron: Met Office[7] |
Stadswapen
Die huidige stadswapen is op 30 Junie 1890 amptelik aanvaar. Die Latynse leuse Pro tanto quid retribuamus ("Hoe kan ons vergoed vir so veel weldade aan ons?") is ontleen aan die Bybelse psalm 116, versreël 12.
Min is bekend oor die wapen se simbole, hul oorsprong en betekenis. Die klok, die seeperd, die skip en die wolf in kettings verskyn egter reeds op die kentekens en muntstukke van 17de eeuse kooplui wat in Belfast sake gedoen het.
Die seeperd, wat twee keer op die wapenskild verskyn, versinnebeeld die belangrike rol van seehandel vir Belfast se ekonomie, net soos die skip onderaan.[8]
Geskiedenis
Vroeë geskiedenis
Die eerste menslike nedersettings in die gebied van Belfast dateer uit die Bronstydperk, en die oorblyfsels van versterkings uit die ystertydperk kan nog steeds besigtig word. Bekende besienswaardighede uit die vroeë geskiedenis van Belfast sluit Giant's Ring, 'n mensgemaakte heuwel wat 5 000 jaar gelede ontstaan het en naby die stad geleë is, en McArt's Fort in, 'n heuwelvesting uit die ystertydperk wat op Cavehill, 'n heuwel noord van Belfast, opgerig is.
In 1177 het 'n Normandiese lord, John de Courcy, 'n kasteel gebou wat die bakermat van 'n klein nedersetting sou word. Die kasteel en dorp is egter reeds twintig jaar later gedurende 'n slag vernietig.
Tot in die laat 16de eeu was die landerye in die omgewing van Belfast merendeels in die hande van die O'Neill-familie. In 1571 het koningin Elizabeth I hierdie land aan Sir Thomas Smith toegestaan, maar nadat Smith nòg beheer oor die land gekry nòg aan die vereistes van dié landtoekenning voldoen het nie, het die landerye tydens die regentskap van Jakobus I aan die kroon teruggeval.
Die huidige stad se geskiedenis begin in 1611 toe koning Jakobus I Belfast saam met die kasteel en groot landerye in die omgewing aan baron Arthur Chichester (1563–1625) toegeken het. Chichester, die seun van 'n landeienaar in Devon wat in Ierland in die Negejarige Oorlog geveg het en as Lord Deputy van Ierland benoem is, het baie moeite gedoen om die groei van die nedersetting te bevorder. Die kasteel is heropgerig, en setlaars uit Engeland, Skotland en die eiland Man het hulle hier kom vestig. Die inheemse Rooms-Katolieke Ierse bevolking was merendeels wes van die versterkte nedersetting saamgetrek.
Op 27 April 1613 het koning Jakobus I 'n oktrooi uitgereik waardeur Belfast amptelik as borough geïnkorporeer is en die voorreg gekry het om twee afgevaardigdes na die parlement te stuur. Tegelykertyd is toestemming vir die bou van 'n klein kaai in Belfast verleen. Die kaai is by die samevloeiing van die Farset- en Laganriviere gebou en markeer die beginpunt van Belfast se geskiedenis as een van die besigste seehawens in Europa.
Die geïnkorporeerde nedersetting is gedeeltelik deur die Chichester-gesin beheer, maar amptelik deur 'n sovereign ('n soort burgemeester) en twaalf burgers (gewoonlik koopmans) as raadslede geadministreer. Die raadslede het elke jaar 'n lys van drie kandidate saamgestel waarvan een deur die Chichesters as sovereign gekies is. Geen wette kon sonder Chichester se goedkeuring afgekondig word nie, en gewone inwoners was hoegenaamd nie by die stadsregering betrokke nie.
Ondanks sy klein bevolking van 1 000 was Belfast in die vroeë 17de eeu reeds 'n besige handelsplek wat landbouprodukte uit die Laganvallei en ander dele van Ulster soos wol, velle, kersvet, graan, botter en gesoute vleis na Engeland, Skotland en Frankryk uitgevoer het. Wyn en vrugte was belangrike invoergoedere wat deur Frankryk en Spanje verskaf is, naas lakens, steenkool, brandewyn, papier en hout.[9] Later in die eeu is ook handelsbande met die Britse kolonies in Noord-Amerika aangeknoop van waar tabak ingevoer is. Suiker is vanuit die Wes-Indiese eilande na Belfast verskeep en hier geraffineer.
In die laat 17de eeu het Belfast se bevolking tussen 1 500 en 2 000 beloop. Eerste waterleidings, wat van hout gemaak is, het Belfast vanaf 1680 van drinkwater voorsien, en twee jaar later is die eerste brug oor die Laganrivier gebou. Die vernaamste bedrywe in dié tyd was brouerye, tou- en seilmakerye.
Plantations en nywerheidsomwenteling
In die vroeë 17de eeu het die Britse Kroon die vestiging van Britse setlaars, die sogenaamde Plantations, in Ulster bevorder. Die eerste immigrante was merendeels Skotse Presbiterianers wat van Belfast gaandeweg die sentrum van Ierse Protestantisme gemaak het. 'n Tweede golf van setlaars het hulle in die laat 17de eeu hier gevestig – Franse Hugenote-vlugtelinge wat weens godsdienstige vervolging uit hul vaderland gevlug het. Baie van hulle was bekwame ambagsmanne wat 'n beslissende rol by die stigting van die plaaslike linnebedryf gespeel het. Die 500 Hugenote-gesinne, wat hulle in die omgewing van die stad Lisburn sowat twintig kilometer suid-wes van Belfast gevestig het, het moderne spin-, weef- en bleektegnieke ingevoer, en danksy hulle bydrae het die Laganvallei tot 'n beduidende nywerheidsentrum in Ierland ontwikkel.
Steeds meer Skotse en Engelse immigrante het in Belfast aangekom, en nuwe bedrywe soos tabakvervaardiging, swaar nywerhede en skeepsbou het ontstaan. Belfast het vinnig gegroei en was met sy tekstielmeule en skeepswerwe die enigste stad in Ierland wat volledig geïndustrialiseer is. Lang rye eenderse baksteen-terrashuise is gebou om duisende werkers en hul gesinne te huisves. Die eerste spoorwegverbinding tussen Lisburn en Belfast is in 1839 geopen. Die inwonertal van Belfast het vinnig toegeneem, van 20 000 in 1800 tot 100 000 'n halfeeu later en 350 000 in 1900. Ná die stadsgebied in die 19de eeu verskeie kere uitgebrei is, het Belfast in 1888 deur koningin Victoria stadstatus ontvang. Kort voor die Eerste Wêreldoorlog het die stad met 'n bevolking van 400 000 byna dié van Dublin verbygesteek.
Belfast se seehawe, een van die besigstes in die Verenigde Koninkryk, is reeds in die 18de eeu vergroot. Die skeepsbounywerheid Harland and Wolff het hier oor die grootste droogdok ter wêreld beskik, en in 1912 het die reusepassasierskip RMS Titanic, wat deur Harland and Wolff gebou is, van hier op sy eerste (gedoemde) vaart vertrek.
Die skeepsboubedryf het net soos ander nywerheidssektore ná die Groot Oorlog 'n agteruitgang beleef. Grootskaalse werkloosheid was een van die knellendste vraagstukke in die 1920's en 1930's, en dit is eers verlig nadat die Tweede Wêreldoorlog skeepswerwe en swaar nywerhede laat floreer het. Hierdie sleutelbedrywe het van Belfast 'n teiken vir Duitse lugaanvalle gemaak.
Hoofstad van Noord-Ierland
Met die stigting van Noord-Ierland as 'n deelstaat van die Verenigde Koninkryk in 1921, volgens die Wet oor die Regering van Ierland van 1920, het Belfast as grootste stad in die gebied sy administratiewe setel geword. Afgevaardigdes van die Noord-Ierse parlement het aanvanklik in Belfast se stadsaal (waar die eerste parlementsitting op 22 Junie 1921 deur koning George V geopen is) en in die nabygeleë Presbiteriaanse Kerk van die Union Theological College vergader. Die nuwe parlementsgebou op die voorstedelike Stormontlandgoed oos van Belfast is vanaf 1921 teen 'n koste van £1,7 miljoen opgerig en op 16 November 1932 namens koning George V deur die destydse Prins van Wallis (en latere koning Edward VIII) amptelik geopen.[10]
Maar Belfast het gaandeweg die nadelige uitwerkings ervaar wat die verdeling van Ierland meegebring het. Dit was veral die einde van sy industriële groeifase, alhoewel die agteruitgang van plaaslike skeepswerwe en fabrieke eers ná die Tweede Wêreldoorlog begin het.
Belfast Blitz
Die Tweede Wêreldoorlog het ingrypende uitwerking op Belfast en sy bewoners gehad. In die laat 1930's is die stad deur grootskaalse werkloosheid geteister. Die Verenigde Koninkryk se toetrede tot die oorlog het Belfast se skeepsboubedryf laat herleef, maar van die stad ook een van sestien Britse teikens van Duitse lugaanvalle gemaak. In vier groot aanvalle in April en Mei 1941 is meer as 1 000 inwoners dood en 3 200 woonhuise vernietig. Duisende is dakloos gelaat, veral in werkersklaskwartiere rondom die dokke.
Belfast was merkbaar swak voorberei op oorlog, veral omdat Britse ministers betwyfel het dat Noord-Ierland binne bereik van Duitse bomwerpers was. So was daar slegs vier openbare skuilplekke teen lugaanvalle in heel Belfast, een van die mees digbevolkte stede in die Verenigde Koninkryk. Die meeste plaaslike soekligte is Engeland toe gestuur, en terwyl daar oorspronklik beplan is om 70 000 kinders na veilige plekke buite die stad te neem, is uiteindelik nouliks meer as 7 000 kinders uit Belfast ontruim.[11]
Die Duitse lugaanval op 16 April 1941 was die dodelikste op enige Britse stad buite Londen. Die amptelike dodetal was 745, maar volgens meer presiese skattings het dié aanval moontlik meer as 900 menselewens geëis. Tienduisende Belfasters het na die platteland gevlug, terwyl plunderaars probeer het om voordeel uit die chaotiese toestande ná die aanval te trek. Ná die laaste aanval op 6 Mei was sowat die helfte van geboue in Belfast vernietig of ernstig beskadig.
Die Troubles
Die stad was in sy geskiedenis dikwels die toneel van onluste in die konflik tussen die Protestants-Britse en Iers-nasionalisties gesinde Rooms-Katolieke bevolking. Die mees onlangse burgeroorlogstoestand, die sogenaamde Troubles, het in die tydperk tussen 1969 en die laat negentigerjare geheers.
Sommige van die ergste voorvalle van geweld het in Belfast plaasgevind, veral toe die konflik in die 1970's sy hoogtepunt bereik het nadat Protestantse Unioniste en Rooms-Katolieke Nasionaliste paramilitêre magte gevorm het. Bomaanvalle, politieke moorde en straatgeweld was 'n konstante bedreiging vir die bevolking.
Die Provisionele Ierse Republikeinse Leër (IRA – Provisional Irish Republican Army) het sy eise met geweld probeer afdwing. Na een van die bloedigste dae word as Bloedige Vrydag verwys. Op 21 Julie 1972 het binne tagtig minute altesaam 22 bomme in die middestad van Belfast ontplof. Nege inwoners, waaronder twee Britse soldate, het hul lewens verloor, 130 is beseer. Die Provisionele IRA het later siniese kommentaar gelewer waarvolgens die owerheid verantwoordelik vir die verlies aan lewens sou wees aangesien hulle vooraf telefonies gewaarsku is. Maar in die chaos wat ontstaan het toe die eerste bomme ontplof het, kon plekke nie betyds ontruim word nie en het mense van een plek na 'n ander gevlug.
Paramilitêre loyaliste-groeperings soos die Ulster Volunteer Force (UVF) en die Ulster Defence Association (UDA) het vergelding gepleeg deur Rooms-Katolieke inwoners te vermoor wat meestal hoegenaamd geen verbintenis met die IRA gehad het nie. Politieke geweldpleging in die stadsgebied van Belfast het tussen 1969 en 2001 meer as 1 500 menselewens geëis.
Goeie Vrydag-ooreenkoms
Die politieke situasie en die algemene ekonomiese ontwikkeling het sedert die sestigerjare van die 20ste eeu tot die agteruitgang van Belfast gelei wat dekades lank sou voortduur en waartydens die plaaslike ekonomie met Britse staatssubsidies aan die gang gehou is. Eers die Goeie Vrydag-ooreenkoms, wat in 1998 onderteken is, het die pad gebaan vir politieke samewerking en magsdeling tussen Protestantse en Rooms-Katolieke groeperings, en die Noord-Ierse parlement is binne die bestek van devolusie in die Verenigde Koninkryk herstel. Afgevaardigdes en regeringslede het in 2000 in hul kantore in die parlementsgebou ingetrek wat volgens sy ligging op die gelyknamige landgoed as Stormont bekendstaan.
Die inswering van Eerwaarde Ian Paisley, leier van die Demokratiese Unionisteparty, en Martin McGuinness, 'n vroeëre bevelvoerder van die IRA en afgevaardigde van die Sinn Féin-party, as respektiewelik premier en vise-premier van Noord-Ierland in 'n koalisieregering op 8 Mei 2007 was 'n historiese gebeurtenis. Die plaaslike ekonomie is deur grootskaalse beleggings, veral uit die Europese Unie, gestimuleer. Werkloosheid was 'n tyd lank laer as in die res van die land, terwyl eiendomspryse sterk gestyg het. Die globale finansiële krisis het Belfast egter in 'n diep resessie gedompel waartydens huispryse in 2008 met sowat 'n derde gedaal het.
Ten spyte van sekere struikelblokke wat aan die periode van politieke onluste, die Troubles, herinner, soos die sogenaamde "vredeslyne" wat Rooms-Katolieke en Protestantse woonbuurte van mekaar skei, kyk bewoners met optimisme vorentoe.[12] Die vestiging van groter getalle Rooms-Katolieke in die stadsgebied word in die huidige stadsregering weerspieël waar Republikeine en Nasionaliste saam met die "nie-sektariese" Alliance Party, wat hulle steun, in 2011 'n meerderheid setels in die stadsraad kon verower. Die omstrede besluit om die Union Jack, die vlag van die Verenigde Koninkryk, net ter geleentheid van besondere gebeurtenisse (soos die geboorte van 'n koninklike baba), herdenkings en feesdae op Belfast se Raadsaal te hys, het in 2012 tot onluste gelei. Politieke waarnemers het egter daarop verwys dat verteenwoordigers van Republikeins-Nasionalistiese partye soos Sinn Féin sodoende vir die eerste keer die grondwetlike status van Noord-Ierland as deel van die Verenigde Koninkryk amptelik erken het.
Ekonomie
Linenopolis
Belfast is die enigste historiese nywerheidstad in Ierland en verskil sodoende van ander groot nedersettings op die eiland waar rykdom gewoonlik nie uit 'n geïndustrialiseerde ekonomie voortgespruit het nie, maar uit handel, landbou of afstamming.[13]
Linnegoed is al eeue lank in Ierland vervaardig, maar dit was tot in die 19de eeu 'n tuisnywerheid wat op plase deur boere en hul gesinne bedryf is. Die vlas, wat deur boere verbou is, is deur vroue en kinders bewerk en tot linnedraad gespin. Die mans het dit op weefstoele tot linnegoed verwerk en aan blekers verkoop waardeur 'n ekstra inkomste verdien is.
Die hoë gehalte van Ierse linnegoed het verseker dat daar steeds 'n hoë vraag na dié produk was. Blekers in die Laganvallei het handelsbande met Engelse markte aangeknoop en hul produkte uit Belfast verskeep. Die handel en uitvoer van linnegoed is vanuit die White Linen Hall georganiseer wat in 1785 opgerig is. Die swaartepunt van Ierland se linnebedryf het na die noorde begin verskuif.
Vanaf die laat 18de eeu het Belfast 'n sleutelrol in die industriële rewolusie gespeel. Die eerste meule, wat aan die begin van die 19de eeu in Belfast ontstaan het, het om tegniese redes katoen, en nie linne nie, verwerk. Omstreeks 1826 was twintig katoenmeule met 3 500 werkers in bedryf. Maar juis in dié tyd is handelsbeperkings, wat Noord-Ierland se katoenbedryf teen mededingers in Lancashire in Engeland beskerm het, opgehef. Die katoenbedryf in Belfast het agteruitgegaan.
Danksy grootskaalse beleggings in nuwe tegnologieë soos meganiese spinwiele het die stad vervolgens tot die wêreldsentrum van die linnebedryf gegroei – 'n ontwikkeling wat aan Belfast die bynaam Linenopolis besorg het. In die dekade tussen 1850 en 1860 is die proses van linneverwerking gemeganiseer. Die linnemeule was hoofsaaklik aan die Antrim-kant van Belfast geleë waar hulle die vestiging van ander nywerhede soos chemiese fabrieke bevorder het. In die vroeë 20ste eeu het Belfast se tekstielbedryf meer as 35 000 werkers in diens gehad.
Skeepsbou
Ander belangrike industriële sektore was tabakverwerking, toumakery en skeepsbou. Die laasgenoemde het van 'n beskeie begin in 1630, toe Presbiteriaanse predikante die Eagle Wing laat bou het, 'n skip waarmee hulle later geëmigreer het, en 1791, toe die Skotse ondernemer William Ritchie (1756–1834) die potensiaal van Belfasthawe vir die bou van skepe raakgesien en die eerste redery gestig het, uiteindelik in die laat 19de en vroeë 20ste eeu ikoniese status as spilpunt van vooruitgang bereik. Al het dit minder werkgeleenthede gebied as die tekstielbedryf, het sy prestasies internasionale bekendheid vir Belfast verseker. Gedurende die 19de eeu is Belfast se hawe steeds verder uitgebou om uiteindelik die grootste skeepswerf ter wêreld te huisves.
Die tydperk tussen 1880 en die uitbreek van die Groot Oorlog in 1914 word as die goue tydperk van Belfast se skeepsbou beskou. In 1914 het agt persent van alle nuutgeboude skepe wêreldwyd in Belfast van stapel geloop.[14] In sommige jare was dié persentasie selfs nog groter. 'n Bylae van die Britse dagblad Financial Times het in Maart 1914 na Belfast verwys as "die leidende skeepsbousentrum van die hele wêreld" ("the premier shipbuilding centre of the entire world").
Edward Harland en Gustav Wolff was sleutelpersone in dié bedryf wat op hulle werf, Harland and Wolff, omstreeks 1900 reeds 9 000 werkers in diens gehad het. Aan die begin van die 20ste eeu het hulle die grootste en produktiefste werf ter wêreld bestuur wat op sy hoogtepunt werk aan 30 000 Belfasters en 20 000 werkers in ander Britse stede verskaf het. In 1911 het die befaamde RMS Titanic, destyds die grootste skip ter wêreld, hier van stapel geloop.
Belfast was tot in die 20ste eeu 'n nywerheidsentrum van wêreldbelang en tydelik ook die grootste stad van Ierland. Die stad se industriële en ekonomiese voorspoed was in die vroeë 20ste eeu een van die redes hoekom Protestantse Ulster-unioniste hulle teen Ierse selfregering uitgespreek het. Belfast sou ná Ierland se onafhanklikwording, net soos die res van Ulster, deel van die Verenigde Koninkryk bly.
De-industrialisering en politieke onluste
Belfast se ekonomie het, net soos dié van baie ander Britse stede wat sedert die 19de eeu op swaar nywerhede gesteun het, sedert die 1960's ernstige agteruitgang ervaar. Naas strawwe mededinging van ander lande het die politieke onluste daartoe bygedra dat sedert die 1970's meer as 100 000 werkgeleenthede in die nywerheidsektor verlore gegaan het. Noord-Ierland se ekonomie was dekades lank afhanklik van Britse staatsubsidies wat jaarliks tot £4 miljard beloop het.
Lone en salarisse was gevolglik in Belfast en die res van Noord-Ierland merkbaar laer as in die Republiek Ierland. Noord-Ierland se laer lewenskoste het in die verlede duisende kopers uit die Republiek na grensdorpe en -stede in die noorde gelok waar die kleinhandelbedryf gefloreer het. Die ekonomiese groei in die suide het positiewe uitwerkings op Noord-Ierland se ekonomie gehad – Noord-Ierse uitvoere na die Republiek Ierland was so groot soos dié na Asiatiese lande en die res van die Europese Unie, en toeriste uit die suide was die tweede grootste groep besoekers. Na die Ierse bydrae tot Noord-Ierland se groei is dikwels as Southern Comfort verwys.[15]
Demografie en stadsbeeld
Bevolkingsgroei
Vroeg in die 20ste eeu het Belfast 'n tydperk van ekonomiese voorspoed betree. Sy bevolking, wat in 1808 nog slegs 25 000 en in 1841 70 000 beloop het, het in die eerste dekade van die nuwe eeu met tien persent gegroei tot 385 000. Hierdie soort bevolkingsontploffing was ongekend op 'n eiland waar die bevolkingsgetal as gevolg van hongersnood en emigrasie al sedert die middel van die 19de eeu aan die krimp was, en selfs groter as dié van Noord-Engeland se tradisionele nywerheidstede wat baie ooreenkomste met Belfast getoon het. Belfast het die snelste groeiende stedelike gebied in die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland geword.
Sy bewoners was egter van die begin af verdeeld oor godsdiens. Selfs voor die grootskaalse demografiese veranderings, wat met die nywerheidsomwenteling gepaard gegaan het, was daar spanninge tussen Presbiterianers en lidmate van die Kerk van Ierland. Toe tienduisende Rooms-Katolieke die stad begin binnestroom het, het die prentjie dramaties verander. Teen die einde van die 18de eeu was minder as tien persent van die bevolking Katolieke. In 1911 het hul aandeel tot 24 persent gestyg. Die belangrikste Protestantse denominasies was Presbiterianers (34 persent), lidmate van die Kerk van Ierland (30 persent) en Metodiste (sewe persent).
Die verdeling tussen arm en ryk was eweneens sigbaar. Welgesteldes het in buurte soos dié rondom Malone Road, Antrim Road en Botanic Avenue gewoon. Werkersklaskwartiere met hul kenmerkende nou straatjies en baksteenhuise waar groot gesinne saamgepak was soos sardiene, het veral digby die skeepswerwe ontstaan. Net soos in die nywerheidstreke van Noord-Engeland het die lewe van werkersklasgesinne om sport, musiek en drank gedraai. Hierdie belangstellings het saam met godsdienstige verdeeldheid 'n besondere karakter aan Belfast se sosiale en kulturele lewe gegee.
Stedelike struktuur
Die fisiese struktuur van die omliggende landskap het 'n beperking op Belfast se stedelike groei geplaas. In die noorde word die stadsgebied deur die Antrim-plato begrens, terwyl Castlereagh en die Holywood-berge die uitbreiding van Belfast na die suide beperk het. Stedelike groei het sodoende hoofsaaklik binne die Laganvallei plaasgevind. Eers vanaf die vroeë 19de eeu het Belfast danksy die nywerheidsomwenteling tot 'n groter stedelike nedersetting begin groei wat in 1861 met 'n bevolking van 361 000 selfs Dublin 'n tyd lank verbygesteek het om die grootste stad in Ierland te word.[16]
Terwyl Belfast se historiese sleutelbedrywe hul ekonomiese belangrikheid sedert die vroeë 20ste eeu verloor het, het die stad aanhou groei. So het ook die beboude stadsgebied steeds verder oor sy politieke grense heen uitgebrei om 'n ring van pendelaarvoorstede in 'n gedeeltelik verstedelikte randgebied te vorm. In sy werk Shaping a City: Belfast in the Late Twentieth Century het Fred W. Boal die metropolitaanse gebied in drie sones verdeel:
- die kernstad of Core City wat tot en met 1951 sterk groei getoon het, maar daarna deur die groei van die voorstede geraak is en volgens sy inwonertal begin krimp het, veral wat buurte in die middestad betref;
- die voorstede in Belfast se verstedelikte gebied (Urban Area Suburbs) wat in 1991 27 persent van die metropolitaanse gebied se bevolking gehuisves het; en
- die randgebiede van metropolitaanse Belfast of Outer Regional City wat so ver soos Antrim en Carrickfergus in die noordweste en noorde en Lisburn in die weste strek en nedersettings soos Newtownards en Bangor in die suide en ooste insluit. Die bevolking van hierdie gebied het tussen 1971 en 1991 met 39 persent gestyg, terwyl die kernstad in dieselfde periode 33 persent van sy bevolking verloor het.[17]
Die middestad
Die sakekern van Belfast word oorheers deur die Victoriaanse Raadsaal wat volgens 'n ontwerp van Alfred Brumwell Thomas vanaf 1903 in die barokstyl met 'n koepel van 53 meter ontstaan het.[18] Die raadsaal, waarvoor Portlandsteen gebruik is, het 'n ouer gebou, die White Linen Hall, vervang en is in 1906 voltooi. Stadsbeplanners het sedertdien moeite gedoen om die historiese stadsbeeld te bewaar. Die stedelike gebiedsplanne van 1969 en 2001 het die hoogte van nuwe geboue binne 'n afstand van 320 meter rondom die Raadsaal beperk – geen struktuur mag hier hoër wees as die Raadsaal nie. Dit is in 2009 ná twee jaar se omvattende opknapwerk deur die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, Hillary Clinton, plegtig heropen.[19]
Daarnaas het ook die geologiese geskiedenis van die gebied beperkings op die bou van hoë strukture geplaas. Ná die laaste kouetydperk het die seevlak sowat 8 500 jaar gelede met twintig meter gestyg. Kleiafsettings in oorstroomde loughs soos dié in Larne, Strangford en Belfast, wat plaaslik as sleetch bekend staan, is moeilike bougrond, en geboue benodig hier baie diep en stewige fondamente.
Ondanks die beperkings van stadsbeplanners en geologie was daar 'n sterk toename in nuwe kantoorontwikkelings. Nuwe kantoorruimte het veral suid van die stadskern en meer onlangs ook in Laganside ontstaan. Kantoorontwikkelings het 'n sentrale rol in die stedelike gebiedsplan van 2001 gespeel en is as 'n belangrike element by die herlewing van die middestad beskou wat byna dertig jaar lank deur politieke onluste bedreig is.
Die onluste of troubles het 'n nadelige uitwerking op die kleinhandelsektor in die sentrale besigheidsdistrik gehad. In die 1970's is veiligheidshekke gebruik om die getal motorbomaanvalle te verminder waardeur winkels en kantoorblokke geteister is. Baie winkels het vir goed gesluit nadat klante om veiligheidsredes uit die middestad weggebly het. In 1980 het 'n vyfde van die beskikbare winkelruimte in Belfast se middestad leeg gestaan. Nuwe winkelsentrums het destyds veral in voorstede ontstaan, soos byvoorbeeld in Sprucefield, naby Lisburn en in Abbeycentre noord van Belfast. Die graad van desentralisering van winkelgeriewe was in Belfast in die 1970's hoër as in enige ander Britse stad en het steeds meer druk op die voorstede uitgeoefen.
Sedert die einde van die troubles is moeite gedoen om die sakekern te laat herleef. Dele van die middestad is in voetgangerlane omgeskep soos byvoorbeeld in Cornmarket, terwyl meerverdieping-parkeergarages toeganklikheid tot die stadskern vergemaklik het. Die beskikbare winkelruimte het drasties toegeneem en 'n groot winkelsentrum, die Castle Court Centre, het sy deure in Royal Avenue geopen. In 1994 was die persentasie leegstaande winkeleenhede reeds so laag as twee persent.[20]
Etnies-godsdienstige diversiteit
Belfast deel etlike sosio-ekonomiese karakteristieke met ander 21ste eeuse post-industriële stede. So is buurte in die middestad veral gewild by ouer bewoners en jonger alleenstaandes, terwyl die stadsrand en voorstede die gewildste woongebiede vir gesinne is. Welgestelde buurte strek vanuit die sentrale besigheidsdistrik na die suidelike stadsdele, terwyl behuising vir laeinkomstegroepe onder meer in Wes-Belfast ontstaan het.
Belfast verskil egter in een opsig van vergelykbare middelgroot stede in ander westerse lande – die hoë graad van etniese-godsdienstige verdeling waarby groot dele van die stad deur middel van vlae, graffiti of ander tekens as óf "Protestantse" óf "Rooms-Katolieke woonbuurte" gemarkeer word. Die bewoners van Belfast is terdeë vertroud met hierdie etnies-godsdienstige geografie van hul stad. Oortreding van grense kan gevaarlik of selfs noodlottig wees.[21] Die afkorting KAH ("Kill All Huns", waarby Huns na Protestante verwys) word orals op "Katolieke" mure aangetref, Protestante gebruik KAT ("Kill All Taigs", of Katolieke).[22]
In sommige gevalle het etniese verdeeldheid tot onluste gelei. Die oorsake daarvan is veelvuldig en kompleks van aard. In 'n verslag van die Britse Departement van Binnelandse Sake (Home Office) oor die onluste in sommige stede van Noord-Engeland in die somer van 2001 is sosiale benadeling en 'n gebrek aan gemeenskapsleierskap as oorsake aangewys. Maar verdeelde gemeenskappe en aparte sosiale ruimtes het eweneens tot die onluste bygedra.
Alhoewel hoë vlakke van segregasie in woonbuurte blykbaar in sommige Engelse stede voorkom, verskil Noord-Ierse stede hiervan ten opsigte van die graad van polarisering van gemeenskappe. Daarnaas is die betrokke minderheidsgroep, naamlik Rooms-Katolieke, hier baie groot. Woonbuurte, waar meer as negentig persent van die bevolking Rooms-Katoliek was, is tradisioneel in 'n westelike sektor van Belfast geleë, maar beslaan net 'n klein gedeelte van die stadsgebied. Naas hierdie "Katolieke Stad" bestaan daar ook 'n "Protestantse Stad" in byvoorbeeld Oos-Belfast of in Rathcoole in die noorde.
Graad van verdeeldheid
Terwyl 'n Anglo-Normandiese kasteel reeds in die 12de eeu in die huidige stadsgebied van Belfast opgerig is, het die nedersetting eers met die vestiging van Engelse en Skotse setlaars in die sogenaamde plantations gedurende die 17de eeu begin groei. Belfast was destyds 'n suiwer Protestantse stad aangesien inheemse Rooms-Katolieke Iere hier aanvanklik van burgerregte uitgesluit is. Groter getalle Rooms-Katolieke het eers met die industrialisering van Belfast in die vroeë 19de eeu as werkers na die stad begin stroom en het omstreeks 1850 sowat 'n derde van die totale bevolking verteenwoordig.
Die persentasie Protestante en Katolieke het sedertdien steeds verander. Tans is byna die helfte van die bevolking in die kernstad Rooms-Katolieke wat gewoonlik in merendeels Katolieke woonbuurte bly. Die graad van segregasie volgens godsdiens varieer eweneens. Teen die middel van die 19de eeu het die helfte van die bevolking in etnies verdeelde strate gewoon, terwyl die ander vyftig persent in gemengde buurte gewoon het. Die graad van segregasie het in tye van etniese konflikte toegeneem. So is bewoners dikwels geïntimideer of het na buurte verhuis wat as veiliger geag is. Dit is opvallend dat mense in rustige periodes gewoonlik nie na hul oorspronklike huise teruggekeer het nie, soos uit statistieke bly. Terwyl in die 1960's twee derdes van die bevolking in die kernstad in etnies verdeelde strate gewoon het, het hierdie aandeel in die 1970's en 1980's gestyg tot respektiewelik 77 en 78 persent.[23]
"Vredeslyne" en koppelvlakke tussen etnies verdeelde woonbuurte
Die skeidingslyne tussen Protestante en Katolieke loop so diep dat hulle selfs die val van die Berlynse Muur in 1989 oorleef het. Tans is daar meer as twintig "vredeslyne" of mure (peace walls) wat etnies-godsdienstig verdeelde woonbuurte van mekaar skei. Baie van hulle is in die 1970's opgerig toe die onluste hulle hoogtepunt bereik het. Inwoners was gewoonlik ten gunste van hierdie "environmental barriers", soos hulle vandag eufemisties genoem word, aangesien hulle as 'n maatreël beskou is om sektariese moorde in die gebied te verhinder, en hulle help steeds om die spanning tussen die strydende partye te verlig. Ironies genoeg het Belfast intussen 'n belangrike bestemming vir "konfliktoerisme" geword.[24]
Sommige van die mure is meer as 'n kilometer lank, met 'n hoogte van 6 meter. (In vergelyking was die Berlynse Muur 3,6 meter hoog). Sommige van hulle is deur plante en bome verfraai, maar ongeag hulle netjiese voorkoms vervul hulle dieselfde funksie soos die oorspronklike doringdraadversperrings waarvan die eerste in 1969 deur Britse soldate uitgerol is om die Katolieke buurt van Falls Road en die Protestantse kwartier rondom Shankill Road van mekaar te skei. Die sosiale vraagstukke aan weerskante van die mure bly dieselfde: werkloosheid, armoede en vandalisme. Behuising in verdeelde buurte is dikwels in 'n slegte toestand, alhoewel daar pogings onderneem word om dit op te knap.
Tans is daar sowat eenhonderd vredeslyne in Belfast, en die oprigting van hierdie soort mure word meestal as die maklikste oplossing vir geweldpleging in 'n bepaalde buurt beskou. So het baie vredeslyne eers ná die ondertekening van die Goeie Vrydag-ooreenkoms in 1998 ontstaan. Vroeg in 2013 is 'n projek van stapel gestuur wat daarop gemik is om gesprekke tussen verdeelde gemeenskappe aan te moedig en die mure uiteindelik af te breek.[25] Nogtans het die getal "vredesmure" tussen 1994 en 2015 toegeneem van 22 tot 110.[26]
Immigrasie
As gevolg van die politieke onluste was die invloei van immigrante na Belfast en Noord-Ierland in die verlede laer as in ander dele van Wes-Europa. Tradisioneel was die Sjinese, Joodse en ander Asiatiese gemeenskappe die belangrikste etniese minderhede. Ná die opening van Oos-Europa het groter getalle migrante uit Pole, Letland en Litaue hulle in Belfast en ander dele van Noord-Ierland gevestig. Daarnaas het ook baie immigrante uit Portugal 'n nuwe tuiste in Belfast gevind.
Belfast se quarters
Net soos in ander geskiedkundige stede het ook in Belfast die katoenbedryf die spilpunt van ekonomiese groei en ontwikkeling gevorm. Die verskillende ambagte van dié bedryf was in spesiale buurte of kwartiere (Engels: quarters, afgelei van die Franse quartiers) saamgetrek. So het wewers langsaan ander wewers gewoon en gewerk, looiers hulle naby ander looiers gevestig, en slagters het hul werkplekke digby dié van ander slagters ingerig. Die meeste ambagsgroepe het oor hul eie plaaslike kerkgebou beskik. Dikwels het dié kerke as godsdienstige sentrum vir 'n bepaalde handelsgilde gedien.
Die middestad van Belfast word tans – onder meer vir toerisme-doeleindes – in kwartiere verdeel wat as Cathedral, Queen's, Titanic, Gaeltacht en Linen Quarter bekend staan. Elkeen van dié kwartiere het sy eie spesifieke karakter en geskiedenis.
Die oorgrote meerderheid van die plaaslike bevolking word egter in uitgestrekte voorstede gehuisves.
Cathedral Quarter
Die Cathedral Quarter of Katedraalkwartier in die middestad het sy naam aan die St. Annakatedraal (St. Anne's Cathedral) te danke. Die stadsbuurt staan bekend vir argitektoniese erfenis met bank- en openbare geboue, maar dit vervul met sy talle kroeë en historiese stoorhuise wat tot restaurante omgeskep is, ook 'n funksie as kuns- en vermaaklikheidsbuurt. In die laat 20ste en vroeë 21ste eeu het steeds meer kunstenaars en ambagsmanne hulle in die kwartier kom vestig. In die lente van 2012 het die Metropolitaanse Kunssentrum (Metropolitan Arts Centre, MAC) sy deure naby die katedraal op St. Anne's Square (St. Annaplein) geopen.
Terwyl nuwe geboue in die kwartier ontstaan het, is van die oudste strate van Belfast in die Katedraalkwartier geleë wat uit die 17de eeu dateer. So kontrasteer moderne boukuns met historiese argitektuur. Naas sy boukuns, restaurante en luukse hotelle soos die Merchant Hotel lok feeste, wat in die kwartier gehou word, talle besoekers. Die Belfast Circus School is die middelpunt vir die jaarlikse Festival of Fools waartydens straatkunstenaars hul slag toon. Die gastronomiese Out to Lunch-fees word jaarliks in Januarie gehou, die kunsfees Cathedral Quarter Arts Festival in April en Mei, die Open House Festival folkmusiekfees in Junie en die Belsonic-musiekfees in Augustus.
Queen's Quarter
Queen's Quarter is 'n stadsdeel in die suide van Belfast wat bekend staan vir sy groen ruimtes. Hier is die Queen's-universiteit, die Botaniese Tuin met sy elegante Victoriaanse palmhuis (1839–40) en die Tropiese Ravyn waar kurator Charles McKimm in 1887 'n kunsmatige rivier in 'n tropiese reënwoudklimaat geskep het, en die Ulster Museum geleë. 'n Groot verskeidenheid eklektiese winkels (waaronder dié van Lisburn Road, die belangrikste winkelstraat in die kwartier), koffiehuise, kroeë, kunsgalerye, boekwinkels, die Queens Film Theatre asook trekpleisters vir musiekliefhebbers soos Mandela Hall, Speakeasy en Empire Music Hall wat almal lewendige musiek aanbied, weerspieël die kulturele en opvoedkundige karakter van die stadsdeel.
Titanic Quarter
Titanic Quarter in die ooste van die stad is Belfast se mees ambisieuse projek van stadsvernuwing waar die geskiedenis, erfenis en tradisies van die stad sentraal staan. Die voormalige skeepswerf met 'n oppervlak van 75 hektaar is in die proses tot 'n nuwe stadsbuurt herontwikkel. Die vermaaklikheidskompleks Odyssey was Belfast se belangrikste projek vir die nuwe millennium en huisves naas kegelbane, 'n rolprentteater, kroeë en nagklubs asook die Arena, die tuisstadion van die Belfast Giants, 'n yshokkiespan wat in die Elite Ice Hockey League speel.
Maar dit is RMS Titanic wat Belfast se geskiedenis as een van die vernaamste nywerheidstede van die Verenigde Koninkryk versinnebeeld en sy naam aan die kwartier gegee het. 'n Verskeidenheid toere word aangebied waartydens belangstellendes 'n indruk kan kry van hierdie tegniese wonderwerk van die Edwardiaanse tydperk en die mense wat dit beplan en gebou het. Die ingenieursvernuf van Belfast, Titanic se dok en pomphuis maak deel uit van die toere. Die ikoniese Titanic Belfast-gebou, wat die geskiedenis van die luukse passasierskip behandel, is naas die gerenoveerde stoomskip SS Nomadic geleë. Hierdie veerboot, wat in Belfast gebou is, het passasiers na die Titanic geneem.
Gaeltacht Quarter
Gaeltacht Quarter in die weste van die stad is Belfast se sentrum vir Ierse taal en kultuur. In 1969 het jong taalentoesiaste Shaw's Road Gaeltacht gestig, 'n klein kwartier waar hulle die Ierse taal, kuns, musiek en toneelkuns laat herleef het. Die gebruik van Iers word sedertdien sowel in die privaat lewe asook in winkels en ander openbare plekke bevorder – opskrifte is dikwels tweetalig Iers-Engels.
Twee jaar later is Noord-Ierland se eerste Iersmedium-skool gestig. Toeriste bring 'n besoek aan die stadsdeel om sy beroemde politieke muurskilderye en sy vredesmuur te besigtig, maar word ook deur die plaaslike vermaaklikhede gelok – tradisionele Ierse kroeë en restaurante.
Die vroeëre kerk van die Presbiteriaanse Broadway-gemeente in Falls Road was die laaste Protestantse kerkgebou in dié straat. Nadat die lidmaatgetal steeds verder gedaal het, is dit in die vroeë 1980's gesluit. Ierse taalaktiviste het die leegstaande kerk gekoop en omgebou tot 'n Iers-Gaeliese kulturele sentrum. Cultúrlann McAdam Ó Fiaich, wat sy deure in 1991 geopen en tydelik ook 'n Iers-Gaeliese sekondêre skool, radiostasie en redaksiekantore van 'n dagblad gehuisves het, is vernoem na Robert Shipboy McAdam (1808–1895), 'n Protestantse Iers-Gaeliese taalaktivis, en die Rooms-Katolieke kardinaal en aartsbiskop van Armagh, Tomás Ó Fiaich (1923–1990), wat naas sy godsdienstige roeping erkenning geniet het as Ierse taalnavorser, volkskundige en historikus. Cultúrlann fungeer as kulturele vlagskipsentrum vir Galiese kunste en Iers as gesproke taal. Die sentrum huisves 'n kunsgalery, teater, restaurant en 'n boekwinkel. Die munisipale kerkhof Belfast City Cemetery en die Rooms-Katolieke Milltown Cemetery is eweneens in die Falls Road-buurt geleë.
Linen Quarter
Belfast se stadsbeplanners skenk besondere aandag aan die regenerasie van die Linen Quarter, 'n stadsbuurt wat net suid van Belfast City Hall geleë is en sowat sestien hektaar beslaan – veral vanweë sy sentrale ligging, die groot aantal hoofkwartiere van privaat en openbare ondernemings wat hier gesetel is, en die beplande uitbreiding van Great Victoria Street-stasie wat as Belfast en Noord-Ierland se hoofvervoerspilpunt sal dien. Die Enterprise-oorgrenstreindiens, wat Belfast met Dublin verbind, sal vanaf Belfast se huidige hoofstasie na Great Victoria Street verskuif word en van dié stasie Noord-Ierland se vernaamste aankoms- en vertrekpunt vir treinpassasiers maak.[28]
Die Linen Quarter het sy naam aan die 19de eeuse lakenbedryf te danke wat hier gesetel was. 'n Aantal historiese geboue getuig van dié verlede en maak die buurt aantreklik vir toeriste. So het hier ook 'n aantal hotelle ontstaan of word tans beplan.
Die huidige Raadsaal van Belfast (Belfast City Hall) het op die perseel van die vroeëre White Linen Hall ontstaan, 'n belangrike internasionale handelsbeurs vir die lakenbedryf. Een van Belfast se oudste kulturele instellings, die Linen Hall Library, het op Donegal Square North teenoor die Raadsaal ontstaan. Dit biblioteek is oorspronklik in 1788 in die White Linen Hall gevestig.
Lagan-kanaal
Die Lagan-kanaal was vanaf die 17de eeu, toe Belfast van 'n klein nedersetting tot 'n beduidende metropool begin groei het, een van die hoofare vir die stedelike lewe, handel en vervoer. In die stad se goue industriële tydperk in die 19de eeu is swaar goedere soos hout en steenkool op skepe vervoer en het van die kanal een van die besigste waterweë van die Britse eilande gemaak.
Boubedrywighede vir die Lagan-kanaal het in 1756 begin, en in 1793 is die waterweg danksy die sluise by Sprucefield tot by Ellis Gut, 'n inham in Lough Neagh, uitgebou. Die kanaal met 'n totale lengte van 27 myl is in die volgende jaar amptelik ingewy. 18 sluiswagters het na die 27 sluise omgesien. Die Lagan Navigation-projek het die sentrale dele van Ulster vir ekonomiese ontwikkeling ontsluit en danksy die groeiende handelsvolume grootliks bygedra tot Belfast se industriële voorspoed.
Die bou van 'n spoorwegnetwerk in die laat 19de eeu het die agteruitgang van die kanaal ingelui, alhoewel hierdie proses geleidelik was. Eers in die 20ste eeu was goederevervoer op die kanaal weens die uitwerkings van twee wêreldoorloë en strawwe mededinging van motorvoertuie ekonomies nie meer lewensvatbaar nie.
Ná 1947 was Lisburn die eindpunt vir vragvervoer op die kanaal. Vanaf 1954 was beheer oor die Lagan-kanaal in die hande van die regering, en die seksie tussen Union Loughs en Lough Neagh is vir skeepsverkeer gesluit. Die seksie tussen Stranmillis en Lisburn het in 1958 gevolg. Tans loop die M1-snelweg tussen Sprucefield en Moira langs die ou kanaalroete.
Vandag is die kanaal 'n belangrike ontspanningsgebied. Boottoere langs die Laganrivier en na plekke wat met die RMS Titanic verbind word, word gereeld gehou. Hengelsport, draakboot-wedvaarte en roeisport is van die aktiwiteite langs en op die kanaal. Stap- en fietstoere is eweneens gewild, en 'n Nasionale Fietsroete loop langs die kanaal.
Toerisme
Belfast is een van die mees besoekte stede in die Verenigde Koninkryk en die tweede mees besoekte stad op die eiland Ierland met jaarliks meer as nege miljoen toeriste. Vanweë die kort afstande tussen toeriste-aantreklikhede is Belfast 'n gewilde bestemming vir kort vakansies. Die stad het sy ryk erfenis van Georgiaanse, Victoriaanse en Edwardiaanse boukuns bewaar, en baie van hierdie geboue is volgens moderne ontwerpstyle verfraai.
Daar is uitstekende restaurante, 'n polsende naglewe, talle winkels en veral 'n ryk kulturele en kunslewe. In die afgelope jare het Belfast sy reputasie as eersterangse Europese bestemming vir sake- en groepsreise en konferensies uitgebou. Baie kongresse en uitstallings word in Belfast Waterfront gehou. Die reisgidsuitgewer Lonely Planet het Belfast en die Causeway Coast as die "beste streke" aangewys in sy lys van die mees gewilde reisbestemmings vir internasionale toeriste in 2018.[29]
Die Stadsraad van Belfast beskou die herontwikkeling van die sogenaamde Titanic Quarter, 'n nuwe buurt met woonstelgeboue, hotelle en 'n vermaaklikheidsdistrik langs die rivieroewer as een van die sleutelprojekte vir die regenerasie van Belfast. Een van die jongste toeristeaantreklikhede, Titanic Belfast, 'n multimediale museum oor die geskiedenis van die RMS Titanic, het sy deure op 31 Maart 2012 geopen. 'n Nuwe moderne openbare vervoerstelsel met onder meer hoëspoedtreine word tans beplan.
Infrastruktuur
Seehawe
Belfast se seehawe is onlosmaaklik verbind met die geskiedenis en ekonomiese ontwikkeling van Belfast. Die hawe, wat met 'n oppervlakte van 2 000 akkers 'n vyfde van Belfast se stadsgebied beslaan en sedert 1847 deur Belfast Harbour (BH) bestuur word, hanteer sowat sewentig persent van Noord-Ierland en twintig persent van die hele eiland Ierland se seegebonde handel. In 2016 is meer as 23 miljoen seevrag gehanteer.[30] Die gebied, wat deur die hawe bedien word, strek tot ver in die Republiek Ierland. Die belangrikste invoergoedere is ru-olie, bouhout, staal, steenkool en kunsmis, terwyl onder meer skrootmetaal en stene na oorsese bestemmings verskeep word.
Naas vrag- en houerskepe doen ook veerbote en passasierskepe gereeld by Belfast-hawe aan. Die Gotenburg-gebaseerde Stena Line-redery bedien roetes na Cairnryan, Loch Ryan en Wigtownshire in Skotland met sy HSS (High Speed Service)-skepe met 'n vaartyd van anderhalf uur. Die vaartyd is langer vir konvensionele skepe (3 uur 45 minute). Norfolkline – amptelik Norse Merchant Ferries – vervoer vrag en passasiers op die roete tussen Belfast en Liverpool in Engeland met 'n vaartyd van agt uur. Daar is bykomende seisoenale roetes na Douglas op die eiland Man wat deur die Isle of Man Steam Packet Company bedien word.
In 2016 het 81 plesierbote met altesaam 144 002 passasiers aan boord in Belfast-hawe aangedoen – 'n aansienlike styging teenoor die vorige jaar.[31]
As Noord-Ierland se vernaamste logistiek-spilpunt bly die hawe ook aantreklik vir ondernemings wat hier hul Noord-Ierse filiale gevestig het – soos Baker McKenzie, Capita, CitiGroup en Bombardier.
Vervoer
Padvervoer
Die beboude stadsgebied van Belfast het sedert die 20ste eeu steeds verder na omliggende gebiede uitgebrei. So beslaan die Belfast Metropolitan Area (BMA) intussen 'n oppervlakte van sowat 960 km² en sluit naas Belfast ook die boroughs Castlereagh, Carrickfergus, Lisburn, North Down en Newtownabbey in. Ondanks sy grootte word tans nog nie aan alle bewoners van dié gebied toereikende openbare vervoer voorsien nie sodat baie pendelaars op hul eie vervoer aangewese is. Tans is geen ander stad in die Verenigde Koninkryk so sterk afhanklik van privaat motorvervoer soos Belfast nie. In 2000 het meer as 80 persent van werknemers in Belfast motors of kleinbusse gebruik om hul werkplekke te bereik. Verkeersopeenhoping en lugbesoedeling het ernstige vraagstukke geword.[32]
Lughawens
Belfast word deur twee lughawens bedien, Belfast Internasionale Lughawe (van waar vlugdienste na internasionale bestemmings aangebied word) en George Best Belfast City Airport (GBBCA), 'n streekslughawe met 'n enkele aanloop- en landingsbaan wat hoofsaaklik vlugdienste na bestemmings in Groot-Brittanje en Ierland bied. GBBCA trek voordeel uit sy ligging naby die middestad.
GBBCA, 'n lughawe in besit van Eiser Infrastructure Fund, is naby die A2-snelweg aan die suidoewer van Belfast Lough geleë. Met jaarliks meer as 2,5 miljoen passasiers hanteer die lughawe sowat 40 persent van geskeduleerde vlugte na en van Noord-Ierland. GBBCA is in 1938 as kommersiële lughawe geopen. Vanaf 1983 het dit as Harbour Airport bekend gestaan. In Junie 2001 is 'n nuwe terminaal geopen.
Belfast International Airport het sy oorsprong in die tyd van die Eerste Wêreldoorlog toe die Aldergrove-vliegterrein sowat 21 km noordwes van Belfast vanaf November 1917 vir oefenvlugte van die Royal Flying Corps, die voorloper van die Royal Air Force, gebruik is. Vanaf 31 Mei 1933 het Midland and Scottish Air Ferries geskeduleerde vlugte na Glasgow aangebied, en vanaf 20 Augustus 1934 het Railway Air Services die eerste lugroete na Londen via Manchester en Birmingham na Croydon-lughawe ingestel waarvoor die Nutts Corner-vliegveld gebruik is.
Vanweë die wisselende weerstoestande in Nutts Corner is vlugdienste vanaf 26 September 1963 weer na Aldergrove verskuif. Een maand later, op 28 Oktober, is Aldergrove met sy huidige terminaalgebou deur Haar Koninklike Hoogheid Koningin Elizabeth die Koninginmoeder heropen. Op 4 Januarie 1966 het die eerste stralervliegtuig, 'n British United BAC 1–11 na Londen se Gatwick-lughawe vertrek. Die lugroete na New York is vanaf 1968 deur die Ierse lugredery Aer Lingus (via Shannon) en die Britse BOAC (via Prestwick) bedien. In die volgende jaar het die passasiersgetal die een-miljoenkerf verbygesteek.
Nadat die hooflandings- en aanloopbaan in 1970 met 3 000 voet verleng is, het die nuutgestigte Northern Ireland Airports Limited op 1 Junie 1971 die Britse Departement van Handel en Nywerheid as bestuurder vervang. Die eerste huurvlug met 'n Boeing-747-makrostraler het op 3 Julie 1977 via Shannon na Toronto in Kanada vertrek. As eerste bestemming op die Europese vasteland is Amsterdam in 1980 deur NLM Cityhopper bedien.
Die lughawe is in 1983 hernoem tot Belfast International, en in die volgende jaar het die passasiersgetal tot 1,5 miljoen gestyg. In 1987 was dit twee miljoen. Nadat 'n nuwe vragsentrum op 17 Julie 1991 in bedryf gestel is, is die lughawe in Julie 1994 geprivatiseer. In 1999 het die jaarlikse passasiersgetal drie miljoen beloop, in 2004 reeds 4,5 miljoen, vyf miljoen in 2006 en 4,4 miljoen in 2015.[33] Nadat die Republiek Ierland passasierbelasting afgeskaf het, het passasiergetalle op Belfast se twee lughawens gedaal namate lugrederye en passasiers na Dublin-lughawe begin uitwyk het.
In 2008 het Aer Lingus sy eerste basis buite die Republiek Ierland op Belfast se Internasionale Lughawe geopen. Ná sy oorname deur International Airlines Group in 2015 het Aer Lingus landingregte op Belfast International aan Ryanair afgestaan wat in Maart 2016 'n nuwe basis op die lughawe geopen het, met vier daaglikse vlugte na Londen se Gatwick-lughawe. In Maart het Ryanair daarnaas aangekondig dat hulle vanaf 1 September 2016 regstreekse vlugte vanaf Berlyn se Schönefeld-lughawe na Belfast International sal aanbied – 'n besluit wat volgens waarnemers 'n positiewe uitwerking op toerisme in Noord-Ierland sal hê.[34]
Tans word gereelde vlugte na Europese en Noord-Amerikaanse (insluitende Meksiko) asook bestemmings in Asië (Turkye) en Afrika (Kanariese Eilande) aangebied.[35]
Trems en trolliebusse
In die Victoriaanse tydperk was openbare vervoer in Belfast beperk tot perdekarre wat op klipstrate geloop het. Sommige van dié historiese strate het in die Cathedral Quarter bewaar gebly. Toe die stad gedurende die nywerheidsomwenteling steeds meer uitgebrei het, moes daar voorsiening vir 'n vinniger en meer gerieflike vervoermiddel vir pendelaars gemaak word.
Vanaf 1872 was perdetrems 'n belangrike openbare vervoermiddel wat deur die Belfast Street Tramways Company bedryf is, terwyl Cavehill and Whitewell Tramway 'n stoomtremdiens tussen Belfast en die dorpe Whitewell en Glengormley in die omgewing aangebied het. Nadat die tremstelsel op 1 Januarie 1905 deur die Belfast Corporation gekoop is, is nog in dieselfde jaar na elektriese trems met oorhoofse kraglyne oorgeskakel.
Die elektriese trems se buitekante is oorspronklik rooi en wit geverf, en van hierdie ouer, nie-gemoderniseerde waens was nog tot in die 1950's in gebruik. In 1928 is William Chamberlain as nuwe besturende direkteur benoem. Hy het donkerblou en wit as nuwe korporatiewe kleure ingevoer (alhoewel in die laat 1940's weer na die vroeëre kleure oorgeskakel is) en 'n moderniseringsprogram van stapel gestuur. Vyftig van die ouer tremwaens is gemoderniseer en dieselfde getal nuwe voertuie gebou.
Chamberlain is in 1931 deur Robert McCreary opgevolg wat vier jaar later nog 'n nuwe vloot van vyftig gestroomlynde tremwaens ingevoer het. Na hierdie laaste reeks waens, wat vir Belfast se tremstelsel gebou is, is dikwels as McCreary verwys. In 1938 het Belfast Corporation die tremdiens op Falls Road deur trolliebusse vervang.
Die trolliebusstelsel was die enigste van sy soort in Ierland en het so suksesvol geblyk dat in die volgende jaar besluit is om alle tremlyne geleidelik uit te faseer. So is in die 1940's steeds meer trolliebusse ingevoer, en Belfast se netwerk was die tweede grootste in die Verenigde Koninkryk – na die Londense trolliebusstelsel – met 17 roetes en 'n vloot van 245 busse.
Die laaste trems het in 1954 geloop en is vervolgens deur dieselbusse vervang. Volgens die nuwe beleid is ook alle trolliebusse op 12 Mei 1968 buite bedryf gestel om plek te maak vir 'n nuwe vloot van dieselbusse. Vyf van die vroeëre trolliebusse het bewaar gebly en word tans in musea in Noord-Ierland, die Republiek van Ierland en Engeland vertoon.
Belfast Corporation se busvloot is in 1973 aan Citybus (tans Metro wat deel uitmaak van Translink) oorgedra.
Belfast Rapid Transit
'n Nuwe innovatiewe openbare vervoerstelsel, Belfast Rapid Transit (BRT), is op 3 September 2018 in bedryf gestel. Die eerste fase van BRT behels busroetes wat Oos- en Wes-Belfast, die Titanic Quarter en ander buurte van besondere ekonomiese en sosiale belang via die middestad met mekaar verbind en bestaande Metro-busroetes sal vervang. Nuwe hibriedvoertuie – 'n vloot van dertig moderne Glider-busse met elektriese en dieselenjins – met sitplekke vir 100 passasiers elk word deur die Belgiese vervaardiger Van Hool verskaf.
Sosiale en kulturele lewe
Sosiale toestande
Welvaart was in 19de eeuse en vroeë 20ste eeuse Belfast allesbehalwe regverdig verspreid. Lewensomstandighede van Belfasters wat weelderige huise in kwartiere soos dié van Malone Road en Antrim Road kon bekostig het drasties verskil van dié van die werkersklas. Die welvarende voorstede is onder meer deur plaaslike entrepreneurs en hul gesinne bewoon – 'n stedelike elite wat sy fortuine veral in die tweede helfte van die 19de eeu verdien het, onder meer in die Ulster-klub op Castle Place georganiseer was en bediendes, tuiniere en bestuurders by hul huise in diens kon neem.
In die meer gegoede voorstede is veral middelklas-gesinne gehuisves – ingenieurs, advokate, prokureurs, rekenmeesters, geneeskundiges, bestuurders en staatsamptenare wat hul vryetyd onder meer in rugby- en krieketklubs bestee en hul kinders in privaat skole laat onderrig het.
Op 'n laer hiërargiese vlak was opgeleide werkers en ambagsmanne wat hoofsaaklik in Belfast se skeepswerwe of in die plaaslike boubedryf werksaam was. Hulle het wél handewerk verrig, maar het 'n hoër sosiale status gehad as die groot getalle ongeskooldes. Vakmanne moes gewoonlik lang ure werk, maar hul lone was hoog genoeg om 'n aanvaarbare lewenstandaard te verseker. Hul vroue was nie genoodsaak om te werk nie, en kinders het openbare skole bygewoon.
Die werksomstandighede van die laerklas was in die 19de en vroeë 20ste eeu meestal sleg. Toestande in spinnerye was baie warm en vogtig, en ook die werksprosesse in die tekstielbedryf het werkers se gesondheid ernstig in gevaar gestel. So het baie van hulle longsiektes soos brongitis en ftise (longtering) opgedoen. Terwyl welgesteldes en geskoolde werkers in uitstekende of goeie formele behuising gewoon het, was ongeskooldes dikwels in krotbuurte soos dié rondom Abbey-straat saamgetrek. Hierdie buurte was nie so uitgestrek soos krotbuurte in Dublin nie, maar nogtans het duisende gesinne hier in haglike, oorbevolkte en onhigiëniese toestande geleef.
Generasies van mense het in die 19de eeu van die platteland in Ulster en ander streke in Ierland na Belfast gemigreer om hier werk in die nywerheidsektor te vind. Wat op hulle gewag het was 'n lewe vol van finansiële onsekerhede. Dikwels was werkersklasgesinne ook op die inkomste van vroue en kinders aangewese om 'n bestaansinkomste te kan verdien, waarby vroue teen laer lone as mans aangestel is.
Vir sommige vroue was prostitusie 'n oplossing. In die middestad het sogenaamde waaksaamheidskomitees teen prostituees begin optree, maar die ongewenste newe-effek van hierdie soort aksie was dat bordele na die voorstede uitgewyk het.
Vryetydsbesteding
Die godsdienstige en politieke verdeeldheid van Belfast se bevolking is in die sosiale en kulturele lewe weerspieël. So het Protestantse en Katolieke sokkergeesdriftiges gewoonlik hul eie span ondersteun. Die stelsel van professionele sokkerliga's, soos dit in Noord-Engeland ontwikkel het, het in die 19de eeu ook ingang tot Noord-Ierland gevind en 'n belangrike rol in Belfast se werkersklaskultuur gespeel. Duisende seuns en mans het op Saterdagnamiddae na die stadions en sokkervelde gestroom om wedstryde by te woon. In 1911 was daar reeds vyf professionele sokkerspanne, en sommige bekende Britse spelers soos Elisha Scott (1894–1959), wat tussen 1912 en 1934 as doelwagter van FC Liverpool opgetree het, was boorlinge van Belfast.[36]
In Katolieke woonbuurte het die Gaelic Athletic Association, wat in 1884 deur Michael Cusack gestig is, sy invloed laat geld en tradisionele Ierse sportsoorte soos hurling bevorder. In voorstede is sportsoorte beoefen wat by die rustige lewe buite die middestad aangepas was soos rugby, krieket en tennis, maar ook baie ander wat in die tyd van die sogenaamde Victoriaanse sportrewolusie gewild geraak het. Gholfspelers het saamgesluit tot die Fortwilliam-gholfklub. Die North of Ireland Cricket and Football Club is in 1868 gestig, en ses van sy lede was deel van die Ierse span wat die eerste internasionale rugbywedstryd, wat in 1875 in Londen se Oval-stadion gehou is, teen Engeland verloor het. Langs die rivier het bootklubs ontstaan, waaronder die Belfast Boat Club in Stranmillis.
Terwyl die burgerklas Sondae meestal met kerkdienste deurgebring en Sondagskole vir hul kinders georganiseer het, het werkers hulle dikwels meer aangetrokke gevoel tot Belfast se groot verskeidenheid kroeë en goedkoop whiskey, ondanks alle aktiwiteite van die plaaslike Ierse matigheidsbeweging. Die Crown Bar was die gewildste kroeg in Belfast, maar daar was strawwe mededinging. In die vroeë 20ste eeu was daar een kroeg per 328 inwoners. Drankverslawing was 'n ernstige maatskaplike probleem.
'n Ander gewilde vermaak was rolprente. In 1914 was daar vyftien rolprentteaters in Belfast. Ander bedrywe, wat in dié tyd gefloreer het, was tabakwinkels, Italiaanse roomyskafees, vis-en-tjips-winkels, fynbakkerye en teesalons.
Mediabedryf
Drie dagblaaie het hul hoofkwartiere in Belfast – die Irish News, die Belfast Telegraph, en The News Letter. Die laasgenoemde, wat deur lede van die Joy-familie – invloedryke Hugenote-immigrante – gestig is, het vir die eerste keer in 1737 verskyn en is die oudste Engelsmedium-koerant ter wêreld wat steeds onder sy oorspronklike naam uitgegee word. Op 23 Augustus 1776 was die News Letter die eerste dagblad in Europa wat op sy titelblad uitvoerig oor die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring berig het.
Belfast Media Group is die uitgewer van gemeenskapskoerante soos Andersonstown News, North Belfast News en South Belfast News asook ander publikasies soos die Iers-Amerikaanse dagblad The Irish Echo wat ook in die Verenigde State versprei word. Daarnaas word 'n aantal gratis-publikasies in kroeë, koffiehuise en ander openbare plekke versprei, waaronder Go Belfast, Fate en Vacuum.
Naas twee televisie-uitsaaiers, BBC Northern Ireland en Ulster Television (UTV, 'n ITV-stasie), het ook die kommersiële radiostasies Belfast CityBeat en U105 hul hoofkwartiere in Belfast. Die ateljees van NvTv, een van Noord-Ierland se twee gemeenskaps-televisiestasies, is in die Cathedral-buurt geleë. Twee gemeenskapsradiostasies, Blast 106 (in Engels) en Raidió Fáilte (in Iers) saai hul programme vanuit ateljees in die weste van die stad uit, net soos Queen's Radio, 'n radiostasie wat deur studente van die Queens-universiteit bedryf word.
Belfast het tot 'n belangrike rolspeler in die Britse rolprentbedryf ontwikkel, waarby The Paint Hall op die Harland and Wolff-terrein met vier tonele en 1 000 m² as een van die hoofateljees van die Verenigde Koninkryk se Rolprentraad dien. Produksies soos City of Ember en HBO se Game of Thrones is hier vervaardig.
In November 2011 was Belfast die kleinste stad ooit wat as gasheer van die MTV Europe Music Awards opgetree het. Dié musiekpryse is in die Odyssey Arena toegeken, waarby Selena Gomez as aanbieder opgetree het.
Sport
Belfast was een van die gasheerstede tydens beide die Rugbywêreldbeker 1991 en Rugbywêreldbeker 1999.
Krieket
Belfast beskik oor een van min Ierse krieketvelde: Stormont. Ierland se nasionale krieketspan het van sy EDI-tuiswedstryde hier gespeel.
Rugby
Ierland se nasionale rugbyspan speel soms van sy tuiswedstryde op die Kingspan-stadion wat deur die Ierse Rugbyvoetbalunie besit word. Belfast se professionele rugbyspan Ulster Rugby speel hier in die Pro14.
Bekende boorlinge
- William Mulholland (1855–1935), siviele ingenieur in Los Angeles, Kalifornië, ontwerper van die Los Angeles-akwaduk
- C.S. Lewis (1898–1963), Britse skrywer en digter
- Chaim Herzog (1918–1997), sesde president van Israel
- Van Morrison (* 1945), sanger, liedjieskrywer en musikant
- George Best (1946–2005), professionele sokkerspeler
- Mary McAleese (* 1951), agste president van Éire (Republiek van Ierland)
- Barry Douglas (* 1960), musikus en dirigent
- Kenneth Branagh (* 1960), akteur, regisseur, vervaardiger en draaiboekskrywer
- Glenn Patterson (* 1961), skrywer
Susterstede
- Nashville, Tennessee, Verenigde State, sedert 1994.[37]
- Hefei, Anhui, Volksrepubliek China, sedert 2005.[37]
- Boston, Massachusetts, Verenigde State, sedert 2014.[37]
Verwysings
- (en) Northern Ireland Statistics & Research Agency: Sensus van 2011 Geargiveer 25 Desember 2018 op Wayback Machine
- (en) Royal Mint – Belfast
- HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
- (de) Baedeker Allianz Reiseführer Großbritannien und Nordirland. 5de uitgawe. Ostfildern: Karl Baedeker 1994, bl. 156
- (en) Raymond Gillespie: Early Belfast: The Origins and Growth of an Ulster Town to 1750. Belfast: The Belfast Natural History and Philosophical Society 2007, bl. 3
- (en) Stadsraad van Belfast: Luggehalte Geargiveer 21 Oktober 2012 op Wayback Machine
- (en) metoffice.gov.uk: Belfast climate. Besoek op 20 Junie 2015
- (en) Belfast City Council: Belfast City Hall. Brosjure sonder jaargetal
- (en) Jamie Johnston: Victorian Belfast. Belfast: Ulster Historical Foundation 1993, bl. 5
- (en) www.discovernorthernireland.com: Parliament Buildings, Stormont. Besoek op 17 Maart 2015
- (en) BBC – The Blitz: Bombs over Belfast. Besoek op 28 Augustus 2016
- (en) Fionn Davenport: Ireland. eBoek-uitgawe. Footscray, Oakland en Londen: Lonely Planet Publications 2009, bl. 568
- (en) The National Archives of Ireland: What was Belfast like in the 20th century?
- (en) Belfast Shipbuilders. Belfast: Ulster-Scots Community Network (sonder jaargetal), bl. 3
- (en) Financicles.com: How the eurozone crisis will affect Northern Ireland Geargiveer 20 Junie 2013 op Wayback Machine
- (en) Geography in Action: Urban Structure of Belfast Geargiveer 20 April 2013 op Wayback Machine
- (en) Fred W. Boal: Shaping a City: Belfast in the Late Twentieth Century. Institute of Irish Studies. Belfast: Queen's University of Belfast 1995
- (en) Jonathan Lee: Wallpaper City Guide – Belfast. London: Phaidon Press Limited 2014, bl. 15
- (en) discovernorthernireland.com: Belfast City Hall. Besoek op 11 Augustus 2016
- (en) Geography in Action – Belfast CBD Geargiveer 20 April 2013 op Wayback Machine
- (en) Geography in Action – Introduction to Ethnic Diversity in Belfast Geargiveer 18 Mei 2007 op Wayback Machine
- (en) Bourlingueurs.com: L'Irlande, une île émeraude – Belfast. Besoek op 11 Augustus 2016
- (en) Geography in Action: Ethnic Segregation Levels Geargiveer 3 Julie 2013 op Wayback Machine
- (en) Geography in Action: Ethnic Interfaces/Peace Lines Geargiveer 14 Junie 2011 op Wayback Machine
- (en) Belfast Telegraph, 22 Maart 2013: Scheme considers peace line removal
- (de) www.bpb.de, 17 Desember 2015: Innerstaatliche Konflikte – Nordirland. Besoek op 20 Desember 2015
- (en) Architecture Ireland, 28 Mei 2017: Alternative Ulster Museum – Archigram’s Vision for Belfast. Besoek op 25 April 2019
- (en) Belfast City Centre Management: The Linen Quarter. Besoek op 3 Oktober 2016 Geargiveer 24 Desember 2016 op Wayback Machine
- (en) The Guardian, 24 Oktober 2017: Weak pound makes UK a ‘value destination’ for foreign tourists says Lonely Planet. Besoek op 24 Oktober 2017
- (en) Belfast Harbour – The Port in Numbers. Besoek op 11 Oktober 2017 Geargiveer 15 Oktober 2017 op Wayback Machine
- (en) Tourism Northern Ireland LGD Fact Cards 2014–2016 – Belfast City LGD Fact Card. Besoek op 9 Oktober 2017 Geargiveer 28 November 2017 op Wayback Machine
- (en) Geography in Action: Belfast – a sustainable city? Geargiveer 19 Augustus 2013 op Wayback Machine
- (en) BBC News, 7 Januarie 2016: Ryanair announces new base at Belfast International Airport. Besoek op 6 Maart 2016
- (en) aerosieger.de, 3 Maart 2016: Belfast – Berlin: Mit Ryanair zu den "Game of Thrones"-Drehorten. Besoek op 6 Maart 2016
- (en) www.belfastairport.com: Our Airlines. Besoek op 3 Oktober 2018
- (en) The National Archives of Ireland: Sporting, social and cultural life in Belfast in the early 20th century
- (en) belfastcity.gov.uk: Belfast signs Sister Cities accord with Boston, 12 Mei 2014. URL besoek op 17 Junie 2015.
Eksterne skakels
Wikimedia Commons bevat media in verband met Belfast. |
- Algemene inligting
- (en) Amptelike webwerf
- (en) Belfast – Amptelike reisgids vir toeriste
- (en) Belfast se hawe – interaktiewe webtuiste Geargiveer 10 Maart 2013 op Wayback Machine
- Geskiedenis
- (en) BBC History: Belfast's Golden age of shipbuilding
- (en) Belfast History – 100 Years of a Journey
- Toerisme