Beleg van Kimberley

Die Beleg van Kimberley het vanaf 14 Oktober 1899 tot 15 Februarie 1900 geduur tydens die Tweede Vryheidsoorlog.

Beleg van Kimberley
Deel van Tweede Vryheidsoorlog

Die Britte gebruik 'n RML 2.5 om Kimberley te verdedig.
Datum 14 Oktober 1899 – 15 Februarie 1900
Ligging Kimberley, Kaapkolonie
Resultaat Britse oorwinning
Strydende partye
Verenigde Koninkryk Zuid-Afrikaansche Republiek
Oranje-Vrystaat
Bevelvoerders
Lt. Kol. Robert Kekewich
Cecil Rhodes[Nota 1]
Majoor-Generaal John French
Kommandant Cornelius Wessels
Generaal I.S. Ferreira
Generaal Piet Cronje
Sterkte
+1,600 3,000–6,500[1]
Verskeie kanonne
Ongevalle
42 gedood
135 gewond[2]
Swaar verliese

De beleg begin

Die Transvalers het Kimberley as 'n ernstige bedreiging vir hul sekuriteit gesien op hul wesgrens. Hulle het onmiddellik begin om die stad te isoleer deur eerstens al die spoorverbindings noord en suid van die stad te beset en alle Britse voorposte te verdryf. Op 4 November 1899 het kommandant CJ Wessels die oorgawe van die stad van kolonel Robert Kekewich geëis. Kekewich was in bevel van die garnisoen van 4000 man. Uiteraard het Kekewich geweier en die beleg het begin; drie weke na die begin van die oorlog.

Die beleg

Omrede Kimberley in oop terrein geleë is, was 'n gekonsentreerde aanval moeilik uitvoerbaar. Die Boere het egter so nou en dan die dorp bestook met hulle Long Tom-kanon. Die Boere se kanon was by Carter's Ridge, 'n plaas wes van Kimberley, opgestel. In antwoord op die Long Tom het die werkswinkels van die De Beersmyn binne 24 dae hulle eie kanon gebou. Hulle het die kanon Long Cecil genoem en die kanon kon missiele van 12 kg oor 'n afstand van 7 km skiet. Die kanon is deur 'n Amerikaanse Ingenieur, George Labram, ontwerp. Labram is later self op slag dood toe 'n voltreffer die Grand Hotel getref het. Cecil John Rhodes was een van die mense wat vasgekeer was in Kimberley.

Die beleërde garnisoen het slegs by een geleentheid probeer om uit te breek. Op 25 November 1899 het 'n kompanjie onder bevel van majoor Henry Scott-Turner die Boerelinie bestorm. In die geveg het 22 Britse soldate gesterf met inbegip van Scott-Turner self.

Die einde van die beleg

Die dorp is eers op 15 Februarie bevry toe generaal John French die dorp binnegery het om die beleg amptelik op te hef. Die Britte was vertraag in hulle opmars as gevolg van Boere weerstand. Gevegte by Belmont, Graspan, Modderrivier en Magersfontien het die Britse opmars vertraag.

Notas

  1. Rhodes was 'n siviele de facto bevelvoerder

Bronne

Verwysings

  1. Peddle, 1977
  2. Amery et al, p. 24
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.