Beeldhouer (sterrebeeld)

Die Beeldhouer (Latyn: Sculptor) is ’n klein, dowwe sterrebeeld in die suidelike hemelruim. Dit is in die 18de eeu deur Nicolas-Louis de Lacaille geskep. Hy het dit aanvanklik die Beeldhouer se Ateljee (Apparatus Sculptoris) genoem, maar dit is later verkort.

Beeldhouer
Latynse naamSculptor
GenitiefSculptoris
AfkortingScl
Waarnemingsdata (Epog J2000)
Regte klimming0h
Deklinasie-30º
Grootte475 vk. grade (36ste)
KwadrantSQ1
Besonderhede
Hoofsterre4
Helderste sterAlpha Sculptoris
Naaste sterGliese 1
Sterre helderder as 3 m0
Sterre met planete6
Messier-voorwerpe0
Bayer-/Flamsteed-sterre18
Aangrensende sterrebeelde
Walvis, Waterdraer, Suidelike Vis, Kraanvoël, Feniks, Oond
Portaal  Portaalicoon   Sterrekunde

Ruimtevoorwerpe

Die Beeldhouer bevat geen sterre helderder as 3 mag nie. Dit is omdat die sterrebeeld die galaktiese suidpool bevat waar min sterre voorkom.

Die helderste ster is Alpha Sculptoris, met ’n helderheid van net 4,31 mag. Die sterrebeeld bevat die Sculptor-dwergsterrestelsel, wat deel is van die Lokale Groep (die groep sterrestelsels waartoe die Melkweg behoort) sowel as die Sculptor-groep, die naaste sterrestelselgroep aan die Lokale Groep. Die Sculptor-sterrestelsel (NGC 253), ’n staafspiraalstelsel en die grootste lid van die groep, lê naby die grens tussen die Beeldhouer en die Walvis. Nog ’n prominente lid van die groep is die onreëlmatige sterrestelsel NGC 55.

’n Unieke sterrestelsel in die Beeldhouer is die Wawiel-stelsel, wat 500 miljoen ligjare van die Aarde af is. Dit het ontstaan met die samesmelting van twee sterrestelsels sowat 300 miljoen jaar gelede. Dit het ’n kern van ouer, geel sterre wat die kleinste van die twee stelsels was, en ’n buitenste ring van jonger, blou sterre wat die grootste stelsel was. Die skokgolwe van die botsing het intensiewe stervorming in die buitenste ring tot gevolg gehad.[1]

Verwysings

  1. Wilkins, Jamie; Dunn, Robert (2006). 300 Astronomical Objects: A Visual Reference to the Universe. Buffalo, New York: Firefly Books. ISBN 978-1-55407-175-3.
  • Ridpath, Ian, en Tirion, Wil (2007). Stars and Planets Guide, Collins, Londen. ISBN 978-0-00-725120-9. Princeton University Press, Princeton. ISBN 978-0-691-13556-4.

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.