Athene
Athene of Atene[1][2] (Grieks: Αθήνα, Athína, [a'θina], ; Antieke Grieks: Ἀθῆναι, Athênai, [atʰɛ̂ːnai̯]) is die hoofstad en grootste stad van Griekeland, die hoofstad van die streek Attika en die gelyknamige distrik (nomós) Athene. Athene is ook die politieke, kulturele en ekonomiese sentrum van dié land, 'n kosmopolitiese metropool met 'n bevolking van sowat 4 000 000. Athene is veral bekend vanweë antieke historiese geboue soos die Parthenon op die Akropolis ('n heuwel in Athene).
Athene Αθήνα | |
---|---|
Stad | |
Athene | |
Koördinate: 37°59′02″N 23°43′40″O | |
Land | Griekeland |
Geografiese streek | Sentraal-Griekeland |
Administratiewe streek | Attika |
Plaaslike eenheid | Sentraal-Athene |
Regering | |
• Burgemeester | Kostas Bakoyannis (ND) |
Oppervlak | |
• Stad | 38,964 km2 (15,044 vk. myl) |
• Stedelik | 412 km2 (159 vk. myl) |
• Metro | 2 928,717 km2 (1 130,784 vk. myl) |
Hoogte | 70 m (230 ft) |
Bevolking | |
• Stad | 643 452 |
• Digtheid | 17 000/km2 (44 000/vk. myl) |
• Stedelik | 3 059 764 |
• Stedelike digtheid | 7 400/km2 (19 000/vk. myl) |
• Metro | 3 638 281 |
• Metrodigtheid | 1 200/km2 (3 300/vk. myl) |
Tydsone | UTC+02:00 (OET) |
• Somertyd | UTC+03:00 (OEST) |
Poskode | 10x xx, 11x xx, 120 xx |
Skakelkodes | 21 |
Kenteken | Yxx, Zxx, Ixx |
Webwerf | cityofathens.gr |
Die eerste moderne Olimpiese Somerspele is in 1896 in Athene gehou. Eenhonderd-en-agt jaar later vind die Olimpiese Somerspele van 2004 weer in Athene plaas.
Naam
Die stad is genoem na die godin Atena wat in die antieke tyd ook die beskermheilige van die stad was. Die Parthenontempel op die Akropolis, die beroemdste monument in die stad, is ter ere van haar opgerig. Destyds is die stad Αθηναι (Athènai, meervoud van Athèna) genoem. In die 19de eeu word dit opnuut die amptelike naam van die stad. 'n Taalhervorming van die jare 1970's sorg egter dat die stad nou Athina heet.
Geskiedenis
Vermoedelik vestig die eerste bewoners hulself ongeveer 3500 v.C. op die heuwel Akropolis. Van die vroeë geskiedenis van die stad is weinig bekend, maar Athene was waarskynlik tot ongeveer 1065 v.C. 'n koninkryk en 'n belangrike sentrum van die Miseense beskawing. In die opvolgende eeue verander Athene stadig en met tydelike terugslae in 'n demokrasie. In hierdie tydperk voer Athene verskeie oorloë teen die Persiese Ryk. Athene verslaan Persië by die Slag van Maraton, maar tien jaar later verwoes Persië grotendeels die Akropolis. Na verskeie kruine en dale (Peloponnesiese oorlog, Dertig Tiranne) word Athene in die 4de eeu v.C. 'n belangrike wetenskap- en kunsstad en lewer beroemde name op soos Sokrates, Plato en Aristoteles.
In 168 v.C. val die Romeine die stad binne (en beskou die inval as 'n "bevryding"). Die stad bly 'n belangrike rol in die Romeinse Ryk vervul, al woon die Atheense burgers ongemaklik in die Romeinse teenwoordigheid. As straf hiervoor laat Sulla die stad in 86 v.C. plunder. In 51 n.C. besoek die apostel Paulus van Tarsus die stad op sy vele sendingreise. Keiser Hadrianus lê om en by 130 'n besoek af en stel 'n reeks belangrike bouwerke op. In hierdie tyd is Athene steeds 'n belangrike wêreldsentrum.
Hierna begin die stad te verval: in 297 en weer later in 395 word Athene geplunder deur die Gote. In 529 sluit keiser Justinianus die filosofieskole en sorg sodoende dat Athene 'n onbelangrike uithoek van die Bisantynse Ryk word. In 1024 word die stad deur Franse kruisvaarders verower en word vir 'n paar eeue lank 'n politieke speelbal vir verskeie state. In 1458 word die stad by die Ottomaanse Ryk ingelyf. Uit respek vir die stad se verlede verleen die Turke baie voorregte aan die burgers; tog omskep die Turke twee jaar later die Parthenon in 'n moskee. Die stad bly, met die uitsondering van 'n klein Venesiaanse besetting in 1687, byna vier eeue lank deel van die Ottomaanse Ryk.
Akropolis
- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Akropolis van Athene.
Die heuwel van die Akropolis in Athene is 'n ovaalvormige, kalkklipplato, 150 m wyd, 300 m lank en 512 m hoog. Dit kan net van die westekant af bereik word. In die Antieke tyd was dit die sentrum van aanbidding. Die oorblyfsels van tempels en ander geboue is vandag van die mooiste voorbeelde van die klassieke Griekse argitektuur.
Gedurende uitgrawings op die Akropolis is erdewerk-potskerwe van die 3de millenium v.C. gevind, wat daarop dui dat daar in die tyd mense op die plato gewoon het. In die 14e eeu v.C. is 'n paleisagtige kompleks met 'n muur van 5 m dik, die Pelasgiese Muur, daarom gebou. Reeds in die 7de eeu v.C. was daar 'n tempel vir die stad se beskermgodin, Pallas Athena, en nog 'n eeu later het sommige van die tiranne van Athene op die Akropolis gewoon. Hulle is daar afgejaag en van toe af het die Akropolis 'n suiwer godsdienstige sentrum geword.
Daar is met die bou van 'n nuwe tempel begin, maar die inval van die Perse het 'n einde daaraan gemaak. Cimon het na die oorlog met die Perse 'n verdedigingsmuur om die Akropolis laat optrek. Hy het sommer dadelik ook weer met die bou van 'n nuwe tempel begin, maar die bouwerk is waarskynlik in 461 deur Perikles gestaak.
Die staatsman het sy eie argitek, Ictinus, opdrag gegee om op presies dieselfde plek 'n tempel op te rig. Dit sou die beroemde Parthenon word. Daar is nege jaar aan hierdie reuse-tempel gebou en daar is nog ses jaar aan die dekorasiewerk gewy. Die Parthenon is in die Doriese styl gebou en gewy aan die beskermgodin Pallas Athena. Dit is ’n groot tempel, byna 70 by 30 m. Die tempel skep die indruk van ’n wonderlike balans tussen reghoeke en lyne, maar by nadere ondersoek vind ons byna geen enkele reguit lyn in die hele gebou nie. Nie eers die tempelvloer is waterpas nie. Argitektonies is daar doelbewus ’n aantal slim afwykings ingebou, juis om die gebou so reghoekig moontlik te laat lyk.
Selfs die suile se deursnee is boontoe kleiner as by die basis. As die Griekse argitekte met ware reghoeke en reguit lyne sou gebou het, sou die gebou die indruk gegee het dat dit enige oomblik uitmekaar kon spring. Die beeldhouwerk in en op die gewels van die Parthenon is onder leiding van die beroemde beeldhouer Phidias aangepak. Dit beeld belangrike geskiedkundige gebeure en legendes uit. Binne in die tempel was daar die beroemde beeld van Athena Parthenus, of Athena, die Maagd. Die yslike beeld was van hout en met goudplate bedek. Dit is deur Phidias gemaak en was 12 m hoog. Suite die tempel, naby die Propileë of ingang, was daar nog ’n standbeeld van Atena, ook deur Phidias gemaak, maar die keer in brons. Dit was 10 m hoog en seemanne kon dit van ver af al in die son sien blink. Hierdie standbeeld, wat Athena Promachus (beskermer) genoem is, het saam met die Athena Parthenus verdwyn. Die argitek Mnesicles was vir die indrukwekkende ingang, die Propileë, verantwoordelik. Die ingangspoort het vyf deurgange in Doriese styl gehad, maar met Ioniese suile aan die binnekant. Oorlog, die keer met die Spartane, het uitgebreek en die Propileë is nooit heeltemal voltooi nie.
Die suidwestelike hoek van die Akropolis was al in Pisistratus se tyd aan Athena Nike (oorwinnaar) opgedra. 'n Klein, maar pragtige tempeltjie is deur Callikrates in die Ioniese styl gebou. Net noord van die Parthenon is ’n komplekse gebou, bekend as die Erechteion. Dit het 'n hele aantal oer-oue heiligdomme gehuisves, onder andere een van Erechteus, ’n legendariese koning van Athene. Die suidelike portiek is die beroemdste en bekendste deel van die Erechteion.
Die dak word nie deur suile gedra nie, maar deur ses vrouefigure. Die vrouefigure word die Cariatides genoem en in die vertrek is die graf van Cecrops, volgens oorlewering die eerste koning van Athene, en boonop die stigter van die Akropolis. Daar is nog vae aanduidings van ander geboue op die Akropolis, byvoorbeeld van 'n gebou waarin alle bronsoffergeskenke gebêre is, en ’n ronde tempeltjie gewy aan Rome en Augustus. Die geskrifte van die Griek Pausanias dateer ook uit hierdie tydperk (2de eeu n.C.). Hy het die Parthenon besoek en daaroor geskryf en op die manier weet ons van talle geboue, voorwerpe, beelde en kunswerke wat verlore gegaan het. Teen die suidelike helling van die Akropolis het Lycurgus in 330 v.C. die sogenaamde teater van Dionusos gebou. Herodus Atticus het in die tyd van die Romeine die sogenaamde Odeion van Herodus Atticus laat oprig (ongeveer 101–117 n.C.). Hierdie teater, ook aan die suidekant, is in so 'n mate gerestoureer dat dit vandag gereeld vir opvoerings gebruik word.
Na die opkoms van Christendom in die 4de eeu het baie van die ou tempels kerke geword. Die kruisvaarders het in die 13de eeu die Akropolis as 'n vesting gebruik. Toe die Turke in die vyftiende eeu die stad verower het, het hulle 'n afdeling soldate op die Akropolis laat woon en die Parthenon in 'n moskee verander. Die Turke en die Venesiane het ook langdurig met mekaar oorlog gevoer, en in 1687 het die Turke die Parthenon as 'n kruit- en wapenhuis gebruik.
'n Ontploffing het in een van die skermutselinge gevolg en groot skade aan die tempel aangerig. Die Venesiane het boonop in 'n poging om die beeldhouwerk van die wesgewel weg te dra, die hele kunswerk verlore laat gaan. Sedert die tweede helfte van die 18de eeu het die belangstelling in die klassieke Griekse kuns herleef, en daar is nog meer kunswerke en beelde van die Akropolis weggedra. Die grootste en belangrikste deel is onder leiding van die Brit lord Thomas Bruce Elgin verwyder, en vandag spog die Britse Museum in Londen daarmee.
Klassieke Oudheid: die stadstaat
Die vroegste geskiedenis van Athene en die omliggende landstreek Attica is gehul in 'n waas van legendes. Van die groot keerpunt in die vroegste Griekse geskiedenis, naamlik die Doriese volksverhuising, is daar geen noemenswaardige tekens in Athene te vind nie. Hoewel potskerwe van die 3de millennium v.C. daar gevind is, was daar eers van omstreeks 600 v.C. tekens van ononderbroke ontwikkeling. Dit moes in die legendariese tyd gewees het dat Athene die heerserstad in Attica geword het.
Die volk was destyds in vier stamme verdeel en in elk van die stamme was daar armes en ryk aristokrate. 'n Koning het eers oor almal geheers, maar tussen 700–510 v.C. het die aristokrate die regering geleidelik begin oorneem. Hulle het nege argonte aangewys, wat in beheer van die leër, regsake en godsdiens was. Argent was die titel van die eerste owerheidspersone in Oud-Athene na die afskaffing van die koningskap. Daar was ook 'n raad wat net uit aristokrate bestaan het. Hulle het saam met die argonte geheers en is die Areopagus, die hoe regbank in Oud-Athene, genoem. Die aristokrate het dus al die mag gehad, terwyl die armes en die kleinboere geen magte of regte gehad het nie. As hulle die rykes geld geskuld het en dit nie kon betaal nie, kon die rykes byna al hulle besittings neem en hulle as slawe gebruik. Hulle kon hulself ook nie voor 'n hof verdedig nie. 'n Wet wat Drake omstreeks 621 v.C. gemaak het, het die armes se lot effens verlig.
Hy het bepaal dat alle wette en strawwe aangeteken moet word. Hoewel die strawwe baie erg was, kon die wette nou beter toegepas word. Die armes het die regstelsel ook beter verstaan. Die armes het egter al hoe opstandiger geword oor die onregverdige toestand. Omdat die aristokrasie bang was dat dit op 'n groot stryd sou uitloop, het hulle Solon omstreeks 594 v.C. as argent aangestel om die saak te probeer red.
Solon se hervormings
Solon het die mense in vier klasse verdeel. Die rykstes was lede van die eerste klas, en die armstes lede van die laaste klas. Hy het bepaal dat ryk skuldeisers die armes nie meer as slawe kon gebruik as hulle nie hul skuld kon betaal nie.
Hy het ook nuwe wette en strawwe opgestel en 'n volkshof, met jurielede uit die volk, aangestel om mense te verhoor. Waar die Volksvergadering voorheen eintlik geen magte gehad het nie, kon lede van die vergadering nou 'n Raad van 400 aanstel om saam met die Areopagos te regeer. Alle mans bo agttien wat nie slawe was nie, was lede van die Volksvergadering en kon stem. Solon het die Areopagos uit argonte en oudargonte saamgestel. Hoewel die volk nog nie groot seggenskap in staatsake gehad het nie, was dit darem nie net die aristokrasie wat die land geregeer het nie.
Solon het ook baie gedoen om die ekonomie te bevorder en Athene was in sy tyd baie welvarend. Die stryd tussen die armes, die aristokrasie en die ryk handelaars was egter nog nie heeltemal verby nie. Pisistratus het gemaak of hy aan die armes se kant was en het in 561 v.C. aan die bewind gekom. Hoewel hy enkele amptenare behou het, het hy die meeste mag gehad. Omdat hy egter 'n regverdige man was, het hy die vrede tussen die groepe bewaar. Hy het baie geboue laat oprig, nuwe kolonies gestig, en meer handel met ander lande gedryf.
Sy seuns, Hipparchos en Hippias, het sy despotiese bewind in 528 v.C. voortgesit. Kort daarna het Harmodius en Aristogiton egter vir Hipparchus vermoor, en in 510 v.C. was die mense so moeg vir die despotiese bewind dat hulle Hippias met Sparta se hulp verdryf het.
Demokrasie
- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Atheense demokrasie.
Die volk het toe in 508 v.C. vir Kleisthenes as leier gekies. Hy het die volk baie groter seggenskap in staatsake gegee en word as die vader van die volksregering of demokrasie beskou. In die nuwe grondwet wat hy opgestel het, het die volksvergadering die hoogste gesag gehad. Alle mans ouer as agttien wat nie slawe was nie, was lede van die vergadering. Hy het die stad en sy mense in tien groepe verdeel. Die verdeling het niks met 'n mens se rykdom of afkoms te doen gehad nie, maar was net 'n streekverdeling.
Dit het byna al die aristokrasie se mag laat verdwyn. Hy het die Raad van 400 na die Raad van 500 verander. Die tien streke het elk vyftig verteenwoordigers in die raad gehad en die raad moes die stad bestuur. Net soos Solon, het hy die argonte uit die volk aangestel en die Areopagus uit argonte en oud-argonte saamgestel.
'n Hof met jurielede uit die volk het ook nog mense verhoor. In 462 v.C. het die Volksvergadering sommige van die Areopagos se magte weggeneem en dit aan die volkshowe oorgedra. 'n Sterk leier, Perikles, het in die tyd na vore getree. Die volk het hom elke jaar herkies en onder sy lei ding kon mense van die laer stande nou ook lede van die Areopagus word.
Die Delies-Attiese Seeverbond
- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Deliese bond.
Die Atheners en die Spartane het in 479 v.C. saam die Persiese invallers verslaan. Sparta het 'n outoritêre (nie-demokratiese) regeringstelsel gehad en daar het gou wrywing tussen die Spartane en die Atheners ontstaan. Albei wou die klein Griekse staatjies oorheers. Die twee stede het hulle gereed gemaak vir oorlog. Athene het ’n verbond met 'n groep kleiner state gestig. Die verbond is die Delies-Attiese Seeverbond genoem.
Die verbond het gou 'n magtige ryk geword. Onder Perikles se leiding het Athene die sterkste mag in die Egeïese Seegebied geword. Ook in Athene het dit in die tyd baie goed gegaan en nog nooit tevore was die stad so welvarend nie. Filosowe soos Sokrates en Plato, en skrywers soos Aischulos, Sophokles en Euripides, het Athene die middelpunt van die Griekse beskawing gemaak.
Dit is ook in die tyd dat die Parthenon gebou is. Baie kleiner staatjies het egter bedreig gevoel deur die magtige Athene en het hulle aan Sparta se kant geskaar. Die wrywing tussen Sparta en Athene het steeds toegeneem en in 431 v.C. het die Peloponnesiese Oorlog uitgebreek.
Peloponnesiese oorlog
- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Peloponnesiese oorlog.
Nadat Perikles in 429 v.C. dood is, was sy opvolgers blykbaar meer begaan oor hul eie aansien as oor 'n goeie regering. Tydens die wapenstilstand tussen Athene en Sparta tussen 421 en 413 v.C. het Athene Sisilië binnegeval. Die inval het egter in 414 v.C. misluk en Athene se mag was baie verswak. Persië en Sparta het saamgespan en Athene in 405 v.C. verslaan. Die Atheense ryk het in duie gestort en onder die Spartaanse admiraal Lysander se leierskap het ’n groep van dertig tiranne Athene regeer. Die Atheners het egter die stad Thebes se hulp gevra en die bloeddorstige tiranne 'n jaar later verdryf. Die volksregering of demokrasie is toe weer ingestel.
Verval
Athene was nou maar net ’n tweederangse mag. Hy het egter ’n soort bondgenootskap met Sparta gesluit en baie van sy verlore aansien herwin. Athene was egter nou so arm van al die oorloë dat baie hoë eise aan die ander lede van die tweede Delies-Attiese Seeverbond gestel is. Toe die lede dit nie langer kon duld nie, het die Bondgenote-oorlog in 357 v.C. uitgebreek. Weer was Athene al sy bondgenote en besittings kwyt. Buitendien het Karie en Macedonië nou sulke sterk magte geword dat Athene nie meer 'n kans gehad het om die sterkste mag in die Egeïese gebied te wees nie.
Hoewel hy dit reggekry het om ’n bondgenootskap met ander Griekse state aan te gaan, het die Macedoniërs die Grieke in 338 v.C. verslaan. Al het die Macedoniërs Athene goed behandel, het die stad geen politieke mag meer gehad nie. Gedurende die Hellenistiese tydperk, wat omstreeks 300 v.C. begin het, was Athene 'n provinsiale universiteitstad.
Nadat die stad in 86 v.C. aan ’n oorlog teen die Romeine deelgeneem het, het die Romeinse generaal Sulla die stad geplunder. Die stad was egter nog vry. Athene het vir oulaas 'n bloeitydperk beleef toe die Romeinse keiser Hadrianus (117–139 n.C.) die stad vier keer besoek het. Hy het talle tempels en monumente laat oprig en die Pan-Helleense Spele begin.
Verwysings
- Pharos-woordelys
- Boshoff, Piet (2019). Plato: verdediging van Sokrates. Akademia Uitgewery. ISBN 978-0-9946839-2-2.
Bronne
- Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0-908409-43-5, volume 2, bl. 93–99
Eksterne skakels
Wikimedia Commons bevat media in verband met Athene. |
- (en) Toerisme-inligting oor Athene op Wikivoyage
- (gr) Amptelike webwerf
- (en) "Athens". Encyclopædia Britannica. Besoek op 12 Desember 2019.