Aristofanes
Aristofanes of Aristofanus[1] (Grieks: Ἀριστοφάνης, [aristopʰánɛːs]; 457–385 v.C.) was 'n Antieke Griekse dramaturg wat komiese toneelstukke geskryf het en as die voorste skrywer van Griekse komedies beskou word.[2] Hy het 40 toneelstukke geskryf, waarvan slegs 11 in hul geheel oorleef het. Ten minste twee hiervan, Die paddas en Lusistrata, is in Afrikaans vertaal. Sy satiriese stukke is teen die beroemdes van sy dag gemik en beskryf die swakhede van gewone mense.
Aristofanes | |
---|---|
Denkbeeldige portret van Aristofanes | |
Gebore | ca. 457 v.C. |
Sterf | ca. 385 v.C. |
Nasionaliteit | Antieke Griekeland |
Beroep | Dramaturg (komedie) |
Bekend vir | Dramaturg en regisseur van Ou Komedie |
Antieke Griekse teater is aanvanklik in kompetisies-formaat op die Dionisiese fees ter ere van die god Dionysos aangebied. Dit is interessant dat Aristofanes nie altyd hierdie kompetisies gewen het nie, maar omdat die toneelstukke verlore geraak het, kan dit nie vandag met mekaar vergelyk word nie.
Van die elf blyspele wat behoue gebly het is die eerste, Die Acharniërs, in 425 v.C. aangebied, en die laaste, Rykdom, in die jaar 388 v.C. ná die val van Athene, in die tyd van die Spartaanse besetting. Sy werk strek dus deur die tydperk van die Peloponnesiese oorlog, deur die laaste jare van die glorieryke imperiale stad tot aan die finale nederlaag, en gee 'n duidelike beeld van die faktore wat tot die vernietiging van Athene bygedra het.[3]
Sy bekendste stuk, Lusistrata, handel oor 'n groep vroue wat teen oorlog protesteer. Hulle besluit om omgang met hulle mans te weier tot die oorlog verby is.
Afrikaanse vertalings
Van sy werke wat in Afrikaans vertaal is:
- Lusistrata (vertaling van Λυσιστράτη), Johannes Petrus Jansen van Rensburg, 1970, OCLC 86063597
- Die paddas (vertaling van Βάτραχοι, Merwe Scholtz, 1978, OCLC 637855819
Vir 'n kritiese bespreking van Aristofanes se 11 oorblywende komedies kan Gerrit van Wyk Kruger se boek, Die Griekse ou Komedie - Aristophanes (2019, Naledi Uitgewers), geraadpleeg word.[4][5]
Verwysings
- Boshoff, Piet (2019). Plato: verdediging van Sokrates. Akademia Uitgewery. ISBN 978-0-9946839-2-2.
- HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
- Die Dramaturg en sy Gemeenskap, Hermien McCaul-Domisse, Universiteit van Pretoria, November 1972
- https://www.netwerk24.com/ZA/Eikestadnuus/Vermaak/oud-griekse-komedie-in-nuwe-studie-bekyk-20190717-2 Besoek en opgespoor op 20 Julie 2020
- http://www.stellenboschwriters.com/krugerg.html Besoek en opgespoor op 20 Julie 2020
Eksterne skakels
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Aristofanes.