Antalya
Antalya is ’n stad in Turkye aan die Middellandse See en die hoofstad van die Antalya-privinsie. Dit is geleë op rotse en omring deur berge. Ontwikkeling en beleggings waarmee in die 1970's begin is, het die stad in ’n toeriste-oord omskep.
Antalya | |
---|---|
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Turkye |
Streek | Middellands |
Provinsie | Antalya |
Koördinate | 36°54′N 30°41′O |
Stigting | 158 v.C. |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 1 417 vk km |
Hoogte bo seevlak | 30 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2014) | 1 203 994 |
- Bevolkingsdigtheid | 478/vk km |
- Aire urbaine | 2 222 562 |
Tydsone | UTC +2 (OET) |
- Somertyd | UTC +3 (OEST) |
Burgemeester (2008–2014) | Menderes Türel (AKP) |
Amptelike webwerf | antalya.bel.tr |
Geskiedenis
Dit is onseker wanneer die eerste nedersetting hier gestig is. Daar is tot onlangs geglo dat Attalos II, die koning van Pergamum, die stad omstreeks 150 v.C. gestig het. Hy het dit Attalië genoem en dit was die basis van sy magtige vloot. Tydens uitgrawings in 2008 in die Doğu Garajı-dsitrik van die stad is egter oorblyfsels gevind uit die 3de eeu v.C. – ’n aanduiding dat die stad vroeër gestig is.
Antalya het in 133 v.C. deel van die Romeinse Ryk geword nadat koning Attalos III van Pergamum dit in sy testament aan Rome bemaak het. Die stad het gefloreer en gegroei tydens die antieke Romeinse tydperk.
Die Christendom het in die 2de eeu in die streek versprei. Paulus het die stad besoek, soos geskryf staan in Handelinge van die Apostels: "Daar het hulle [Paulus en Barnabas] in Perge die woord verkondig en daarna na Attalië toe vertrek. Daarvandaan is hulle met ’n skip terug na Antiogië toe, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle nou voltooi het." (Hand 14:25-26).
Antalya was ’n groot stad tydens die Bisantynse tydperk. Met die troonbestyging van keiser Johannes II in 1118 was dit ’n geïsoleerde buitepos teen die Turke en kon dit net van die see af bereik word.[1] Die stad en omringende gebied is eindelik in die vroeë 13de eeu deur die Seldjoekse Turke verower. Dit was hulle hoofstad totdat dit deur die Ottomaanse Turke verower is.
In die tweede helfte van die 17de eeu het Evliya Çelebi Antalya beskryf as ’n stad met nou strate, met 3 000 huise in 20 Turkse en 4 Griekse buurte. Die stad het tot buite die stadsmure gegroei en daar was tot 200 bote in die hawe.
In die 20ste eeu het die bevolking toegeneem toe baie Turke van die Kaukasus en die Balkan-skiereiland na Anatolië getrek het. Teen 1911 was daar sowat 25 000 mense, onder andere baie Christene en Jode, wat steeds in verskillende kwartiere om die ommuurde hawe gewoon het. Die stad was toe prentjie-agtig, maar sleg gebou en agterlik. Die hoofattraksie vir besoekers was die stadsmure en ’n promenade daarbuite. Die regeringsgeboue en huise van die hoër klasse was buite die mure.[2]
Italië het die stad kortliks beset ná die Eerste Wêreldoorlog tot met die stigting van die Republiek van Turkye in 1923.
Demografie
Volgens die 2009-sensus het Antalya ’n bevolking van 1 095 157.
Bevolking | |||
---|---|---|---|
Jaar | Inwoners | ||
2009 | 1 095 157 | ||
2007 | 775 157 | ||
2000 | 603 190 | ||
1990 | 378 208 | ||
1985 | 258 139 | ||
1970 | 95 000 | ||
1965 | 72 000 | ||
1960 | 51 000 | ||
1955 | 36 000 | ||
1950 | 28 000 | ||
1945 | 26 000 | ||
1940 | 25 000 | ||
1935 | 23 000 | ||
1927 | 17 000 |
Geografie
Antalya is in Suidwes-Anatolië aan die Golf van Antalya in die Middellandse See geleë, sowat 244 km van die Turkse hoofstad, Ankara, en 300 km van Istanboel.
Die Taurus-bergreeks van Suid-Anatolië loop parallel met die Middellandse See in ’n ooswestelike rigting, en dit het smal kusvlaktes tot gevolg wat aan drie kante deur berge omring word en aan die vierde kant aan die see grens. Op ander plekke loop die berge tot in die see, en so word klein inhamme en skiereilande gevorm. Antalya lê op so ’n vlakte wat deur berge omring word. Dit bestaan uit twee plat gebiede sowat 35 m bo die seevlak wat deur rotse gevorm word.
Klimaat
Die gebied word deur die Taurus-berge beskerm teen die koue noordewinde en het ’n tipiese Mediterreense klimaat met warm, droë somers en matige, nat winters. Die son skyn omtrent 300 dae van die jaar; dit kan in Julie en Augustus tot 40ºC word. Die seelug en noordoostewinde help om die hitte draagliker te maak.
Ekonomie
Antalya se ekonomie is afhanklik van ’n mengsel van landbou, toerisme en handel. Landbouprodukte sluit in sitrusvrugte, katoen, snyblomme, olywe en piesangs. Kaleiçi, die gerestoureerde historiese middestad met sy hotelle, restaurante, kroeë en winkels, het ’n groot deel van sy historiese karakter behou en lok talle toeriste. Op die hoofplein, Cumhuriyet-plein, word dikwels opelug-uitstallings en konserte gehou.
Daar is talle moskees, kerke en hamams in die stad, asook historiese huise in tradisionele Turkse en Griekse style. Die hawe en die ou stadsmure is die oudste deel. Die gebied tussen die middestad en die ou hawe is 'n mengelmoes van markstalletjies met enigiets te koop waaraan jy kan dink, van matte en speserye tot aandenkings en snuisterye.
Verwysings
- Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel en:Antalya
- Norwhich, John Julius. Byzantium: The Decline and Fall. (New York: Alfred A. Knopf, 1996) p. 68.
- s:EB1911:Adalia
Eksterne skakels
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Antalya.
- (en) Toerisme-inligting oor Antalya op Wikivoyage
- (tr) Amptelike webwerf
- (en) "Antalya". Encyclopædia Britannica. Besoek op 13 April 2019.