Adam Mickiewicz
Adam Bernard Mickiewicz [mi:ts'kjɛvi:tʃ], * 24 Desember 1798 in Zaosie, Russiese Ryk (tans Belarus); † 26 November 1855 in Konstantinopel, word as die nasionale digter van Pole beskou. Hy was die grondlegger en beduidendste verteenwoordiger van die Poolse Romantiese beweging.
Adam Mickiewicz
Pools-Litause digter en essayis
Handtekening
Literêre stroming
Romantiek
Beduidende werke
Pan Tadeusz
Dziady
Oda do młodości
Romantyczność
Sonety krymskie
Reduta Ordona
Musea
As digter, kolomskrywer, politieke aktivis en visioenêr het Mickiewicz een van die invloedrykste persoonlikhede van die Poolse en Europese vryheidstryd in die 19de eeu geword. Hy het vanaf 1824, die jaar toe hy na Rusland verban is, die grootste deel van sy lewe as balling in die buiteland deurgebring, waarvan 22 jaar in Frankryk.
Biografie
Vroeë lewe en politieke aktiwiteite
Adam Mickiewicz is op die landgoed van sy oom in die dorp Zaosie as die tweede van vyf seuns van Mikołaj en Barbara Mickiewicz (née Majewska) gebore. Zaosie is naby Nowogródek, sowat 100 kilometer suid van Vilnius, in 'n Litaus-Belarussiese streek van die destydse Russiese Tsareryk geleë. Sy vader Mikołaj Mickiewicz, 'n advokaat, het tot die szlachta, die adellike klas van die Pools-Litause Gemenebes, behoort en die erflike Poraj-wapen gevoer. As gevolg van die Poolse Delinge het Pole-Litaue op daardie tydstip reeds nie meer as selfstandige staat bestaan nie.
Min is bekend oor Adam se jeug. Mikołaj Mickiewicz het sy seuns in die gees van die Verligting en sy progressiewe gedagtes as patriotte opgevoed. Adam Mickiewicz is daarnaas reeds as kind deur die sprokies en legendes asook die leef- en denkwêreld van die eenvoudige landelike bevolking beïnvloed wat in sy latere literêre werk weerspieël sou word – net soos die omgewing van sy geboortedorp met sy woude, weivelde en akkers, die geheimsinnige kasteel bo-oor die dorp, en die Świteź-meer wat later die toneel van twee ballades sou word.[1] In 1801 het die gesin na die stad Nowogródek verhuis.
Adam het vanaf 1807 by die Dominikaanse kloosterskool in Nowogródek skoolgegaan. Die onderrigmedium was Pools en sy skoolvakke het onder meer Latyn, Frans, Russies, Godsdiens, Wiskunde en Aardrykskunde ingesluit. Adam het later self les gegee om geld te verdien. Op 13-jarige ouderdom het hy sy eerste gedig geskryf – met 'n brand in sy geboortedorp, waarin sy pa ernstig beseer is, as onderwerp. Mikołaj Mickiewicz is net ses maande daarna oorlede. Sy ontydige afsterwe het die gesin in armoede gestort.[2]
Mickiewicz het op 12 September 1815 in Vilnius aangekom om aan die keiserlike universiteit te studeer. Hy kon in die huis van sy naamgenoot pastoor Józef Mickiewicz intrek wat arm studente ondersteun het. Die vier jaar wat hy in Vilnius deurgebring het, het sy persoonlikheid en werk tot 'n groot mate beïnvloed. Ná die eerste studiejaar met kursusse in natuurkunde, skeikunde, algebra, Latyn en Grieks het Adam die graad van 'n kandidaat in wysbegeerte behaal. In die volgende jaar het hy lesings in literatuur en kuns gevolg. Naas die klassieke antieke tale, poësie en retoriek het hy groot belang in algemene en ook die geskiedenis van Pole en Litaue gestel en dit later tot 'n belangrike onderwerp in sy gedigte gemaak.
In 1817 het hy saam met Thom Zam en ander vriende 'n geheime organisasie gestig, die Genootskap van Filomate, wat hom vir die onafhanklikheid van die Russiese Ryk beywer het. Ná die verwerwing van sy akademiese graad het hy tussen 1819 en 1823 as onderwyser by 'n skool in Kaunas gewerk. Aanvanklik het hy belanggestel in Voltaire, een van die beduidendste filosowe van die Franse Verligting, tog het die werke van Friedrich Schiller en Lord Byron, twee belangrike Romantiese skrywers, hom met nog meer bewondering gevul.
In die herfs van 1823 is Mickiewicz in verband met sy politieke aktiwiteite (sy lidmaatskap in die Genootskap van Filomate) in hegtenis geneem en tydelik saam met 'n groep vriende ses maande lank in 'n Basilianer-klooster vlakby die Aušra-poort geïnterneer. Die toestande waaronder die jong mans in Vilnius aangehou is, was draaglik in vergelyking met plattelandse tronke – en die wagters omkoopbaar. Sodoende was die Filomate in staat om snags in Mickiewicz se ruim tronksel te vergader en oor godsdiens, politiek en die toekoms van die land te debatteer.[3] In die volgende jaar is Mickiewicz na Sentraal-Rusland verban. In Vilnius had hy al twee klein digbundels gepubliseer wat deur die Slawiese publiek positief ontvang is.
By sy aankoms in Sint Petersburg is hy deur die leidende literêre kringe verwelkom en het hier sowel vir sy goeie maniere en sy buitengewone improvisasietalent gewild geraak. Die besoek wat hy in 1825 aan die Krim-skiereiland gebring het, het hom tot 'n versameling sonnette geïnspireer (Sonety krymskie – "Die Krim-sonette"), gekenmerk deur hulle elegante ritme en ryk Oosterse invloede. Die sonette Bakczysaraj ("Die storm") en "Die graf van gravin Potocka" word as die beste gedigte in hierdie versameling beskou. Net twee jaar vroeër het ook die Russiese digtervors Aleksander Poesjkin tot die Krim-skiereiland aangetrokke gevoel en daaroor in sy werk "Die fontein van Baktsjisaraj" geskryf.
In 1828 het Mickiewicz se Konrad Wallenrod verskyn, 'n verhalende gedig waarin hy die veldslae beskryf wat tussen die Duitse Ridderorde en heidense Litause magte gelewer is. Die werk bevat subtiele verwysings na die vyandskap wat oor 'n lang tydperk tussen Pole en Russe geheers het, tog het Mickiewicz daarin geslaag om aan die Russiese sensuur te ontduik sodat die gedig gepubliseer kon word, saam met 'n leuse wat aan Niccolò Machiavelli ontleen is: "Dovete adunque sapere come sono duo generazioni da combattere — bisogna essere volpe e leone" ("Jy hoef te weet dat daar twee maniere van veg is – jy moet 'n vos en 'n leeu wees").
Reise na die buiteland
Ná 'n vyfjarige ballingskap in Rusland is die digter toegelaat om na die buiteland te reis. Mickiewicz het al in die geheim besluit om nie meer na Rusland of sy geboorteland terug te keer solank dit onder Russiese heerskappy sou staan nie. Hy het vervolgens na Weimar in Duitsland gegaan waar hy kennis met Johann Wolfgang von Goethe gemaak het. Mickiewicz het ter geleentheid van Goethe se 80ste verjaardag op 28 September 1829 'n besoek aan die Duitse digtervors gemaak wat hom hartlik ontvang en as "die grootste digter van sy generasie" beskryf het.[4] Mickiewicz het verder deur Duitsland gereis, op pad Italië toe, en oor die Splügen-bergpas na Milaan, Venesië en Florence getoer om hom uiteindelik in Rome te vestig.
In Rome het hy die derde deel van sy gedig Dziady ("Aand van die Voorvaders", Litaus Vėlinės) voltooi wat na die voorouerverering verwys soos dit vroeër deur Slawiese en Baltiese volke beoefen is, asook Pan Tadeusz, sy langste gedig wat ook as sy meesterwerk beskou word. Die laasgenoemde werk gee 'n indruk van Litaue op die vooraand van Napoléon Bonaparte se militêre ekspedisie na Rusland in 1812. In hierdie "landelike idille", soos die slawis Aleksander Brückner dit genoem het, beskryf Mickiewicz die landgoedere van Poolse magnate met hulle ietwat onstuimige maar steeds egte gasvryheid. Hulle word geportretteer op 'n tydstip toe die doodsklok van hul nasionalisme skynbaar al lui, aldus Brückner, en sodoende het die gedig iets melancholies en ook iets van 'n lyksang, ten spyte van die liefdesverhaal wat die hoofgebeurtenis vorm.[5]
Mickiewicz het vervolgens oor Litaue geskryf wat hy sy "Vaderland" genoem het (hierby het hy na sy geboorteland, die voormalige Groothertogdom Litaue verwys). As 'n balling wat huis toe verlang gee hy 'n beskrywing van "Litause" hemele en "Litause" woude en wolke, asook van die vreemde geluide wat in die ongerepte oerwoude van 'n land gehoor kan word waar bome as heilig geag is.
Lewe in Parys
In 1832 het Mickiewicz Rome verlaat om hom in Parys te vestig, tog is sy lewe in die Franse hoofstad 'n tyd lank deur armoede en ongelukkigheid geteister. Op 22 Julie 1834 het hy met Celina Szymanowska, die dogter van die komponis en konsertpianis Maria Agata Szymanowska, getrou. Uit die huwelik is ses kinders gebore, tog was dit steeds oorskadu deur finansiële moeilikhede (Adam het nie oor 'n vaste bron van inkomste beskik nie) en Celina se psigiese probleme. Nadat sy vrou geestesiek geraak het, het huwelikstwis net soos Celina se siekte die aanleiding vir 'n mislukte selfmoordpoging gegee – op 17 of 18 Desember 1838 het Adam Mickiewicz by 'n venster uit gespring.
Nadat hy in 1839 as professor vir Latynse letterkunde in Lausanne, Switserland aangestel is, is in die volgende jaar die nuut ingestelde leerstoel vir Slawiese tale en letterkunde by die Paryse Collège de France aan Mickiewicz toegeken. Hier het hy saam met ander demokratiesgesindes soos die geskiedkundiges Jules Michelet en Edgar Quinet in opposisie tot die Franse Julie-monargie gestaan.
Hy sou hierdie leerstoel egter net vir sowat drie jaar beklee. Mickiewicz het sedert 1841 veral onder die invloed van die Poolse Messiaanse filosoof Andrzej Towiański (1799–1878) en sy aanhangers gestaan, een van sowat honderd radikale politieke sektes wat destyds in Frankryk aktief was, en Mickiewicz se lesings het geleidelik in 'n mengsel van religie en politiek ontaard sodat hy selfs deur die Franse regering gesensureer is.
Hy is uiteindelik daarvan beskuldig dat hy sy akademiese posisie vir politieke aktiwiteite sou misbruik – 'n verwyt wat sy akademiese loopbaan beëindig het. Op 28 Mei 1844 het hy sy laaste klas gegee. Sy siel was op hierdie tydstip in 'n toenemende mate deur religieuse mistisisme verdonker. 'n Bloemlesing uit sy lesings is in vier boekdele gepubliseer. Alhoewel hulle relevante kritiese uitsprake behels, bly die filologiese gedeelte volgens huidige standaarde onbevredigend – Mickiewicz was immers 'n pionier op die gebied van vergelykende Slawiese literatuurgeskiedenis wat nog nie op enige wetenskaplike bron kon steun nie.[6] Sy kennis van Slawiese letterkunde was tot Poolse en Russiese literatuur beperk, waarby hy met die laasgenoemde slegs tot by die periode omstreeks 1830 vertroud was. Dit was dan ook eerder sy vurige retoriek en die manier waarop hy die kultuurgeskiedenis en gedagtewêreld van Oos-Europa aan sy gehore verduidelik het wat van Mickiewicz se lesings 'n trekpleister vir Poolse emigrante, Russe en ander Slawe, maar ook baie Franssprekende Parysenaars gemaak het.[7]
In sy persoonlike herinneringe verwys die Russiese skrywer Aleksander Herzen na die treurige indruk wat Mickiewicz in sy laaste jare op hom gemaak het. Ouderdomsverskynsels het by hom baie vroeg opgetree namate armoede, wanhoop en huislike moeilikhede hul tol geëis het. Die Pools-Franse pianis Fryderyk Chopin het sy siek landgenoot in die winter van 1848–49, in die laaste maande van sy eie lewe, besoek en sy senuwees met sy klaviermusiek gekalmeer.[8] Meer as 'n tiental jare gelede had Chopin al sommige van Mickiewicz se gedigte getoonset.[9]
In 1849 het Mickiewicz saam met ander Poolse emigrante en inheemse aktiwiste 'n radikale Franse dagblad gestig (La Tribune des Peuples), maar die publikasie is reeds na een jaar weens politieke druk, wat deur die Russiese ambassadeur in Parys uitgeoefen is, gestaak. Ná die staatsgreep van 1851 het die Franse polisie Mickiewicz se politieke aktiwiteite gemonitor. Nogtans het hy oor 'n basis van getroue aanhangers beskik, en sowel Poolse emigrante asook Franse intellektueles het sy politieke oortuigings en entoesiasme gedeel. Die herstelling van die Tweede Franse Keiserryk het Mickiewicz blykbaar nuwe krag en hoop gegee, en sy laaste literêre werk was dan ook 'n Latynse ode aan Napoléon III.
Krimoorlog en dood
In 1855 is sy vrou Celina oorlede. Met die uitbreek van die Krimoorlog het Mickiewicz sy minderjarige kinders in Parys agtergelaat en na Konstantinopel in Turkye vertrek waar hy op 22 September 1855 aangekom het. Hy was van voorneme om Poolse magte vir die stryd teen Rusland te organiseer. Uiteindelik het hy saam met sy vriend Armand Levy, 'n Roemeen van Joodse afkoms, daarin geslaag om 'n Joodse legioen met Russiese en Palestynse vrywilligers, die Hussare van Israel, in die lewe te roep. Van 'n besoek aan 'n militêre kamp het hy siek na sy woonstel in Konstantinopel se Yenişehir-straat teruggekeer en is daar op 26 November aan cholera oorlede. Die huis waarin hy gebly het, is in 'n museum ter nagedagtenis aan Mickiewicz omgeskep.
Die digter is 'n tyd lank in 'n kript onder sy woonstel begrawe. Sy sterflike oorskot is daarna na Frankryk oorgebring waar Mickiewicz aanvanklik op die Poolse begraafplaas in Montmorency ter ruste gelê is. In 1900 is sy sterflike oorskot na Pole oorgebring, wat destyds nog nie as 'n onafhanklike staat bestaan het nie, en die digter is uiteindelik in die kript van Krakow se Wawel-katedraal begrawe, waar talle beduidende persoonlikhede uit Pole se politieke en kulturele lewe hul laaste rusplek gevind het.
Literêre werk
Vroeë Romantiese werke
Mickiewicz se omvangryke en veelsydige literêre werk sluit digkuns, epiese gedigte, dramatiese werke en essays, maar ook talle fragmente en onvoltooide werke in.
Mickiewicz het sy literêre loopbaan met digkuns begin wat nog in die klassisistiese tradisies van die 18de eeu gewortel was – in sy gedig "Stadwinter" het hy Latynse inversies, parafrases en mitologiese name aangedurf om die destydse lewe in Vilnius op 'n skertsende manier te beskryf: die "modieuse byeenkomste met tabak uit Istanboel, Sjinese tee en Hongaarse wyn, biljartspelle en sleevaarte".[10]
Hoe meer die jong digter egter in aanraking gekom het met die werke van Goethe, Duitse Romantiese digters en Byron, hoe meer het sy belangstelling en skryfstyl in 'n ander rigting begin beweeg. Die digbundel Poezje ("Gedigte", boekdeel I) wat in 1822 verskyn het, word as die beginpunt van die Poolse literêre Romantiek beskou. In sy Przedmowa ("Voorwoord") en in die ballade Romantyczność ("Romantiek") lewer hy 'n pleidooi vir 'n nuwe soort digkuns wat inspirasie in die volksgeloof en volksverhale, gevoelens en verbeelding, die natuur en die onsigbare sou vind – en die wêreld juis nie deur die bril van 'n geleerde sou bekyk nie.
Met sy nuwe digkuns het Mickiewicz in gedigte soos Romantyczność, Świteź, Świtezianka, Trzech budrysów en Parys ("Paris") literêre genres op 'n indrukwekkende manier vermeng om inspirasie te trek uit poëtiese volksverhale, ballades en kontemplasies, maar ook uit sy tuisland Litaue: dit was vir hom 'n land van magiese mere en woude, 'n ryk van nag en skrik, 'n oorgangswêreld na die onwerklike, waar oorledenes met lewendes en die ou Litause godhede met Mickiewicz se tydgenote op die platteland gesels het.[11]
In 1823 het die tweede boekdeel van Poezje verskyn wat onder meer die gedigte Dziady ("Aand van die Voorvaders", deel II en IV) en die historiese werk Grażyna. Powieść litewska ("Grażyna – 'n Litause verhaal") bevat het. Die laasgenoemde gedig oor 'n Litause prinses wat mansklere dra om 'n Litause leër in 'n veldtog teen die ridders van die Duitse Orde te voer was Mickiewicz se eerste poging om in die literêre tradisie van Scott en Byron te skryf – die digter het hier 'n Romantiese voorstelling aan patriotisme gegee en sy tuisland as 'n gemenebes opgevat.
'n Reis deur Rusland het Mickiewicz in 1829 tot sy Sonety (krymskie i odesskie) ("Krim-sonnet" en "Sonnet uit Odessa") geïnspireer – digkuns in 'n gesofistikeerde klassisistiese styl waarin hy uitdrukking aan sy mistiese gevoelens oor sy eenheid met die natuur gee en dit as 'n sacrum of geheiligde plek ervaar.
Konrad Wallenrod. Powieść historyczna z dziejów litewskich i pruskich ("Konrad Wallenrod – 'n Historiese Verhaal uit die Litause en Poolse Annale", 1828) het modelkarakter as 'n Romantiese heldedig. Dit speel in die 14de eeu af en beskryf noukeurig die destydse plaaslike kultuur met sy verhaal oor die hoofkarakter, 'n Grootmeester van die Duitse Orde, wat met twee mekaar weersprekende waardestelsels sukkel nadat hy sy Litause wortels ontdek en gevoelens van patriotisme vir hierdie land ontwikkel het. Nogtans gaan hy voort om die Orde in 'n verwoestende veldtog teen die Litauers aan te voer – 'n opsetlike en doelbewuste besluit wat in 'n verpletterende neerlaag uitloop. Hy pleeg sodoende verraad teen sy eie eergevoel en alle ideale van ridderlikheid. Die werk is opgevat as 'n metafoor vir die morele konflikte van mense wat aan patriotiese sameswerings deelneem.
Fragmente van die gedig Powieść Wajdeloty ("Die verhaal van Wajdelota") is net soos Alpuhara op die langeduur as literêre werke in eie reg beskou en maak steeds deel uit van die lewende poëtiese tradisie – hulle behoort onder meer tot die gewildste werke van deelnemers by literêre voordragwedstryde.[12]
"Aand van die Voorvaders III"
In 1832 het Mickiewicz die derde deel van "Aand van die Voorvaders" in Dresden geskryf. Die stuk behandel die hofsaak teen die Filomate en speel deels in 'n gevangenissel, deels in die paleis van senator Nikolai Nowosiltsef af. Saam met die tweede en vierde deel wat vroeër ontstaan het, vorm dit 'n Romantiese drama wat deur sy fragmentariese karakter, los struktuur en wisselende styl gekenmerk word. Die tweede en vierde deel verwys na voor-Christelike rituele waarby die siele van oorledenes terug na die lewe gebring word en is gegrond op volksgelowe waarin die sigbare en onsigbare wêreld 'n eenheid vorm asook op die moontlikheid van wisselwerkings tussen hierdie twee wêrelde. Die werk lewer daarnaas 'n pleidooi vir eenvoudige, intuïtiewe morele waardes.
In deel IV word met Gustaw, wat ongelukkig verlief is, 'n karakter ingevoer wat as 'n tipiese voorbeeld van 'n Romantiese held beskou kan word en sekere ooreenkomste met Goethe se Werther toon. In deel IV behandel Mickiewicz eietydse onderwerpe soos die inhegtenisneming van jong lede van die Filomate-verbond en die hofsaak teen hulle. Die handeling speel hom in die gevangenis en in die weelderige onthaalkamers van Tsaristiese amptenare af. Met die hoofkarakter Gustaw, wat patriotiese gevoelens ontwikkel en voortaan as rebel Konrad teen die Russiese onderdrukking veg, word die derde en vierde deel tematies met mekaar verbind.
Die Wielka Improwizacja ("Groot Improvisasie"), 'n monoloog van Konrad, en die Widzenie ks. Piotra ("Die visie van pater Piotr") word as die hoogtepunte in hierdie deel beskou. In die eersgenoemde kla Konrad God daarvan aan dat hy die misdaad teen die nasie toelaat en geen mededoë met mense het nie sodat Konrad liewer marteling en verbanning kies, terwyl die tweede na 'n toekomstige Pole verwys wat as nasie sal herleef. In pater Piotr se visie word die land en ook die hele mensdom deur 'n geheimsinnige held met die naam "44" bevry. Mickiewicz verduidelik nie die betekenis van hierdie getal nie, maar letterkundiges neem aan dat dit in die kabalistiese tradisie aan Mickiewicz se voornaam Adam gelykstaan – veral omdat Piotr die "seun van 'n vreemde moeder" is: moontlik 'n verwysing na Mickiewicz se Joodse moeder.[13]
Die laaste gedeelte van die "Aand van die Voorvaders" bevat die epiese Ustęp waarin Mickiewicz skerp kritiek op die Tsaristiese despotisme lewer. Dit eindig met die gedig Do przyjaciół Moskali ("Aan die Moskouse vriende").
Pan Tadeusz
Mickiewicz se beduidendste werk, Pan Tadeusz, het tussen die najaar van 1832 en 13 Februarie 1834 in Parys ontstaan. Dit verenig 'n verskeidenheid literêre genres soos die historiese roman, die versverhaal, die heldedig en die liriese beskrywing in 'n unieke nasionale digwerk wat in die literatuur ongeëwenaar is.[12] Terwyl hy verskillende literêre konvensies – liriese, patetiese, ironiese en realistiese elemente – neerslag in sy werk laat vind, laat hy die wêreld van die lae Litause adel, die szlachta, op die vooraand van die intog van Napoléon Bonaparte se leër lewendig word.
'n Groep Sarmate, wat gewoonlik onderling verdeeld en vol intriges is, verenig hulle in hierdie werk in patriotiese verbondenheid tot hul tuisland, met hoop en idealisme vir die herwinning van nasionale vryheid besiel. Die geheimsinnige pater Robak, 'n bode van Napoléon, is een van die hoofkarakters wat vir die sondes van sy jeug – hy was 'n strydlustige adellike – nou in diens van die vaderland boet. Die einde van die werk is vol vreugde en hoop – iets wat deur die geskiedenis, soos die digter dit self beleef het, nie vervul is nie. Pan Tadeusz was dan ook daarop gemik om die harte van lesers met hoop op 'n beter toekoms te vervul.
In 1839 en 1840 het Mickiewicz sy Lausannese Gedigte in Switserland geskryf – 'n gedigsiklus wat deur 'n mistiese gevoel van eenheid met die natuur oorheers word en waarin die digter oor tyd, ewigheid en verganklikheid reflekteer.
Romantiese messianisme
As publisis het Mickiewicz binne die stroming van Romantiese messianisme geskryf – 'n denkrigting wat ook in die werke van Franse filosowe soos Saint-Martin, de Maistre, de Lamennais of die opvolgers van Saint-Simon en in die Duitse filosofie en literatuur uitblink. Alhoewel daar verskillende stromings binne die messianistiese filosofie bestaan het, het hulle almal die oortuiging gedeel dat ná 'n tydperk van lyde, vernedering en chaos 'n "groot omwenteling" sou plaasvind wat vergelykbaar sou wees met die koms van die verlosser: 'n nuwe periode waarin die Christelike leer in die politieke en sosiale lewe verwerklik sou word. Die rol van die verlosser sou in die verskillende stromings van messianisme deur uitstekende indiwidue of gemeenskappe waargeneem word.
Alhoewel messiaanse motiewe reeds in vroeëre werke van Mickiewicz aanwesig was (veral in die tweede deel van die "Aand van die Voorvaders"), tree hulle in Księgi narodu polskiego i pielgrzymstwa polskiego ("Boeke van die Poolse Nasie en Pelgrimskap", 1832) sterk na vore en word hier presies geformuleer. Hierdie boeke is in die vorm van 'n gebedeboek en in 'n Bybelse styl geskryf om as vertroosting, bemoediging en wegwyser vir Poolse emigrante te dien wat ná die mislukte November-opstand in Frankryk aangekom het en is dan ook gratis onder hulle versprei. Mickiewicz het in hierdie werk sy oortuiging uitgespreek dat Pole 'n besondere leierskapsrol in die nasies se stryd teen die tirannie van owerhede sou speel en op religieuse en politieke gebied belangrike funksies sou waarneem wat die geskiedenis van die mensheid sou beïnvloed. Die pous het nogtans 'n bul uitgevaardig waarin hy die Boeke skerp veroordeel het – die Rooms-Katolieke Kerk was sterk gekant teen die gebruik van religieuse argumente in geskrifte wat radikale sosiale hervorming (waaronder die afskaffing van lyfeienskap en die toekenning van burgerregte aan almal, insluitende vroue en Jode) voorgestaan het.
Slawistiek
Mickiewiczs se lesings aan die Collège de France is aan die hand van notas wat deur studente gemaak is, as Cours de la littérature slave gepubliseer. In die eerste en tweede kursus het Mickiewicz die Poolse, Tsjeggiese, Russiese en Serwiese literatuur in die konteks van dié nasies se geskiedenis en kultuur behandel en Slawiese literatuur sodoende ook vir Westerse intellektueles toeganklik gemaak. Die derde kursus was aan eietydse literatuur gewy, waarby Mickiewicz dikwels op 'n polemiese manier gedoseer het.
In die vierde kursus het messianiese historiese filosofie sentraal gestaan en Mickiewicz het sy eie visie ten opsigte van die Slawiese volke se wysgerige en godsdienstige lewe ontwikkel. Volgens het die intellektuele lewe in Wes-Europa hom destyds in 'n krisis bevind, onder meer omdat dit deur 'n bekrompe rasionalistiese sienswyse oorheers is. Dit is deur Mickiewicz gekontrasteer met die geestelike diepte van die Slawiese volke wat volgens hom "lewendige waarhede" bewaar het en sodoende in staat sou wees om die mensdom op die pad na morele vernuwing te lei. Die idee van messiaanse missie is deur Mickiewicz op die hele Slawiese wêreld geprojekteer, net soos op Frankryk wat hy as 'n "Nasie van die Daad" gewaardeer het.[12]
Versamelde werke en sekondêre literatuur
Die belangrikste Poolse uitgawes van Mickiewicz se werke sluit Pisma ("Geskrifte", boekdele 1-11, 1860–61), Dzieła ("Werke", boekdele 1-16, 1948–55, Wydanie Narodowe/Nasionale Uitgewers) en Dzieła ("Werke", boekdele 1-16, 1953, Wydanie Jubileuszowe/Jubileum-uitgewers) in.
Baie sekondêre literatuur oor Mickiewicz en sy werke bestaan reeds, terwyl nuwes steeds gepubliseer word. Die Kronika życia i twórczości Mickiewicza ("Kroniek van Mickiewicz se lewe en werk"), wat in nege boekdele deur die Poolse Akademie van Wetenskappe (Polskiej Akademii Nauk) se Instytut Badań Literackich ("Instituut vir Letterkundige Navorsing") uitgegee is, word as een van die gesaghebbendste bronne van inligting oor die digter beskou.
Ontvangs in Pole
In Pole word Adam Mickiewicz as die land se belangrikste digter vereer. Sy betekenis vir die Poolse letterkunde staan gelyk aan dié van Shakespeare vir Engeland en dié van Goethe vir Duitsland.[14] Sy werk en lewe was met drie groot hoofidees vervul – Pole, poësie en politiek.[15]
Mickiewicz het 'n groot passie vir die Poolse vryheidsstryd gekoester en homself vir die herstelling van Pole as 'n selfstandige staat beywer. Sy literêre werk het op 'n meesterlike manier uitdrukking aan die Poolse volk se verlange na vryheid verleen. Vir sy politieke optrede is hy uit Pole-Litaue verban, maar het nogtans daarin geslaag om met sy verbinding van politieke sending en volmaakte digkuns die geestelike en literêre sfeer te skep waarin die Poolse nasie tydens 150 jaar van onderdrukking as 'n nasie sonder staat oorleef het. Mickiewicz het die literêre idool van Pole geword en daar is geen ander Europese volk wat homself gedurende die 19de eeu só sterk met sy literatuur en sy digters vereenselwig het.[15]
Naas Zygmunt Krasiński en Juliusz Słowacki word na Mickiewicz dikwels ook as een van die sogenaamde "Drie Barde" verwys – 'n erenaam vir Pole se drie invloedrykste 19de eeuse digters. Hul digkuns was 'n soort literêre Messianisme waarin hulle die lyde van die Poolse volk met dié van Christus vereenselwig het. Volgens die Drie Barde sou Pole die voortou neem in die stryd teen onderdrukking en tirannie.
Met sy Pan Tadeusz (1834) het Adam Mickiewicz die lot van sy volk en sy gevoelens in digvorm gegiet – hierdie werk is uiteindelik as die nasionale epos van Pole beskou. Die invloed van Mickiewicz se omvangryke en veelsydige literêre werk op die Poolse literatuur en kuns kan nie onderskat word nie. Naas Aleksander Poesjkin word Mickiewicz ook as die grootste Slawiese digter[16] en as een van die beste skrywers van die Romantiese skool beskou, alhoewel hy sy inspirasie uit 'n heeltemal ander sfeer gekry het as sy Wes-Europese eweknieë. Sy werke was twee eeue lank 'n vaste bestanddeel van letterkundige en patriotiese opvoeding in Pole, terwyl sy digkuns groot invloed op die taal en gedagtewêreld uitgeoefen en selfs op die alledaagse taal uitgestraal het.[12] Metafore, aanhalings en verwysings na sy werk kom in talle 19de en 20ste eeuse Poolse literêre werke voor en hy het ook moderne skrywers soos Czesław Miłosz en Tadeusz Różewicz geïnspireer.
Vertalings en ontvangs in die buiteland
Die buitelandse resepsie van Mickiewicz se werke – veral dié gedurende sy leeftyd – speel 'n beduidende rol by letterkundige navorsing oor die digter se betekenis vir die Europese literatuur. Vroeë Duitse resensies uit die jare 1828 en 1829 – soos die Blätter für literarische Unterhaltung wat deur Brockhaus uitgegee is – verwys reeds na Mickiewicz se rigtingwysende digkuns en sy "buitengewone talent".[17]
Sy "Boeke van die Poolse volk en van die Poolse pelgrimskap", wat in die herfs van 1832 voltooi is, het al in die volgende jaar as Engelse, Franse en Duitse vertalings verskyn waarby die profetiese en enigmatiese styl van die oorspronklike teks noukeurig in die vreemde tale weergegee is. Die Duitse teks is selfs deur Mickiewicz goedgekeur en aan die Duitse volk opgedra – die digter het hierdeur sy dankbaarheid en waardering vir die vriendelike ontvangs en gasvryheid betuig wat hy saam met ander Poolse emigrante in Duitsland geniet het.
Invloed op die kunste
Die hoofkarakter van "Aand van die Voorvaders", Konrad, het in die Poolse literatuur en toneelkuns tot die oerbeeld van die Poolse tragiese held ontwikkel. Die "Voorvaders" word as 'n uitdaging vir die beste Poolse teaters beskou, terwyl die "Groot Improvisasie" as toneelstuk baie van die akteurs verg. Elke verwerking van "Aand van die Voorvaders" vir die verhoog is 'n beduidende kulturele gebeurtenis, waaronder die opvoerings van Stanisław Wyspiański (1901 in Krakow), Leon Schiller (Lemberg/Lviv in 1932 en Warskou in 1934), Kazimierz Dejmek (Warskou in 1967) en Konrad Swinarski (Krakow in 1973). In 2000 het Andrzej Seweryn in Brussel fragmente van die drama as Franstalige toneelstuk verwerk.
Daarnaas is verskeie pogings onderneem om Pan Tadeusz vir die toneel en silwerdoek te verwerk. Mieczysław Kotlarczyk het hierdie werk 1945 in Krakow as toneelstuk opgevoer. Adam Hanuszkiewicz het in 1970 en 1971 'n televisiereeks geskep wat op die Pan Tadeusz gebaseer het, terwyl die regisseurs Ryszard Ordynski (1928) en Andrzej Wajda (1999) dit vir die silwerskerm verfilm het. Die laasgenoemde rolprent het internasionale erkenning verwerf.[12]
Mickiewicz se werk het daarnaas ook skilders en grafiese kunstenaars (illustrasies is onder meer deur Gerson, Andriolli, Smokowsi en Lesser geskep) en komponiste soos Fryderyk Chopin, Stanisław Moniuszko, Karol Szymanowski, Ignacy Paderewski, Tsjaikofski en Rimski-Korsakof geïnspireer.
As een van Pole se beduidendste digters en as nasionale profeet is ook Mickiewicz self in verskeie vir skilderye, tekeninge en medaljons geportretteer, onder meer deur Wańkowicz, Oleszkiewicz, Norwid en Delacroix.
Politieke invloed
Adam Mickiewicz het met sy filosofiese en sosiale oortuigings groot invloed uitgeoefen, waarby die eiesoortige vermenging van religieusiteit, romantiese nasionalisme en sosiale radikalisme daartoe gelei het dat 'n wye spektrum politieke groeperings, wat van ver-regses tot linkses strek, hulle op hom beroep het. Sy Slawiese messianisme was in elk geval van groot belang vir die vorming van 'n nasionale bewussyn in dié Oos-Sentraal-Europese lande wat nie oor hul eie staat beskik het nie.
Mickiewicz se oortuigings is steeds aktueel wat die debatvoering oor die toekomstige staatsvorm van 'n verenigde Europa betref. Mickiewicz was 'n voordenker vir 'n federasie van vrye nasies en burgers en 'n baanbreker vir die idee dat 'n vaderland ook as 'n gemeenskap beskou kan word wat op 'n gemeenskaplike kultuur en waardestelsel berus.[18]
Nasionaliteit
Adam Mickiewicz staan algemeen as 'n Poolse digter bekend, maar alhoewel sy beduidende werke almal in Pools geskryf is, is sy nasionaliteit steeds aan omstredenheid gekoppel.
Sommige Litauers beweer dat hy van Litause afkoms sou wees; sy naam word volgens die algemene gebruik in Litaue gelituaniseer en verskyn sodoende as Adomas Mickevičius. Volgens die Poolse deskundige Bonifacy Miązek is daar geen twyfel dat Mickiewicz 'n afstammeling van 'n ou adellike Litause familie, die Rimvyd-Mickiewicz, was nie.[19] Die Mickiewiczs was oorspronklik in die Litause parogie Rodune in die Lyda-distrik woonagtig, maar het hulle teen die einde van die 18de eeu in die omgewing van die Belarussiese Nowogródek gevestig – 'n streek waar Litaus destyds nog nouliks gepraat is.
Maar ook vele Belarusse voer aan dat die digter uit 'n gepoloniseerde Belarussiese familie afkomstig sou wees en noem hom Ада́м Міцке́віч. Volgens die Belarussiese historikus Rybczonek het Mickiewicz se moeder Tataarse wortels gehad.[20]
Ander bronne beweer dat Mickiewicz se moeder uit 'n Frankistiese Joodse familie gekom het wat later bekeer is.[21][22][23][24] Daar is egter ook bronne wat die laasgenoemde bewering in twyfel trek.[25][26]
Die digter se moeder, Barbara z Majewskich Mickiewiczowa, was 'n gelowige Rooms-Katoliek met 'n Poolse etniese agtergrond, soos Tomasz Łubieński in sy biografie M jak Mickiewicz verduidelik. Daar was 'n ander Majewski-gesin in Litaue gedurende die Pools-Litause Gemenebes wat wél van Frankistiese afkoms was.[27][28]
Die kontroverse oor Mickiewicz se etniese agtergrond kan toegeskryf word aan die feit dat die moderne konsep van etnies-gebaseerde nasionaliteit in die 19de eeu nog nie volledig ontwikkel was nie. Die term Litaue, soos Mickiewicz dit self gebruik het, het in daardie periode 'n wyer geografiese betekenis gehad as vandag.
Mickiewicz se geboorteplek, Zaosie, is tans in Belarus geleë, in 'n gewes wat in die Middeleeue oorspronklik nog 'n Oos-Slawiese streek was en in die 13de eeu deur Litaue verower is – 'n land wat later in 'n politieke unie met Pole verenig is. Die digter se geboortestreek – waarna tradisioneel as Kresy of "Grensland" verwys is – was eeue lank deur veeltaligheid en 'n kaleidoskoop van verskillende etniese groepe en godsdienste gekenmerk.
Mickiewicz het in die kultuur van die Pools-Litause Gemenebes opgegroei, 'n multikulturele staat wat destyds 'n aantal moderne lande soos Pole, Litaue, Letland, Belarus en Oekraïne in een ryk verenig het. Sy bekendste gedig, Pan Tadeusz, begin met die aanroeping: "Oh Litaue, my vaderland, jy is soos goeie gesondheid".
Daar word algemeen aanvaar dat die term "Litaue" in Mickiewicz se tyd nog steeds sterk met die Grootvorstedom Litaue verbind is, wat deel van die Pools-Litause Gemenebes uitgemaak het, en dat die digter dit eerder in politieke as in etniese verband gebruik het.[29] Hy het nogtans die etniese Litause nasie daarvan onderskei[30] en kon Litaus in 'n sekere mate verstaan en skryf – hy het byvoorbeeld die teks van 'n Litause lied self neergeskryf.[31]
Simonas Daukantas se Litause vertaling van die gedig Žywila was die eerste vertaling van 'n Mickiewicz-gedig in 'n ander taal.[29] Sy werke het beduidende invloed op die Litause nasionale hergeboorte in die laat 19de eeu uitgeoefen.
Taalkennis
Volgens oorlewerings kon Mickiewicz naas sy moedertaal Pools nie slegs Frans, Engels, Duits en Italiaans vlot praat nie, maar het ook kennis van Latyn en klassieke Grieks gehad.[32] Sy gedwonge verblyf in Rusland vir 'n tydperk van vyf jaar het hom moontlik in staat gestel om ook Russies aan te leer. Daarbenewens het Mickiewicz net kort voordat hy as professor in Parys aangestel is in 'n brief na sy Tsjeggiese taalkennis verwys. Mickiewicz het sy lesings in Frans gehou.
Adam Mickiewicz Instituut
Die Adam Mickiewicz Instituut is 'n Poolse kulturele organisasie wat ter ere na hom vernoem is.
Verwysings
- Bonifacy Miązek (red.): Adam Mickiewicz. Leben und Werk. Frankfurt am Main: Peter Lang/Europäischer Verlag der Wissenschaften 1998, bl. 9
- www.zeit.de: Zeitläufe – Das Vaterland heißt Freiheit. In: Die Zeit, nommer 48, 24 November 2005
- Tomas Venclova: Vilnius. Eine Stadt in Europa. Frankfurt am Main: Suhrkamp 2006, bl. 140
- François-Xavier Coquin: Un regard sur Mickiewicz, in: Mickiewicz, la France et l’Europe, Travaux publiés par l’Institut d’études slaves, Collège de France, Parys 2005, bl. 29
- Vergelyk Aleksander Brückner: Die Romantik der Emigrationslitteratur. In: Geschichte der polnischen Litteratur. Band 1 von Litteraturen des Ostens in Einzeldarstellungen. Berlyn: C.F. Amelangs 1901, bl. 358
- Miązek (1998), bl. 65
- Miązek (1998), bl. 65
-
- Zdzisław Jachimecki: Chopin, Fryderyk Franciszek. Polski słownik biograficzny, boekdeel III, Krakow: Polska Akademia Umiejętności 1937, bl. 424
- Jachimecki (1937), bl. 423
- Tomas Venclova (2006), bl. 135
- Venclova (2006), bl. 135
- "www.culture.pl: Adam Mickiewicz". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 April 2009. Besoek op 24 Februarie 2010.
- Tomas Venclova (2006), bl. 143
- Karl Dedecius: Adam Mickiewicz. Idol und Idee einer Nation. In: Rolf-Dieter Kluge: Von Polen, Poesie und Politik. Adam Mickiewicz. Tübingen: Attempto 1999, bl. 11
- Kluge (1999), bl. 7
- The Encyclopaedia Britannica, 1894, boekdeel 16, bl. 250
- Marian Szyrocki: Zur Mickiewicz-Rezeption in Deutschland (1828–1855). In: Bonifacy Miązek (red.): Adam Mickiewicz. Leben und Werk. Frankfurt am Main: Peter Lang 1998, bl. 395
- François-Xavier Coquin en Michel Masłowski: Le verbe et l'histoire: Mickiewicz, la France et l'Europe. Parys: Institut d'études slaves 2002
- Miązek (1998), bl. 380
- S. Rybczonek: "Przodkowie Adama Mickiewicza po kądzieli" ("Adam Mickiewicz se voorvaders aan die Distaff-kant") Blok-Notes Muzeum Literatury im. Adama Mickiewicza, 1999, nommer 12/13
- Meir Balaban: The History of the Frank Movement, 2 boekdele, 1934–35, bl. 254-259.
- "Mickiewicz's mother, descended from a converted Frankist family": "Mickiewicz, Adam," Encyclopaedia Judaica. "Mickiewicz's Frankist origins were well-known to the Warsaw Jewish community as early as 1838 (according to evidence in the AZDJ of that year, p. 362). "The parents of the poet's wife also came from Frankist families": "Frank, Jacob, and the Frankists," Encyclopaedia Judaica.
- M. Mieses, Polacy-Chrześcianie pochodzenia żydowskiego (Christelike Pole van Joodse afkoms), boekdele I–IV, Warskou 1938.
- Magdalena Opalski en Israel Bartal: Poles and Jews: a Failed Brotherhood, bl. 119-21
- "Her (Barbara Mickiewicz) maiden name was Majewska. In old Lithuania, every baptised Jew became ennobled, and there were Majewskis of Jewish origin. That must have been the reason for the rumours, repeated by some of the poet's contemporaries, that Mickiewicz's mother was a Jewess by origin. However, genealogical research makes such an assumption rather improbable." (Wiktor Weintraub: The Poetry of Adam Mickiewicz, bl. 11)
- "The mother’s low social status—her father was a land steward— argues against a Frankist origin. The Frankists were usually of the nobility and therefore socially superior to the common gentry." (Czesław Miłosz: The Land of Ulro, Farrar, Straus and Giroux, uitgawe van 2000, bl. 116)
- Paweł Goźliński: "Rzym koło Nowogródka", Geargiveer 14 Februarie 2009 op Wayback Machine onderhoud met die historikus, hoofuitgewer van Nowe Ksiąźki, Gazeta Wyborcza, 16 Oktober 1998
- "Muzeum Historii Polski" deur Fortepresse Geargiveer 17 Augustus 2011 op Wayback Machine Mickiewicz se verlede, 'n onbewese teorie (laaste paragraaf op die bladsy)
- "Tomas Venclova: Native Realm Revisited: Mickiewicz's Lithuania and Mickiewicz in Lithuania". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Mei 2005. Besoek op 24 Februarie 2010.
- Voorwoord tot Konrad Wallenrod, vertaal in Litaus
- antologija.lt: Adomas Mickevičius – Lietuviškų dainų fragmentai
- Georg Hajdas: Adam Mickiewicz. Die Bedeutung der Sprache für die polnische Nation. Marburg: Tectum 2010, bl. 38
Bronnelys
- Monografieë
- Zdzisław Jachimecki, "Chopin, Fryderyk Franciszek," Polski słownik biograficzny, vol. III, Kraków, Polska Akademia Umiejętności
- Mieczysław Jastrun: Mickiewicz. Berlyn: Rütten & Loening 1953
- Rolf-Dieter Kluge: Von Polen, Poesie und Politik. Adam Mickiewicz. Tübingen: Attempto 1999
- Bonifacy Miązek (red.): Adam Mickiewicz. Leben und Werk. Frankfurt am Main: Peter Lang/Europäischer Verlag der Wissenschaften 1998
- Tomas Venclova: Vilnius. Eine Stadt in Europa. Frankfurt am Main: Suhrkamp 2006
- Tydskrifte
- Canadian Slavonic Papers / Revue Canadienne des Slavistes, jaargang 40, nommer 3-4, September-Desember 1998, bl. 401
Eksterne skakels
Wikimedia Commons bevat media in verband met Adam Mickiewicz. |